Jongste aktiwiteit:

Die kwaai oorlidde ounooi
vir

Die kwaai oorlidde ounooi

‘n Ou oom en tante wie se lewensmaats hulle ontval het, en wat gevoel het dat die lewe met hulle ook meer ernstige kant toe staan, besluit om te trou. Want die laaste eensaamheid is ‘n lelike ding. Maar hulle trou op huweliksvoorwaarde: Joune bly joune en myne bly myne, maar oud ofte not, ons is ten minste mekaar s’n. En so sou dit bly tot die langslewende oor alles baas word. Die benadering het veral die ou tante gepas, want sy was gevaarlik presies op haar besittings – veral by haar veetjies moes alles blienkieng reg loop. Sy het hulle selfs nie eens aan die sorg van haar nuwe ou beste toervertrou nie. Saans waneer die wagter met die vee uit die veld kom, het sy hulle self by die kraal-hek ingetel. En Smorens met die uitjaag het sy hulle weer getel, net om seker te maak dat daar in die nag nie dalk een gesteel is nie. Sy kon dus dag en nag met rus in die gemoed deurbring, want sy het geweet dat niks in die veld agtergebly het nie en dat daar ook nie ‘n klou uit die kraal verdwyn het nie. Maar die ou tante was nie net baie presies nie; sy was ook baie kwaai. Die volkies het vir haar uit vrees en respek baie meer in hulle spoor getrap as wat hulle hulle aan die oubaas gesteur het. Haar veewagter het altyd gese: “Vandag het die duibel in die vee gevaar en vanaand sit hy in die ounooi.”  En die ounooi het vooruit geboer,sodat sy op haar heel oudag ‘n sterk boerdery gehad het.

En toe kom sy te sterwe. Die oubaas kon om verskeie redes aan geen meer gepaste plek dink om haar te begrawe nie as so vyftig tree van haar haar kraal af, reg voor die hek. Vir die volkies sê hy toe: “Kyk, daar lê oorlidde ounooi, hier moenie fout by haar goed kom nie.” Alles is toe natuurlik syne, maar hy bring nie die twee maniere van boer op ’n end nie. Met sy goed bly boer hy volgens sy gewoonte en met die oorlidde ounooi s’n volgens haar gewoonte.

Vir ‘n ruk lank gaan dit goed, maar toe begin die volkies agterkom dat die hopie grond voor die kraalhek niks meer gevaar inhou as enige ander hopie grond nie. En toe begin raak daar dan en wan snags ‘n skaap weg. Die ding hinder die ou oom en hy maak ‘n plan. Hy vat ‘n wit laken en met die; onder die arm bekruip hy laataand die graf. Agter die kopklip vou hy die laken oop en hang dit om sy skouers. Dan begeef hy hom kraal toe en en klim oor die muur en loop tussen die skape rond. Smorens wys hy na die tellery graf se kant toe, maar dit help alles niks. So tussen die spokery deur verwissel die skape ook die tydelike met die ewige.

Op ‘n dag raak die aleen-boerdery vir die oubaas te veel. Vir ‘n aanspraak kry hy vir hom ‘n mak bobbejaan. Die volg hom soos ‘n skaduwee bedags en snags soos ‘n spook. Waneer die oubaas die graf bekruip, is die bobbejaan agterna en snuffel oral rond vir ‘n skerpioen of ‘n ander nagloopding. Omdat die bobbejaan nie soos die oubaas van die graf af ‘n wit laken om hom gehad het nie, was die volkies natuurlik nie van sy saamlopery bewus nie. Hulle het net altyd die oubaas gesien. En toe kom die aardigheid van die amper-mens as ‘n aanspraak vir die oubaas op ‘n einde en hy begin vlerksleep by ‘n weduwee van die omgewing. En toe gebeur die ding wat gesorg het dat daar tot lank na die nuwe ounooi alleen moes aansukkel, nooit weer ‘n skaap van die kwaai oorlidde ounooi gesteel is nie.

Die ding het so gekom: Toe die oubaas een Saterdagaand vir die weduwee gaan kuier, vergeet hy ‘n wit klereding wat hy toevallig die dag gewas het, aan die draad. En toe die bobbejaan ounag se kant uitgeslaap is en die verveeldheid hom beginne pla, kom hy met die rondloopsaam by die wasgoeddraad uit en toe hy die wit ding sien, oorval ‘n lus om sy lyf oubaas te hou, hom daar en dan. Dit moes net mooi op die tyd gewees het wat die volkies se vleishonger hulle kraal se kant toe laat staan het. En dit moes ook net mooi gewees het toe die laaste een houtgerus van die muur af binne-in die kraal grondvat, dat die oorlidde ounooi oor die anderkanste muur klim.

Wat daar presies gebeur het sou niemand ooit presies geweet het nie, behalwe so half en half die oubaas wat die volgende dag in sy enigheid twee en twee bymekaar gekry het – nadat die volkies kom bieg het.

Die storie wat hulle vol vrees en bewing kom vertel het, was naastenby die volgende: Oubaas, ons is bang as ons nie kom praat nie, dan kom die ounooi weer. En dan kan sy dalk ‘n lelike ding doen. Dit was ons wat al die tyd ‘n haar skaap geslag het. En ons het haar baie keer van die graf af gesien kom. Maar ons dag al die tyd dit is Oubaas. Tot gisteraand dat oubaas weg was.  Ons is weer kraal toe vir ‘n vleisie en net toe ons ons staan behoorlik binne had, toe kom klim oorlidde Ounooi in lewende lywe van die graf se kant oor die muur. Moerig WAS sy. Want sy kom loop daar tussen haar goete rond en sy praat-brom lat ons SO kragteloos word lat ons nie ‘n voet kan lig om oor die muur te probeer kom nie. En na sy haar kwaai praat met haarself gepraat het, gee sy pad soos sy gekom het.  Maar TOE’S sy kwaad. HOEEEEEEEEEE!. Toe die oorlidde ounooi daar oor die muur klim graf se kant toe, toe blink die oorlidde ounooi se oorlidde agterent lat dit lyk of dit die maan self is wat daar oor die muur klim…




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed