“Ahiép virrie lord!”
Uit ons oumense se sukkelry met Engels vanmelewe het daar mooi goed gekom om oor te vertel.
Hier is een daarvan.
In 1925 besoek die prins van Wallis die destydse Unie van Suid-Afrika. En dit gebeur so dat sy weg deur Potchefstroom ook lei. Die destydse stadsvaders, onder wie daar heelwat Engelse was, besluit toe om vir die prins ‘n pure ontvangs te gee. En hulle het baie gedink.
En toe kom hulle op ‘n agtermekaar idee: hulle sal vir hom ‘n verbymars reël waaraan al die vertakkinge van die Potchefstroomse gemeenskap deelneem.
En heel op die agterpunt moet daar ‘n peloton oud-stryders wees, redeneer hulle. Want wat sou die prins se gemoed dieper kon roer as wanneer hy die eer ontvang van hierdie ou bittereinders in die kryg teen Brittanje! So besluit, so gedaan.
Maar met die doenery-saam groei die opgewondenheid en ook nuwe oorspronklikheid in die stadsvaders. Die indruk moet geskep word dat die oud-stryders volkome op hulle eie kon regkom en dat hulle glad en geheel nie van buite af afgerig is nie.
Daarom moes dié peloton ook glad nie nuwerwetse uniforms vir die affêre kry nie; hulle moes in “kommandodrag” verskyn – wat sou neerkom op gewone plaasklere. En ‘n móét was dat hulle elkeen ‘n Mauser oor die skouer moes hê; g’n Lemetford nie. Nou ja, dit was nie te moeilik om ‘n peloton oud-stryders bymekaar te kry nie.
En elkeen het ‘n stuk draklere gehad wat op die oog af die indruk van ‘n oorlogsverlede gewek het. Maar toe kom die groot probleem: die peloton-bevelvoerder moes ook ‘n oud-stryder wees. En hy moes die bevele op Engels gee sodat die prins kon verstaan.
Maar soos die ongeluk dit wou hê, was daar toe nie ‘n enkele kandidaat wat genoeg Engels vir dié taak kon monster nie. Al uitweg was om ‘n Oubaas met die regte stem tot bevelvoerder te benoem en om hom die nodige Engelse bevele te leer en hom en die pelotontjie saam daarin in te wy. Ná heelwat oefening reken die stadsvaders toe dat die oud-stryders hulle man sou kon staan teen die uitdaging. En so breek die groot dag aan.
Wat se bewegings almal uitgevoer moes word, is my nie vertel nie. Al wat in die oorlewering behoue gebly het, is die byna-byna breekspul reg voor die prins. Op ‘n sekere punt moes die oud-stryder-bevelvoerder begin met “left-right, left-right, left-right”, sodat sy manne behoorlik in pas kon kom.
En by ‘n tweede punt, kortby die plek waar die prins in sy strakke hoogheid staan, moes hy die bevel “Eyes right!” gee. Maar onder die spanning vergeet hy al die Engels, behalwe “left-right”. En so met “left-right, left-right” nader die bevelvoerder met sy spulletjie die punt van “Eyes right!” maar hy stryk daarby verby. En die pelotontjie agterna. ‘n Paar tree vorentoe steek hy die staanplek van die prins ook verby.
En toe is party van die burgers erg bekommerd oor die bevel nie kom nie. “Toe, Jan!” skree een met ‘n sterk fluisterstem van agter af. Maar Jan was nog aan die plan maak. En gelukkig – toe die voorste manne van die peloton net-net by die prins sou verbymarsjeer – kry hy ‘n paslíke ingewing.
En hy gee die bevel tot op die regte voet ook nog, en die pelotontjie reageer of dit naastenby wyle generaal De la Rey was van wie die woord gekom het. En die ganse okkasie is ‘n sukses. Gelukkig het die prins niks verstaan, behalwe “left-right” nie. En dit was ook net die naaste mense wat die pure bevel gehoor het. Pleks van “left-right, left-right, eyes right! . . .”, het die bevel só gekom: “. . . left-right, left-right, left-right – ahiép virrie lord,julle helle – left-right, left-right, left-right. . .”