Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Base en Klase

Deur Paula
Datum gepubliseer: 28 Oktober 2019 Aantal woorde: 1269 40 Kere gelees 1

In enige instansie, groot maatskappy, klein besigheid of staatsinstelling word base en klase aangetref. Dit is een van die ongeskrewe (of partymaal baie goed gedokumenteerde) reëls van die samelewing. Die term “baas” is vanselfsprekend – hy is in beheer en gee die bevele. (Ek verwys deurgaans na “hy” of “hom” want om elke keer hy/sy of hom/haar te gebruik om polities korrek te wees gaan my irriteer en sal ek nie die verder as hierdie eerste paragraaf kan vorder nie so, feministe of enige persoon wat beledig voel oor my verwysing na “sy” en “hom”, voel vry om “hy” of “hom” te vervang met “sy” of “haar”of enige ander term waarmee julle gemaklik is. In regkontrake is daar gewoonlik ‘n paragraaf wat aandui dat ‘n verwysing na enige geslag, ook ‘n vewysing na die ander geslag(te) insluit.)
‘n Klaas aan die ander kant is die een wat die baas se bevele moet uitvoer. In die ou dae toe ons voorvaders nog grotbewoners was, was die hoof van die stam die grootbaas. Regdeur die geskiedenis was daar konings, farao’s, tsars of watse koninklike titels ookal van toepassing was. As die grootbaas in ‘n slegte bui opgestaan het, was die arme klase absoluut aan sy genade oorgelaat. Sou ‘n arme drommel van ‘n klaas per ongeluk iets gesê of gedoen het wat die baas ontstel het, kon so ‘n klaas sy kop verloor het of onderwerp word aan grusame fisiese marteling.
Ek gaan nie nou diep in die geskiedenis delf nie maar net ‘n persoonlike opinie lug uit eie ondervinding. Die oorgrote meerderheid van ons werk om ‘n dak oor ons kop te kan hê, kos op die tafel te sit (miskien so nou en dan ‘n lekker pizza), ons kinders se skoolgeld te betaal en ‘n warm bed om in te slaap. O ja, moenie vergeet van die voertuie wat ons moet hê nie, die “fibre” internet, Netflix, DSTV en natuurlik, die mees belangrike, selfone met die beste kamera’s – om daardie lekker pizza te kan afneem en oombliklik op alle sosiale media platforms te plaas om die ander mense wat noodgedwonge daarna moet kyk en wat miskien ‘n vervelige maaltyd van macaroni-en-kaas geniet onmiddellik in ‘n dodelike depressie te dompel.
Ek wyk af. Ons spandeer vyf dae per week, ongeveer agt ure per dag, en miskien nog twee ure of meer in spitsverkeer om al die bogemelde te kan bekostig. Gedurende daardie agt ure word baie van ons onderwerp aan base en kantoorpolitiek gelykstaande aan die koninklike howe van middeleeuse Europa.
My werkslewe is grotendeels in die regsveld geslyt. Nee, ek is nie ‘n prokureur of ‘n advokaat of ander regsgeleerde nie. Ek was nog altyd die klaas, die regssekretaresse. Uit my ondervinding, en daar mag uitsonderings wees, in enige regspraktyk as jy nie oor ‘n regsgraad beskik nie word jou intelligensie nie hoër as ‘n redelik slim snuffelhond s’n gereken nie. Behalwe die jare wat ek in ‘n baie groot prokureursfirma geslyt het, val die situasie in groot korporatiewe instansies buite my verwysingsraamwerk maar ek vermoed dat dit nie veel anders is nie.
In die moderne era word klase darem nie met swepe geslaan nie maar ‘n tong kan enige tyd net so hard slaan soos ‘n sweep en daar word nie noodwendig op alle slagvelde lyke en bloed aangetref nie. Dit beteken egter nie dat mens nie partymaal aan die einde van ‘n harde dag voel asof jy in ‘n skermutseling betrokke was nie. Nadat jy ‘n dag rondgehardloop het om bevele wat na jou kant toe geblaf word uit te voer kan jy na die spitsverkeer net hulpeloos met jou glas wyn voor jou TV sit en wonder waar dit alles skeefgeloop het en dan mismoedig na die macaroni-en kaas op jou bord staar. Die feit bly staan, môre trek jy jou skoon uniform aan en gaan veg die volgende veldslag en die volgende dag weer tot daar uiteindelik vyfuur op ‘n Vrydagmiddag ‘n skietstilstand geroep word – vir twee dae.
Gedurende daardie twee dae moet jy alle inkopies afhandel vir die volgende week, kyk of daar dokters of tandartse is wat dalk op ‘n Saterdag oop is om jou of jou kinders se tande en ander skete te behandel, ‘n bietjie sosiaal te verkeer en dan wanneer Carte Blanche se deuntjie op ‘n Sondagaand begin, moeg op die rusbank neer te val om te kyk na al die moord- en doodslag wat die afgelope week in die land afgespeel het. Dan val die donker Sondagwolk oor jou neer – môre is dit terug na die front maar ten minste lê die nuwe telefoon wat jy gekry het toe jou laaste kontrak verval het langs jou op die bank en die roosgoud kleur is dan só mooi!
Ek vra om verskoning as ek alle base oor dieselfde kam skeer. Soos ek gesê het, daar mag uitsonderings wees en ek was gelukkig genoeg om vir die beste deel van twaalf jaar vir so ‘n uitsonderingte kon werk.
Klase ly in stilte. As die base maar kon weet wat in ‘n klaas se kop aangaan en die taal wat geuiter word in so ‘n kop … ons laat dit daar.
As ‘n klaas (in my geval en nie noodwendig in alle gevalle nie) word mens partykeer blootgestel aan hopeloos te veel persoonlike inligting van die baas. Ek wil nie noodwendig weet wanneer jou vrou vir haar ginekologiese afspraak of mammogram was nie. Nog minder wil ek weet van jou uitslag op plekke waar mens nie ‘n uitslag moet hê nie of klein blou pilletjies wat vir jou voorgeskryf word nie. Base dink klase lees nie goed nie maar hiedie arme klaas lees ALLES. Vanaf ouderdom ses is alle straatname, koerantopskrifte, winkelname en plakkers op ander motors gelees. Base dink die klase wat vir hulle werk weet net hoe om te lees en te skryf as dit op werk betrekking en behoede jou as jou tikvingers een enkele fout begaan want dan is jy so dom soos grond.
Antwoord die telefoon, lieg deur jou tande omdat die baas nog timmer aan die dokument wat al gister klaar moes gewees het. Bestel middagete, maak koffie, bedien middagete, maak nog koffie. Tik dat die lessenaar bewe en formatteer dokumente wat ‘n ander klaas wat heeltemal ongeletterd is as dit kom by Microsoft Word getik het en jy moet finaliseer en maak fotostate van regsgesag wat geskryf is voordat Noag die ark gebou het.
Die kersie op die koek, om ‘n lelike anglisisme te gebruik, was die baas wat lankal afgetree moes gewees het en vir wie daar ek elke oggend ontbyt gekook moes word. Twee snye roosterbrood, ‘n lekseltjie Bovril of grondboontjiebotter, vyf snye cheddar wat baie dun gesny moet wees en twee gekookte eiers wat vir presies drie minute gekook moet wees. Nog ‘n koppie koffie. Terug lessenaar toe. Middagete wat nie bestel word nie maar ‘n drie-eieromelet met nog twee snye roosterbrood en nog koffie (die omelet wat jy gister gemaak was bietjie droog, sorg asseblief dat dit nie weer gebeur nie!). Nog rekeninge wat mediese fonds toe gestuur moet word. Wie is die idioot wat ons rekenaars regmaak – kry hom op die lyn NOU! Dáárdie stem wat soos ‘n tandarts se boor in jou kop weergalm vir agt sieldodende ure op ‘n dag totdat jy wil skree: “Bly stil, bly asseblief net stil!”
Ons verkoop ons siele – elke dag, elke week, elke jaar. Ons droom van koel, groen woude waar jy die stile kan hoor. Wat is die prys van ‘n siel? ‘n Nuwe selfoon, ‘n nuwe voertuig? Mens wonder partykeer ….




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 4
Kommentaar telling: 6

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 63 gaste aanlyn

Bydrae Totale