Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Bandopnemer

Deur Pannetjie
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2019 Aantal woorde: 580 34 Kere gelees 2

Bandopnemer

So in ons derde of vierde jaar op Stellenbosch het ek en ‘n vriend ook lus gekry vir die ondervinding van ‘n “blind date”. Beide van ons was genooi vir ‘n rugbydans op Koos de Waal se plaas, daar tussen Stellenbosch en die Strand en dit was ook sommer die geleentheid vir die nuwe ondervinding. So is daar ‘n gemeentskaplike vriendin opdrag gegee, natuurlik met ‘n string voorwaardes, om vir ons die “blind dates” te reël. So ‘n paar dae later is die name en die koshuise waarin die dames hulle bevind aan ons deurgegee met spesifike instruksies wie gaan nou saam met wie.

Hoe nader dit aan die Vrydagaand kom hoe meer kleinkoppie wil ons trek want die ding voel nie reg nie. Omtrent elke aand het ons twee kajuitraad gehou en beplan en hier by die Woensdagaand toe val die stukke redelik in plek.

Die volgende oggend is die stertknoper ingelig sy moes vir die twee dames laat weet ons sal hulle so teen 2 uur die Vrydagmiddag gaan oplaai sodat ons darem eers ietsie kan gaan drink daar op Lanzerack se stoep om net mekaar bietjie beter te leer ken en, o ja, ons moes self sorg vir drank dan sou ons sommer daar uitsorteer wie wat wou drink.

Die oplaaiery het heeltemal sonder voorval verloop (hulle was betreklik betyds) en is ons hotel toe vir ‘n dop. Daar het ons nou maar die gebruiklike vrae soos waar kom jy vandaan, wat swot jy, in watter skool was jy gevra en na so ‘n bier of drie was ons reg vir die “party”. Ons het ook uitgevind wat die dames wou drink en daar sit ons af drankwinkel toe. Maar ‘n drankwinkel is net vir mans en hulle moes maar in die kar wag. Met die dat ek uitklim laat ek per ongeluk my sleutels val. In die soekery na die sleutels sit ek die “tape recorder”, wat reeds vroeër die dag onder die sitplek gebêre is, aan. So is die gesprek tussen hulle, terwyl ons in die drankwinkel was, op band vasgelê. Ons het die drankwinkel goed verken sodat hulle genoeg tyd kon hê vir bietjie uitpraat, want ons het ook verstaan hulle ken mekaar al ‘n tydjie en is nie heeltemal vreemd vir mekaar nie en sou dalk maklik uitpraat.

Met die drank in die kar ry ons plaas toe. Daar aangekom is ons vier die saal in en ons kry sommer ook ‘n lekker sitplek waar jy lekker kan gesels sonder dat die “band” jou ore afblaas. Nadat hulle hul sit gekry het is ons twee gou uit kar toe om die drank se gaan haal. In die kar is die tape eers uit die “tape recorder” gehaal in die kar se bandspeler gesit, “ge-rewind” en geluister.

Nou toe gebeur presies waarvoor ons bang was. Die meisie wat vir my beplan was het vir die ander een gesê sy is darem spyt dat hulle nie voor die tyd geweet het saam met wie hulle gaan nie want sy sou veel eerder saam met die pel van my die party wou bywoon. Die ander een sê toe sy is nie so mal oor sulke lang mans nie want dit laat haar nog korter voel as wat sy is, so sy sou eerder saam met my wou gaan.

Met die inligting beskikbaar was daar ook later ‘n voorstel ingedien dat ons maats ruil en die affêre het gelei tot ‘n kortstondige liefdesverhouding.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 11
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 32 gaste aanlyn

Bydrae Totale