Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Babas by dosyne

Deur Ano
Datum gepubliseer: 11 Mei 2019 Aantal woorde: 761 205 Kere gelees 3

Dit gebeur toe dan ook so dat my vinnige uitstappie na die naaste winkelsentrum uiteindelik nie so vinnig sou wees nie. Want, soos die noodlot dit wou hê parkeer ek onbewustelik direk voor ʼn vergete-jare-gelede se vriendin (wat uiteindelik degradeer sou word tot ʼn verlangse kennis). Iemand wat selfs op die oninteressantste en luier as lui dae vermy moet word. Maar vandag is daar geen wegkomkans en ons groet soos opgevoede mense.

Alhoewel ons nie op slegte voet weg uit mekaar se lewens wegbeweeg het nie, het ek eendag besef dat mens nie die hele wêreld in jou lewe hoef te hê nie. En dat een enkele persoon die lewe vir ʼn ander so kan versuur dat jy al voor opstaantyd diep sugte rondgooi wat die beddegoed sommer voortydig laat skif. Al het mens net één goeie vriendin, is jou lewe ʼn lied en ʼn persoon wat nie heeltemal geluk in haar binnekant ervaar nie, kan die lewe vir almal lelik omkrap. Sy is immers ʼn meester op die gebied van verkleinering.

Nou ja, waaroor praat mens wanneer jy ʼn ander jare laas gesien het? Buiten die gespot oor my grys hare (wat ek met trots vertoon!) en haar pragtige donker hare wat sy nie eens nodig het om te kleur nie, doen ons maar die eerbare ding en vra oor mekaar se families uit. En daar is dit alweer. In haar boek is ek kwansuis nie ‘genoeg’ nie. Weet nie waarvan alles nie, maar vroeër jare was my werk ‘lelik’, dogter is lang lyf so vreeslik maer, ek het nie genoeg kinders gehad nie en het steeds nie genoeg kleinkinders nie. Ag jy weet, die gewone ou bitter-bek goed.

Ek voel hoe die krulle op my kop ʼn sentimeter stywer optrek en ek wil soos ʼn verwoede bul deur my neusgate snork en storm. Maar sy sien dit ook nie raak nie en borduur voort want in haar oë is ons seker in een of ander kompetisie (waaraan net sy deelneem).

Dit het lank gelede reeds begin toe ek gekies het om net twee kinders te hê terwyl sy haar deel tot die groei van die blanke bevolking deeglik nagekom het. Vyf kinders later het die fabriek eers ingegee. Dat ek nie ʼn kinderbruid en -ma was nie, is natuurlik ook verkeerd. Dat my kinders nog op skool was toe haar eerste kleinkind gebore was, was met minagting bejeën. Met reg was daardie baba haar trots, maar om voor jou 40e verjaardag biologies ouma te word is die minderheid se groot droom in die lewe. Meeste mense hoop om na skool eers te studeer en ʼn stabiele inkomste te verdien voordat hulle aan trou en babas begin dink. En meeste ouers hoop sekerlik dat hul kinders ook darem eers ten volle gespeen sal wees voordat hulle hulself aan vuil doeke en slapelose nagte oorgee.

En hier staan ons in die skroeiende son terwyl sy my weereens koggel dat sy al AGT kleinkinders het en siestog, jy het net nog enetjie. Foeitog. “Jy sal daardie maer dogter van jou moet aanspreek sodat julle familie kan uitbrei!” “Ek het al so baie kleinkinders dat ek nie eens meer almal se name kan onthou nie.” Vir sommige siektes is daar doodeenvoudig net nie pille nie, veral nie ‘ek is beter as jy’ siekte nie.

Een ding wat ek nooit sal doen nie, is om my kind aan te moedig om minder te werk en meer te spyker sodat hulle ʼn tros kinders kan hê nie. Hulle weet wat hulle kan bekostig en die res het niks met ons te make nie. En om agt kleinkinders se name te probeer onthou mag dalk tot ‘n permanente staat van paniek lei! ʼn Ander se lewe en geluk is nie my besigheid nie. Genadiglik lê verskillende mense se geluk op verskillende plekke en myne sluit ongelukkig nie ʼn swetterjoel gillende klein mensies in nie. Instinktief het ek geweet dat die geraas van ʼn halfdosyn jillende kinders my pylreguit na die naaste malhuis sou dryf.

Stilte – Ano floreer op stilte – en kinders is nie stil nie. En wanneer ʼn kleintjie stil is, is dit in elk geval selde ʼn goeie ding.

Met vrou se verjaardag kom die boodskap dat die negende kleinkind haar lewenslig aanskou het. En sy blom, dit is mooi. My hart gloei vir haar maar bly wonder waarom sy dit altyd nodig vind om op ʼn ander te trap sodat sy beter kan lyk. Elkeen is mos maar soos hulle is – perfek geskape en die Here het ons almal dieselfde lief, maar om daardie tipe liefde in jou hart vir jou naaste te hê, blyk maar moeilik te wees!




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    11 Mei 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2019 projek

  2. Kiekies

    13 Mei 2019

    ‘n Minderwaardigheidskomplek as jy my vra, maar wie is ek nou om te seg? Niemand het eers gevra nie.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 87

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 128 gaste aanlyn

Bydrae Totale