Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Aspoestertjie (k)ry ’n besem

Deur Ano
Datum gepubliseer: 31 Oktober 2019 Aantal woorde: 983 127 Kere gelees 2

Yup, so nou en dan kruip Aspoestertjie ook uit die denkbeeldige kas. Dit is dan daardie dag wat sy op haar knieë voor ʼn oop deur staan en die kledingstukke links en regs oor haar skouer na agter gooi, opsoek na ʼn geskikte rokkie om na die jaarlikse bal aan te trek. Al sou sy graag wou, mag jeans en flip-flops dalk nie die gepaste uitrusting wees nie en sy hou nie daarvan dat almal vir haar kyk nie (omdat sy op die verkeerde manier uitstaan nie). Om in te pas is immers baie veiliger.

So breek Saterdag uiteindelik aan. Dit is eers ʼn werkdag, dus word die naels die vorige dag reeds geverf en haartjies vroegoggend al gewas want later is daar nie tyd vir lawwighede nie. Dan is dit net spring-in-jou-rok-en-ry. Tannie GPS sê die pad links om is ʼn hele drie minute korter as die ander een maar Aspoestertjie weier halsstarrig om met die pad tussen die mielielande deur te reis. As die koets daar sou breek is dit verby met die partytjie en gʼn ordentlike mens neem ʼn uitnodiging aan en daag nie op nie! Hubby grom onderlangs maar Aspoestertjie hou voet by stuk – sy hou nie van daardie ander pad nie. Dit laat haar net angstig voel as sy begin dink sy is die enigste mens wat op die aardbol oorgebly het. Boonop sal sy tot in ewigheid van mielies moet leef en mielieblare maak nie sagte 2-laag papier nie.

Op pad daarheen giet die emmers en emmers water oor die koets en plek-plek sommer hael ook. Vir ʼn kort oomblik oorweeg hulle om dalk om te draai. (Dankie tog hierdie watervalle het hulle nie daar tussen die mielielande begroet nie!) Die stad se paaie word gou klein modderige riviertjies maar die koets beur dapper en versigtig voort.

Tannie GPS se verligting is net so groot en sy eis dat ons nét hier regs draai, daar waar die teerpad in ʼn anderste pad verander. Ene met ʼn ingeboude slipper-slide modderspoor. Aspoestertjie en koetsier kibbel oor die wysheid van hierdie rit, iewers tussen die onbekende bosse in. Koetsier hou selfs stil om te kyk of die koets nie dalk ʼn pap wiel gekry het nie want die wa “float” so effens… Boonop ry die ding net waar hy wil. Aspoestertjie hou haar asem op want in haar gedagtes sien sy al klaar hoe so ʼn ongelukkige voorval ver van skoon af sal eindig, en wie wil tog met n modderige metgesel by die bal opdaag?

Haas vergaap hom aan die glyende koets, Kiewiet skree sy verontwaardiging uit omdat ons sy laatmiddag rus so ongeskik verstoor en die son glip saggies oor die rand van die horison. Tannie GPS sê draai links. Draai NOU links. Draai nou dadelik om en ry in die rigting wat ek beveel, verdomp! Maar … daar is nie ʼn pad nie. Sy kan maar skree soos sy wil, gʼn mens wat reguit kan dink gaan die veld in foeter net omdat ʼn satelliet met ʼn verfynde stemmetjie so beveel nie. Teen die tyd wat die teerpad weer bereik word, is daar sommer nog ʼn hele paar ander koetse wat hier wil indraai. Duidelik is Antie GPS heeltemal deurmekaar. Dalk was sy reeds by die partytjie en is sedert vroegdag hoog in die takke.

Turn around. Turn around. Turn around…. Shut up vroumens! Ek slaat haar sommer in die verbygaan op die bek.

Die Koningin stuur ʼn “location”, maar selfs dit gaan draai nog ʼn keer teen die modderige bult. Iemand hou kop en vra aanwysings (dit was nie ʼn man nie). Die res van die partytjiegangers volg verlig en getrou soos eendjies in ʼn ry. Uiteindelik kom die kasteel in sig. Aspoestertjie slaak ʼn sug van verligting en vee vinnig die modderige spatsels van haar kaal bene af. Ah, die mense lyk darem so mooi en dit is so lekker om saam met ander te kuier wat dieselfde belangstelling deel. Koetsier brom iets onderlangs maar sy hou haar doof. ʼn Selektiewe doofheid, fyntjies ingeoefen kom handig te pas. Hy moet maar knor en brom, niemand het hom gedwing om sy grot te verlaat nie.

Die aand verloop vrolik maar oeps, daar glip Aspoestertjie netjies uit haar skoentjie uit! Sjoe, was daai slukkie sjerrie dan so sterk dat sy sommer vroegaand al haar skoene verloor? Dit moet tog asseblief net by skoene bly – niks hoër op nie… Verleë draai sy om om haar groot voet weer in die fyn skoentjie te steek maar helaas, die ding weier om aangetrek te word. Hy is kapoet – uitgelewer om die res van sy dae te slyt as ʼn stukkende skoen saam met ʼn vrot pampoen. Met ʼn sool kan mens ook nie veel uitrig anders as om dit op te tel en verder soos ʼn baba in jou arms te drá nie.

Hoe nou? Gaan Aspoestertjie nou met een skoen/een kaal voet vorentoe hinke-pink, of word beide skoene sommer summier uitgepluk? Watter een gaan die minste reaksie ontlok? Sy skiet ʼn goue munt op wat Padda in sy bek vang en insluk. Nou moet sy maar self besluit want haar mede tafelgenote weier om ʼn skoen uit te leen. Hierdie lelike stiefsuster se voete is te groot en sê-nou-net sy laat hul fyne skoentjies ook uit hul nate bars?? Sy kan dan nie eens haar eie goed oppas nie! Tsk. Die gaste giggel saggies onderlangs en opmerkings volg met elke sagte voetval. Aspoestertjie hou haar baie gepas, heeltemal en selektief, stokdoof.

Aspoestertjie verlaat die bal, skoenloos maar nie emosieloos nie. Koetsier volg vinnig op haar hakke. Sy stem se lang vingers volg al koggelende, “Anything you can do, I can do better…” Met hande teen haar ore gedruk vlug sy af, af, af met die trap, deur die saal met sy vele katoë en sagte pelse, die partytjie vergete. Sy glip om die naaste hoek, hark haar gras besem nader en vlieg huiswaarts in stilte.

En natuurlik sit sy dwars oor die ding! Gʼn ordentlike dame sit mos wydsbeen oor ʼn besem nie!?!




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    31 Oktober 2019

    KOSTELIK!!!!! ja die reen en gps het ons behoorlik laat les opse!! maar darem het ons n heerlike aand geniet kaalvoet of te not!!

  2. Riaan Palmer

    31 Oktober 2019

    Dis nou oulik vertel! 🙂

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 45
Kommentaar telling: 92

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 102 gaste aanlyn

Bydrae Totale