Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: As die liefde dan waansinnig is, mag ek nooit weer my sinne raakloop nie.

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 11 Julie 2019 Aantal woorde: 951 63 Kere gelees 1

As kind droom ons van die ridder op die wit perd, verlees ons aan Aspoestertjie en Sneeuwitjie en bou lugkastele rondom die sprokiesverhale. Dogtertjies na-aap hulle (met die hulp van die mammas) en trek aan soos hul gunsteling prinses. Pappas help ook met hierdie illusie en so glo die kind dat dit ‘n werklikheid is en nie net ‘n feëverhaal nie. Deur hul hele jonglewe bly daardie beeld by hulle, lank nadat die feërokkies met normale drag vervang is. Dit is dan ‘n illusie in die gedagtes en hart alhoewel die wêreld om hulle dit anders bewys. Hulle glo dat dit met hulle anders sal gaan as met die res. Stilweg vertroetel hulle hierdie gedagtes en het plakboeke vol van droom troues, en die perfekte Prins Charming. Dit is alles goed en wel maar wanneer ‘n ouer nie die gedagte gang stop en met iets anders vul nie sal daardie illusies bly. Solank as wat mense op hierdie aarde sal wandel.
Wanneer ons die grootmens wêreld betree dan wil ons “head over heels” val vir daardie een… jy weet die een wat jou voet laat lig die oomblik wat julle lippe raak. Net soos met Aspoestertjie. Kyk maar na “chick-flieks”. Op die groot skerm lyk dit werklik en sprokies figure word vervang met rerige mense. Die illusie word nou lewendig en werklik. Dit voer jou weg na ‘n bed van rose met die maan wat helder skyn in die agtergrond. Geen wolkie of donderstorm om die beeld te vernietig nie. Jy sien dan al hoe jy voor die kansel staan, met ‘n spierwit rok uit die blaaie van Vogue en die koets voor die deur wat julle weg sal voer na die kasteel.
Daar is miljoene boeke op die rakke van Biblioteke waar hierdie tema oor en oor beskryf word. Skrywers word skatryk uit hierdie illusies en miljoene lees dit oor en oor. Maar as jy rerig die stories van nader bekyk en nie met rooskleurige brille nie besef jy daar is meer verskuil agter die blink koets, spierwit kasteel en spierwit rok. Soms dink ek ons hou ons opnuut blind vir die dinge want dit is makliker om met die marshmallow-fluff te deel as die lang pad, stof, dorings en opdraandes. Dan praat ons nie eers van die vuil vloere, stief ouers en haatlike bure nie. Nee, ons fokus is op daardie sprokie van perfeksionisme toe gehul in sjokolade en duisend en honderde sprinkels.
Nie almal is gelukkig om ‘n liefde te vind wat jou beroof van jou sinne nie. ‘n Liefde waar jy hals oor kop ‘n besluit neem en daardie persoon blindelings volg. Die meeste van daardie blindelingse liefde beland in ‘n maalkolk van emosies en gebeure wat jou of na die hemel voer of na die hel. Ons menslike geskiedenis is deurspek van beide hierdie soort waansinnigheid. Vir die res van die wêreld maak dit nie sin nie maar vir die twee “waansinniges” maak dit perfekte sin en sal hulle mekaar volg tot aan die uit hoeke van die aardbol.
Elke mens, man en vrou, jonk of oud hunker daarna. Halsoorkop liefde wat jou sal bystaan, op lig en wegvoer. Sommiges is gelukkig en vind dit; dit lyk asof alles net perfek loop in hul lewens net soos in die feëverhaal. Maar hulle is in die minderheid en in nabetraging vind jy uit dit was toe nie so perfek soos wat hulle jou laat glo het nie. Hoeveel keer hoor ons nie van “perfekte paartjies” waar die man/vrou vermoor is of selfmoord iemand se lewe geëis het nie. Die skuldige is dan in baie gevalle die maat. Dit is dan wat jy besef maar hierdie soort liefde bestaan nie. Dit is dan wat baie mense koud en ontnugterd weg stap. Die sprokie het verander in ‘n verwronge na draai van jou gedagtes.
Waansinnige liefde is ‘n aanhoudende uitvloeisel van jou gedagtes en begeertes. Die persoon besef nie eers dat die spiraal van geluk afwaarts beweeg nie. Hulle besef nie die absolute verslaenheid en moedeloosheid wat sinoniem is met enige verhouding nie. Wanneer jy vir ‘n lang tyd in ‘n huwelik of vaste verhouding was val die skille gewoonlik af maar nie by die “Waansinnige” nie. Die skille bly en verwerp hulle die gevaar tekens. Môre sal die son mos weer skyn. Die maalkolk ‘n werklikheid sonder enige einde.
Die Internet is gevul met liefdes gedigte wat gekwoteer word op elke platform denkbaar wat hierdie liefde bemoedig en aanwakker in elke mens. Dit kweek ‘n obsessiewe klimaat wat ons koorsagtig na jaag alles om daardie verterende liefde te kan ervaar en hou ons weg van die werklikhede waarmee ons moet deel. So word al hoe meer mense depressief, ontnugter en bloot net negatief omdat dit nie kan bereik word nie. Hul uitkyk totaal bederf en los dit hulle verward en skugter agter.
Die slotsom – tussen die voue van die lewe is ware liefde bereikbaar. Miskien verskuil tussen al die sterre en glans maar daar. Deel van ons. Dit is in ons bereik en bring genesing help ons in die opwaartse pad sodat ons meer as net liefde kan ervaar. Dit is slegs by die boonste trap van die lewe wat jy rerig die lewe kan bekyk en waansinnig lief kan hê met die wete dat liefde mekaar verdra, dat dit geduldig is, dat dit nie sy eie belang soek nie. Dat dit als bedek en vergewe. En dat dit ons laat sweef ongeag die emosies of roosgevulde brille.
Liefde is ‘n werkwoord – waar ons meer moet doen as dink of droom. Net dan kan liefde waarlik waansinnig wees met ‘n oop kop en geen illusies nie.
Kopiereg@LynelleClark 2018




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 55
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 96 gaste aanlyn

Bydrae Totale