Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: As Die Donker weer kom

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 6 Augustus 2019 Aantal woorde: 778 54 Kere gelees 2

Jy bou ‘n huisie van kaarte. Elke kaart ‘n hoop. ‘n Droom. ‘n Wens. ‘n Aspirasie. ‘n Verlange. ‘n Begeerte.
Jy werk hard. Jy glo. Hierdie gaan ‘n pragtige huisie wees.

En dan, kom ‘n wind en die huisie stort in duie. Dalk is dit nie eers ‘n harde wind nie, maar ‘n ligte bries. Jy sak inmekaar, net soos die huisie. Moedeloos. Maar jy begin weer bou. Jy pak een kaart na die ander. Jy blaas die kooltjie van hoop weer aan. Stadig maar seker kry jy opgestaan. Die huisie van kaarte groei weer. Uiteindelik staan jy regop en trots by jou skepping.

‘n Vreemdeling kom verbygestap en bekyk jou huisie van kaarte.
“Nee.” Sê die vreemdeling en trek een van die kaarte uit wat die fondasie van jou huisie vorm.
Die huisie stort ineen. Die vreemdeling stap tevrede weg. Hulle verwoestende werk is gedoen. Onaangeraak deur die verwoesting, teleurstelling en hartseer wat hulle agterlaat.

Jy lê hopeloos, gebreek, langs die stapel kaarte. Jou handewerk, wat nou ‘n hoop rommel is, word nat van jou trane.
Jy kan nie meer nie. Jy wil nie meer nie.
Die Donker kom sit langs jou, omvou jou.
“Laat my in.” Sê Die Donker. “Ek sal vir jou sorg.”
Jy weet dis leuens. Die Donker sorg vir niemand en niks. Maar jy is te moeg, te seer om terug te baklei.

Mense loop verby jou, daar waar jy lê. Vriende. Familie. Hulle sien nie dat jy plat op die aarde lê nie. Hulle sien nie hoe Die Donker oor jou kruip, deur jou vloei, jou verder wegvat nie.
Die mense vra jou vriendelik “Hoe gaan dit?”
Jy lig jou kop op en glimlag breed. “Goed dankie!” Jy wil eintlik jou hand uitsteek en uitroep “Help my!”. Maar Die Donker maak jou stil. “Ek is joune. En jy is myne. Dis net ons. Niemand anders nie.” En dit word nog bietjie donkerder.
Jy weet jy moet hier uit. Maar daar is nie meer krag nie. Nie meer hoop nie. Nie meer drome nie.
Jy het genoeg gehad. Wil nie. Kan nie. Sal nie.

Hoeveel keer moet jy die huisie weer probeer bou? Die kaarte van hoop en drome en geluk is so gebuig en verinneweer dat dit nooit weer ‘n sterk fondasie sal wees nie.
Soos jy lê en wag vir Die Donker om sy werk te doen, sien jy ander mense wat groter, mooier huisies gehad het. Een vrou het haar kind verloor. Haar Donker is Hartseer. Sy kan geen lig verby haar Donker sien nie, dit oorweldig haar totaal en al.
‘n Ander man het alles verloor. Sy Donker is Drank. “Nog net een keer. Hierdie slukkie sal anders wees. Dis die laaste keer.” Sê sy Donker vir hom. Jy weet Die Donker lieg.
Daar is baie mense om jou. Jy sien al die ander mense om jou wat ook deur Die Donker gevat is. Jy verstaan. Hulle verstaan jou. Jy weet jy kan niks vir hulle doen nie. Hulle weet hulle kan niks vir jou doen nie. Party se Donker is baie donkerder as joune. Maar dis húlle Donker. Jou Donker is jóú Donker.

Die Donker is wreed. Genadeloos.
Daar is geen koors nie, geen wonde, geen bloed,
geen toetse om mense te laat weet iets is fout nie.
Net die stadige erosie van die self, so verraderlik soos kanker.
En soos kanker, is dit in wese ‘n eensame ervaring;
‘n kamer in die Hel met net jou naam op die deur.

Iemand gaan staan langs ‘n gevallene. “Staan op man!” Sê hy vir die gevallene. “Dis nie so erg nie. Moenie so sussie wees nie. Ruk jou reg.” Die gevallene probeer opbeur, maar Die Donker is te groot. Te swaar. Jy wil uitroep “Los hom uit! Wat weet jy van Die Donker af?”. Maar jy’t nie ‘n stem nie.

Langs jou kom kniel iemand. ‘n Vreemdeling. Sy glimlag vir jou en gee vir jou ‘n splinternuwe kaart. Sy draai woordeloos om en loop.
Jy draai die kaart om en om in jou vingers. Dis ‘n mooi kaart. Die Donker haal sy knieg van jou bors af. Dit sal ‘n sterk fondasie maak. Die Donker gee ‘n tree agteruit.
“Jy is spesiaal. Jy is belangrik vir ons.” Staan die woorde op die kaart.
“Jy is niemand. Jy is niks.” Probeer Die Donker vasklou.
Nog net een keer.
Jy sit die blink nuwe kaart regop en balanseer een van jou ou, geskeurde vuil kaarte dit. Dit staan net-net regop. Die begin van ‘n kaartehuisie.

Moenie huil as die son nie meer skyn nie. Jy gaan nie die sterre deur jou trane kan sien nie.

Nog net een keer.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 17

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 94 gaste aanlyn

Bydrae Totale