Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: April 2020 – Grendel projek – Kommentaar en uitslae

Deur Anze
Datum gepubliseer: 3 Junie 2020 Aantal woorde: 4871 359 Kere gelees 9

INK GRENDEL PROJEK APRIL 2020 UITSLAE EN KOMMENTAAR

GEDIGTE:
GOUD:
WENNER: No 7 – Caren Kearley met Vasgepen
2 DE PLEK: No 6 – Anzé Bezuidenhout met Dan breek die son
3 DE PLEK: No 4 – Carma Shaw met Voor dan

SILWER:
WENNER: No 10 – Andries Fourie (Seirdna) met Virus vvegters (op ‘n ligter noot)
2 DE PLEK: No 18 – Amanda Meyer De Meillon met Skrywersblok
3 DE PLEK: No 1 – Morne du Preez met Losprys vir romanse

BRONS:
WENNER: No 5 – Zebulon Kochk met Tuissitter
2 DE PLEK: No 2 ; No 15 – Annamarie vd Merwe met Hartsdief EN No 17 – Elmarie van kapmphen met Hok (gesamentlik )
3 DE PLEK: No 13 – Jessica Venter met Onsigbare oorlog

GORREL:Geen inskrywings

RUBRIEKE:
WENNER: No 3 – Marlene Erasmus met Inperkingstyd
2 DE PLEK: No 2 – Ano met goue handboeie
3 DE PLEK: No 1 – Riaan Palmer met The platform resensie

ARTIKELS:
WENNER: No 1 – Marlene Erasmus met Ontstaan van ‘n slot

VERHALE:
WENNER: No 1 – Marsofine Krynauw met Verby die grense van vryheid
2 DE PLEK: No 2 – Riaan Palmer met Dokter Aasvoël
3 DE PLEK: – GEEN

Baie geluk aan hierdie 15 lede!!
Ink moderator

Kommentaar

GEDIGTE:
BRONS
2.Belletrie

Toe die son
se epiese uittog
oor berge
die kruinroete
tot ñ sekere hoogte
geel verglans
het liefdeslettere
ñ tere snaar in my hart
geroer

want my fleksiel
want geslote is met
grendel en slot
bid deernisverse na
God

en
wanneer Hy my woorde
in sy oor knoop
koester my hart weer
hoop.

Let asseblief op die punktuasie betreffende jou [‘n]. Dié spesifieke teken wat jy gebruik is nie korrek nie. Die herhaling van want in die tweede strofe neem ek aan is ‘n vingerfout en moet eerder “wat” lees?
Kyk na my voorstel vir jou strofe 2:
“want my fleksiel
gegrendel en geslot
bid deernisverse na God” wat die geleentheid bied om van die herhalings te ontsnap.
In die laaste strofe sal “Sy” ook met ‘n hoofletter geskryf word.

Ek ken die betekenis van jou titel, en ten spyte daarvan dat jy skrams daarna verwys in “liefdeslettere” wonder ek tog of dit die regte titel vir jou vers is. Belletrie is leesstof, literatuur en selfs wêreldletterkunde, en daarom weet ek nie hoe jy dit sal motiveer nie. Stuur gerus vir my ‘n epos by inkmoderator@gmail.com as jy daaroor wil gesels.

Die gedig is lieflik, alhoewel ek effe kritiek gelewer het, sien ek die potensiaal raak en lees ek die skrywer se passies raak.

5.Tuissitter

Terwyl ek agter geslote deure sit
en 21 dae die grendeltyd toedrentel
word die bloei van ons
jare weggeruk

maar
soos my stilte nat trane
op geribte bladsye sputter
snoer reën my mond
met klaviernote op my blaredak
want sy’t simpatie
vir die verlies van ñ tuissitter

en laat my hart se juigtoon
tierelier in ñ liefdesdroom.

Heerlike en interessante titel.

Ek dink as jy “21” nie numeries nie, maar eerder uitgeskryf het sou dit kon help met die metrum en atmosfeer van jou gedig. Jy kon verder akute gebruik het om die woord verder te rek. Jy skep mos die idee hoe swaar die inperking is, en dit sou baie daarmee kon help.

Let asseblief op die punktuasie aangaande die [‘n].
Die swaarmoedigheid lig teen die einde van die gedig en daarom laat dit ‘n heerlike “smaak” in die leser se mond.

Jy het pragtige nuwe woorde en interessante woordordes geskep. Jou gedig lees ritmies en heerlik.

Baie dankie vir jou deelname.

12.Afgesonder

In glasskerwe weerkaats gesigte,
moeg en afgemat.
Verwronge in hartseer aanblik
staar met eensaam smart.

Weggesteek agter vensters
vasgevang in wêreldsvrees,
maar as hul net kan weet
om tussen die lyne te lees.

Agter grendel vir ‘n rede
dieper as blote oog,
het Hy ons afgesonder
soos Sy woord aan ons beloof.

Nes die dae van die uittog
het Hy Sy seën kom bied
vir hulle wat bly soek
het Hy liefde uitgegiet.

Sy gelofte kom in vervulling
juis te midde van die vrees
met genesing vir alle nasies
stort genade uit Sy Gees.

Die atmosfeer van die gedig is swaar, want ek dink dit is die deursnee emosie wat deur die grendeltyd veroorsaak is. Ek dink jy het die emosies goed beskryf. In jou laaste strofe praat jy van “gelofte” en ek dink dit behoort eerder belofte te lees. ‘n Gelofte is ‘n aksie wat mens teenoor sy God sal doen nié andersom nie. Ek dink jy het die geestelike ondertone in jou gedig mooi vasgevat want dit is duidelik waar jou troos opgesluit is.

Dankie vir jou deelname.

13.Onsigbare oorlog

n klein virus
slaan sy tentakels
oor die ganse mensdom
en versprei sy gif
onsigbaar
oor die hele aarde

tussen vier mure
laat hy ons ingehok
sommige eensaam
en alleen ingeperk
togesluit vir ons die beskerming
waar sy straf swaar
op ons skouers hang
terwyl hy lag-lag
steeds sy verwoesting saai

al sit ons agter slot en grendel
sal ons die onstigbare oorlog
uitwis en oorwin
want my God is soveel groter
as die duisternis se magte

Let op die [‘n] se punktuasie.

Jou vers is ‘n geslaagde poging. Die feit dat jy geen punktuasie gebruik het nie, jou vers in ‘n kleinletter begin en sonder ‘n punt gesluit het, maak dit vir my interessant. Hoekom sê ek so? Dit is asof jy geen beklemtoning, rusposes of aksente wou plaas op ‘n onsigbare “klein” vyand, soos jy dit noem, nie. indien dit jou beweegrede daaragter was dink ek dit is besonders slim. Daar is plekke in jou gedig wat die ritme beter bestuur kon word, maar is geheel ‘n leesbare vers wat die tema behoorlik omgord.

Dankie vir jou deelname.

14.Vryheid

Gun my vryheid onder hierdie land se son
waar my menswees bottend
tot sielsryp kan blom
sonder verdere verminking
van eensame inperking.

Gun my die vlaktes van die karoo
waar skape wei tussen bitterbessie en kambro.
Gun my die Kalahari se droë sand
waar hitte skroeiend deur denke brand.
Gun my die soel nagte van Natal
met tropiese vrugte kuslangs uitgestal.
Gun my ‘n wandeling langs die duinesee
waar branders klotsend spore weg kom vee.
Gun my ‘n kuier teen die Weskus af
met vars snoek, gevang uit ‘n bootjie met hoek.
Gun my die nostalgie van Pelgrimsrus
met verlange oor wat lewenswaarde is.
Gun my die diepkyk in Kimberley se gat
waar delwers rykdom uit die aarde kon vat.
Gun my ‘n piekniek in die Botaniese Tuin
sonder rassehaat, toyi-toyi of venyn.
Gun my die mooi van ons natuur
met plant en dier sonder uitwissing vir malse kuur.
Gun my die Hoogland se donder en blits
wat grommend dreun met harde reën vir lafenis en seën.
Gun my hierdie land se prag en praal
sonder opstand, moord en lewenswaardes wat daal.

Gun my in hierdie mooi sonskynland
‘n plekkie in die son,
sodat my nageslag sonder gevaar
in vryheid kan blom.

Jou gedig is ‘n teenstelling van wat “Grendel” behoort te wees. Dit maak die beoordeling vir my effe moeilik. Het jy voldoen aan die tema-opdrag? Het jy verlang na die skoonheid wat so betowerd en asemnemend beskryf is, omdat jy vanagter ‘n grendeltyd uitkyk, of het jy bloot ‘n nostalgiese reis geneem om die leser (of beoordeelaar) se aandag af te lei? Ek het drie keer hieraan gelees, en dit amper virtueel beleef, soos die ou Datsun bakkie advertensie, wat deur die land ry. Ek het egter bly sukkel om die mooie vers aan die tema te koppel.

15.Hartedief

My hart is toegesluit vir jou
en selfs al sou ek wou
kan ek dit nie meer oopmaak nie.

Die sleutels het ek vir jou gegee.
Maar wat maak jy daarmee?
Jy het dit goedsmoeds weggegooi!

En as ‘n sleutel eens verloor
vervang mens liefs die slot:
só hou mens ongewenstes uit
wat in kan kom om leeg te buit.

Jy het ‘n ander interpretasie van die tema geskep en dit is mooi. Jy het wel by die oorhoofse tema gebly en dit is verblydend. Ek het effe kleigetrap met jou keuse van punktuasie maar die inhoud vn jou vers is steeds vloeiend en geheel geslaagd. Die rymskema is slim en deurdag. Ek hou veral van jou slotstrofe wat treffend is.
Baie geluk hiermee.

17.hok

die noutes van jou siel
hok my in
jy het jou tralies
reg rondom my geplant
net ver genoeg gespasieer
dat ek bestaan,sonder om te lééf

aan die deur – ‘n grendel!
die sleutelgat ‘n ruimte
waar my hoop wagtend lê
om met die manjifieke krag
van rankende lootvingers
uit te stoot

die grendel knarsend
in stukke te laat spat
sodat ek snakkend en verbleek
na buite kan strompel
net om altyd te wonder:
het jy my binne gehou …
… of ek jou, buite?

Dit is werklik ‘n aangrypende gedig. Baie, baie treffend.

Ek het twee klein voorstelle, en nie om aan die inhoud te karring nie maar né ter wille van ritmiese oorweging.
Strofe 1:
“net ver genoeg gespasieer —
ek bestaan maar lééf nié”

en Strofe3:
“het jy my binne gehou …
of het ek jou buite uitgesmyt?”
of iets dergliks.

Dit is uitsluitlik voorstelle. Die dubbelgebruik van die ellips in die laaste strofe is nie funksioneel nie. Daar is genoegsame rus met die gebruik van een.

Die inhoud, soos ek vroeër gesê het is werklik sterk.

Goeie gedig.

19.Verlange

dig sluit die mis
oor gister se drome –
‘n lewensvuur geblus
deur siglose stomheid

waar dan die vryheid heen
die vreugdes van samesyn
hier waar hartsverlang in dowwe stilte
eggoloos ween

Kort en kragtige gedig wat uitklop met min woorde.
Twee opmerkings:
• Strofe 2, lyn 1: “waar is die vryheid heen” waar “is” “dan’ vervang. Lees weer jou sin: niemand praat so nie.
• Aangesien jy tóg van punktuasie (hoe minimal ookal) deur die aandagstreep in strofe 1 te gebruik, sou ek voortel dat jy jou vers met ‘n vraagteken sluit. Ek aanvaar dat jy die enjambies wou aanbied maar jy het jou eie reël gebreek deur die aandagstreep te gebruik.

Jou vers is ritmies en lees besonders maklik.

20. maanligdans

as die son rooi-oog ondergaan
en die geluide in die straat bedaar
sweef die maan silwersag in sy baan

waar jy eens op die verhoog kon Saute
is jy nou ingegrendel in dissonante laan
stille naggeluide jou maanlig-melodie

gooi oop die vensters reik na die maan
nuwe maniere nuwe verhoog
met vryheid en vrede kan jy jou buiging maak …

Kom ons begin by die ellips. Aangesien jou vers enjambies aangebied is sien ek nie die funksionaliteit van die gebruik daarvan nie. Verder, daar is baie streng reëls aangaande die gebruik van die ellips, of eerder hoe dit aangewend behoort te word: daar is nooit enige spasie tussen die voorafgaande woord nie. Daarom sal dit so lees: “maak…”

Die gebruik van die woord “laan” in strofe 2 lyn 2 is geforseerde en gedwonge rym. Daar is menigte woorde wat jy kon gebruik het wat beter sin sou maak van die gedagte wat jy probeer oordra het. Waak teen dwangrym.
“Sauté” wat ‘n balletsprong is behoort ‘n akuut aksent op die [e] te hê.

Die vers werk nie enjambies nie. Daar is werklik belangrike rusposes nodig om die leser se aandag te fokus en die gejaagdheid te ondermyn.

Stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com indien jy verder hieroor met my wil gesels.
Daar is ongelooflike potensiaal hierin opgesluit.

21. Koninkrykies

Geskille is soos die grendel van ‘n paleis*
wat ons verhinder om mekaar ons binnestes te wys.

*Spreuke 18:19

Dit is nou ‘n kort “vers” as ek ooit een gesien het. Ek wonder tog wat hiermee sou kon bereik, en veral onder die treffend titel, as jy sou wou. Jy het aan die tema gehoor gegee, maar ek wonder tog of dit nie eerder ‘n spreuk is en nié ‘n gedig nie.
Probeer, as jy wou, om hierdie vers te ontwikkel. Daar is potensiaal.

22. die virus

oor die aarde oor die waters
heers daar chaos en paniek
die verterende vrae en vrese
is Corona die – doodsengel

ingegrendel in mensgemaakte tronke
van hospitale en tente
die gekreun en gesteun
hygend na helende suurstof

bespiegel ons die oorsprong
van hierdie plaag – die pes
wat met die omen van Dr Li
toegesmeer en gesmoor is

Wuhan die episentrum
van die malle malende kolk
duisende verdoem tot kwarantyn
hospitaal en hel van huisarres

stilbly geen opsie meer
wêreld moet waaragtig weet
gewaarsku word van hul lot
van Corona nou Covid-19

wêreldleiers neem besluite
en stel maatreëls in – so
moet hul keer dat die pes
versprei en nog lewens neem

oor die aarde oor die water
heers daar chaos en paniek
verdoemend is die feite die skrif is
aan die muur – geen vinnige kuur …

Die gebruik van aandagstrepe op sekere plekke in jou vers is nie funksioneel nie.

Jy het die wêreldwye krisis verdig. Jy het voldoen aan die voorskrifte vir die projek.

23.Oerknal van liefde

Jou grendelslot hang swaar aan ons sonsopkoms, buig
sy sonstrale sodat lig katvoet dans op elke brok’lende klip,
kol-kol kruip teen grou grys graniet en skelm deurglip
om soekend die son se strelende warmte in te suig.

Jou langvingers het ons vryheid gesteel,
om ons moed, ons ek, die méńs te breek –
in hierdie maalkolk van swart nag te wreek,
het jy gedog… maar dog het hom verbeel.

Verbeel om ons terstonds te dood –
om met jou virus ons wanhoop te voed,
ons te laat glo ons sal vir al ons sondes boet,
maar hoop se oerknal weergalm teen jou aanslag,
jou dodelike aanslag wat ons wil raam vir manslag,
het mens se eeue oue geloof ontkiem in sy nood.

Die gedig het ‘n swaar toon, maar die tema leun hom daarvoor.
Jou vers lees op plekke kripties wat die vloei effe belemmer, maar as die leser oplet maak die inhoud tóg sin. Ek hou daarvan dat jy eintlik in gesprek tree met die “virus” sonder om hom op die naam te noem. Sekere begrippe soos “jou dodelike aanslag wat ons wil raam vir manslag” is moeiliker om te begryp, en die leser moet herlees om te verstaan wat jy eintlik wil sê. Die voordeel van poësie egter is dat jy nie interpretasiegebonde is nie. Dit maak jou werk meer toeganklik as die leser makliker verstaan, maar daar bestaan geen reël wat jou dwing om jou werk af-te-dom nie.
Jou gedig is gewigtig, maar die crux is duidelik.
Dankie vir jou deelname.

SILWER
1.Losprys vir romanse

Daar is nie ‘n prys vir liefde
nimmer ‘n goeie hart,
nogmaals as kind
sou al jou skatte as losprys vergeld-

was dit daai briefie met ‘n geperste viooltje:
roses are red and violets are blue;
of was dit die dag onder die peperboom,
waar Cupid sy kop uit die bossies steek?

was dit ‘n tyd toe oreades
soos verliefdes oor kabbelstroompies
mekaar rondrits in ‘n swelgparty
en die wenner sy maagdom bevry?

was dit toe jy die grendels van jou gekoekte woorde vrylaat,
vrylaat soos ‘n trop wildeperde
wat van onder die dekmantel
soos ‘n held deur die donker al die grendels losbreek?

maar dis daadwerklik toe al die gepulwerde stukkies van jou siel
soos kaktusse onder ‘n droë-son
na die soetsoen van soetreën
uit die grendels van dors breek.

Die herhalings van: “grendels” in strofe 4 en “soet” in “soetsoen” en “soetreën” kon vermy gewees het. Die kursiewe skrif by die gebruik van Engelse woorde is voorbeeldig en ek hoop ons mede-INKers neem kennis. Wat die “roses are red en violets are blue” aanhalimg betref behoort dit steeds met aanhalingstekens gebruik te word al is dit kursief. Dit is iemand anders se woorde en die reëls daarom is duidelik. Die verwysing na “oreades” in strofe 3 verwar my effe. Oreades, soos jy weet, is Grieks mitologiese nimfe wat in valleie en berge woonagtig was. Hoe pas dit in jou vers wat in die eerste twee strofes die progressie van jong liefde (romanse) beskryf? Ek sal graag wil hoor hoe jy die gebruik daarvan kwalifiseer. Stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com. Jy herhaal wéér “grendels” in jou laaste strofe maar dit is nie so hinderlik soos in strofe 4 nie.
Die gedig is sterk en wek herinnering en nostalgie by elkeen wat al voorheen verlief was. Daar is egter ‘n dieper les en waarskuwing dat mens nie jou “skatte” in oomblikke van passie lukraak moet uitdeel nie.
Jou gedig sluit sterkben die beeldspraak in sekere gedeeltes is pragtig.

3.’n Muurskildery vir ‘n skoenlapper

In die molekules van my
woon klein stukkies van jou
vêr vanuit my agterste serebellum
tot voor die kleinste skulp wat jou branders maal;
‘n geelkelkblom vir jou grendelson
en as dagbreuk kom
soetgeperste nektar vir jou geelkelkblom,
stik my in die stukkies van jou
stik my sodat jy kan onthou,
en waar ek jou inkerf sodat jy vas gegrendel bly
en ons die wolke ry
bou ek vir jou ‘n halsnoer;
vir jou hart
en skilder vir jou,
‘n
muurskildery
van my kwintessense
hart.

Ek wil 4 idees in jou vers bespreek:
* Serebellum: die gedeelte van die brein tussen die serebum en breinstam wat die koördinasie van willekeurige spierbewegings beheer. Gebruik jy dit om ‘n spesifieke rede of probeer jy nét klem lê op hoe diep die verband tussen die twee karakters is?
* “tot voor die kleinste skulp wat jou branders maal”: hierdie beeld is geheel losstaande van die res van die die strofe. Dit laat die leser verward.
* “en ons die wolke ry bou ek vir jou ‘n halsnoer”: hierdie twee sinne pas nie bymekaar nie en word veral belig met die gebruik van die [;]
* “kwintessense hart”: kwintessens beteken “slotsom” “voortreflikheid” en daarom is die gebruik daarvan in jou vers totaal verkeerd. Ek dink ook nie dit beskik oor ‘n aanvaarbare meervoud nie. Ek het nageslaan en vind nie die toelaatbaarheid van ‘n meervoud in enige bron nie. Jou vers is pragtig, en die oorhoofse idee is baie goed. Daar is egter ‘n paar gebruike wat aandag moet kry. Daar is ook heelwat herhaling van sekere woorde wat maklikbreggestel kan word. Ek bring ook nie jou titel in verband met die inhoud van jou vers nie. Indien jy wil gesels stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com

10. Virus Vegters (Op ‘n ligter noot)

Moffie van Pletzen en Skurwegat Gert,
van Skoonwaterpan,
het die virus kom afskrik
met ‘n klinkklare plan.

Baster van Vuuren en Willehond Brits
ook van Skoonwaterpan,
nou baie beskeie,
was deel van die span.

Moffie sou voorloop
en die virus vertraag,
wyl Baster en Hondjie
van agter aanjaag.

Skurwegat Gert
wag voor by die deur;
geen virus of Covid,
gaan by hom verby beur.

Sy voetwerk is vinnig
en sy lyf is te breed;
elke Covid versmoor
en vrek met ‘n kreet.

Baster, die prater,
moes onderhoud voer;
al woord wat hy uiter:
is “die virus se moer!”

Met Baster se sukkel,
is Willehond daar:
“Dit was nie vir ons nie,
dit was vir mekaar!”

Met Skoonwaterpan
se grendel gelig,
slaak die vierman se vroue,
‘n verligtende sug.

Die woord “moffie” mag dalk aanstoot gee, maar ek lees dit as satire en verwag die deursnit belese persoon sal dit ook só evalueer. Jou gedig is deurspek met humor en die rympatroon help om die gedig in die ligte, ritmiese toon te hou van die begin tot einde. Ek dink Phillip de Vos (wat ek as die Afrikaanse limiriekkoning sien) sal jou ‘n staande applous gee vir hierdie gedig. In hierdie tyd is humor nodig en jy het jou goed gekwyt van jou taak.

16.Koffieblom

Met nektar uit my koffieblom,
vroeg uit die vere,
voor die son opkom.

Drink ek die drome
van die nag,
tot dit wegspoel
as ‘n ademlose klag.

Besweer ek die vrese
voor my deur,
wat al rasend
aan my hart se grendel beur.

Stap ek deur die strate
van my dag;
deur die dinge
wat dalk nog op my wag.

Beleef ek die gawes
en die geur,
van die gunste en genade
van die Heer.

Met nektar uit my koffieblom,
los ek die lesings
tot die son opkom…

Die vers lees ritmies en maklik.
Ek staan stil by begrippe soos:
“tot dit wegspoel as ‘n ademlose klag” en wonder watter “klag” sou die “drome van die nag” inhou of is die keuse slegs om te rym?
“stap ek deur die strate van my dag” en wonder of “strate” enigsins ‘n doelnin die sin het?
Dit wil blyk asof sekere woordkeuses slegs oorweeg is om die rympatroon te ondersteun.
Ek hou egter van die nd at sive hierin nd at die vers ontwikkel tot ‘n goeie slot.
Die koffieblom is ‘n goeie metafoor vir ontwaking.

18.Skrywersblok

soos ‘n wildsbokkie met kring bruin oë
ingehok agter blokkiesdraad
sit ek hier
ek verlang na die vryheid
van alleenwees
sonder saamwees
waar my hart kan vry wees
ek verlang na die stilte
(sonder dwang)
waar ek ingeperk
(uit vrye wil)
die dieptes van my woordmyn
kan ontgin
ek wil vrybreek
wegbreek
van die oorverdowende
gedwonge stilte
wat onophoudelik
my rus verstoor
my woorde
laat opdroog
my vasketting in ‘n hel
van onverdiende issolasie

Die gedig verwar, juis met opset (of dit is hoe ek dit verstaan).
Die karakter verlang na die vryheid van alleenwees, sonder saamwees, terwyl hy/sy tóg klem lê op ‘n inperking agter blokkiesdraad alhoewel dit onverdiend is. Tydens die eerste leessessie het ek verwarring ervaar soos ‘n bytjie op ‘n lughawe, maar toe ek begin delf om te probeer sin maak raak ek bewus van die geforseerde chaos – dit is hoe skrywersblok opereer. Jy was baie slim om jou gedig so te ontwikkel. Daar is steurende herhalings soos “vry”, “vryheid”, “verlang” ens. maar dit kan maklik met ‘n paar sinonieme reggestel word.
Jou gedig maak ‘n indruk.

GOUD
4.Voor dan

voor die einde kom
wil ek eenkeer nog my arms strek,
met my hande aan die Bolandberge gryp,
myself ophys teen ’n krans
en grendelloos oor Kaapse pieke dans;
vastrap in die Karoo … en spring

ek wil my voete in die Vrystaat plant

want daar waar ek nog kind was
(en eens kon skoppelmaai)
wil ek weer vryvlug aan ’n bloekom
se oorhangtak gaan swaai

Heerlik ritmies, onoortroffe beeldryk en sintuiglik warm.

6. dan breek die son

deur ’n duisend konstellasies
waar menigte melkweë
voetboeie vries
en my pols onreëlmatig laat
stotter
oor eggo’s deur my kop
wat geen uiting kon vind
onder skadu’s van ’n engelvlerk
het die maan finaal verdwyn
en donker versteen
onder die aanklag
van my hart se geween
tog
bly hoop klop
aan die grendeldeur
waaragter
’n goudgeel Son weer
vir mý sal blom

Die metafore hierin is mooi. Dat jy Son met ‘n hoofletter skryf beteken dat die hoop nie nét in ‘n nuwe dag nie, maar ook in ‘n dieper, geestelike, plek skuil. Dit is soos ‘n sielsreis deur die onbekende (en grootse) heelal waar die karakter se soeke na hoop, agter ‘n grendeldeur, in bekendheid, gevind word.
Dis ‘n mooi gedig.

7.Vasgepen

vasgepen op wit paper
tussen ylblou lyne

so wou ek jou ook vang
met klankgrendels in kort sinne

voor vroegskemer
haar pastelkleure oor jou kon verf

maar ek het nie geweet
of woorde die regte wapen was nie

om jou mee vas te pen
op wit papier
woord vir woord
in ‘n konvensionele vers

Dit is ‘n vars vers. Ek het nie ‘n krummel kritiek of ‘n enkele voorstel nie.
Vince Lombardi het gesê: “Perfection is not attainable, but if we chase perfection we can catch excellence.” Jy het dit hier reggekry.

8.Boomskraap se drafpad

dis ‘n buitedag besef sy toe
sy die eerste
Tinktinkie op ‘n Kameeldoring tak verbydraf
Blinksaadbees- en Boesmangras
skitter velde vol net vir haar ‒
sy hoor hoe ‘n duisend stemme
in haar kop stilraak

sy hardloop verder met die plaaspad af
tot by Boomskraap se groot roeshek
alles veilig agter slot en grendel

daar draai sy om
windverwaaide klanke jabbel
deur haar hare
die kalkwit grondpad
lê soos ‘n rooi tapyt voor haar

sonbessie skreeu skrillend
en veraf blaf ‘n ou hond

dis herfs in die Kalahari
haar hart is verwinter
maar dis somer
wat speel met haar siel

nog ‘n vet sweetdruppel
slinger oor haar voorkop

vorentoe een tree op ‘n slag

vorentoe ‒
dis al wat tel

Die beelde hierin is mooi, maar hoekom voel ek dat die skrywer beeldlui en vertelsuinig word nader aan die einde van die vers? Was ek bloot bederf omdat dit groots afgeskop het?
Nietemin, die vers lees mooi ritmies maar effe verwarrend veral in strofe 5 waar nie minder as 3 seisoene beskryf word. Hoekom daardie keuse van woorde? Moet die drawwer nie juis minder “gespanne” wees as gevolg van die heerlike omgewing nie? Dit is bloot semantiek, maar as beoordeelaar probeer ek sin uit alles timmer.
Lekker leesvers, dankie.

9. ’n Ruimtetuig vir ’n lentekind

stuur vir my ’n lugballon
wat deur die ruimtes swewe
verby bome, oor teerpaaie,
deur wit wolke wat patroon
van hier tot daar waar Tulbagh
aan Saronsberg se voete
(in die lente) lê en droom

want
lentekinders kort ’n lugballon
wat (ongebonde) deur die bloutes wewe:
oor koringlande – ryp van aar,
plasse water wat weerkaatsings baar,
wit lelies en rietbos om ’n dam

en oor wingerdstok in kruis gespan
al langs hout- en draadstellasies –
beloftes van herlewing
teen ’n Bolandberg se hang

vang vir my ’n ruimtetuig –
’n reuse lugballon
wat êrens (tussen niks en nêrens)
verby vlug voor die son
en laat my vry in die boaardse,
laat sagte briese my verlei
oor skape en oor beeste
wat wei deur groene gras –
daar waar die Land van Waveren*
(soos ’n kleinood) in die voue
van ’n blouberglandskap pas

In strofe 2 is ek seker dit moet lees “swewe” en nié “wewe” nie.
Ek ervaar die “vryheid” wat die vers teweeg bring, maar ek sukkel werklik om die tema hierin raak te lees. As ek nie geweet het die tema is “grendel” nie sou dit ‘n uithaler vers gewees het.
Oortuig my anders indien jy wil by inkmoderator@gmail.com

11. Blinde bedes

deur geweefde tralies
het die daeraad gesluimer
met grendels ingeperk
gebede wat sagkens skuifel
om hande se bedelbakkies
nou is ‘n demper geplaas op lag
slotte gesluit om die keël se praat
terwyl oogskanse
blindelings vlug na oos

verby doringgrendels
rank woorde blind
soos ‘n verlore bidspringkaan
op ‘n reis in tyd
deur die melkweg
tot daar waar die dag weer
in volheid sal blom
en in harmonie
om ‘n nuwe dag
bevrydend
sal kring

Dit is ‘n gemaklike vers wat voldoen aan die voorskrifte.

RUBRIEKE
1. The Platform – Resensie
Dankie vir jou resensie hiervan. Ek is seker die lesers sal jou vermaning hieroor oorweeg. Let asseblief op spelling. Met prosa en poësie is dit die enigste wapens wat jy het.

2. Goue handboeie
Jou skryfsel is ‘n filosofiese, metafisiese (wysgerigte), geestelike en waardestelsel oorweging. Dit is, soos jy ook noem, nie ‘n geheel instemmende onderwerp nie. Op ‘n stadium praat jy van “jou waarheid” en dit is ‘n term wat ek in die moderne woordeskat heel komies vind. Jy maak jouself nie per sé skuldig daaraan nie, maar ek het ‘n broertjie dood aan die stelling. Ek stel dit net as ‘n vraag en maak geen stelling nie, maar bestaan daar so iets soos “my waarheid”, “jou waarheid” ens. en nie eerder “die waarheid” nie. Twee waarnemings oor een saak kan nie twee waarhede omarm nie, of hoe? Ek dink dit is goeie stof vir ‘n gesonde debat. Let op jou sinkonstruksie en dat jou brein nie vinniger dink as wat jou vimgers tik nie.
Ek is bly jy het die tema op hierdie manier ondersoek. Stuur gerus vir my ‘n epos na inkmoderator@gmail.com as jy verder hieroor wil debatteer.

3. Inperkingstyd
‘n Heerlike positiewe rubriek wat bemoedig. Jou aanslag is sag en gemoedelik en jou skryfsel lees heerlik en vloeiend.

ARTIKEL
1. Ontstaan van ‘n slot
Jy het ‘n baie slim aanslag grbruik deur die geskiedenis van die slot onder die loep te neem. Ek het dit baie interessant gevind.

VERHALE
1. Verby die grense van vryheid
Die verhaal is keurig en sluit ‘n lewensles in. As ek enigsins raad kan gee: moenie haastig wees om die storie klaar vertel te kry nie. Veral as jy geen voorskrifte het wat lengte betref nie. Ontwikkel die emosies. Let op die gebruik van punktuasie, en in hierdie geval die gebruik kommas wat nie altyd funksioneel is nie.
Heerlike, vermaaklike verhaal.

2. Dokter Aasvoël
Jy het geskiedenis met fiksie verweef op so ‘n mate dat die leser dit maklik as evangelie kan aanvaar.
Die onderwerp is baie swaar maar die werklikheid is dat ons met sekere dimge gelief moet neem.
Ek het lekker hieraan gelees. Dankie.

3. Stormbaai
Ek is verward oor die karakters. Is dit Maryna, Tanya en Lana of waar pas Maryna in?
Jou verhaal ontwikkel nie mooi nie met losstaande gedagtes wat sommer van nêrens inspring. Op plekke is die sinne lank en lomp sonder behoorlike en funksionele punktuasie.
Jou verhaal het goeie redigering nodig.

5. Morrigan gegrendel
Die verhaal lees asof dit ‘n hoofstuk uit ‘n veel groter en omvangryke storie kom. Die karakters oorweldig die leser omdat hulle verskyn en verdwyn sonder dat hulle teenwoordigheid ontwikkel word. Fantasie is ‘n heerlike speelruimte, en ‘n wonderlike genre van droom en verbeelding. Die skrywer het egter ‘n verpligting om die leser behoorlik aan die omgewing, agtergrond en karakters voor te stel.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 259
Kommentaar telling: 2915

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 303 gaste aanlyn

Bydrae Totale