Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Angs? Woede dalk?

Deur Ano
Datum gepubliseer: 20 April 2019 Aantal woorde: 1325 75 Kere gelees 2

Om myself te beskerm teen die verbanning op Ink se pragtige webwerf, sal ek liefs nie die gekleurde taal gebruik wat ek graag sou wou nie, al wil ek graag woorde gebruik wat die hel aan die brand sal laat slaan! Gelukkig hoef ek nie al my gedagtes neer te pen nie, en kan ek die swerkater in die stilligheid genoeg sleg sê dat die see hom nie sal skoonwas nie.

Teen hierdie tyd verstaan ek dat elke enkele gebeurtenis deur die enigste vyf dekades van my lewe my tot op hierdie dag gevorm het. En dat elke gedagte, geskrewe of gesproke woord, aksie en reaksie daardeur beïnvloed word. En, dat al het my sibbe in dieselfde huishouding met dieselfde stel ouers opgegroei, is ons ervarings totaal en al verskillend. Miskien is dit deels te wyte aan die feit dat ons in verskillende dekades gebore is – tye toe ons ouers meer of minder lus was vir baba- of tiener-geite. Danksy die beskikbaarheid van inligting in ons tegnologiese eeu, is dit moontlik om die byna-vergete legkaart stukkies stelselmatig te verstaan en in ʼn groter prentjie in te pas.

Dus, vandag ek is die totale opsomming van al die ervarings in my 19,728 dae. Van die kleinste keuses wat ek maak tot hoe ek reageer op onverwagse gebeure.

My eerste kennismaking met diefstal het ook verband gehou met die kom-en-gaan van “vreemde voete” op ons werf. Al weet ek dat daar absoluut betroubare huiswerkers is, kon ek hierdie wantroue nog nooit heeltemal afskud nie en die liewe ou Anna het maar lekker lang vingers gehad! Dit het my vyf-jarige hartjie gebreek toe ek ontdek dat my rooi beursie skoonveld was. Daardie klein beursietjie in die vorm van ʼn rokkie met wit kantjies en knopies aan die voorkant. ʼn Geskenkie van my ouboet en dit was in die laai onder my kleertjies versteek. Ma het net haar skouers opgetrek.

Nou en dan wonder ek of Anna ooit nog lewe, veral na die laaste keer wat ek haar sou sien.

Daardie laaste sien was dus ook ʼn skuins loer van agter ma se rok uit. Ma was baie kwaai met my en het my weggejaag, maar my 8-jarige oë het klaar gesien en verstaan dat die lewe nie altyd regverdig en maklik is nie. Miskien vir sommige inwoners van die land ‘n bietjie moeiliker as vir ander. Bebloed het sy en haar man op die agterstoep gestaan en geskree-baklei. Die swart geverfde sement het in ʼn see van taai rooierigheid verander en ek onthou nog hoe die vars bloed in strepies oor die man se gesig afgeloop het. Anna het haarself met ʼn stukkende bottel verdedig toe hy vir die hoeveelste keer aan haar lyf kom timmer het.

My pa se reaksie was egter onverstaanbaar. Ek het verstaan dat die man weggejaag sou word, maar Anna? Hoekom word die slagoffer toe ook soos ʼn sleg hond weggejaag? Is dit dan nie juis die tyd wat mens die verskille in nasie uit die pad moet stoot, haar binne nooi en haar wonde was en versorg nie? Beide was presies ʼn uur tyd gegee om hul goed te vat en te voertsek. Jip, my pa se woorde wat nou nog helder klink. Dit het ʼn diep indruk op my jong gemoed gemaak.

Nou moet ek kophou en probeer onthou dat my pa die produk is van al sý ervaringe deur die loop van sy lewe – ʼn hele 90 jaar daarvan. Maar waar was die naasteliefde daardie nag? Waar? Hoekom was hy so woedend en hardvogtig? Hoekom kon hy nie die vrou in haar nood help nie, maar het haar eerder in die donker nag weggestuur saam met ‘n persoon wat haar mishandel het.

Dit het my dus dan ook al hierdie lange jare geneem voordat ek vir die eerste maal met ʼn werklike inbraak te doene gekry het. Nie daardie klein beursie-diefstal nie, maar ʼn “ek-breek-jou-venster-oop-en-vat-alles-wat-ek-wil” diefstal.

Na die aanvanklike skrik en skok om laatnag moeg gery terug te keer en te sien dat alles wat jy besit oor die vloer van die slaapkamer lê, het woede ingetrek. Daar is in plekke gegrawe wat ek nie eens geweet het ‘plekke’ is nie! En selfs na ʼn week ontdek ek daagliks nog items wat vermis word. Ek wens die vloeksteen ʼn lang en droewige lyding toe voordat hy ʼn pynlike dood sterf. En mag dit gebeur voordat ons dalk nog ‘n besoek sal kry.

My juwele was natuurlik die eerste en opvallendste items wat wonderbaarlik voetjies ontwikkel het. Nie dat die goed oop en bloot op die spieëlkas uitgestal was nie maar eerder weggesteek op ʼn plek waar ek nooit sou kon droom iemand sou grawe nie. Dit feit dat daar dus nie ʼn enkele speldeprik-grootte wegsteekplek in hierdie kasarm van ʼn huis is nie, het my heeltemal onkant gevang.

Juis vanoggend ontdek ek dat daar wel ʼn kas deursoek is wat ek voorheen gedink het was gespaar van hul vuil hande. (Jip, daardie vuil vingerafdrukke teen my skoon kasdeure het my bloeddruk sommer nog ʼn paar grade laat styg!) Tussen die hordes skoendose het een so wraggies lewe gekry en uitgestap. Nie net sommer ʼn skoendoos met ʼn paar mooi hakkies in nie, maar die een waarin die vuurwapen se skoonmaak goedjies gebêre was. Nooit in my lewe het ek kon dink dat iemand deur al daardie houers sou vroetel en een ontdek wat toe nie skoene bevat nie! Genadiglik was die vuurwapen in ʼn onontdekte kluis. Kug-kug en ʼn harde sug terwyl ek verlig glimlag. Maar met die ontdekking van die laaste vermiste items het my hart byna twee maal bollemakiesie geslaan terwyl ek met dom vingers probeer om die kluis oop te sluit om te sien of alles nog daar is soos wat ons dit ʼn paar dae tevore gelaat het.

Om terug te keer na die kollektiewe gebeure deur die loop van jou lewe en hoe dit jou vandag beïnvloed, het ek onlangs geleer dat die hantering van stresvolle gebeure alreeds in jou vroegste dae en maande vasgelê word. Kinders wat kleintyd gekoester en geliefkoos word, kan stres beter hanteer. Wie sou nou ooit kon dink dat deur ʼn baba vas te hou, te sus, of met hom te praat en te speel, so ʼn invloed op die res van daardie persoon se lewe sou kon hê?

Het hierdie inbraak Hubby gepla? Ek dink so! Maar dit gee hom verseker nie slapelose nagte of nagmerries nie. Sy bors trek nie toe en ontwikkel ʼn benoude asemnood nie. Hy het nie daardie eerste nag wakker gelê met hande en bene wat onophoudelik ruk en bewe nie. Hy bekommer hom nie wanneer die son sak en die donkerte ons toevou nie.

Maar, die opmerkings oor my vreeslike “paranoia” het uiteindelik stil geraak. Hy frons nie meer ontevrede wanneer ek hom vra om asb. die veiligheidshek agter sy g@t te sluit nie en hy het selfs ontdek hoe om die sleutel te draai! Hy mor nie meer omdat ek al jare lank kerm oor die nie-bestaande veilige heining nie. Selfs meer as vantevore word ons sypaadjie nou ondersoek vir leë blikke, bottels en papiere wat daar mag rondlê.

Ek wonder of hy ook kwaad is? Vervloek hy die gemors omdat hulle ewe blatant ons lewe kom omgekeer het? Of is hy eintlik meer verlig omdat sy klere nie ook uitgegooi en oor die hele vloer verstrooi was nie? Dalk is hy heimlik dankbaar dat sy aardse besittings soos horlosies en verkyker misgekyk was. Dalk kan hy nie dieselfde mate van hartseer voel oor klein geskenkies en kosbaarhede wat nooit vervang kan word nie.

Mag die lelike gesig wat terug staar uit die silwer Frankryk-spieëltjie die ware toestand van die kyker se hart weerspieël en mag die kyker skrik vir dit wat hy/sy daar sien. En ja, mag hy siek word wanneer hy sy pap met die hond se poop scoop skep! Watse waarde het so ʼn kiemdraende vuil plastiek grafie vir enige ander persoon as die eienaar daarvan? Dit is die lekkerste item wat hulle kon wegdra – nie asof dit enigsins sin maak nie.




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. Kiekies

      April 22, 2019

      Sulke swerkaters!! Mog hulle op sensitiewe plekke begin jeuk en hulle vingers in vishoeke verander!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 39
    Kommentaar telling: 76

    Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur.... HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015)Guppy en Anderste Stories (2018)vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 2,859 gaste aanlyn

    Bydrae Totale