Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ALTERNATIEWE FEITE 2

Deur Toom
Datum gepubliseer: 25 Maart 2019 Aantal woorde: 903 98 Kere gelees 2

ALTERNATIEWE FEITE 2

[Deel 2 van ‘n pleidooi vir die opname van die ander ou se mening” .]

☾✲🕆✲☽

Hierdie amptelike weergawes: Ons ken dit mos uit die geskiedenis­boeke. Wat die koning of vors, die eerste minister of een of ander ertsbiskop of wesier vir gunstig gehou het, is toe in sy opdrag neergeskryf – en gou genoeg in die skole as waarheid verbrei. Veral in die Engelse geskiedenis­boeke, in die wêreldtaal. En toe dááruit in ander tale vertaal. Dus is die waarheid” wat die kinders oral leer – in Europa en die res van die wêreld – dikwels slegs die amptelike weergawe van die British Foreign Office of ‘n ander gesag­hebbende bron uit Londen. Later dan ook uit Washington.

☾✲🕆✲☽

Vroeër het ons dit propaganda genoem, vals propaganda: Wat ek sê is waar, wat jy sê is propaganda. Of, ek praat die waarheid en jy lieg.

° Neem ons as voorbeeld George Lacey se artikel Some Boer Characteristics” in die North American Review, (‘n artikel uit Cedar Falls, waarskynlik uit die plaaslike koerant) met die datum Januarie 1900. Daarin praal hy as iemand wat daar was en dit alles gesien het. Hy beskryf hoe hy rondgereis het om plase van die verarmde boere goedkoop op te koop. Maar, sê hy, hulle is nie so gasvry soos wat beweer word nie. Nee, hulle bied nie eers ‘n koppie koffie aan nie as hy by die opstal afstyg. Ons stel ons nou voor, hier kom ‘n bekende woekeraar, ‘n boereverneuker wat jou ‘n prys ver onder waarde vir jou plaas gaan aanbied en jy het geen ander uitweg nie, jy moet dit aanneem. En hy wil nogal gratis koffie kom drink. (Miskien is daar geen koffie meer in die huis nie?) Hierdie Lacey, of Brits of Amerikaans weet ek nie, vertel in sy lang artikel hoe agterlik die boere is, hoe ongeletterd, hoe vuil (byna so erg soos die Russe, sê hy). My vermoede is dat hy die inwoners van Cedar Falls daarvan wou afbring dat hulle die vryheidstrewe van die boere ondersteun; liewer sou hulle die Engelse bystaan. Vyftig jaar later het Engelssprekende ouers in die Unie nog altyd – deels-deels woordelik — hul kinders dieselfde alternatiewe feite ingeprent.

Soos ek dit verstaan, is dit propaganda, valspropaganda. In die moderne taalgebruik: alternatiewe feite. Vir my lyk dit asof die plan B-feite” hier voorrang voor die egtes, die eintlike plan A-feite” gekry het. Nog ‘n waarheid” wat voetgevat het: Alternatiewe feite of fake news”.

° Of ons kyk na die berig van die monnik wat die opdrag gehad het om op te teken hoe die verowering van Jerusalem tydens die heilige kruistogte afgeloop het. Hy het berig hoe die Christene tussen hoog-opgestapelde berge van stinkende afgehakte vleis en bene moes deur – dit wat hulle sélf veroorsaak het toe hulle die laaste oorlewendes gemoor het.

Toe Saladin die stad terugverower het, het hy die Christene vrye passasie tot die naaste hawestad gewaarborg. En wat vir ‘n plan-B-twak het ons in die skole geleer? Ŵie het hom Christelik gedra?

☾✲🕆✲☽

Wikipedia (minstens in die duitse weergawe) bied kenners, vakkundiges of eksperte die moontlikheid aan om bestaande artikels te verbeter, aan te vul of van voraf te herskryf — as en wanneer hulle merk dat iets alte foutief daarin staan. Ek meen, daar is seker ‘n behoorlike „filtreersisteem” in gang gebring om soiets te bewerkstellig. Dit kan slegs dan werk wanneer daar ‘n fout is en wanneer iemand hierdie fout bemerk het. En wat as daar geen fout is nie, maar daar is nog ander feite wat ewe waar is maar wat ignoreer is en word?

Ek dink byvoorbeeld aan die feit dat meer vrouens en kinders tydens die engelse oorlog in die konsentrasiekampe gesterf het as manne in die slag. Dat ander mense, al is dit ‘n uiters klein minderheidjie, NIE van die boere-oorlog praat nie, van die aanvalsoorlog teen die opstandiges, maar van die verdedigingsoorlog teen die aangrypers wat op tipiese manier slegs aan die goud en diamante wou kom. Dat daar heelwat meer (tienmaal soveel?) bantoes in primitiewe, onhigiëniese konsentrasiekampe (-krale?) gesmag en gesterf het. Dat diegene wat die (tweede) oorlog tot stand gebring het juis so ‘n groepie skollies was wat as Herrenvolk in die noordelike republiek ingedring en wild om hulle geskiet het en dat hulle voor die polisie terug na die veiligheid van die kroon gevlug het. Daar waar hulle wolhaarstories verbrei het.

Dit wat in die engelse geskiedenisboeke staan, is hoogstens DEEL van die gesamentlike waarheid, as dit nie as reëlregte (vals-)propaganda aan te sien is nie. Aldus: Een van die alternatiewe waarhede, of andersins fake news”. Ek sou alte graag wou sien dat ‘n teendaarstellking of miskien net maar ‘n „newedaarstelling” van historiese „feite” gebring word.

Is daar ‘n Wikipedia.af? Lees iemand Wikipedia.ne? Hoe lyk hul weergawes van die gebeure? En die „Boxer-opstand (die opium-oorlog in Sjina)? En die manier hoe die australiese settlaars hul aborigines „gesiviliseer” het?

Ek persoonlik sou dankbaar wees as iemand so ‘n opdrag wou aanneem. Iemand jonk (in gees), iemand met energie en die moontlikheid om aan die amptelike bronne, soos lêers in argiewe asook die geskrewe herinneringe van tydgenote of hul kinders, te kom en die ander waarheid te toon. Die waarheid wat nie minder waar is nie. Die waarheid wat dít vervolledig wat reeds bekend is. Wat dit onder omstandighede korrigeer.

Die alternatiewe waarheid. Perdalks die „waarnuus”?

© 25e.Maart2019_____🕆_________________tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 189
    Kommentaar telling: 183

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 1,863 gaste aanlyn

    Bydrae Totale