Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Al . . . daai . . . JAZZ!

Deur Kiekies
Datum gepubliseer: 16 Maart 2016 Aantal woorde: 1411 1437 Kere gelees 10

Jazz het my nog nooit rêrig aangestaan nie. In ons gemeente is ’n Jazz-sangeres, wat ook ’n pensionaris is. Daarom gryp sy elke geleentheid aan om iewers op te tree, want ons almal weet mos dat ’n pensioentjie gewoonlik te kort is vir die lengte van die maand.

Verlede Maandag dien dié vrou my twee klappe toe. (En ek dog sy is ’n vriendin.) Sy vra of ek haar Kaapstad toe sal neem om by die St Georges katedraal te gaan optree. Die dame wat haar gewoonlik neem, is nie beskikbaar nie.

Ek weet nie hoekom nie, maar ek is nog altoos skrikkerig, nee vrek bang, om in die stad te bestuur. En nou vra sy my om dit te doen om te gaan Jazz luister. Ek vra gewoonlik dat die Here sy arm om my skouer sal sit en sy hand oor my mond, want my lippe praat voor ek klaar gedink het. Daai dag het ek sweerlik vergeet om te vra en toe ek tot my sinne kom, het ek klaar geantwoord: ‘Jong, weet jy, ek sal dit doen.’

Na ons die oproep beëindig het, stap ek spieël toe om vir daai vrou wat vir my kyk te vra wat de joos dink sy doen sy. En dit nogal na donker op ’n Vrydagaand! Ek sien nie goed bedags nie en saans is ek byna ’n mol. Dis toe dat ek begin bid: ‘Here seblief, bewerk tog ’n manier om hierdie malligheid te verhoed, sonder dat ek self hoef kop uit te trek!’

Later die dag vertel ek my seun wat sy ma nou aangevang het, en ek hoop dat hy sal voorstel dat ek dit liewer nie moet doen nie. ‘Ma sal fine wees,’ hy het duidelik meer vertroue in my bekwaamheid as ekself. Gelukkig vir my is ek oortuig dat Bokka my later, wanneer ons oor Skype gesels, sal verbied om dit te doen. Ek meen; teen hierdie tyd weet ek verseker dis moeilikheid soek as twee vroue, een blinde en een oue, alleen in die nag onse N2 aandurf.

‘Babes, I know you can do it. Go and enjoy the evening.’ Is niemand dan wragtig aan my kant nie? Daarom vertel ek liewer nie vir my dogter nie. Ek sal dit nie oorleef as sy ook soos hulle dink nie. Ek gee haar liewer die voordeel van die twyfel. Nou weet ek die Here het ’n ander plan en hy sal daai ander vrou bevry van haar verpligtinge sodat sy soos gewoonlik die sangeres by haar gig sal besorg. Ek meen, sy is ten minste lief vir Jazz.

Donderdag, gedurende ’n Bybelstudie hoor ons hoe mens jou skild van geloof omhoog moet hou en vorentoe moet beur, by jou vrese verby. Toe weet ek; daar is nie uitkoms nie. Ry sal ek ry. Gelukkig het ons laas toe Bokka hier was, ’n ‘Soekie’ gekoop om my op onbekende paaie te lei, maar ek het nog nie juis van haar dienste gebruik gemaak nie. Tot Vrydagoggend. Ek prop haar by die aansteker van my Bonsai vier-by-viertjie in, tik ’n adres in en ry soos sy lei. Na negentig minute en tien bestemmings, is ek tevrede dat sy die padkaart van die Wes-Kaap ken.

Kwart oor ses tel ek vir Sangeres op, met ’n hart wat in my keel klop en ons vat die pad. Rigting Kaapstad. Soekie is op haar pos in die voorruit. Sy gee aanwysings, ek luiste, maar vriendin sê: ‘Nee, man hierdie vroumens wil jou die lang pad laat ry. Ek ken die pad, ek sal jou sê hoe jy moet ry. Sê sy moet shattap.’

Vyftig minute later sê sy: ‘hier moet jy indraai. Dis waar ons parkeer,’ en ek wonder met ’n oopmond waarvoor ek so bang was. Dadelik stuur ek vir Bokka ’n trotse boodskap: ‘Ons is hier! Veilig!’ hy antwoord met ‘Ek het geweet jy kan!’ Nou weet ek dit ook.

Ek staan verstom en stil-eerbiedig voor die ouwêreldse prag van die gebou. Die katedraal, wat ’n Anglikaanse kerk is, is tot Nasionale Erfenis van die Wes-Kaap benoem en beslis ’n trots uit die handewerk van Sir Herbert Baker wat dit ontwerp het. Dit was ook al die jare die hoofkwartier van Biskop Desmond Tutu en staan aan die voet van De Kompanje’s tuine.

Ons het egter nie kom kerk hou nie, maar is op pad na die graftombe, so word daar vermoed, onder die gebou. Dis waar ‘The Crypt Restaurant’ sorg dat Afrika en internasionale Jazz, kulture en keuken saamsmelt. Die dekor weerspieël die geskiedkundige waarde van hierdie gedeelte, wat al in 1898 gebou is. Drie jaar voor die hoeksteen van die hoofgebou gelê was.

Alles, tafels, stoele, mure en die plafon, is pikswart geverf en die tafellinne is helderrooi. Vet wit kerse flikker en weerkaats in die spieëls wat hier en daar teen die mure hang. Dit plafon lyk soos ’n omgedopte eier-karton. Halwe borrels, of is dit besonder ronde koepels?

Op ’n klein verhogie staan die tromme, ’n spierwit vleuelklavier, ’n kolossale kontra-bas kitaar en ’n paar mikrofone. Vriendin, uitgevat in haar splinternuwe bloedrooi rok wat styf oor haar vroulike mollige figuur pas, toets die klank en mikrofone. Expert in haar talent, maar tog opgewonde senuwee-agtig. Daarom moet sy gou nog ook ’n dampie buite gaan maak, om die bewerasie te beteuel.

Die pianis is ook die eienaar van die restaurant en alreeds vier-en-sewentig jaar oud. Welige silwer maanhare bedek sy hoof. Wanneer hy speel rond ’n Panamahoed die prentjie af. Die trompet- en klarinet-/saksofoonspeler is ook beide manne wat al aanstap in jare. Die trompetspeler was voorheen leier van die Dixieland Orkes en die ander was ’n leier van die Vloot orkes by Simonstad. Nie sommer sulke hierjy straatmusikante nie. So kom ek agter. Hulle speel dan terwyl hulle onder mekaar skerts en rondkyk vir die gaste.

Ek het al vir vriendin hoor sing by die kerk se Kerssangdiens, maar ek weet darem nie so mooi of sy hier inpas nie. En tog het hulle haar versoek om te kom optree.

Die eerste liedjie van die aand is Honeysuckle Rose uit die jare twintig en nog twee ander liedjies, Beijing en Indiana, uit dieselfde era. Hierdie manne mag maar. Sommer toe-oë ook. Heel verbaas besef ek die ritme neem besit van my lyf en voete. Nog meer verbaas is ek toe die seremoniemeester aankondig dat die volgende stuk ‘Just a closer walk to Thee’ is!

Nou is dit vriendin se beurt en ek is sommer namens haar benoud. Sy vat die mikrofoon in haar regtig hand vas en ondergaan ’n gedaante wisseling. ’n Hele metamorfose. In haar diep fluweelstem trek sy weg. Sommige note forseer sy uit met die skud van haar kop deur gesplete vibrerende lippe. Met die vry hand omhoog, klap haar die vingers, terwyl sy haar heupe wulps wikkel en Kalkoentjies-trap-al-so met haar voete uitvoer. Wie is hierdie nuwe mens?

Ek kan myself nie help nie. Aan die einde van die derde liedjie is ek vir een kort oomblik, net ’n oomblik, bly Bokka is nie hier nie. Terwyl ek luidkeels ululeer en my hande vêr bo my kop klap, weet ek hy sou sê: ‘moenie al jou finesse wegsmyt nie, vrou!’ Tog sou ek graag wou hê hy moes dit ook beleef.

Die gehoor is oorstelp. Sommige van hulle ken haar al vir langer as tien jaar. So hoor ek later. Die applous is oorverdowend en vriendin is in haar element. Nêrens pas sy só goed in as op hierdie verhogie nie.

Teen die einde van die heel laaste sessie, gee sy aan die mense die geleentheid om ‘n versoek vir ’n liedjie te rig. Ek glo nie wat my ore hoor nie: ‘Sarie Marais….Sarie Marais….’ kom dit luidrugtig. Waarvan praat hulle nou? wonder ek. Dis Jazz, nie volkspele nie. Die wye glimlag op haar gesig verraai dat sy al te gewillig is om dit te sing.

Sy trek daar los en bulder Sarie Marais soos ek dit in my hele lewe nog nooit gehoor het nie. Eers trekkerig, herhalend en stadig. Baie stadig. En die volgende oomblik bars daar ’n snel vinnige tempo uit. Ons klap hande en stamp voete en sing uit volle bors saam. Die pret en plesier borrel oor my lippe soos vonkelwyn!

Karen Zoid sou so verskriklik beïndruk gewees het met ‘Ouma Zoid’ se op-ge-Jazz-de weergawe van hierdie volksliedjie, maar beslis nie meer as ek nie.




TEMAS
11 Kommentaar
  1. HelenaMellet

    16 Maart 2016

    Baie mooi storie. Lekker gelees.

  2. Lollapot

    16 Maart 2016

    As die Liewe Vader besluit het, sou jou dogter se mening met Bokka en Boeta ooreenstem… En siedaar! ‘n Puik belewenis wat nie net nog ‘n helder kiekie opgelewer het nie, maar ook gaan sorg dat ons van nog vele meer avonture in die Bonzai 4×4 te lees sal kom. Trots op ma, en ‘n stukkie jaloers. Ek dink Jazz sal in my ook vatplek kry.

    • Kiekies

      16 Maart 2016

      Bly te kenne Lollapot. Dis toevallig ook die naam wat ek my dogter noem. Baie dankie dat jy saam gery het. Ons maak een van die dae weer so.

  3. Evelyn van der Merwe

    16 Maart 2016

    Lekker gelees en mens hoor sommer vir Sarie Marais met jou mooi vertelling. Knap gedaan.

  4. neels

    16 Maart 2016

    die lewe saam met Lynette is altyd vol heerlike verassings soo hierdie werk. weereens slaag sy daarin om die gebeurtenis te laat lewe

  5. Viooltjie

    17 Maart 2016

    Jy mag maar stories vertel, Kiekies. Nou het ek darem heerlik saam met jou gekuier. Wens ek was daar

  6. Anze

    17 Maart 2016

    Ai Kiekies.. ek was sommer saam met jou daar.. van waar jy in die kar geklim het (Ek is tot met n GPS te ang om in die stad te ry!!) tot by Sarie Marais.. weereens heerlik gelees aan jou vertelling!!!

  7. Kiekies

    17 Maart 2016

    Ai oeeee Neels, jy seg altyd die mooiste goeters, baie dankie! Viooltjie dit sou darem lekker gewees het, ne! Baie-baie dankie Anze dat jy saam met ou Bang-San gery het.

  8. Ano

    29 Mei 2016

    Sjoe is dit nie interessant hoe ‘n mens se vooropgestelde idees kan sneuwel nie?

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 52
Kommentaar telling: 570

Stories gebeur met my. Rondom my. Naby my. Al wat oor bly is om dit oor te vertel.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 144 gaste aanlyn

Bydraes – Argief