Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Adriaan Wolf se geite

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 28 Maart 2019 Aantal woorde: 2314 221 Kere gelees 8

Adriaan Wolf loer deur die blare na die verrimpelde tannie wat traag by die kothuis se voordeur uitkom. Sy sukkel met die krukke terwyl sy bewerig die voordeur probeer sluit. Adriaan sug.
“Om hemelsnaam tannie. Dis nie so moeilik nie!” swets hy binnensmonds. Die massiewe wolf beweeg geluidloos deur die bos, al hoe nader aan die weerlose oumatjie wat uiteindelik die deur gesluit gekry het en stadig met die paadjie af klikke-klikke met die krukke. Binne sekondes is die wolf enkele meters van die tannie af. Twee spierwit slagtande steek by sy lippe uit. Die pikswart oë volg elke beweging van die klein tannie. Elke spier van die kragtige Adriaan se lyf is styf gespan soos kitaar se snaar. Hy is naby genoeg om aan haar te vat. Dan gaan staan hy versteen. In ‘n oogwink trek sy bolip op om rye vlymskerp tande ten toon te stel. Hy probeer dit keer maar dit is te laat.
“Atiesjoe!”
Die skielike kliphard nies laat al wat dier en voël in die bos tjoepstil word. Die wolf knyp sy oë toe en verwag dat ‘n kruk hom enige oomblik teen die kop gaan tref, maar dit kom nie. Hy bly doodstil staan vir wat soos ‘n ewigheid voel, maar toe hy die klikke-klikke van die krukke op die paadjie hoor loer hy deur een oog.
Die ou vrou se gehoor is nie meer wat dit was nie, dink hy by homself. Dis nou as sy nog enigsins iets kan hoor, bygesê. Hy vryf vinnig met sy groot, harige poot sy neus voordat nog ‘n nies kan uitglip. Sy’t seker nou weer White Diamonds parfuum gespuit asof sy daarin wou stort. Dis dié goed wat hom altyd so laat nies. Hy spring rats agter die bos uit en land net-net agter die tante wat klikke-klikke aanskuifel. Hy lig sy twee massiewe pote tot langs sy ore, en steek sy tong uit met ‘n “prrrt” geluid.
“Simpel seniele ou vrou!” Sê hy klip hard, maar sy beweeg maar net aan; duidelik geen benul wat agter haar aangaan nie.
Hy staan net daar en wag totdat sy in die bos in verdwyn en die klikke-klikke nie meer hoorbaar is nie, dan draai hy om en stap doodluiters na die huisie toe. Hy ruk aan die voordeur, maar dié is stewig toe. Hy loop om die kothuis, en is glad nie verras om die agterdeur wawyd oop te kry nie. Hoe die verstrooide tannie nog nie rot en kaal gesteel is nie, is ook net ‘n wonderwerk.

Adriaan loer vir oulaas rond of ongure karakters hom nie dalk dophou nie, en glip dan by die huisie in en trek die deur agter hom toe. Hy bekyk die kombuisie op en af asof dit die eerste keer is wat hy die plek sien. Alles is giggel-pienk en alles wat nie pienk is nie het ‘n gehekelde doilie oor. Die wolf gril van kop tot by sy stert verby en wonder hoe die vrou nie aldag migraine het van vaskyk in die spookasem ontploffing van ‘n vertrek nie. Hy stap tot voor die kas in die hoek, loer in die kas en sug dan kliphard. Soos altyd ‘n bottel pienk “gin” en ‘n halwe bottel OBS.
“Liewe hemel vroumens. Wat moet mens doen vir ‘n iets wat ordentlik hare op jou bors kan sit in hierdie huis?” Sê hy hardop voor hy ‘n teug van die soet sjerrie sommer so uit die bottel vat. Weer gril hy dat sy hele lyf eintlik vibreer. In die hoek van sy oog sien hy ‘n beweging en spring met ‘n wrede grom om. Nou is die beweging weer agter hom en hy spring weer om. Toe hy besef wat aangaan ontspan hy en rol dramaties sy oë. Dis sy eie stert wat hy gesien het.
“Seriously Adriaan? Jy waai jou stert soos ‘n Yorkie in ‘n Sandton doedie se handsak. Om hemelsnaam, ruk jouself reg.” Hy probeer homself oortuig om te kalmeer, maar die opgewondenheid sit te vlak in hom. Dis tyd.
Die enorme wolf stap doelgerig deur die huis en stap die slaapkamer binne. Nou, as die kombuis oorweldigend pienk is, is die slaapkamer oorverdowend pienk. En alles het frilletjies en valletjies. Hy sou gewonder het wat dit is met ou tannies en valle en kant as dit nie was vir… Hy gaan staan voor die lendelam hangkas en wag eers ‘n paar oomblikke om die afwagting uit te rek voor hy die kas oopmaak. Binne hang ‘n hele rits van die ou tannie se slaapklere. Die pragtigste, mooiste, allerbeste slaap uitrustings. Een is van Egiptiese katoen, die ander een van die fynste sy en nog een van die gladste satyn. Soos wat die grote dier elke uitrusting bekyk vat hy saggies met sy poot aan die materiaal en bewonder die sagte kant en die fyn naaldwerk van elke uitrusting. Dan maak hy haastig die laaikas oop wat langsaan staan. Die buustelyfies peul omtrent by die laai uit. Hy spandeer nie soveel tyd om hulle te bewonder nie. Hy’t reeds ‘n gunsteling een. Die wolf trek ‘n swart, D-grootte bra uit die laai met versigtige teerheid. Dan wikkel hy sy voorpote deur die twee opening en probeer die koppies staanmaak op sy bors. Hy weet hy sal nooit as de nimmer daai gespe-gedoente agter kan vaskry nie – dis sweerlik toordery hoe ‘n vrou alleen daai goed maak vat.
Hy gaan staan voor die spieël en bewonder homself van die kant en van daai kant. Dit voel vir hom of die stukke materiaal net vir hom wat Adriaan Wolf heet gemaak is. Dan vaar hy weer die hangkas in en besluit op ‘n eenstuk nagrok wat van sy gemaak is. Met net ‘n klein bietjie gesukkel (en ‘n blou maermerrie) het hy uiteindelik die tannie se nagjurkie aan. Weer bekyk hy homself in die spieël, en dan draai hy soos ‘n wulpse ballerina in die rondte dat die onderkant van die rokkie in die lug in opgaan. Hy druk sy poot teen sy bek toe ‘n onverwagte giggel ontsnap. ‘n Skaduwee sak oor sy gesig. Wat sal die ander wolwe dink as hulle hom nou moet sien? Wat sal enige iemand dink as hulle hom nou moet sien? Hy wat die berugste wolf in die bos is…in vroue klere. Hulle sal nie verstaan nie. Hy verstaan self nie. Hoekom is dit so lekker om dié klere aan te trek?

‘n Klop aan die voordeur onderbreek sy gedagtes gewelddadig. Sy bloed word yskoud en dit voel of sy hart uit sy bors uit probeer klop. Wie de? Dalk is dit ‘n Jehovah Getuie…? Hy sal sy pamfletjie onderdeur die deur stoot en weer loop. Gee hom net ‘n paar sekondes…
Weer kom ‘n klop aan die voordeur. Hierdie keer harder en met mening gevolg deur ‘n skril stem. “Ouma! Oumsie?! Oooouummaaaa!! Dis ek, Rooi Kappie!”
“O blikemmer!” Sê Adriaan toe die werklikheid uiteindelik deurdring. Hy kyk paniekerig om hom rond. Daar is doodeenvoudig geen ontsnappingsroete nie. By die deur uit gaan sy hom deur die venster sien. En sy gespierde lyf sal nooit deur die diefwering voor die kamervenster kom nie. Dan sien hy die bed. Of eerder, onder ‘n berg van kussings – elke moontlike grootte en skakering van pienk – is die dubbelbed. Hy duik by die bed in met soveel mening dat daar ‘n reënbui kussings op die kamer neersak. Hy lê bewegingloos onder die kombers en hoor voetstappe om die huis beweeg begelei deur die meisie se eentonige “la-la-la”-singery. Hy hoor hoe sy aan die agterdeur peuter en die deur oopgaan. Deksels. Pleks dat hy die deur gesluit het.
“Ooooummaaaa?!” Kom die skril roep weer.
Haar voetstappe weergalm soos sy deur die huisie beweeg.
Wat de…? Dit klink of die meisie huppel en nie loop soos enige ander normale mense nie, dink Adriaan.
Uiteindelik kom die voetstappe, of eerder voetstampe, tot stilstand reg voor die bed. Die kolossale wolf probeer sy lyf sy klein hou as wat hy kan en durf nie eers asemhaal nie.
“Oumsie?” Fluister die meisie hier reg bo sy kop. Hy knyp sy oë toe en verwens sy eie simpel geite.
“Oumaaaaa!” Gil sy kliphard hier reg langs sy oor. Die wolf skrik so groot hy sit kiertsregop, sy oë so groot soos pierings.
“Goeie more Ouma! Hoe gaan dit vandag?!” Skree-sê die meisie met ‘n stroopsoet glimlag. Adriaan roer nie. Hy kyk net die meisie – wat sekerlik al diep in haar tienerjare is – stip in die oë. Hy het al gehoor van Rooi Kappie, maar sien haar nou vir die eerste keer in lewende lywe. Die bos ongetemde bloedrooi gemmer haardos verduidelik haar naam. Dis eintlik Rooi Kapsel, nie Rooi Kappie nie. En die sproete help ook glad nie haar voorkoms nie. Sekerlik is daar meer sproet as nie-sproet op daai gesig?
“Mammie stuur vir Oumsie lekker muffins en sy het gemmerbier gemaak en ook wortelkoe…” Die meisie se stem raak weg en die glimlaggende gesig vorm ‘n frons. “Ouma?”
Adriaan se gedagtes hol op en af deur sy kop opsoek na ‘n uitweg, maar hulle stop uiteindelik uitasem. Nee. Daar is geen oplossing vir hierdie situasie nie.
“Ja my kind?” Antwoord Adriaan in wat hy dink ‘n vrouestem is.
“Wat gaan aan met Ouma se…” Adriaan kan sien haar verstand probeer vir haar iets sê maar die hysbak gaan blykbaar nie tot bo nie. “Hoekom is Ouma se ore so groot?”
Nou is dit die wolf se beurt om te frons. Hier sit hy – ‘n uitgevrete wolf – in een van haar Ouma se uitrustings soos ‘n propperse “drag queen”, in haar Ouma se bed en sy kan nie sien wat reg voor haar oë is nie? Is die kind “stadig” of iets?
“En hoekom is Ouma se neus so groot?”
Die vermetelheid! Waar in jou lewe vat jy ‘n wildvreemdeling so in die gesig? Hy sal nie eers vir iemand wat hy vir jare al ken sê hulle het ‘n groot neus nie. Jy beledig mos nie ander so nie.
“En hoekom is Ouma se tande so groot?”
“Jy is seker nie ernstig nie?!” Antwoord Adriaan, sonder om te dink en boonop sommer in sy eie stem. “Is jy blind of het jou Ma jou op jou kop laat val? Jy weet mos voor jou heilige siel ek is nie jou Ouma nie, ek’s mos ‘n bloemen wolf!”
Daar is ‘n oorverdowende stilte. Hy’s nie seker of het die realiteit uiteindelik by haar verstand opgedaag en of is dit maar net ‘n reaksie nie, maar haar mond val oop en sy begin aan die gil gaan. Dit is eers so ‘n lae, diep gil wat die venster laat vibreer, maar soos sy haar asem kry gaan die gil 5 oktawe en 100 desibels op. So dat die naaste dorp se honde sommer aan die tjank gaan.
“Stop! Om hemelsnaam bly net stil! Ek kan verduidelik…” Adriaan waai verwoed sy massiewe pote op en af om haar te probeer paai. Vir ‘n oomblik bly sy stil, maar dit was toe nou net om weer asem te skep. Die wolf begin paniekerig uit die bed uit opstaan, en toe die meisie die totale prentjie inneem, uitrusting en al, toe val sy sommer nog 5 oktawe hoër in.
“Dis nie wat jy dink nie!” Probeer die wolf weer. Hy voel die trane lê vlak agter sy oë. Dan vererg hy om. “Sowaar as nannies, ek het in jare nie my mond aan rou vleis gesit nie, maar ek sweer meisietjie as jy nie nou stilbly nie byt ek jou sowaar as waaragtig vandag!”

Rooi Kappie word stil asof iemand die af-knoppie gekry het. Terselfdertyd raak beide bewus van ‘n vreemde man wat in die kamer by hulle staan. Hy’t ‘n blokkies hemp en ‘n denim aan, ‘n tamaai baard wat alle rigtings staan en ‘n moewiese byl in sy hand. Die man kyk die wolf in sy gewaad op en af. Rooi Kappie kyk die man op en af. Die wolf weet nie waar om te kyk nie. Die wêreld staan stil vir ‘n ewigheid. Dan begin alles weer teen die spoed van ‘n heilige hadeda beweeg. Die vreemde man lig die byl op. Rooi Kappie knipoog vir die man. Adriaan byt. Die man. Aan die arm.
“Eina dêmmit man! Dit was nou onnodig!” Sê die man en gryp sy arm vas waar Adriaan hom gebyt het.
“Wat? Jy wou my met die byl kap. Ek moet iéts doen.” Sê Adriaan verskonend en bekyk die man se arm.
Rooi Kappie tuit haar lippe in die rigting van die man.
“Is jy mal? Ek sal mos nooit iemand met ‘n byl kap nie!” Sê die man, duidelik in die gesit gevat.
Adriaan hou die man se arm in sy pote vas en bekyk die plek waar hy hom gebyt het sorgvuldig. “Ag jammer man. Kyk. Dit bloei nie eers nie. Daar’s skaars ‘n rooi merkie.”
Rooi Kappie gaan staan reg teen die vreemde man maak effens maalbewegings met haar agterwêreld dat haar heup teen sy bobeen skuur.
“Wat gaan aan met haar?” Vra die man en skuifel ongemaklik weg van die meisie af.
“Vra dit. Die wieletjie draai maar die hamster is nie in die hok nie…” Sê die wolf en trek sy skouers op.
Rooi Kappie knipoog weer vir die vreemde man.
“Wat is met die… uhm… uitrusting?” Vra die man, en hy beduie na die nagjurk en die bra wat na die geharwar soos ‘n halsband om die wolf se nek hang.
“Ek… wel… jy sien… dis…” Adriaan kry nie die regte woorde nie.
Rooi Kappie skuifel-skuifel totdat sy weer teen die man staan.
“Wil jy gaan vir ‘n bier en daaroor praat?” Vra die vreemde man.
“Adriaan Wolf.” Sê die wolf en steek sy poot uit.
“Waar gaan Ouma nou?” Vra Rooi Kappie.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    28 Maart 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 17

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 87 gaste aanlyn

Bydrae Totale