Jongste aktiwiteit:

Skarlakenkoors (Brons)

Party mense se probleme ontwikkel oor tyd. Ander mense word gebore met hul probleme. Lien is gebore met haar verdriet. Asof die vurige boskasie op haar kop nie erg genoeg was nie, kon Lien dit nie naby die son waag net. Jy kon letterlik vir haar staan en kyk hoe die sproete op haar uitslaan, net omdat die son buite skyn.

Na haar eerste dag op skool het sy in trane vir haar ma gesê sy sit nie weer ‘n voet by die deur uit nie. Lien het haarself aan die slaap gehuil, maar die slaap het egter weer die ander kinders se walglike singery in haar ore laat eggo. Tonele van meisies met perfekte blonde poniesterte wat om haar draai en draai het in haar nagmerrie, soos ‘n rolprent, afgespeel: Soos hekse wat onder ‘n sekelmaan ‘n bose ritueel dans en met “Kerriekop! Kerriekop! Eet jou ma se kerrie op!” koorgesang krom vingers na haar wys. Aangehits deur haasbek seuntjies met muisbruin hare terwyl onderwysers met pikswart hare vanuit die skadu’s haar aangluur. Lien se eie snikke het haar help ontsnap uit die droomwêreld. Nie dat die werklikheid enigsins beter was nie. Lien se skooljare was hel. Gekoggel, bespot, geterg asof Lien enigsins beheer gehad het oor die kleur van haar hare waarmee sy gebore was. Maar kinders het nie ‘n saak met feite of foute nie.

Die oomblik toe Lien klaar met matriek was, het sy weggevlug stad toe, met die hoop dat sy sal wegraak in die see van naamlose gesigte. Maar dit was onmoontlik, want selfs in ‘n saal vol mense het Lien uitgestaan met haar ontembare bos hare, soos ‘n vuurwarm vonk in ‘n landskap van vaal en lewelose kleure. Omdat sy die genadelose Afrika son haar hele lewe vermy het, was haar vel pragtig, perfek – as jy verby die spikkelsproete gekyk het. Haar perfekte kurwes, beeldskone fluweel vel, brandende bos hare en volmaakte gelaat het die mans laat staar. Hulle was egter almal te bang om met haar te praat: Sy was ‘n godin en hulle doodgewone sterflinge.

Michael het vir weke, van ‘n afstand af, om Lien gedraai, soos ‘n magtelose mot om ‘n vlam in die nag. Hy wou dag in en dag uit net na haar staar. Sy obsessie het gegroei tot hy dit nie meer kon uithou nie. Hy’t na haar toe gestap en met al die moed in sy wese uitgeblaker “Jy is pragtig!”.
Toe die man na Lien toe aangestap kom, het sy teruggedeins. Nog ‘n spotter wat vir haar kom lag? Maar sy woorde het haar onkant gevang.
“Wat?” is al wat sy kon uitkry.
“Jy is die mooiste mens wat ek nog ooit in my lewe gesien het!”
“Dink jy jy is snaaks?” Sy’t vies omgedraai, maar Michael het haar voorgekeer en koorsagtig een van sy kunsboeke uit sy rugsak gehaal. Hy’t vinnig deur die boek geblaai, by ‘n volkleur foto van ‘n skildery gestop en dit vir Lien gewys. “Kyk!”
Die toneel het ‘n jong vrou, seker Maria die maagd, uitgebeeld wat half naak op ‘n klip gesit het, omring deur gerubs.
“Wat moet ek sien?” Het Lien skepties gevra.
“Kyk hulle hare!” Die gerubs se hare was presies dieselfde kleur as Lien s’n. “As jy 500 jaar terug gebore was, sou Raphael jou gekies het om ‘n model te wees vir sy gerubs. Raphael het gedink mense met hare soos joune is engele. Ek dink ook jy is ‘n engel. Raphael sou waarskynlik jou sproete toe geverf het, maar dit sou ‘n fout wees! Wie sal nou die sterre uit die hemel probeer verf?”




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed