Jongste aktiwiteit:

Tjoek-Tjoek

Die groot hout horlosie in ontvangs se wyser slaan oor na vyf uur. Wat ‘n verligting dink Lyndi, nou kan sy huis toe gaan. Dit was ‘n lang dag. Sy wil vinnig by die huis kom sodat sy kan regmaak vir haar eerste afspraak saam met Alex vanaand.
Sy neem haar leer handsak, sit die skakelbord op “voice message” vir die nag en stap by ontvangs se deur uit. Almal is al huistoe behalwe sy en haar baas. Ontvangs moet oop bly tot vyf uur en haar baas werk weer laat vanaand.
Sy kyk op haar horlosie. Dit is nou al tien oor vyf. Sy voel sy draai te lank. Sy stap vinnig tot by die bekende ou bushalte met sy lendelam bankie. Lyndi se vervoer is die busdiens en sy is baie afhanklik daarvan, haar motor staan by die woonstel met ‘n pap battery. Sy sug, eintlik is sy al so moeg vir hierdie werk. Soms dink sy om maar huis toe te trek. Maar by haar ouers se huis gaan daar minder as niks aan nie. Sy is ‘n plaasmeisie, maar geniet die stadslewe so baie. Hier kan sy in die winkels rondloop en ure lank saam met haar nuwe vriendinne in haar woonstel kuier en klets.
Sy kyk weer op haar horlosie. Die bus neem lank vanmiddag.
Sy loer om die bushalte se afdakkie. Dit is snaaks dat daar nie mense is vanmiddag nie, hoekom is sy alleen? Gewoonlik is daar ten minste so agt ander moeë siele wat staan en wag vir die bus. Sy kyk weer op haar horlosie. Dit is al amper half-ses. Nee, iets is verkeerd dink sy en dit is al pikdonker en koud.
Nie ver van die bushalte af nie is die treinstasie. Sy oorweeg dit om daarheen te stap, maar sy is te bang. Nou raak sy bekommerd. Dis is te ver om woonstel toe te loop. Sy sal eers tien uur vanaand daar aankom. Haar mooi sandale sal ook blase op haar voete druk.
Nou staan sy buite die bushalte se afdakkie. Sy merk dat dieselfde minibus elke paar minute by haar verby ry en dat die bestuurder elke keer na haar kant toe loer. Die volgende oomblik ry hy weer verby haar maar die keer stop hy. Hy beweeg agteruit na haar kant toe en die deure swaai oop. Ongeveer tien mense klim uit, almal gesels met mekaar en sien haar nie eens raak nie. Sy kyk weg en maak of sy niks raaksien nie en vir iemand wag, sy is vreesbevange. Toe al die passasiers ‘n ent weg is, roep die bestuurder vir Lyndi. Sy kyk verbaas op.
“Mevrou, kan ek jou help? Die busse, hulle kom nie vanaand nie, hulle sê die ‘hi-way’ is toe!”
Lyndi byt haar onderlip vas en huiwer eers.
“Mevrou,” roep hy weer.
“Ek sal vir jou help, jy kan nie alleen hier staan nie, dis baie gevaarlik hier na ses!”
“Ek bly ver. Ek weet nie of jy so ver sal ry nie!” sê Lyndi bewerig.
“Waar bly Mevrou?”
Lyndi weet dat sy nie met vreemdelinge moet praat nie maar sy begin te dink dat hy eerlik kan wees en haar kan help. Dit is in elk geval al donker en daar is niemand meer in sig nie.
“Mevrou, kom ek sê so, hier is niemand in my bus nie, ek sal jou help. Mevrou, ek wil nie môre hier kom dan het iemand mevrou seer gemaak nie,” sê die man.
Wat gaan sy doen? Soveel gedagtes gaan deur haar kop van mense wat opgetel word langs die pad en nooit weer by hul huise terug kom nie. Net toe klim die man uit die minibus en stap na haar kant toe. Hy steek sy hand uit en groet haar, sy groet ewe verleë terug. Nou bewe sy behoorlik.
“Mevrou, ek kan jou help, ‘trust’ my. Mevrou kan hier agter sit by die deur en as jy voel jy wil spring dan spring jy net. Die deur bly oop, hoe klink dit?” vra die man. Hy sien hoe bang Lyndi is.
Sy sien ook dat hy ‘n hempspeld dra wat sê, “Christ is my Saviour.” Sy voel amper verlig.
“Nou goed, ek sal so bly wees as jy my kan help. Ek bly in 21 Langstraat,” sê Lyndi vinnig en hoop maar vir die beste.
Die man glimlag en stap saam met haar om sy minibus. Lyndi merk ook op dat ‘n groot kruis agter op die bus opgeplak is, sommer so half oor die agter venster. Op die kruis staan “Tjoek-Tjoek”. Sy stap om en klim in. Die banke waarop die passasiers sit is baie oud en party se sponse loer al uit soos ‘n ou man se baard. Sy kry die vreemde man skielik baie jammer.
Stadig ry die minibus van die bushalte weg terwyl Lyndi saggies bid om net vanaand veilig by haar woonstel te kom. Die minibus se deur is nog steeds oop soos wat die man gesê het hy sal doen. En so ry hulle aan met die groot pad. Na vyf minute loer hy in die tru-spieëltjie en sê: “Mevrou, my naam is Tjoek-Tjoek, aangenaam.”
“Lyndi,” sê sy vinnig en staar weer by die oop deur uit. Sy knyp haar handsak stywer vas.
Toe gebeur wat Lyndi nie wou hê nie, nog ‘n passasier wil opklim. Tjoek-Tjoek stop, neem die man se geld en hy kom sit net so skuins agter haar. Lyndi is nie gewoond aan vreemde mense nie en beur al hoe meer voorentoe. Sy is heeltemal uit haar gemaksone.
Twee stoppe verder klim nog ‘n passasier in, ‘n jong seun wat langs haar kom sit. Hy glimlag baie breed vir haar en sy merk op hoe mooi wit sy tande is. Eers staar hy na Lyndi en dan eet hy verder aan sy appel. Lyndi wonder hoekom is daar so baie mense na donker nog op straat. Die arme mense wat nie kan bestuur of voertuie besit nie.
“Mevrou, Tjoek-Tjoek is ‘n baie goeie mens!” sê die seun en lag met sy wit tande. Hy hap weer sy appel en kyk by die venster langs hom uit. Sy merk op dat die appel mooi blink. Met die wag vir Tjoek-tjoek het hy seker lank sy appel blink gevryf.
“Hoekom vertel jy my dit?” vra Lyndi belangstellend.
“Want hy is ‘n man van God! Hy help mense na donker en sal jou enige tyd huis toe neem. Net hy gee om!” sê hy met ‘n groter wittand glimlag.
Lyndi glimlag. Na tien minute is Lyndi weer alleen agter in die bus. Sy hoor Tjoek-Tjoek roep na haar en vra dat sy liewer voor moet kom sit sodat hul die deur kan toemaak. Niemand klim meer vanaand op nie en dit raak koud en gevaarlik met die oop deur. Lyndi maak toe so want nou is dit regtig koud.
Tjoek-Tjoek kyk lank na haar en sê: “Mevrou, ek is regtig jammer vir jou. Maar ons paaie loop elke dag anders.”
“Dis niks, ek is net baie dankbaar dat jy my help,” sê Lyndi, sy voel baie moeg van al die spanning.
Sy vee met haar hand oor haar voorkop en dink aan haar afspraak. Die man het seker voor dooiemansdeur opgedaag. Sy sal moet reg maak met hom. Tjoek-Tjoek sien sy is moeg en beduie dat haar straat net daar voor is. Hy haal ‘n kaartjie met sy selfoonnommer daarop uit sy paneelkassie en gee dit vir haar.
“Bel my as jy hulp nodig het, geen vrou kan so langs die pad staan en wag na donker nie.”
“Baie dankie, hoe kan ek jou bedank?” vra Lyndi en haal haar beursie uit om te betaal.
“Nee, nee Mevrou, vanaand is verniet,” sê Tjoek-Tjoek vinnig.
Lyndi sit haar beursie terug in haar handsak.
“Tjoek-Tjoek, waar het jy jou naam gekry?” vra Lyndi met ‘n frons op haar gesig.
“Mevrou, ek is die enigste minibus hier by die stasie wat al die mense na donker oplaai. Niemand kom vir hulle nie. Net soos die trein wat elke tien minute verby kom, ry ek elke tien minute dié pad. Hoor hoe maak die trein, Tjoek-Tjoek.”
Lyndi kyk lank na Tjoek-Tjoek en voel so dankbaar vir die goeie man. Toe stop die twee van hulle by Langstraat 21. ‘n Paar sekondes gaan verby.
“Mevrou, baie sterkte vir jou en onthou God gee ons hoop en Hy gee ons ‘n veilige plek as die donker nag kom. Luister na Sy woorde en laat hulle lewe! Onthou, môre is nog ‘n dag.” sê Tjoek-Tjoek en glimlag.
Lyndi knik haar kop en klim uit. Hulle groet. Tjoek-Tjoek trek weg dat die rook so staan terwyl Lyndi hom lank agterna staar. Sy kyk na die kaartjie wat hy haar gegee het en lees die kontak nommer daarop. Agter op die kaartjie staan die woorde, “Werk want die nag kom nader”. Dis wonderlike woorde, sy dink ook net watse goeie engel hierdie man Tjoek-Tjoek is.
Sy maak haar oë toe en bid vinnig en saggies om vir God dankie te sê dat sy veilig by die huis gekom het. Sy druk die kaartjie in haar handsak. Daar en dan besluit sy om haar geld te spaar en so vinnig as moontlik daardie battery in haar motor te vervang. Vanaand het sy ‘n les geleer. “Dankie Tjoek-Tjoek!”




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Cornien het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Tearlach het ‘n nuwe publikasie gemaak