Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: 3401 KOM BETHLEHEM TOE

Deur neels
Datum gepubliseer: 20 Februarie 2016 Aantal woorde: 1726 1223 Kere gelees 13

Koos Lourens is glad nie lekker toe hy die oggend in Bloemfontein loko aanteken vir die huis toe rit met trein 71 nie. Die hartseer oor die afskeid van sy geliefde 2878 lê nog vlak in hom.

Nadat hy aangeteken het stap hy met sy blik oor loods toe en voel hy sommer hoe sy hart in sy skoene sak toe hy 3401 eerste uit op nr een pad sien staan. Hy skud net sy kop n slag en sit sy blik op die voetplaat neer.
Piet Marais, sy stoker lyk ook maar nie lekker nie en is sy eerste woorde aan Koos; “Oom Koos hierdie ding kom van die “pull af”. Liewe magtag ek het lanklaas so vuil enjin gesien”.

Koos kyk vieserig om hom rond: “Maat as ons by die huis kom sit ons dadelik twee dae loodsdiens in om van hierdie enjin iets te probeer maak. Twee dae van harde skrop en skoon maak is ons voorland maar ons gaan nie met so n vuil enjin ry nie en dis klaar”.

Koos kry sy oliekan wat klaar vol olie is om die oliepotte te gaan volmaak. Die koppelstangbusse word nie meer geghries nie want die 25NC het rollaers waar hulle aan die wiele vaskom. Terwyl Piet besig is om die “lubricator” vol te maak en gou die wieletjies van die meganiese stoker te verstel maak koos die okiepotte buite vol.

Daar is nie meer graaf gooi nie. Die meganiese stoker rol nou die kole in die vuurkis in en moet klein Piet net sorg dat die spuitstukke reg gestel is om die kole oor die hele vuurkis te sprei.

Terug in die kajuit, nadat hy haar geolie het, kyk Koos haar vinnig deur. Die stoomdruknaald staan bewend op 225 kpa en die peilglase op half. Piet het die stoker afgesit en die ketel het genoeg water in. Hulle kyk vir mekaar en dan maak Koos die remme los. Vakuumnaalde klim na 17 dm toe en Koos stoot die omstellerhefboom vorentoe. Anders as die 15E is hier nie n wiel om te draai nie en is dit baie makliker.

Sissend kom 3401 in beweging tot by die kontrolepunt waar die kontrole rangeerder hulle aangee vir die seinhuis. Sinjale wat groen word en is dit haastig stasie toe waar hulle voor op trein 71 gaan koppel vir die rit Bethlehem toe.

Nege uur kom die stasie inspekteur se groen vlag van agter af en met die sinjale voor hom groen stoot Koos die omsteller hefboom vorentoe. Hy trek die regulateur so effens oop tot sy vas vat en dan nog so entjie oop. Koos misreken hom bietjie met die brute krag vn die 25NC en moet vinnig toestoot toe sy aan die gly gaan. Sand strooi vir vastrap en bietjie minder ooptrek en kom hulle in beweging. Nog n bietjie oop en die eerste blawwe kom deur die skoorsteen. Die rookwolke seil die lug in en hulle begin spoed optel. Koos trek die omsteller hefboom terug in 45 in en die regulateur nog bietjie oop. 3401 reageer gewillig en spoedig blits die voorstedelike stasies verby.

Die geknars van die kole van die wurm van die meganiese stoker is n nuwe geluid vir hulle en die gesis van die spuitstukke wat die kole in die vuurkis inblaas meng volmaak saam met die geblaf deur die skoorsteen. Die spoedmeternaald dreig kort kort na 100 kmpu toe en Koos begin half in sy skik raak met 3401.

Bokant die lawaai deur skree Piet: “Hel oom Koos maar sy kan hol nè”.

Koos glimlag net: “Sal nou nou kyk wat sy in die berge maak. Die trek van Slabberts af sal haar maak of breek”.
Na hulle eerste stop op Sannaspos is dit nou elke stasie en halte stop. Hulle het nie loko gevat op Sannaspos nie, die groot kolewa van die 25NC vat baie meer water as die 15E se kolewa en sal hulle eers op Modderpoort loko vat.
Vanaf Modderpoort word die wêreld meer bergagtig. Op die oosterkim lê die Malutiberge op die horison.

Koos kom gou agter dat hy 3401 bietjie anders sal moet hanteer. Alhoewel baie sterker is sy maar geneig om te gly maar bemeester hy gou die regulateur om haar net genoeg oop te maak om die berge uit te steier.

Klein Piet se probleme is bietjie groter. Die spuitstukke wat die kole oor die vuurkis spuit bly verstel en begin die kole op kolle gooi. Dit kan koue kolle in die ketel veroorsaak en dit beteken dat sy nie reg stoom nie. maar hy begin haar ook naderhand verstaan. Koos teken dit egter op sy foutelys aan saam met n hele klompie ander foute vir die passers se aandag as hulle in die loko kom.

Intussen geniet die passasiers die natuurskoon van die Oos-Vrystaat, onbewus van al die dramas wat op die voetplaat afspeel.
Laat middag stop hulle op Slabberts. Alles moontlik word gedoen om te verseker dat hulle die Retiefsnek Barnea bank met gemoedsrus kan takel.

Die vuur word deeglik gekrap om al die dooie klinkers en as uit te kry en klein Piet maak seker dat hy weer n ordentlike vuur het

Met stoomdruknaald bewend op 225 kpa en peilglase op half klap die witveer as die veiligheidsklep begin afblaas Die meganise stoker se wurm kraak en knars soos dit die kole in die vuurkis inrol. Hard is die gesis van die spuitstukke wat die kole oor die vuurkis blaas.

Koos fluit weg en met groen vlag van agter af stoot hy die omstellerhefboom vorentoe. Remme word losgemaak en die vakuumnaalde klim na 16 dm toe. Silinderkrane oop en die regulteur word so effens oopgetrek vir vasvat. Koos werk kwistig met die sand onder die trekwiele en dan vat sy vas.

Koos trek haar verder oop en die eerste blawwe kom deur die skoorsteen. Stadig begin hulle spoed optel en dan trek Koos haar terug in 45 in want 3401 wil maar net gly.
“Nie gebou vir hierdie wêreld nie, sy soek vlaktes maar ons sal haar makmaak”, is Koos se opmerking bokant die lawaai op die voetplaat uit.

Die klim teen die bank begin in alle erns. Die rook pomp by die skoorsteen uit op maat van die blawwe en dit rol oor die veld. Deur die uitgrawings rol die eggos terug en die spoedmeternaald bly op so 40 kmpu. Die wielflense skree om die draaie en vir die passasiers wat vorentoe kyk terwyl hulle uitleen is dit n onvergeetlike gesig van bewegende koppelstange en rook wat die lug inpomp.
Na n half uur se kwaai klim is die stryd gewen toe hulle op Barnea stop. Nou is dit afdraande huis toe.

Koos moet hang aan di remme om te keer dat die trein nie weghardloop nie en die vakuumnaalde bly op en af dans soos Koos kort kort moet rem. Die spoedmeternaald kuir op 70 kmpu, Op die voetplaat is dit nou redelik stil want die regulateur is toe en die stoker rol nie kole nie.

Om die draai kom hulle stasie toe en kom die sinjale in sig, op alles reg vir hulle om in te trek op platform een.

By die huise verby fluit Koos sy fluit groet. Hantie staan op die stoep en toe sy hulle sien verbygaan skud sy net haar kop. Sy weet sommer dadelik dat Koos nooit tevrede sal wees om met so n vuil lokomotief te ry nie. hier lê dae se harde werk voor om haar blinkskoon te kry.

Half ses, dood op tyd stop hulle op platform een. Dadelik is die rangeerdeer by om hulle los te maak en kry hulle sinjale loko toe.

Toe hulle in die loko stop en Koos haar aan die loods man oorhandig is sy woorde: “Trek haar daar eenkant. Ek gaan nou reël vir twee dae loodsdiens vir my dat ons hierdie varkhok kan skoon kry. Ek ry nie weer met haar voor sy skoon is nie”.

Die loodsman skud maar net sy kop en klim in om haar asputte toe te vat. Koos sal sy sin kry.

Ook die roosteropsteller het nie n keuse nie en boek hulle vir twee dae op loodsdiens.

Toe Koos by die huis kom wag Hantie vir hom. Na sy stywe vasdruk en lang soen kry koos n lekker bord kos en gaan dit nou woelig want die kinders soek ook aandag, hulle het pa immers gisteroggend laas gesien.
Dit is eers toe die kinders rustig in die bed is en Hantie vir hulle bietjie tee maak wat sy vra: “En toe Koos, wat dink jy van jou nuwe ysterperd”.

Koos kyk vir aar met so half skewe glimlaggie: “nie gebou vir die berge nie. daardie merrie sowek plat vlaktes. Ek het eers gedink die ander manne wat al op hulle is praat twak maar hulle is reg. Sal haar maar moet gewoond raak maar eers moet sy skoon kom. Ek het twee dae loodsdiens gevra daarvoor.”.

Hantie is heel in haar skik oor die twee dae loodsdiens gedagte want nou is Koos vir drie aande by die huis.

Die volgende oggend is Koos en klein Piet vroeg in die loko. Nadat hulle aangeteken het is dit store toe om verf, skuurgoed en alles te kry wat hulle nodig het. Die arme stoorman is later skoon radeloos met hulle maar hulle kry wat hulle soek. In n kruiwa word alles oorgestoot na die syspoor toe waar 3401 staan, nou leweloos en sonder n vuur en stoom. Die loodsman het gisteraand haar vuur uitgegooi. Die passers het begin doenig raak om al die foute te herstel terwyl sy nou dood staan.

Koos en klein Piet begin dadelik inklim om te begin skoonmaak. Twee dae swoeg en sweet hulle om alles te verf, die koperpype en meters blink en skoon te kry. Die arme skoonmakers in die loods kry dit hot agter want as hulle nie besig is met die lokomotiewe in die koods nie moet hulle kom help skoon maak.

Na twee dae van harde skrop, verf en skoonmaak is die loods voorman se opmerking teenoor Koos toe hulle van diens af gaan: “Sal nooit kan dink dit is die varkhok wat jy eergisteraand hier ingebring het nie. Kan ek julle maar rooster Koos.”.
Koos staan tevrede na hulle handewerk en kyk: “Noudat sy skoon en blink is gaan sy net n plesier wees. Julle kan maar die vuur opsteek dat sy deur die nag onder stoom kom, ons is reg vir die pad”.




TEMAS
6 Kommentaar
  1. neels

    20 Februarie 2016

    In my vorige storie het ons afskeid geneem van 2878. 2878 is die enigste oorblywende 15E en is in bewaring.
    in hierdie verhaal van 3401 w2ag op Koos hulle n nuwe dag soos daar ook vir ons op ink n nuwe dag is

  2. Viooltjie

    20 Februarie 2016

    Dis lekker om so ‘n kykie agter die skerms te kry, Neels. As passasies was ons salig onbewus van al hierdie dinge 😊

  3. Suzette Strydom

    23 Februarie 2016

    Baie interessante storie, dankie Neels

  4. Louie

    8 Maart 2016

    Jy het my vasgevang gehou met die storie. My oorlede Oom was ‘n drywer in die Baai. Sy naam was ook Koos. Lekker gelees

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 214
Kommentaar telling: 1107

Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 94 gaste aanlyn

Bydrae Totale