Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: 18 Julie se gee of eerder gee-nie

Deur Hennie Fritz
Datum gepubliseer: 12 Julie 2016 Aantal woorde: 831 779 Kere gelees 6

Dit is nie elke oggend wat ek ’n groot lus vir dieselfde onderwerp op die draadloos ervaar nie. Vandag was weer een van “daai” oggende. Net soos ek dink die aanhoudende verslagdoening oor vryheid van spraak is op ’n einde, dan trek die een of ander verslaggewer los met jan-publiek se terugvoer op wat elkeen in die land gaan doen om Mandeladag te vier. Om 67-minute se welwillendheid of diensbaarheid aan en in die gemeenskap te bewys.

Sedert ek nie meer daagliks koerant lees nie, is die oggenddraadloos op pad werk toe vir my ’n bron van nuusgebeure en inligting. Nou raak dit egter ’n bron vir oordenking en betragting …

Daar in my binnekamer lees ek vanoggend die verhaal van Elisa, sy slaaf Gehasi, die vrou van Senum en haar seun se dood. Die man van God het nie net die volk, die koning en sy krygsmanne van raad en rigting voorsien nie, hy het tyd geneem om om te sien na die welsyn van ’n smekende vrou en haar gestorwe seun. En daarna, was dit die moeite werd geag om in die anale van die geskiedenis opgeteken te word; was dit die moeite werd geag om die Koning eerder as sy onderdaan, Elisa, te vereer.

Eienaardig hoe ons mensdom so voort sukkel om ’n podium vir al wat ’n swakkeling is te bou. Daar is nogal op ’n snaakse manier sin in die ophef van die helde wat ons so graag vereer en navolg … dit is juis aangesien hul voete so broos is, dat die goed op ’n podium geplant moet word!

Vandag moet ek egter verskoning aanbied en amptelik kennis indien en laat weet dat ek nie die 67-minute-ding gaan ondersteun nie. Die renons wat hier in my gemoed oor die gladdebek vertoon van opportunistiese bemarkingsmense aan die broei is, laat my net nie toe om die “vertonings” en vererings van mede sterflinge mee te maak nie. In my skool-, studente- en werksloopbaan het ek weke in ’n jaar en later selfs meer, vir die welsyn van ander opgeoffer. Nie omdat ek moes nie, maar omdat ek wou. In die begindae van ons huwelik is my vroutjie baie aande sonder my bed toe; dit terwyl ek êrens in ’n vergadering gesit het om my deel vir die gemeenskap te doen. Dit is uiteraard nie uniek aan ons gesin nie, maar vandag gee my beterhelfde steeds ure en dae van elke maand en jaar aan die wel en weë van die gemeenskap. Nie omdat sy moet nie, nie vir die een of ander ikoniese drogbeeld op ’n noot of ’n prentjie teen ’n muur of erkenning van selfaangestelde leiers nie, maar net uit liefde.

Ander raaksien-mense gaan 67 brode aan die minder bevoorregtes gee, ander weer beplan om 67 poppies aan siek kinders in hospitale uit te deel. Dit terwyl die maatskaplike werkers en uitreikgroepe en stille weldoeners elke dag sorg dat sopkombuise kosgee, siek kindertjies versorg word en oumense gewas word. Nie vir 67 minute nie, maar wel 24-uur. Nie met verhale van erkenning op ’n amptelike uitsaaier of ’n nuusblad nie, maar net in die uitvoering van ’n taak wat die hand die dag gevind het.

Gaan die gaafheid wat ek aan mense vir 67 minute bewys ’n groter verskil maak as die liefde wat ek elke dag uitlewe? Of, gaan die verskil wat ek aan ’n mens se lewe kan maak deur op die 18de Julie van elke jaar iets besonders te gee, wesenlik meer weeg as wat die daaglikse toewyding aan verdraagsaamheid, omgee en regverdige optrede kan beteken? Ek twyfel. Dis amper vergelykbaar met die twyfelagtige noodsaaklikheid van ’n Valentynsdag, of Moedersdag of Vadersdag … het ons as ontwikkelde mens dan so verstok geraak dat ons kort-kort ’n markgedrewe herinnering nodig het om vir mekaar om te gee?

Johannes Kerkorrel, en jammer aan al die ander sangers se pogings, maar net hý kon die lied met “…gee jou hart vir Hillbrow…” sing. Tog, nêrens in Hillbrow hang daar plakkate teen die pale en bome wat hom daarvoor vereer nie. Nêrens staan ’n standbeeld om sy aangesig te verewig nie. Nooit het die plaaslike raadslid dit eens oorweeg om ’n Kerkorrel-vir-Hillbrow-dag te laat proklameer nie. Nee, ons hoor die liedjie soms op die draadloos en dan-en-wan luister ons daarna, maar tussentyds bly Hillbrow wat dit is. Behalwe die paar stil-profete wat die roep gehoor het en ’n hart vir Hillbrow gaan gee het.

My pa het eenkeer ’n ding gesê wat ek ook soms gebruik: “net leë blikke maak die heeltyd geraas”. Ironies genoeg is dit nie die man van die standbeeld in Pretoria wat die bohaai maak nie, maar wel die klomp suksesvolle geluk-, sensasie- en geldsoekers wat elke moontlike geleentheid uit beide sy enkele menswaardige eienskappe en nalatenskap opdelf en sal ontgin. Dit terwyl die broosheid van sy voete, verberg word deur die hoogte van die podium wat hulle vir hom gebou het.

Gee, gee, gee … gee jou hart, jou tyd, jou geld, maar met ’n helder verstand.




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Toom

    12 Julie 2016

    Kerngesonde gedagtegang.
    Dankie.
    GvT

  2. Anze

    13 Julie 2016

    Ek wil nou amper se.. gee so n bek jam!! Dankie Hennie dat jy soos gewoonlik ook hierdie in perspektief kom plaas het.

  3. Kiekies

    23 Augustus 2016

    Ditto ditto ditto en’n 1000 maal ditto! Jy spreek dit so reg en so eg!!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 77 gaste aanlyn

Bydrae Totale