Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Winter

Deur OrangeBlue
Datum gepubliseer: 4 April 2017 Aantal woorde: 332 74 Kere gelees 2

Die winter het van middel Maart kom wegkruipertjie speel aan die Suidekant.

Ek het gemaak of ek hom nie sien of voel as hy om die hoeke vir my loer nie. Sy koel vingers wat liggies aan my raak, soggens en teen sterkskemer se kant nie. Ook nie as hy geniepsig is, my aan my klere gryp en my kaal arms knyp voor giggelend wegdans en agter die Vaalbosse gaan lê nie.

Elke dag het die Winter my genooi vir saamspeel, lag en avontuur in die flou wordende son.

“Nee,” was my antwoord keer op keer want dis DAAI tyd van die jaar – die tyd wat aanhou tot net voor die Somer finaal haarself wydsbeen oor die Kalahari kom bak maak.

Gister het die Winter vies ophou terg en spee[-speel, aan die vensters geruk vir ‘n laaste keer se speel. Hy het stof teen die huis kom slinger en sandkorreltjies op die dak laat reën.

“Jy’s lelik,” kras ek wanneer die sandkorreltjie teen my kamer se ruit soos popcorn reën.

“Jy was nog altyd lief vir my,” blaas die Winter in my gesig toe ek die venster toemaak.

“Ek is nog,” fluister ek, “dis net … jy was geniepsig op die ander plek … op die Vlakte het jy my geknou.”

“Dis my aard wat kon ek anders doen? Jy is mos gehard. Jy kon altyd die mooi in my sien.” Verwytend laat hy die Witstinkhout in warm herfskleure voor my kamer se oë reën.

“Jy is nog net so mooi in ysige blou en warmrooi. En moenie die bome so skud nie, daar’s nog kuikens in die neste,” vermaan ek gemaak kwaai.

“Jy’s nie meer ‘fun’ nie,” en hy pluk weer aan die boom. “Daar’s net twee kersies aan jou boom. Een vir hóm en een vir jou. Jy moet ophou kaalarms loop, Vannag kom ek rus,” waarsku die Winter en met ‘n laaste pluk aan die takke, sleepvoet hy oor die veld, Noorde toe.

©Orange Blue




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      April 5, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April se ope afdeling projek

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van OrangeBlue

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 9
    Kommentaar telling: 4

    Gebruikers Aanlyn

    4 Lede, 24 gaste aanlyn