Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: WIE skryf WAT, HOE maar veral HOEKOM?

Deur Toom
Datum gepubliseer: 6 Julie 2017 Aantal woorde: 1762 113 Kere gelees 3

WIE skryf WAT, HOE maar veral HOEKOM?

Bastertale

Afrikaans nes Engels is ‘n bastertaal. Dit weet ons al; oor die ontstaan van Afrikaans het ons geleer dat het taal verskeie „taalpeetjies” gehad het, naamlik die Hollands van die sewentiende eeu, die destydse seemanstaal, Maleis, Frans, die Strandlopers se Khoi, Duits, Engels en al die Bantoetale in Suider-Afrika. (Portugees ook? Waarskynlik.)

Ons het geleer dat Engels nog altyd bereidskap toon om woorde uit ander tale op te neem en eie te maak, „om die taal te verryk”, ‘n Paar voorbeelde: camouflage, garage, engagement uit Frans, Blitzkrieg uit Duits, maelstrom uit ‘n skandinawiese taal, banana en chutney uit ‘n oosterse, minestrone uit Italiaans, impi en assegay uit Zoeloe, en uit Afrikaans kom daadsaaklik ook woorde: swock, raugh en narchey by voorbeeld. Om dit „eie” te maak moet die Ingelsman dit óf anders uitspreek om die spelling te behou, óf anders spel om die klank te behou. Voorbeelde van eersteres is (Afrikaanse skryfwyse) kêmmeflaadj, ghêrridj, ‘ngheidjmin’, blits, meilstroum, banana en chutney is waarskynlik die naaste wat die Engelse spelwyse aan die oosterse klank kom, dan kom maainstroun(!), impi bly so, êsseghei. Afrikaans gee hier ook voorbeelde van die tweede manier: Nartjie kan ons gou uitmaak, swak miskien ook, maar wie kan die betekenis van rof (rowwe boerekêrel) raai; wie kan reims, reimpy as rieme en riempie herken?

In Afrikaans het soortgelyke oornames van die peetjies ook plaasgevind. Maar – hier kom dit! – dit maak nie ‘n taal uit nie. My Franse kollega het wel gesê dat mens sonder „vokabels” te leer ‘n taal nie kan praat nie. Dis waar, die basis van ‘n taal is die grondwoordeskat.

Wat ek daarmee kan dóén, is egter wat tel: Vrae stel, bevele gee, soete nietighede by maanlig fluister, ‘n politiese tirade uitbasuin, verwondering uitspreek, peinsend alle moontlikhede van ‘n kwaai probleem deurgaan, opweeg, verwerp, van voor weer begin, debateer, besluit, … ‘n gebed aan die Allerhoogste rig.

Hoeveel tale?

n Paar jaar gelede was sondags ‘n program op RSG: Die Tale wat ons Praat. Hoeveel tale praat ‘n mens? Daar’s jou praktiese daaglikse omgangstaal, jou kerktaal, jou taal by die werk met die kollegas en die baas, jou verenigingstaal saam met jou sportvriende, kroeggeselskap, kampeer-, jag- of bergklimbroers en -susters, ens. (Van Frederik die Grote van Pruisse word vertel dat hy sou gesê het: „Met my ministers, offisiere en boodskappers praat ek Frans, my vrou Italiaans, my kneg Engels, en my perd Duits.”) Die storie is in veranderte vorm oral in die wêreld te kry waar emigrante uit verskillende lande in ‘n ander land mekaar leer ken het en saamwoon, en die laaste sin is gewoonlik „ … en die finansiële dinge reël ons in Engels.”

Die hooftaal

Nou is dit so, dat ons sporttaal en ons kerktaal en die taal wat ons met die vriendin fluister, ensovoort, baie ooreenkomste het – dis die hooftaal; afwykende dele kan as vaktaal, jargon, slang, streektaal, ens. aangesien word. As ons formeel iets wil sê, verduidelik, vasstel, dan benodig ons die hooftaal, en hy het reëls wat ingehou moet word om verstaan­baar te wees. En al die afwykende afdelings bly in meer of minder los verbinding met hierdie hooftaal soos planete in hul wentel­bane. (Alle tale verbaster mettertyd en die reëls verander langsamerhand.)

Belangriker as alle reëls en regulasies is die hoflikheid, waardeur ons ervaar dat ons só moet praat dat hy wat luister, dit kan verstaan. As ék met die hand skryf, moet dit so ordentlik wees dat dit kan lees. Dit verlang ons sosiale bewussyn van ons. So ver wat die oordra van inligting betref.

Om ‘n atmosfeer te skep, in ‘n lied of gedig of op ‘n politieke plakaat of as iemand preek byvoorbeeld, kom die verbeelding se krag, die kuns­sinnig­heid, die binneste gevoele op, en dit laat die planete swenk en swaai en kurwes draai. Dit bring die mooigeid (en as ek wil, ook die lelikgeid) te voorskyn.

Hoe en wat

In ‘n bydrae is die vraag opgewerf of ‘n besondere manier van praat „hoogdrawend” sou wees of nie. Hang dit nie hiervan af nie:

WAT ek vir WIE wil sê, bepaal HOE ek dit uitdruk?

As woefkardoes” en koekstruif” byvoorbeeld ordentlike woorde is, kan hulle oral en te alle tye gebruik word; daarteen is doghiebêk en traaifel eintlik sulke planeetwoorde en behoort in die een of ander wentelbaan. Dit kan by die tiekiedraai behulpsaam wees.

In Oosterryk is die atoomkrag afgeskaf, en die skoolowerheid het verlang dat alle skole dadelik in die sesde of sewende klas atoomkrag moes deurneem. ‘n Besondere skoolsoort het geweier: „Die kinders is nog te klein om enigiets daarvan te begryp; wat julle wil hê, is manipulasie, is indoktrinasie. By ons is stof vir die sewende klas die stoomenjin en die verbrenningsmasjien; atoomkrag is in elk geval, al dekades lank, nie net nou skielik nie, een van die hooftemas in die elfde klas; dáár kan die leerders dit verstaan. In die twaalfde is hulle ook in stand om die geslegslere (seksuaalkunde) te verstaan, en glad nie in die vierde of eers derde nie(!).”

Toe ek meer as ‘n halwe eeu gelede deur die Transkei geryloop het, kom ‘n ou man op my af: „Die volgende kar kom eers oor ‘n uur.” En daar vang hy aan, my uit te vra oor die gang van die wêreld; ek weet nie meer of dit Korea of Indo-Sjina was nie, maar êrens was daar ‘n brandherd, en hy wou dringend ingelig word; hy het mos g’n radio nie, en die koerante wat hy kry is seker al ‘n maand oud. Hy het sy oorwoë mening in verskeie sake van wêreld- en lands-politiek uitgespreek.Ons het ‘n geraad­braakte mengsel uit Afrikaans, Engels en Fanagalo gepraat, maar ons gesprek was op ‘n verhewe vlak. Daar was geen nood om die Engelse F-woorde te gebruik, of awesome of dude of vergelykbare modewoorde wat destyds in omloop was nie. As „doghiebêk” sóú voorgekom het, dan was dit omdat geeneen van ons op die inheemse woord kon kom nie.

Astrid Lindgren, die skepperin van Pippi Langkous, het in haar herinneringe gemeen: „Jy kan oor enigiets skryf wat jy wil . . . jy kan oor geslegs­verkeer skryf, ABER DAN MOET JY DIT SO SKRYF DAT DIT KINDGEREG IS, DAT ‘N KIND DIT KAN BEGRYP!” Sy self het, sover ek weet, nooit daaroor geskryf nie. Ewe derhalwe.

Hoekom

Hoe dit daartoe kom dat iemand (byvoorbeeld ek) skryf, is dat hy iets wil meedeel: sy vreugde – sy algemene lewensvreugde, sy lus om te lewe na ‘n swaar of donker tyd, ‘n antwoord op ‘n vraag wat hom so lang gepla het, ‘n besluit om ‘n toekomspad in te slaan, ‘n ontdekking of ervaring wat hy gemaak het; sy treur – sy mislike lewens­omstandig­hede, ‘n probleem wat hom baasgeraak het en wat hy nie kan oplos nie, rou oor mense, tiere of teenstande wat hy verloor het en vermis, fisiese pyn en gees­tige smart; derdens, sy verwondering – oor ‘n natuur­verskynsel, oor ‘n wetenskaplike ontdekking; eenvoudig sy fabuleer- of vertellus, of negatief „… dat mense sleg kan wees …”; vyfdens, sesdens. . . (Ag ja, ook terloops om inligting uit te ruil.)

In elke besondere geval is daar ‘n innerlike dryfveer wat hom daartoe aanspoor. Dis die „Waarom-“ of „Waartoe-”vraag (antwoord: „om te . . .”) in die toekoms gerig. „Wat wil jy bereik?” Die ander vraag is na die ontstaan van die vraery: „Hoe kom jy daarop . . .?” „Wat het jou besiel, of daartoe verlei?” is in die verlede gerig en dui ook op ‘n innerlike motivering.

Om wat vir ‘n rede skryf iemand op die manier soos hy daar skryf? Dit skyn my dat daar ‘n verandering aan die dryfveer aangebring is: Óf ‘n be­dekking, verhulling, afdonkering (miskien ook opheldering?); óf iets is daartoe gestel soos ‘n soort hulp­­meganisme. Dit gebeur in die mens se gees en moenie as iets materieels beskou word nie! Ek kan nie oor iemand anders praat nie, ek het nie die geld vir die advokaat nie. Ek kan net oor myself skryf en miskien kan jy vir jouself afleidings trek?

Twee mense het kommentaar gelewer oor ‘n stuk van my; die ene sê ek sou skryf asof ek die HAT gesluk het of soiets, die andere meen dis soos ‘n vertaling uit Duits. Eerstens het ek die HAT (én ‘n dik Wörter­buch/Woorde­boek) gedurig hier aan my linkerellen­boog, Nie dat ek altyd daarin lees nie, maar hulle is daar. Tweedens het ek meer as my halwe lewe in Duitsland ver­bring – en dit het afgeverf, waarvoor ek oneindelik dankbaar is: Dit het orde in my slordige lewe gebring, het my geleer om op kleinste dingetjies te let en nie die geheel­beeld te verloor nie – so goed ek kan, natuurlik. Dus lyk my styl vir ‘n buite­staander – dis julle almal natuurlik – „hoogdrawend” en opgeblaas; pedanties ook nog daartoe?

As englishspeakingsouthafricanbybirthyouknow het ek iets by die geboort saam­gelewer gekry. (Soos ons weet is die konvertiete die radikaalste fundamen­taliste: Ek sal waarskynlik op verlore poste aanhou veg wanneer almal reeds in die konsent­rasie­kampe op hul kussings sit en geneefse konvensies uitpluis.) As afgeverfde Duitser het ek ‘n besondere aard van toenadering tot ‘n tema, ordnend, sorterend, rang­skik­kend soos in ‘n groentebeet of ‘n blompot of ‘n Kandinskiskildery.

En as blikskottel sê ek my sê op my eie aard en wyse, verstaan! En ek het g’n Frank Sinatra nodig om my voor te blêr nie, nè! Basta! (So praal ek hardop voor die mense, maar hoe is dit werklik hier binne-in in my sieletjie?)

Wie skryf dan wat, hoe en hoekom?

Hoe lyk dit aldus met die saamgestelde vraag daarbo?

WIE: Hy/sy wat skryf het ‘n innerlike aansporing uit sy eie ek; dis geestig van aard en berus waarskynlik deels op sy waarneming van sy omwêreld;

WAT: Dit wat geskryf word, hou bogenoemde innerlik besig; dit interesseer hom en kom moontlikerwys uit sy ondervinding en ervaring;

HOE geskryf word, hang van die stof af, die uiterlike omstandighede om sy skryfplek, die innerlike ingesteldheid van die skrywer; en moenie die beoogde, verhofte leser(s), of „teikenpubliek” vergeet nie;

HOEKOM: Net die Allerhoogste weet: Soos die wind oralheen oor die land waai en oralvandaan kom, waai die gees onbeheers, ongeteuel deur die ruimte en beroer iemand te enige tyd êrens. Dan is jy gepak, dan word jy gery, dan kry jy jou loon of straf.

Mos.

Nè?

©5e.Julie2017_______…ooÔoo..._________________tje©




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Julie 5, 2017

      Net so

    2. profiel foto van Loretta Szikra

      Loretta Szikra

      Julie 6, 2017

      En dit is presies net soos jy sê Toom. Innerlike aansporing, uiterlike omstandighede, wat ons raak en minder traak, en die gees waai inderdaad onbeheers. 🙂

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 152
    Kommentaar telling: 159

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 97 gaste aanlyn

    Bydrae Totale