Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Wie gee jou die reg?

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 24 Maart 2017 Aantal woorde: 1856 101 Kere gelees 2

Die son kom traag op. Stadig en moeg asof hy saam met ons die lang harde nag deurgemaak het. Meskien as die son tog by ons was, in plaas van die volmaan, sou dinge baie anders uitgedraai het. Baie boosheid gebeur mos as dit donker is, want skelms is versigtig vir die lig. Soos vampiere. Meskien as die drie swart mans vampiere was, kon ek die movie skip of pause of kon ek dalk wakker skrik en besef dat dit net ’n nagmerrie was.

Maar die mans was nie vampiere nie en die maan het helder, tog vêr in die donker gehang. Die wind was moerig buite op die werf. Die hout huis het gekraak en blindings het teen ’n oop venster of twee geklap. My skoonouers was al in hulle kamer. Ek het gelê en lees. Hannes was in die stort. Hy het skaars die kraan oopgedraai, toe Skoonpa se selfoon lui. Ek kon nie hoor wat hy sê nie, maar die gesprek was kort en dringend. Versigtig het ek opgestaan en nader gesluip om te hoor wat aangaan. Skoonpa het geskarrel om in een asemteug ’n hemp oor sy kop te gooi en die rewolwer uit die kluis te haal. “Bel die polisie!” skree hy vir Skoonma, gryp sleutels en sukkel by die deur uit.

Skoonma het deur die slaap by hulle kamer uitgekom. In haar pienk nagrokkie en kaalvoete na die huisfoon gesoek en senuagtig die nommer ingetik. “Wat’s fout, Ma?” het ek gewaag. “’n Vrou is op die buurplaas aangerand.” Het sy vinnig gesê voor die oproep aan die ander kant beantwoord is. “’n Vrou is op ons bure se plaas aangerand. My man is nou hier weg met sy geweer! Julle moet dadelik kom. Roer julle!” het sy beveel. Frustreed weer die boodskap herhaal met bietjie meer detail en ook die adres en toe neergesit. Die oom en tannie langs ons, het ’n oop stoor wat hulle uitverhuur. Elke Dinsdagaand is daar ’n vroutjie van die dorp wat kom danslesse gee. Die drie mans het haar ingewag tot sy klaar was en toe die laaste mens weg is, het hulle haar oorval. Skoonma vertel dit met groot oë, net toe Hannes by die badkamer uitkom. Hy vlieg om ma ons kamer toe. Kom na ’n paar sekondes terug met sy handwapen. Hy gryp na sleutels en ’n flits. “Vat tog net ’n selfoon saam.” het ek gepleit en sy selfoon in sy slaapbroek se sak gedruk. En daar gaan hy. Nat hare en skoon voete in sy vuil plaas crocs agter Skoonpa aan.

Ek en Skoonma het mekaar verskrik aangekyk en op dieselfde gedagte afgekom. Ons sit vrou alleen op die plaas, sonder ons mans en sonder enige wapens. Die wimbuks en die .303 tel nie. Ons weet nie hoe om dit te hanteer nie, wat nog te sê vas te hou. Dit was Skoonma wat eerste tot aksie oorgegaan het. “Kyk dat al die deure gesluit is en die vensters toe is. Ek gaan maak vir ons tee.” Ek het gesluit en toegmaak, so dig as wat ek kon. Sommer die gordyne ook almal toe getrek sodat geen stukkie van die nag binne die huis kon loer nie. In die donker het ons ons tee gedrink en gewag tot ons die blou ligte sien verbyflits het na die buurplaas. ’n Rukkie daarna het Hannes ons gebel. Die vrou was nie ernstig beseer nie, maar hulle het haar handsak met alles daarin gevat en weggekom. Die polisie sou rondry om die area te fynkam. Skoonpa en Hannes het aangebied om die vrou dorp toe te vat sodat sy haar motor se spaarsleutels kon gaan kry.

Ek en Skoonma is elkeen terug na ons kamers toe en ek wou vêrder aan ‘n boek gaan lees. Nie dat ek kon konsentreer nie. Die wind se lawaai het baie geluide buite die huis gemaak en met elke kraak het ek my asem opgetrek. Ek het die boek neergesit en ’n skerp mes in die kombuis gaan haal. Hou op panic, het ek myself berispe. Dis natuurlik om nou bang te wees. Die honde sal blaf as hulle iets sien en met die polisie wat rondry, sal die ouens gou gat skoonmaak. Maar ek het my selfoon gevat en die polisie se nommer vinnig op speed dail gestel. Dalk nie vir vanaand nie, maar dis goed om dit te hê, vir iewers in die toekoms, het ek gedink. Ek het die selfoon en die mes op my bedkassie gesit en weer begin lees.

En toe hoor ek dit. Die agterdeur se handvastel se skree-geluid as jy hom afdruk. Duidelik, of was dit die wind wat met my kop speel? Onseker het ek opgestaan en toontjie vir toontjie die kamer uitbeweeg. Ek het lank daar gestaan en wag. Gewag vir die geluide van iemand wat die deur oopstoot, vir die voetstappe. Gewag. Die honde sou geblaf het, jou simpel ding, het ek my vir myself vervies en met hoendervleis teruggeloop kamer toe. Ek besluit toe om by my skoonma te gaan sit. Die alleen sit maak my net paranois. Ek wou net my selfoon op die bedkassie kry toe my hele lyf stol. Voetstappe onder ons kamervenster. Twak man, jou verbeelding maak amok, het ek myself probeer oortuig toe die “voetstappe” stil raak. En toe hoor ek dit weer en ’n diep gemompel. My lyf was koud, my oë wou nie knip nie. Ek wou my Skoonma roep, maar daar wou nie ’n geluid by my mond uitkom nie. Die voetstappe het verdof soos dit weg van die venster beweeg. My hand het vanself na die selfoon gevat, my ander hand die mes. En toe sweef ek na my skoonma se kamer toe. Heel in ’n dwaal. Asseblief Here dit kan nie wees nie. Nie ons nie, nie nou nie. Ek weet nie of ek dit hardop gebid of gedink het nie, maar toe ek by Skoonma kom, het haar oë groot gerek en sy het gevra: “Waar?” Ek het na die agterkant van die huis beduie, na ons slaapkamer se kant toe. En toe is dit Skoonma wat bid: “Asseblief O Here, wees ons genadig.” Sy het na ’n klein afstandbeheer gegryp en die knoppie gedruk. Die panic button van ons alarm stelsel. Die sirene het afgegaan en die honde het begin blaf. Skril en pynlik het die alarm deur die huis en oor die werf geloei. Teen die wilde wind vas. Skoonma is na die staankluis toe, sy het die .303 uitgehaal. “Ek sal nie kan skiet met die ding nie, maar dalk skrik dit hulle af” het sy met ’n bewende stem gesê. Haar woorde was skaars uit, toe ’n ruit êrens in die huis stukkend gegooi word. Twee skote het deur die nag gebulder en toe is die honde se geblaf stil. Dit was nog net die alarm wat skirl skree. En die wind.
“Nee!” het ek uitgeroep. My hart stukkend met die besef dat die skote vir ons twee liefling vierpotiges bedoel was.

Die volgende oomblik het ons ligte in die plaas se oprit gesien. Deur Skoonma se kamervenster kon ons sien hoe twee voertuie aangejaag kom, agter hulle ’n derde een met blou flitsende ligte. Met skreeuende bande het hulle stilgehou en toe het nog geweerskote afgegaan. Ek het my gesig teenaan die ruit gedruk om beter te kon sien, my hart wou uit my borskas spring. In die maanlig was die drie bakkies met die oop deure sigbaar. Êrens op die werf het mans op mekaar geskree en nog twee geweerskote het afgegaan. Skoonma het op die bed gaan sit, die .303 styf met beide hande vasgeklou. Ek het bewus geraak van die mes wat ek steeds in my hand gehad het. Iets het in my wakker geword, ’n tipe braafheid of dalk was dit net adrenalien. Ek het by die kamer uitgehardloop na die voordeur toe. Probeer kyk of iemand voor die deur of op die stoep was en die deur oopgesluit.
Die wind het aan my japon geruk toe ek versigtig op die stoep uitloop. Die mes in my sweterige hand vasgeklem. Skoonpa het my gewaar en geskree dat ek terug in die huis moet gaan. Ek kon nie, want ek wou help. Al het ek nie geweet hoe nie. Op die grasperk, ’n paar treë uitmekaar, het ons twee honde gelê. Leweloos. Ek wou nader gaan en kyk, maar toe skree Hannes ook op my om in te gaan en die deur gesluit te hou. Ek het omgedraai. Toe ek by die huis inloop kon ek hoor hoe ’n polisieman vir backup en ’n ambulans vra oor sy radio.Toe ek die deur toedruk, word dit oopgestamp met so ’n harde vors dat ek terug steier. Een van die mans het op die drumpel gestaan. Skoonma wat intussen uit die kamer gekom en gesien wat gebeur het, het gegil. Ek het voorentoe geduik met die mes in my hand en toe word als voor my swart.

Toe my oë weer die lig sien, het ek op die sitkamer bank gelê. My kop op Skoonma se skoot. ’n Dowwe pyn het in my oogbank geklop. Dis waar die man in die deur se vuis my bygekom het. Dié het in boeie op die stoep gesit. Vol bloed. Die mes in my hand het hom in die bors getref. ’n Polisieman was besig om hom te ondervra. Skoonpa en Hannes het op en af deur die huis geloop en vloek. Woedend en bekommerd oor die ander twee skelms wat weggekom het. ’n Ambulans het gekom en ’n ander polisiebeampte weggevat. ’n Dwaal koeël het hom in die been getref. Die gewonde skelm is in ’n vangwa gelaai, maar nie voor hy onder skoonma se tong deurgeloop het nie. “Wie gee jou die reg?” het sy op hom geskree. “Wie gee jou die reg om op privaat eiendom te kom en ’n ander se lewe te bedreig? Dis oor mense soos jy dat ek in my eie huis in vrees moet leef omdat ons lewens mos vir julle boggerall beteken!” Die man het niks terug gesê nie. Dalk omdat hy nie ons taal verstaan nie, dalk oor plein dom astrantheid.
Die polisie is weg met die bebloede man. ’n Ander polisievoertuig het agtergebly en heelnag die area gepatroleer. Niemand van ons het geslaap nie. Ons was te opgewerk oor wat gebeur het en bang dat die ander twee mans sou terugkom.

En nou met sonsopkoms is daar steeds geen teken van hulle nie. My oog is effens geswel en baie seer. Maar nie so seer so my hart oor ons honde nie. Van die polisie het ons ook nog niks gehoor nie. Die skoonouers het bietjie gaan lê en Hannes het die honde gaan begrawe. Ek tap water in ’n emmer en gooi seep in. Ek gaan skrop en skrop tot die laaste stukkie van gisteraand uit hierdie huis is. Tot die vuil teenwoordigheid van die indringers nie meer gevoel kan word nie. Tot ek weer mens voel in my eie plek. Mý plek wat ‘n ander een betree het, asof die die reg aan hom toegeken is.




  • TEMAS
    3 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      Maart 24, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Menseregte en morele wysheid projek

    2. profiel foto van Elroux

      Elroux

      Maart 24, 2017

      Geweldig aangrypende bydrae

    3. profiel foto van neels

      neels

      Maart 24, 2017

      een van jou bestes ooit Helena

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van HelenaMellet

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 112
    Kommentaar telling: 77

    Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 55 gaste aanlyn

    Bydrae Totale