Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Waar hou normaal op en begin dit verkeerd loop?

Deur Ano
Datum gepubliseer: 22 Junie 2017 Aantal woorde: 1120 34 Kere gelees Hou van

Hindsight is eintlik ’n vieslike ding. Meestal vlek dit die waarheid oop tot op die been en om gekonfronteer te word met die naakte feite, is selde gemaklik. So gebeur dit toe dat Ouboet onlangs vir my sê: “Ek weet nie waar jy vandaan kom nie.” Om eerlik te wees, ek ook nie… En dit krap al die ou vergete vrae nog ’n keer oop. Die lelike frons plooie tussen my oë verdiep sommer.

Kleintyd al het ek gevoel soos die vierkantige pennetjie wat (teen wil en dank) in die ronde gaatjie móes inpas. Moeder en siblings was almal ronde pennetjies en die vierkantige enetjie is gesien as die rebel en moeilikheidmaker. Doerie tyd het hierdie woorde nogal gekrap, maar redelik onlangs het ek besef dat dit toe eintlik ’n gawe en genade is – nie ’n straf nie, en dat dit die skeidslyn tussen lewe en dood kan beteken.

Vir lang jare het ek dagdrome gehad van ’n vrou wat een herfsoggend die voordeur oopmaak en ’n mandjie met ’n skreeuende donkerkop dogtertjie op die rooi gepolitoerde stoep aantref. Die vrou het haar jammer gekry en besluit Ano moet maar bly. Ons sal haar hier hou en kos gee en toe niemand my opeis nie, het ek noodgedwonge ’n permanente inwoner geword. Net klein bietjie meer hulpeloos as ’n rondloper hondjie.

Ek sou haar ‘Ma’ noem en dikwels met groot oë na my broer en twee susters kyk wat oënskynlik van ’n ander planeet af kom. Men are from Mars, Women from Venus, maar gonnas – waar ons vandaan kom weet nugter. Min het Moeder geweet dat hierdie kind elke uitspraak en siening sou omdop, uitmekaartrek en dit deeglik oorweeg of sy dit sou sluk vir die waarheid – of dalk eerder nie. My ingebore radar tel ’n sop storie vinniger op as wat enigeen 1-2-3 kan sê.

Maar vandag droom ek weer dieselfde dagdrome. Ek droom van ’n kleintjie in ’n mandjie, maar hierdie keer moet dit asseblief net die waarheid wees?!? Ek slaan my twee handjies saam in ’n poging om die wensdenkery bietjie lyf te gee, want oënskynlik raak die hele familie al hoe kênser in hul denke, en ek is bang dat hierdie malligheid ook eendag my voorland gaan wees… Hubby lag vir my, maar soms slaan die angssweet in groot kolle deur. As ek DNA met Moeder en Pappie deel, dan is daar rede vir bekommernis.

Dit lyk asof die familie in kompetisie met mekaar is. Twee ly aan vervolgingswaansin, veral een val hoek, lyn en sinker vir elke liegstorie wat verbykom, drie sien ’n duiwel agter elke bossie skuil en oupa ly aan iets waarvoor ek nie woorde het nie. Fabriseer inligting en glo homself ook. Hy het die interessante vermoë om ’n halwe woord te hoor, die allerverskriklikste gevolgtrekkings te maak, ’n dag daarop te broei en teen die volgende dag is dit die volle waarheid en niemand kan hom anders oortuig nie.

So het my liewe broer skielik op ’n dag in ’n kleurling verander, want Moeder het oënskynlik met kleurlinge rondge… uhm – kom ons noem dit maar “rondgeloop”. Jip, ’n volle ronde 13 jaar na ouboet se geboorte het Moeder dit gewaag om ’n paar kleurlinge aan te ry na die kerkdiens. Dit moet verseker ’n mediese wonderwerk wees. Net jammer dat Pappie se somme nie kan klop nie. Dit moes iewers tussen die werkers se buitekamer en die kerk se swaar houtdeure gebeur het.

Nog jammerder dat my broer ’n blas vel het en bietjie donker verkleur het aan die sonnige kus van Afrika. Aangesien ek ook op ’n tyd ID sou moes wys voor ek by die rolprentteater ingelaat is, systap ek die son met die grootste liefde. Dalk is my denkbeeldige pa ook ’n ‘ander een’, maar flippet, ek lyk dan soos die een in wie se huis ek grootgeword het! Ouboet nogal ook, maar Pappie kyk dit ewe gerieflik mis.

Uhm ja. As arme Moeder nog gelewe het sou sy dit sekerlik warm van agter gehad het! Ek sweer sy draai al in die rondte in haar graf. Of nee wag, Pappie het gesê die begrafnisondernemer moet maar sommer self haar ou assies wegsmyt – hy soek haar nie. Kan jy nou meer. Weet nie of dit skok was, of dalk onverwagse woede omdat sy gewaag het om dood te gaan nie. Tsk-tsk-tsk.

Al klap my tande soms uit angs opmekaar, is dit tog ook heel vermaaklik om sulke snaakse familie te hê. Aangesien al drie siblings alte graag elke twak storie sluk wat aan hulle opgedis word, ek kan ook nie die versoeking weerstaan wat so mildelik in my rigting aangestrompel kom nie. Saam met al die vreemde dinge wat hulle glo, vrees hulle ook alles wat roer en nie roer nie. (Voeg oog rol hier in.) So word elke verklaarbare gebeurtenis bestraf en tot in die diepste donkertes verban – vra maar die spieël waarvan die gom bietjie moeg geraak het.

Reeds as kind het ek graag stories gelees, maar meer spesifiek spookstories. En so sien liewe broer onlangs ’n spook in my huis. Ek lag dit af en sê dit is maar net my ou rooi hoedjie wat so skeef aan die hoederak hang. Ek is net halfpad oortuig, maar probeer dit afmaak as sy oorywerige verbeelding. Kan ook nie nou met ’n 60 jarige man opgeskeep sit wat te bang is om alleen in die kombuis koffie te drink nie! Hier ís egter dinge wat ‘bump’ maak gedurende die nag – bedags ook…

Saam-saam besluit ek en ouboet ons moet darem met ten minste één van die susters die draak te steek en te sien hoe gou sy hierdie storie vir die waarheid gaan opslurp. Dit neem slegs twee boodskappies en sy is tot die dood toe bekommerd. Veral omdat sy alreeds in haar drome gesien het hoe sy gedurende die somermaande haar klein sandaaltjies onder een van die beddens in my gastekamer gaan uitskop. Hierdie spook los toe sommer die kuier-probleem ook op. As ek dit nou net warm en lewendig kan hou vir die volgende ses of sewe maande, hoef ek nie té bekommerd te wees dat my gesels lank voor haar kuierlus gaan opraak nie.

Meestal is ek tevrede dat die mense vêr genoeg woon om nie te veel te pla nie. Maar nou en dan kruip die jammerte tog bietjie nader. Dit mag lekker wees as die familie vêr genoeg woon om net een maal per jaar te sien, maar dan is dit ’n lang en uitputtende kuier. Dalk moet ek liefs net af en toe ’n foto’tjie stuur sodat hulle daarna kan kyk, sug, en teruggooi in die laai. Met liefde sal ek dieselfde doen.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Viooltjie

      Viooltjie

      Junie 22, 2017

      Lekker gelees, Ano. Dankie vir die glimlag 🙂

    2. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Junie 24, 2017

      Dis nou lekker lees 🙂

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ano

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 8
    Kommentaar telling: 13

    Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 13 gaste aanlyn