Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Voortydige gespokery

Deur Koekekranka
Datum gepubliseer: 9 Augustus 2017 Aantal woorde: 1650 69 Kere gelees 2

Tant Sannie was ʼn goeie en geliefde mens wat alles in die oortreffende gedoen het. Niks aan haar was skamel of matig nie. Net soos haar lywigheid was haar menswees. As sy ʼn ligte kuggie sou gee, het oom Koos maar uit opstandigheid van irritasie gaan pêre omloop vir inspan dokter toe. Sou sy per ongelukkige aspres wees val, dan sou daar by voorbaat die een of ander been van haar swaardraende gebeentes amper tot verkrummeling vermolm want gebreek of gekraak sou skandelik te middelmatig wees. En as haar lywigheid die oggend met ʼn beskuitbakgedagte wakker geword het dan kon al wat kennisse is maar kom wegdra aan haar oordadigheid. Maar eweso: As sy bedroef was dan kon geen siele- of sieketrooster haar tot vertroosting beraad nie. Net so was die teenkant egter ook, want as sy die dag in ʼn stuitige bui was kon jy maar die droewigste en gewydste lykdiens-lied teem, maar sy sou nog tot maagkrampe haar verlag en vergiggel.

As nege-, tien-, elfjarige was ek soos al ons neefs baie lief vir Ant’ San soos almal haar geroep het (want die niggies het ek op daardie brose tyd in my lewe nes elke seunskind gehaat slegs omdat ieder van hulle hulle met poppe en sulke beuselagtighede besig hou en gril as ons spoeg-kompetisies het… Ek kon selfs sonder aansê of insê na haar toe hardloop as hulle kom kuier en het haar selfs gedoë toegelaat om my wang te knyp as sy verspotte dinge sê soos “Sjoe, maar my allemintig, kyk net hoe boepensgesond is hierdie puremannetjie nie geworre nie!” (Ja, sy kon haar teenswoordige, gewese en toekomstige tye sonder skroom of skaamte nogal lelik ‘mieks’ en as Ant’ San-hulle dan klaar gekuier het en padvat, dán eers het Pa gebrom oor haar onnette taalgebruik…)

Maar later jare was ek nie meer so ingenome met haar ge-wangknypery nie. Dit was toe so in my stander vier, vyf jare. Dit was toe die jare waarin Ant’ San mos so oorhoops beginne staan en raak het met die magiese en die booshede waaroor koning Saul met sy gelol met die heks van Endor in sy eie swaard sou val, want van toe af gaan dit mos nie meer soos vroeër oor watter leghorn watter koekoek getroef het met die grootste broeisel nie of oor hoenderluise of lammers wat geilsiek gevrek het nie. Nee sulke plaas- en alledaagse geselsies het Ant’ San sommer so goedsmoeds trekpas gegee. Vertellings van spoke en erge gegoël dan híér, dan dáár was al waaroor die ou siel toe kon koers-praat. En as sy begin het, glo my vry, het sy sonbesie-asem koers gehou!

“Jy kan probeer hoe jy wil, maar verdwaal kry kry jy in des lewens nie vir San as sy eers ingesit het nie” het Pa dan -nés hulle gery het natuurlik- altyd valslik-vermanend en beswarend sy eie deelname én saamgedragte selfverwyt probeer wegpraat. Maar ek kon darem self nie my ore vir myself hou wanneer die oumens aan te dra het hoe dit nou weer annerdag by so-en-so ʼn dit-en-dat ’n spook geloop en amok maak het nie.

Dit was ʼn laterige winter Vrydag toe ant’ San en oom Koos weer soos maar dikwels ‘…gou-gou net kom oë wys…’ het. Die ou werfhaan het ‘kok-kok-kok’ sy troppie henne al reeds stellasie toe geroep want vir hoeners eindig die dag mos om en by vroeg-skemer. Maar met die ge-groetery kon ek hoor oom Koos is ongewoon laggerig en nogal parmantig spraaksaam soos mens hom selde ken en met die handgee word my weerlegbare vermoede so met die geurtjie wat in die koue luggie huiwer, ʼn vaste feit: Oom Kosie was al medium to rare! Ja, nie helemaal onkapabel nie, maar darem… En wanneer hy so kom aansit vir gesêls, kan jy maar glo hy praat ant’ San en elke latente gesprekvoerder skoon uit woorde. Ja, ant’ San inkluis, en dit vra nogal gedoen te word!

Sommer met sy so half skeef op die linkerboud gaan sit, weet mens uit ondervinding dat sienbare en onsienbare spoke bygeroep gaan word en mens hoef gin te wag nie want oom Koos spring dadelik weg met: “Wragtag ou Swaer, hiérie petalje moet ek jou vertel. Jy ken mos vir Herklaas van Klippan se wêreld.”

Pa lees oom Koos se asem intrek verkeerd as ʼn vraag om op te reageer en sy mond gaan oop om te bevestig of om te ontken dat hy vir oom Herklaas van Klippan ken of nie ken nie, maar oom Koos antisipeer sy antwoord en vervolg, nogal driftig: “Ja, ou Swaer, jy behoort van hom te weet. Dis die kêrel wie se vrou so skielik net verdwyn het nadat sy hom glo sou gedreig het met ʼn egskeiding daai tyd toe hy so doenerig met die rooikop van Sebastian Pieterse begin raak het.”

Nou moet ek van puberteitsjare se onthou darem ook sê dat tannie Doreen van ou Oom Sebastian –wat sommer so ʼn halwe maand of dalk nog gouer(!) ná die verdwyning van oom Sebastian se vrou intrek geneem het by oom Herklaas op Klippan- met haar altyd goedversorgde rooi hare, wat soos ʼn sweetvos se vel in volson kon glans, nie net aanskoulik van aansien was nie, maar inaggenome haar verdere kartelings van lyf en postuur méér as net begeerlik was. Ja, selfs diegene sterk van beginsels en trou aan die Boek -soos ou dominee Ziervogel telkens vermaan- moes maar erg die oog teen aanskoue, wat later begeerte word en so dan Bybelverbiedend na die oortreding van die tiende gebod lei, sterk.

“Jy weet, ou Swaer, die poelieste wil mos nou nie juis wêreld in verkondig wat van Sebastian se oulike ou vroutjie kon geword het nie en dit laat mos maak dat elke mens sy eie gedagtes kry oor so ʼn spoorlose verdwyning. Ook háár mense uit die Kolonie het te kenne gegee dat tot hede geen oog haar tot nou toe in darie geweste te oog gehad het nie. Sy’s net weg. Skoonveld. Behoorlik poer in haar m..r” Dit is Ant’ Sannie wat die glipswoordjie sommer so in sy gepraat-in terugstop met: “ ʼn Wag voor jou mond, Koos! Hier is kinders!”

Oom Koos lyk vir ʼn wyle nes oom Rassie se pointer wat die rigting van ʼn rooikopfisant verdwaal het. Maar sommer gou kry hy weer sy storie reg en dreun voort oor die vele weergawes van die vele skinderbekke (en aangeplakte en soms kwaadwillige en moedswillige vermengings) aangaande antie Doreen se wegraping soos wat Pa dit amper half geloofwaardig saamgevat het.

“ My ou Swaer, kom ek vertel jou nou ʼn stukkie loutere waarheid oor die soekraak van die vrou. Sy’ vermoor! Ja, moenie so verbaas lyk nie, sy’s vermoor, want Sannie seg passeerde Vrydagnag word sy wakker en hier staan dieselfde Doreen met haar kartelende rooi hare neffens ons bed! Sy sê my sy kry toe nie asem van bangword vir die heldere gees van die rooikop nie want, sê sy my agterna nog nat besweet en spierwit van skrik, Doreen spook toe daar te allerverskriklik erg met ʼn bebloede nagrok aan! Ja, bid jou dit aan: ʼn bloeddeurweekte nagrok!”

Dit is toe dat Ant’ Sanna haar nie verder kon behelp nie en sy neem by oom Koos oor, rooi in die gesig en slagaar teen die nek opgepomp soos ʼn oorstopte lewerwors: “So regtig soos wat die waarheid waragtig nie ʼn lieg is nie Ouboet, staat daai Isebel met druppende hande my en aangluur en vertel my hoe afgryslik haar eie man, met wie sy bed en lewe gedeel het haar na al die jare van afsloof tot sterfte vermink het! Vertel ook waar lat hy haar agter die ou delwerskleime dóér tussen die sekelbosse en sukkelgroei sommer net gedump het. Nie eens die decency gehad om haar as christen te begrawe nie al was sy nou ook bloedheet sondig met mans saam, maar ek sallie oordeel nie. En nou sal niemand haar storie glo nie en spook sy juis om darem ten minste nog gereken te word want al wat wille-kat, jakkals en alles wat vleisvretend is, het reeds haar letste beentjies en haartjies opgevreet. Ja, sê sy ook nog so in haar se stadige wegtaan voor my twee oge vir my, hulle het selfs die bloedkolle en nagrok opgevreet. Niks laat agterbly vir moontlike leidrade vir die poelieste nie! Daarom dat niemand ooit sal weet wat van haar geword het nie en daarom dat sy aan my verskyn en kom vertel het sodat sy ter ruste kan kom!”

Vir Ma, wat maar die hele tyd net uit beleefdheid meegeluister het, was Tant San se weghol van die waarheid net ietwat te dik vir ʼn daalder en sy sê so ewe toonloos en amper ingedate: “ Sou mens mos nou wonder waar die opgevrete naghemp en bloed vir die gespokery dan vandaan sou kom, want spoke sal sekerlik nie kan bloei nie en klere sal verseker ook nie kan spook nie…”

Oom Koos was skoon van stryk gebring deur Ma se kamma selfgedagte wat eintlik beteken het ‘nou lieg julle darem te erg’ en so is hy summier uit sy storie verneuk!

En die twee is toe ewe haastig vort sonder antwoord want Ant’ San het self besef dat sy die spokery darem eens té dik gebak het. Verskoon toe sy’t pas bygeval sy’t haar beskuit in die oond vergeet…

Pa sê later vir Ma: “Myt, was dit nou nodig?”
Ma: “Dalk nie Pa, maar beslis ʼn bestiering, want gelukkig het San my laat byval van my baksel nog buite in die bakoond! Ag hemele behoed tog net dat dit nie verbrand het nie…”

Maande later het die klein gemeenskappie weer heerlik agter die hande kon skinder oor tant Doreen wat toe iewers in Johannesburg opgespoor is. En die aanlassers en verdraaiers was die eerstes wat loop en rond vertel het dat hulle mos in elk geval geweet het sy was maar net elders te kuier…




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Koekekranka

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 88
    Kommentaar telling: 448

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 60 gaste aanlyn

    Bydrae Totale