Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Voor die kop, maar nie in die krop

Deur Koekekranka
Datum gepubliseer: 14 Junie 2017 Aantal woorde: 877 40 Kere gelees 1

Ek word dié storie toe vertel met die aandrang van nie oorvertel. Maar soos die vroumens in Korporasie-stories kan ek mos g’n my bêk hou nie en nou moet ek net doodeenvoudig uitblêr wat die gehoorde storie is…

Vertel die liefwees-vir-geheime-maat my mos van die ryk ou wat op ’n dag besluit het om ’n ander roete as die normale na sy rykdomme te ry. So in die ry, seg die oorverteller, sien hy toe een van die duurste dubbelverdiepinghuise wat hy bitter graag sy eie sou wou maak as hy nou maar net nie so ʼn brandgaai was nie. Terloops, sê hy, merk hy ook ‘n skrander garden boy op, besig om die pragtigste tuine rondom hierdie droomhuis te onderhou. Hy stop en verneem van die Gardenboy wie die pragtige tuin uitgelê het. “Ek!”sê die swartman beskeie maar trots. Die ryke vra hom: “Sal jy nie asseblief vir my ook kom help om so ‘n pragtige tuin aan te lê nie?”
“Dit sal ‘n plesier wees” seg die man. En net daar beklink hulle dat Gardenman die opvolgende vrydag sal kom handgee.

Die vrydag breek aan en ou Ryke slof -nog uitgeput na laasnag se gekuier!- met die trappe af na onder net toe daar aan die voordeur geklop word. Met die oopmaak kyk ou Ryke in die breedste, vriendelikste en mees opregte glimlag van Gardenman vas en merk terloops op dat hierdie werker sy eie tuingereedskap saamgedra het.
“Waar wil meneer hê moet ons begin, want ek sien hierso is so ‘n bietjie slap laat lê” merk Gardenman so terloops op sonder enige toon van verwyt.

“Nee, ek het mos self gesien hoedat jy kan raakvat. Begin maar waar jy̒ dink die meeste skade is solank ek gou-gou my werksklere gaan aantrek en dan kom help ek jou.”

So twee- drie ure later sluit Rykman hom by Gardenman aan en vergaap hom nie ‘n bietjie oor hoe hierdie mens met die grootste gemak omdol, grawe, hark, rangskik, uitplant en toegooi nie, maar veral oor die dramatiese verandering wat sy tuin in hierdie relatief korte tydjie al ondergaan het.

“Dit gaan mos sommer klopdisselboom hier my ou!” roep ou Rykman verstom-verbaas uit. “Jy sal mos sommer teen vyfuur se kant al amper klaar wees met hierdie groot bedding!”

“Ja, daar is nie groot bome of so wat pla nie. Ek behoort darem seker dan klaar te wees” antwoord Gardeboy so tussen die gewerskaf deur en na so ‘n ander halfuur sê ou Ryke: “Sjoe, ek’s nou moeg. Gaan iets soek vir die keel.” En hiermee maak hy homself uit die voete.

“Mamma,” sê hy toe later aan tafel vir sy vroutjie wat knap net opgestaan het met hare nog steeds gekoek, gekroes en verslaap. Seker maar van al die nagmerries wat die rojale gebras van die vorige aand haar oënskynlik deurnag rond laat rol het. “Ek dink ons het die jackpot geslaan met die Tuinier wat kom help het. Sowat van netjies raakvat en vining werk kan ‘n

mens amper nie oorvertel nie. Ek gaan hom beslis afrokkel om permanent by ons te kom werk, want so ‘n handigheid skop mens nie onder elke bossie uit nie. Kom sien vir jouself!” nooi hy haar na die venster toe. Sy raak sommer binne sekondes oortuig en sê so half gebiedend: “Hom mag jy beslis nie deur jou vingers laat glip nie!”

Baie in sy skik stap Rykman na sowat ‘n halfuur later met ‘n stomende beker koffie en twee allemintige dik snye brood met konfyt geil gesmeer terug na Gardenman wat dit met erkentlike waardering in ontvangs neem en dadelik smaaklik daaraan wegval.

“My ou,” voel-voel Rykman na gepaste woorde ter werwing van hierdie rype vrug wat so wonderbaarlik in sy skoot kom val het. “Ek en my vrou is baie tevrede met jou manier van dinge doen en ons het saam besluit om jou ‘n permanente aanstelling as Tuinier aan te bied.”

“Nee, nee wag nou meneer…” protesteer Gardenman, maar Rykman steur hom allermins aan hierdie verset uit wete dat enigeen mos ‘n prys het en, dink hy so by homself, ek is bereid om tot dubbel te betaal teen wat hy ookal nou verdien.

“Nee, ons wil jou graag hê en ons sal jou meer betaal as wat jy nou verdien. Maak maar jou prys.”

Gardenman beloer ou Rykman so half uit die veld geslaan en sê dan baie beleefd: “Jammer meneer, maar ek soek nie werk nie. Ek het jou vandag net kom help omdat ek ‘n passie vir tuinmaak het. Ek het ‘n gevestigde en lonende praktyk want ek praktiseer al vir vyf jaar as Breinspesalis in die stad.”

En toe, sê die oorverteller van hierdie ware storie, voel ou Ryke ook vir die eerste keer in sy oorvloedige lewe hoe vernederend-ontstellend dit kan wees om skielik brandarm te wees… aan woorde natuurlik, want hy kon net skaam en stamelend ʼn flouerige “Askies” uitwurg !

Nou ja, soos Pa sou vermaan het, ʼn mens moet maar altyd versigtig wees om nie tot eie embarrisering en skande holderstebolder op sig te wil staan en koop nie. Maan die pragtige gesegde dan van om nie iemand voor die kop te kyk nie maar eerder in die krop nie ook maar hier nie…?




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Koekekranka

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 83
    Kommentaar telling: 411

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 103 gaste aanlyn