Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: VERLATE ROMANTIKUS (Prosa & Poësie)

Deur Francois Meyer
Datum gepubliseer: 29 September 2017 Aantal woorde: 287 18 Kere gelees 2

“My antwoord is… ja!”

Hy staan van sy knieë op en steek die ring aan haar vinger. Haar oë blink en ‘n traan van blydskap rol oor haar wang. Die hoofstraat van Parys se liggies weerkaats oor die traan. Dit is die begin van ‘n nuwe lewe saam.

“Jy het my sopas die gelukkigste man ter wêreld gemaak.”

“Ek is lief vir jou en…” ‘n hewige knal val haar in die rede, “…jy weet… dit.”

Sy sak voor hom neer. Haar bloed vloei oor die sypaadjie langs die bos rooi rose wat uit haar hande geval het. Hy skree haar naam en val sy knieë nerf-af op die beton langs haar lewelose liggaam. Hy probeer haar polsslag vind; tevergeefs. Sy hart klop vir ‘n lewe saam met haar, maar haar hart het finaal opgehou klop. Hy gaan sit plat terwyl mense om hom verward rondhardloop. So paar meter verder lê nog iemand – doodgeskiet. Hy tel haar op sy skoot en streel oor haar gesig en bebloede hare.

“Here, laat hierdie tog net ‘n nagmerrie wees. Maak my wakker asseblief. Waarom sý? Waarom nóú?” skree hy met ‘n desperate stem.

“Dalk is dit nie só erg om eendag alleen dood te gaan nie, maar tog is daar geen doel om sonder haar te lewe nie,”
dink hy.

Onverwags het sy wêreld – wat sopas voltooi is – weer uitmekaar geval. Hy soen haar op haar voorkop en fluister vir oulaas: “Totsiens, my lief. Je t’aime.”

bomme bars,
vlamme vuur
in tartende terroriste
se goddelose gluur

“j’veux pas mourir toute seule”
laaste liefdeswoorde
weergalm in die straat

“au revoir, my lief”
fluister’nd finaal

trou(ens) té laat…

*Opgedra aan die slagoffers van die terreuraanvalle in Parys, 2015.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Francois Meyer

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 16
    Kommentaar telling: 18

    Francois Terblanche Meyer is op 21 Januarie 1994 in Bloemfontein gebore. Hy het in 2012 aan Hoërskool Fichardtpark gematrikuleer. Tempora Animus, Francois se debuut digbundel, is op 26 September 2013 en Onder die Dekmantel, sy tweede digbundel, op 17 Januarie 2015 vrygestel. Onder die Dekmantel se eerste oplaag het binne ses maande uitverkoop. Op 30 Oktober 2015 het Francois Onder die Dekmantel: Die Spesiale Uitgawe vrygestel – ‘n spesiale hermeesterde weergawe vanOnder die Dekmantel asook Tempora Animus. Op 25 Junie 2016 het Francois sy amptelike derde digbundel, Digtershart, vrygestel. Dié bundel het na die aand van bekendstelling reeds 50% uitverkoop. Francois beskou dit as die laaste skoonskryf in ‘n trio van emosionele en persoonlike digbundels. Op 21 Januarie 2017 het Francois sy eerste prosastuk, Die wêreld deur haar oë, bekendgestel. Dié boek vertel ‘n storie van ‘n vrou en haar stryd met Lupus (‘n outo-immuun siekte) en raak aan die liggaamlike, emosionele en geestelike aspekte daarvan. Francois het Die wêreld deur haar oë aan sy ma, Anne-Marie Meyer, opgedra. “Die boek is my ma se getuienis en verhaal. Ek het die pad in haar skoene geloop tydens die skryf van hierdie boek, nadat sy in 2007 met Lupus gediagnoseer is. Die skryfproses van hierdie boek het my ook genees.” Francois het na bekendstelling van hierdie boek hande met Lupus SA (NPO 173-306) gevat en 10% van alle verkope van dié boek word aan hulle geskenk. Weens groot aanvraag na spoedige uitverkoping van vele oplae van sy eerste drie digbundels, het Francois op 15 Junie 2017 ‘n volledige omnibus van Tempora AnimusOnder die Dekmantel en Digtershart vrygestel. Hierdie versamelstuk (waarvan daar slegs ‘n beperkte hoeveelheid voorraad vrygestel is) staan bekend as Digtershart Drie-Kuns. Tydens 2011 was hy ook een van die finaliste in die finale rondte van die Senwes Entrepreneurs Kompetisie met sy grafiese ontwerp besigheid, Logo Worx (nou Infinitum Projects), wat hy reeds op 16-jarige ouderdom gestig het.  Op 8 Julie 2015 het Francois ‘n platform vir die Afrikaanse Kuns en Kultuur, naamlik KunsWeb, gestig. Op 28 Oktober 2016 moes Francois sielswroegend van KunsWeb afskeid neem na bietjie meer as ‘n jaar van groot sukses. Hierdie besluit het tot gemengde reaksie gelei. Nadat Francois ook ‘n groot verskil in verskeie opkomende digters en skrywers se lewens gemaak het, het hy sy persoonlike tyd saam met sy familie bo sy beroep se sukses gekies. Hy woon tans in Bloemfontein en sy grootste droom is om ander deur middel van kreatiwiteit in hul drome te laat glo. Hy staan ook sterk vir kreatiewe vryheid. “As jou drome jou nie bang maak nie, droom jy nie groot genoeg nie!”

    Gebruikers Aanlyn

    5 Lede, 110 gaste aanlyn