Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Twee Seisoene Fee

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 17 Augustus 2017 Aantal woorde: 447 42 Kere gelees 4

Vivian se keel brand van ongestorte trane. Sy klem die legendariese swaard in albei hande vas; sy kan skaars glo dat dinge so lelik skeef geloop het.

Haar hart breek soos die blonde jong man met die ondersteuning van die meervroue na die ander kant van haar eiland loop. Sy wapenrusting weerkaats die helder son – selfs die deel waar bloed uit hom sypel en alles vermiljoen verkleur.

Sy wil skree dat dit onregverdig is. Sy wil huil omdat hy sy einde so vroeg ontmoet het. Sy wil terug gaan in tyd en dit als verhoed.

Vivian kyk verslae soos Arthur die Skimmeryk binnetree.

Dis verby.

Die wind waai die mis weg wat vir ‘n oomblik die Skimmeryk met hare verbind het. Sy voel hoe haar ligte hare orals om haar waai, lankal nie meer in die sierlike styl van vroeër nie. Selfs haar rok het al sy glans en kleur verloor: sy lyk nie soos ‘n Fee wat daar hoort nie.

Sy’t geweet wat sy gewaag het toe sy na die draak geluister het en na die Eiland van Eindelose Somer getrek het. Sy’t geweet dat dit nie maklik sou wees om die Feë wat daar woon te laat luister nie – maar hulle het. Sy’t geweet dat die Eens en Toekomstige Koning al die hulp gaan nodig hê wat sy kan gee: sy het vir Arthur teen Morgana Pendragon, Merlin en talle ander vyande wat eers as vriende voorgekom het beskerm.

Vir wat?

Vivian gee die swaard vir Nimuë. Die blou-oog Fee kyk verbaas vir haar. Vivian knik net en loop weg.

‘Jy kan nie terug gaan nie!’ roep Nimuë agter haar aan. ‘Na alles wat jy gedoen het om Arthur koning te maak, sy koninkryk uit te brei en hom te beskerm gaan niemand daar jou ooit weer verwelkom as een van hulle nie.’

‘Ek weet,’ sê Vivian sag. ‘Maar ek’s ook nie regtig een van julle nie. Nie eens dekades in die mensewêreld kan dit so maak nie.’

Sy loop deur die sluier wat die Eiland van Eindelose Somer in die mensewêreld en die kasteel van die Donker Hof in Feërie skei.

Hopelik sal haar ware koning haar vergewe dat sy hom teë gegaan het. Na alles, hoe moes sy geweet het dat hy vir Morgana gehelp het om in twee te verdeel en almal te verower? Sy wens amper dat Arthur haar nie vertel het nie.

Vivian asem die koue en donkerte in. Met ‘n bietjie toorkrag verander sy haar voorkoms om by haar nuwe omstandighede te pas: sy steek haar stukkende hart weg en wys net die koue Donker Fee wat sy nog altyd was.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 52
    Kommentaar telling: 241

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 26 gaste aanlyn

    Bydrae Totale