Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Tussen treine

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 6 Mei 2017 Aantal woorde: 495 108 Kere gelees 1

Chrislene staan arms gevou op die peron en wag. Kort-kort loer sy om haar rond. Sy weet die kanse is maar skraal dat hy vandag hier sal wees, maar sy kry nie die gevoel van haar afgeskud nie. Die laaste keer wat hulle mekaar hier gesien het, was hulle maar nog net kinders. Kinders wat hulle eerste tree in die grootmens wêreld geloop het. Kinders wat al ‘n voorsmakie gehad het van die verkeerde kant van liefde.

Sy was sewentien met twee vlegsels toe sy haar hart op Nico verloor het. Tot haar ouers se ergernis, want Nico was drie jaar ouer as sy en reeds klaar met skool. Bo en behalwe die ouderdomsverskil, was Nico the hunk of the town, elke meisie se droom ou. Sy reputasie het hom vooruit geloop. Die mans het gewens hulle was hy en die dames het gewens hulle was saam met hom. Maar Nico het vir háár gekies, vir vaal jonger Chrislene met die twee vlegsels.

Hulle verhouding het ‘n skrapse drie maande gehou voor Nico dit hier op die einste stasie beëindig het.
Hy het haar wêreld laat krummel en die mat onder haar voete uitgeruk in die middel van haar matriek eindeksamen. Sy trooswoorde aan haar was ‘n cheesy lewensfilosofie; “As jy iets lief het, laat dit gaan. As dit aan jou behoort, sal jy dit weer terugkry.” Die persoon wat daai sêding uitgedink het, het nog nooit lief gehad nie, het Chrislene gedink.
Sy het alle kontak met Nico verbreek en aangegaan met haar lewe. Tot en met hierdie dag het sy nog nooit weer van hom gesien of gehoor nie. Vandag vat sy die trein om ‘n nuwe lewe te begin. Sy is klaar met skool en die wye wêreld lê oop voor haar.
Chrislene kyk op haar horlosie. Die trein sal nou enige oomblik vertrek. Sy sien hom net voor sy op die trein klim. Net so handsome soos altyd. Haar hart slaan tamboeryn, vlinders krioel in haar maag en haar bene word jelly. Net soos toe sy nog haar twee vlegsels gehad het. Nico sien haar ook raak. Sy gesig helder op en hy loop vinniger na haar toe, maar Chrislene kyk weg en klim op die trein.

Die deur gaan onmiddellik agter haar toe. Sy soek deur die lywe vir ‘n oop sitplek en kry een by ‘n venster.
Nico sien haar dadelik raak en beduie vir Chrislene om hom buite te kry, maar sy skud haar kop en bly sit. Die trein begin beweeg en Nico soebat steeds dat sy van die trein moet afklim. Chrislene kyk stip voor haar. Nico het haar haar hart laat verloor, wat sy nooit weer sal terug kry nie. Sy het nie eers die keuse gehad om dit self te laat gaan, soos hy voor gestel het nie. Dis van haar weggevat. Sy gaan hom nie die satisfaksie gee van iets “terugkry” wat hy “laat gaan” het nie.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van HelenaMellet

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 105
    Kommentaar telling: 75

    Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 49 gaste aanlyn