Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Stofberg – ń Lappie dorre aarde

Deur Loretta Szikra
Datum gepubliseer: 6 April 2017 Aantal woorde: 185 108 Kere gelees 3

Mamma was slegs vyftien
die jongste skaars twee
tussenin nóg sewe
wat ouma kos moes gee.

Oupa het haar nagelaat
met nege monde om te voer
op ń plaas wat smag na water
moes sy alleen op boer.

Soos die watervlak gedaal het
het armoede gestyg
met ń tweeskaar ploeg het sy
deur wintersknou en somer
agteroor gebuig!

Tesame met die water
het die geld ook opgedroog
hulle broekies en bra’s
moes sy uit meelsakkies optoor

In ruil vir lap en gare
het sy snags tot laat gebak
Die linte in hul hare
is van oorskietlap gemaak.

Liefde was daar in oorvloed
pap en kaiings ook
Met pampoenskil en marog
is koningskos mee gekook

Op haar lappie dorre aarde
haar hande, nerf-af gewerk
vir meer stof as genade
en ń tiende vir die kerk

Moed was nooit verlore nie
sielskos het haar gevoed
kla nie deel van haar woorde nie
God was altyd vir haar goed!

Haar woorde steek nog vas soos gister…

“Al lê armoede en swaarkry
so wyd soos die distik
kan jy met vertroue, geloof en hoop
swaarkry se angel
by sy strop afruk.”




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Elroux

      Elroux

      April 6, 2017

      Pragtige nostalgiese gedig

    2. profiel foto van Cornien

      Cornien

      April 7, 2017

      “Al lê armoede en swaarkry
      so wyd soos die distik
      kan jy met vertroue, geloof en hoop
      swaarkry se angel
      by sy strop afruk.” ‘n Sterk vrou gewis …. mooi verwoord en werklik in tyd vas gevang!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Loretta Szikra

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 38
    Kommentaar telling: 45

    Gebruikers Aanlyn

    3 Lede, 73 gaste aanlyn