Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: SPOOK ASEM

Deur Paula
Datum gepubliseer: 7 Julie 2017 Aantal woorde: 2910 129 Kere gelees 1

Hulle het vroeër vandag ingeboek na ‘n lang, steil rit op die stofpad. Die bestuurder van die vakansie-oord het die huis vir hulle oopgesluit, vir hulle verduidelik waar alles is en op sy pad uit grappenderwys oor sy skouer gesê: “Hierdie huis is berug vir die spook wat hier rondloop, hoor! Daar is blykbaar ‘n vrou wat omtrent ‘n honderd jaar gelede hier dood is en haar spook rus nie.” Met daardie woorde het hy die sleutels aan Gerrit oorhandig en homself uit die voete gemaak.

Die groepie vriende het besluit om voor die geboorte van Elsa en Gerrit se baba ‘n kort vakansie te gaan hou – om vir “oulaas lekker te kuier voor die pyjama-dril begin”, soos Dries dit gestel het. Die twee paartjies, Gerrit en Elsa en Elsa se beste vriendin Melinda en haar man Dries het goeie vriende geraak na Gerrit en Elsa se troue.

Dries het die ou plaashuis wat hulle vir die vakansie huur op die Internet opgespoor. “Ons kan die hele huis huur!” het hy ingenome vir Gerrit oor die telefoon vertel. “Dit is ver van al die ander rondawels en die kampeerplek op die vakansie-oord af. Ons sal lekker privaat kan partytjie hou, man, en daar is twee badkamers. Dit behoort die vroumense gelukkig te hou.”

Aangesien sy en Gerrit die langste getroud is en sy so ver swanger is, word besluit dat hulle die hoofslaapkamer met die en suite-badkamer kan gebruik.

Elsa help uitpak en besluit dan om bietjie gaan rus. Sy word deesdae so verskriklik gou moeg en haar rug is seer. Sy skop haar skoene uit en maak haarself behaaglik op die groot, gemaklike bed tuis en gooi ‘n ligte kombers oor haar voete. Op die bedkassie lê daar ‘n ou boek. Sy tel dit op en blaai daardeur.

Sy begin lees en bevind haarself in ‘n ander wêreld. ‘n Wêreld amper 100 jaar gelede van swaarkry, wraak en moord. Volgens die skrywer is die storie as die waarheid aan hom vertel deur een van die plaaswerkers wat destyds op die plaas gewoon het.

‘n Arm, jong meisie, Hendrina, het ‘n geheime verhoudig met een van die ryk boerseuns in die omgewing gehad. Die ryk boerseun se familie het in hierdie einste huis wat hulle vir die vakansie huur gewoon en Hendrina se familie was bywoners op die plaas. Toe Hendrina haar minnaar vertel het dat sy swanger was, het hy haar uitgelag en vertel dat hy verloof was aan een van die ander ryk boere se dogters en dat sy net ligte vermaak was tot tyd en wyl hy trou.

Hendrina se familie het onvermydelik uitgevind dat sy swanger was en haar pa het haar een stormagtige aand uit die huis gejaag. Sy het geen heenkome gehad nie. Voordat sy uit haar ouers se huis is, het sy een van die slagmesse uit die kombuis verwyder. Sy het kaalvoet, in die donker, na die groot huis gestrompel.

Die jong man was alleen by die huis. Sy ouers was dorp toe vir die naweek vir nagmaal by die kerk en hy moes toesien dat alles op die plaas glad verloop. Sy het aan die deur gehamer en toe hy dit oopmaak het sy sopnat met die groot mes in haar hand daar gestaan.

Sy het hom met die mes aangeval. Een doodsteek in die hart en daarna het sy haarself menige kere in die buik met dieselfde mes gesteek. Hendrina en haar ongebore baba het ook daar gesterf. Die jong man se ouers het op die grieselige toneel afgekom laat die Sondagmiddag toe hulle van die dorp af gekom het.

Volgens die skrywer het die plaaswerker hom vertel dat Hendrina nooit tot rus kon kom nie en partykeer kon mens haar koue spook asem in die huis voel en wanneer daar ‘n donderstorm was het sy rondgeloop – bebloed en kaalvoet.

Elsa laat die boek sak. Die storie ontstel haar. Miskien omdat sy self swanger is. Sy troos haarself daaraan dat spoke nie bestaan. Terwyl sy nog dink oor die storie raak sy, boek in die hand, aan die slaap. Gerrit kom maak haar later, toe die braaivleisvuur al hoog brand, wakker.

Daar word lekker gelag en gesels. Hoe koeler dit raak hoe nader skuif hulle aan die vuur. Elsa merk op dat Melinda net mineraalwater drink. Later begin daar spookstories vertel word. Die wind suis saggies deur die groot bome wat die huis omring. Elsa vertel van die storie wat sy die middag gelees het. Melinda sê as daar enige iets bonatuurlik in die huis is sal sy dit dadelik aanvoel want sy is sensitief vir sulke goed. Gerrit rol sy oë en sê dat hy nie in spoke of die bonatuurlike glo nie. In elk geval daardie spook, as daar ooit een was, het darem seker nou al tot rus gekom. Melinda wil nog stry maar Gerrit praat haar met ‘n geterg dood. Elsa kan sien dat Melinda haar bietjie vererg.

Teen elfuur kan Elsa haar oë nie meer oophou nie en besluit om te gaan inkruip. “Kuier julle nog, ek is net baie moeg.” Sy streel haar boepie en sê dis seker maar die ekstra gewig wat sy ronddra.

“Sal jy omgee as ek nog bietjie gesels?” vra Gerrit. “Natuurlik nie,” antwoord sy.

Elsa neem ‘n vinnige stort, borsel haar tande, trek haar nagklere aan en kruip in die bed. Sy kan vaagweg die ander nog hoor lag en gesels. Haar oë wil net toeval en sy skakel die bedlampie af. Sy draai swaar om en is al driekwart aan die slaap voordat sy bewus raak dat die kamer skielik bitter koud geword het. ‘n Yskoue bries streel oor haar arm wat buite die beddegoed is en laat haar ril. “Spook asem”, dink sy en glimlag in die donker vir haarself. Sy trek haar arm vinnig onder die komberse in en woel dieper in sodat net haar neus uitsteek en binne ‘n paar minute is sy in droomland.

Sy skrik wakker. Die kamer is stikdonker. Haar hand gaan onwillekeurig na haar buik waar haar ongebore baba onder haar hart nestel. Langs haar lê Gerrit heerlik en slaap. Diem asemteue wat net-net wil oorslaan in snork. Hy snork gewoonlik wanneer hy ‘n paar drankies agter die blad het.
Wat het haar wakkergemaak? Elsa kan nie onthou of sy ‘n nagmerrie gehad het nie. Sy moet badkamer toe. Hoe verder die swangerskap vorder hoe meer gereeld moet sy hardloop. Sy skakel die bedlampie aan, swaai haar voete onder die komberse uit en lig haar lyf uit die bed met ‘n sug. Dit raak nou regtig ongemaklik en sy het nog ‘n maand en ‘n half om te gaan. Gerrit roer nie.
Elsa stap badkamer toe. Sy kry warm en spoel haar gesig met ‘n bietjie koue water af. Daarna doen sy wat gedoen moet word. Toe sy die badkamerdeur oopmaak voel dit asof sy in ‘n yskas instap. Die koue tref haar vol in die gesig en sy snak na asem. “Wat gaan aan met my?” dink sy. “Eers koud, dan warm, dan weer yskoud”. As dit is wat hormone aan mens doen, het niemand haar dit ooit vertel nie. Sy skuif weer onder die komberse in en skakel die lig af.

Sy maak haar oë toe maar hulle vlieg onmiddellik weer in die pikdonker oop toe ‘n skor vrouestem met ysige asem in haar oor fluister, “Hy is myne!”

Elsa ruk regop in die bed en met ‘n bewende hand probeer sy die bedlamp aanskakel maar sy stamp die boek wat sy vroeër gelees het van die kassie af en dit val met ‘n dowwe plof op die vloer. Sy skud vir Gerrit aan die skouer. “Gerrit, Gerrit, word wakker! Hier is iemand in die huis!”. Gerrit vlieg vervaard regop in die bed.

“Wat gaan aan!” roep hy uit. “Elsa, Elsa is jy OK? Wag, laat ek die lig aanskakel!”

Hy skakel die lampie aan sy kant van die bed aan. Elsa staar doodsbleek met groot oë na hom.

“Elsa, die baba …,” begin hy.

“Die baba is OK, Gerrit, maar hier was iemand in die kamer,” fluister sy.

Hy gooi die beddegoed van hom af. “Dis ongelooflik warm hierbinne, ek kan nie asemhaal nie,” sê hy, klim uit die bed en gooi die groot venster wyd oop. Hy adem diep teue van die koel aandlug in en dan draai hy om na haar.“Wat gaan aan, Elsa? Wat het gebeur?” vra hy en stap terug bed toe.

Elsa vertel hom wat gebeur het. Hy luister geduldig en slaan dan sy arm om haar.

“My Skat, dit was seker maar net ‘n droom. Hier is niemand, maar as dit jou sal gerusstel sal ek gou deur die huis stap. Maar koud is dit beslis nie.” Klein sweetdruppels pêrel op sy bolip.

“Ek het nie gedroom …,” begin sy maar hy het reeds die slaapkamerdeur oopgemaak en deur die huis begin stap. Sy kan sy voetstappe op die plankvloer hoor en sien hoe hy ligte aan- en afskakel.

Hy kom terug in die slaapkamer met ‘n glas yskoue appelsap in die hand wat hy na haar uithou. Sy neem dit danbaar by hom en drink die glas leeg in ‘n paar groot slukke.

“Daar is niemand hier nie, Elsa. Die ander twee slaap en ek dink regtig dit was net ‘n droom. Ek gaan die venster net so bietjie ooplos en een van die komberse afgooi. Dis darem nog nie heeltemal winter nie. Kom ons slaap.”

Hy skuif weer in die bed in en kom lê lepel agter haar. Hy slaan sy arm om haar groot lyf en rus sy hand op die ongebore baba. Binne ‘n paar minute hoor sy hoe sy asemhaling verdiep en sy voel haarself ontspan teen sy warm lyf. “Dit wás seker maar net ‘n droom,” dink sy, maak haar oë toe en raak aan die slaap.

Die volgende oggend net voor ontbyt vra Gerrit vir Elsa om tog nie vir ander te vertel wat gebeur het nie. “Melinda sal onmiddellik histeries raak en dan moet ons almal weer luister hoe sensitief sy is en dan sal sy sommer goed opmaak en almal hop hol jaag.” Elsa stem saam en die res van die dag verloop heel gesellig. Die mans gaan die res van die vakansie-oord besigtig terwyl Melinda aankondig dat Elsa ‘n oggend van pamperlang nodig het. Melinda is ‘n skoonheidsterapeut en sy het ‘n hele sak vol gesigmaskers, naellak en ander mooimaakgoed saamgebring. Sy besluit om vir Elsa ‘n volledige pedikuur en voetmassering te gee.

“Ek dink jy sukkel maar so bietjie om by jou voete uit te kom deesdae en jy lyk maar vir my bietjie bleek vandag,” sê sy.

Elsa brand om vir haar vriendin te vertel wat gebeur het maar sy onthou haar belofte aan Gerrit en bly stil. Sy geniet dit verskriklik en ontspan ten volle.

Later die middag begin dik donderwolke saampak. Weerlig flits op die horison.

“Hier kom ‘n groot storm aan, mense. Ons sal dalk nie buite kan braai vanaand nie,” sê Gerrit.

Hulle besluit om sommer ‘n pastadis bymekaar te gooi en bordspeletjies te speel.

Almal ruk soos hulle skrik toe die eerste donderslag slaan. ‘n Stormwind het opgesteek wat die bome rondom die huis laat kreun en suis.

“Dis tyd vir ‘n dop, mense. Dan trek ons al die gordyne oop en waardeer hierdie storm,” sê Dries en stap yskas toe om daad by die woord te voeg.

Melinda is bleek om die kiewe. “Los die gordyne, Dries! Ek hou nie van donderstorms nie. Dit maak my bang!”

Elsa besluit om solank met die kos te begin voordat die drank te vryelik begin vloei. Sy het ‘n knaende, dowwe pyn in haar rug en wil eintlik net op die bed gaan lê met die nuwe boek wat sy saamgebring het om te lees.

Die storm begin met mening woed. Groot reëndruppels klap teen die vensters en weerligstrale verlig die binnekant van die huis, wat stormdonker is, elke paar minute. Oorverdowende donderslae maak dit onmoontlik om te gesels. Dit is die natuur op sy mees dramatiese. Melinda sit woordeloos onder Dries se vlerk ingekruip.

Na ete steek Gerrit ‘n vuur in die kaggel aan. Buite klink dit asof die einde van die wêreld aangebreek het en daar is geen teken dat die storm aan die uitwoed is nie. Die vuur is ook net betyds aangesteek want met die volgende donderslag is die krag skielik af. Dit is stikdonker in die huis behalwe vir die kring lig wat die vuur uitstraal.

Melinda kerm saggies teen Dries se skouer. “Ek wil huistoe gaan! Wat as daai Hendrina vroumens besluit om vanaand rond te loop. Elsa het gesê die boek sê sy loop rond wanneer daar ‘n storm is!”

Niemand luister na haar nie. Elsa onthou dat sy kerse in een van die kombuislaaie gesien het en staan op om dit te gaan haal. “Ek weet nie van julle nie mense, maar ek dink dis tyd om in die bed te klim. Hopelik is die storm teen môre uitgewoed.”

Sy steek ‘n paar kerse aan en sit dit in die blakers wat sy in dieselfde laai ontdek het. Sy neem een, sê nag en stap kamer toe. Die ander besluit om nog bietjie voor die vuur te sit voordat hulle ook gaan slaap.

Elsa besluit om net vinnig haar tande te borsel en gesig te was. Sy sal môreoggend stort. Sy klim in die bed met haar boek en trek die kers nader sodat sy bietjie kan lees. Sy sukkel bietjie met die kerslig en besluit om maar liewer te probeer slaap. Sy blaas die kers dood en lê in die donker en luister na die getier van die storm. So nou en dan verlig ‘n weerligstraal die kamer, kort daarna gevolg deur ‘n donderslag. Sy raak aan die slaap.

Elsa word in die middel van die nag wakker. Sy moet alweer badkamer toe. Gerrit lê heerlik en snork en sy besluit dat dit nie nodig is om die bedliggie aan te skakel nie want sy ken darem nou al die pad badkamer toe – sy het die afgelope twee dae genoeg soontoe geloop.

Die storm woed nog onverpoos voort. Net toe sy haar voete van die bed af swaai is daar ‘n helder weerligstraal wat die kamer verlig. Elsa versteen waar sy sit. By die kamerdeur staan daar ‘n vrouefiguur … dit is weer donker in die kamer. Sy steek ‘n bewende hand na die bedliggie uit maar die krag is nog steeds af. Sy het vergeet. Nog ‘n weerligstraal. Die vrouefiguur is nog steeds daar. ‘n Donderslag. Stilte en absolute duisternis. “Ek het vir jou gesê die baba is MYNE!” fluister die skor stem.

Elsa gee ‘n lang, uitgerekte gil. Gerrit vlieg regop in die bed.

“Sy is HIER! Gerrit, sy is hier en sy wil my baba hê!” gil sy.

Gerrit vroetel vervaard op die bedkassie aan sy kant van die bed rond. Hy vat ‘n aansteker raak en steek die kers aan met hande wat bewe.

“Elsa, wat gaan aan!” roep hy uit.

Elsa sit en snik met haar hande oor haar oë.

Gerrit ruk haar aan die skouers. “Elsa, Elsa, bedaar! Dis ek, dis ék!”

Elsa neem haar hande weg van haar oë. Sy kyk vervaard in die kerslig na die deur se kant toe. Daar is niks.

“Gerrit, sy was hier!” snik sy. “Hendrina was hier in die kamer en sy het gesê sy wil ons baba hê!”
Sy spring uit die bed. “Ek moet hier wegkom!”

“Elsa, bedaar net. Hier is NIKS in hierdie kamer nie!”

“Gerrit, ek is nie mal nie. Eers die spook asem en nou is sy hier!”

Nog ‘n weerligstraal en ‘n donderslag. En dan ‘n geskreeu uit die ander slaapkamer.

“Wat op aarde gaan vannag hier aan!” roep Gerrit desperaat uit. Sy hare is deurmekaar geslaap. Hy   spring uit die bed en hy gryp die kers.

“Wag vir my!” roep Elsa.

Hulle hardloop agter die geskreeu aan. Dit kom uit Melinda en Dries se kamer.  Die toneel wat hulle daar ontmoet is skokkend. Melinda lê skuins oor die bed en haar nagklere is rooi van haar bloed. Dries staan soos ‘n besetene met ‘n kers in die hand en skreeu.

“Die baba!” skreeu hy. “Sy verloor die baba!”

“Watse baba?” stammer Gerrit.

“Melinda is swanger. Ons wou julle hierdie week vertel het,” fluister Dries.

Elsa voel die koue spook asem agter oor haar skouerblaaie. Sy swaai om. ‘n Vrou in ‘n bebloede rok en met kaal voete wat iets teen haar bors koester kyk haar reguit in die oë en glimlag. Dan verdwyn sy.
Elsa verstaan onmiddellik. Dit was nie háár baba nie. Dank God, dit was nie haar baba nie. Haar bene gee mee en sy sak inmekaar.

Sy kom eers ‘n ruk later by toe Gerrit haar gesig met ‘n nat lap afvee.

“Elsa, is jy OK? vra hy. “Ek en Dries moet onmiddellik vir Melinda by ‘n hospitaal kry. Die storm is verby en die krag is weer aan. Ons gaan dadelik ry.”

“Ja, ek is reg. Ons moet almal hier weg, nou!” sê sy dringend.

“Ons is reg om te ry,” Dries se stem uit die kombuis.

Elsa kyk nog een keer by die agterruit van die motor uit. ‘n Vrouefiguur in ‘n bebloede rok en kaal voete staan by die voordeur met ‘n baba in haar arms. Sy lig haar een hand en wuif.




  • TEMAS
    6 Kommentaar
    1. profiel foto van Kiekies

      Kiekies

      Julie 7, 2017

      Lekker gelees!!

    2. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Julie 13, 2017

      Nou kry ek koud 🙂 Goed geskryf

      • profiel foto van Paula

        Paula

        Julie 13, 2017

        Baie dankie Okatopi. Nog stories wat (hopelik) koue rillings gee is op pad 🙂

    3. profiel foto van Inkmoderator

      Inkmoderator

      Julie 21, 2017

      Paula, ek dink jy het jou goed gekwyt in dié taak. Die storie lees heerlik en interessant.

      Ek kyk met opwinding uit vir jou stories wat gaan volg.
      Die verhaal kan doen met bietjie proeflees maar dit is net semanties.

      Skryfgroete
      IM

    4. profiel foto van Toom

      Toom

      November 1, 2017

      Liewe Paula,
      nou is al drie maande verby.
      En ons wag in spanning!
      Span ons nie op die folter nie!
      GvT

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Paula

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 3
    Kommentaar telling: 5

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 93 gaste aanlyn

    Bydrae Totale