Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Sneeuwitjie in die moderne lewe

Deur Bianca van Niekerk
Datum gepubliseer: 4 Oktober 2017 Aantal woorde: 439 43 Kere gelees 2

Terwyl die reenwolke buite saampak, sit Sneeuwitjie in haar een slaapkamer woonstel en staar by die ruit uit. Haar gedagtes begin dwaal na haar lewe en hoe alles uitgedraai het.
“En hulle het lank en gelukkig saam gelewe.” – dit was die woorde wat in Sneeuwitjie se ore weerklink het terwyl sy en Prins John in hul koets die troue verlaat het. ‘n Lewe van liefde en weelde en al die geluk in die wêreld sou op haar wag – of so het sy gedink.

Skaars was hul terug van wittebrood af en amper oppad om in die Kasteel in trek, toe die bom bars. John se naam is eintlik Johan en hy dra vals tande en ‘n band om sy midrif om die boepbens weg te steek. Die koninkryk van weelde waarvan hy praat was niks anders as ‘n bouvallige twee-verdieping Wendy huis langs die Vaaldam in Oranjeville nie. Dit was boonop so diep in die skuld dat dit reeds deur die bank teruggeneem is. Na al die agterstallige skuld opdatum gebring is, was daar skaars genoeg geld om ‘n ordentlike woonplek aan te skaf en moes hulle in ‘n karavaan op die agterstrate in Benoni woon.

Johan het die een verslawing na die ander aangeleer en die bietjie geld wat sy kon inbring deur skottelgoed te was by die local Wimpy het hy vinnig uitgedobbel. Sy moes twaalf uur lange skofte werk en wanneer sy uiteindelik by die huis gekom het, moes sy ure spandeer om die karavaan skoon te maak, wasgoed te was en elke aand al Johan se ingroei toonnaels vir hom uit te knip.

Die lewe het nie beter geraak nie en soos die kinders meer geword het, het Johan se drank probleem erger geword. Op ‘n dag betrap sy wat Sneeuwitjie is, hom wraggies op heterdaad in die bed met die leier van sy “Alkoholiste Anoniem”groep. Wat anders kon sy doen as om die kinders op te pak en te dagvaar vir ‘n egskeiding.
Alhoewel dinge lelik geraak het gedurende die skeisaak, is alles toe nou eindelik gefinaliseer en kon sy met die onderhoud geld wat sy by Johan kry vir haar en die kinders ‘n woonstelletjie bekostig.

Sy sig en steek lui-lui nog ‘n sigaret op terwyl sy na haar horlosie loer. Dis amper tyd vir haar skof om te begin. Die koerant op haar lessenaar trek haar aandag. Op die voorblad pronk ‘n foto van Aspoestertjie in ‘n mooi wit rok met ‘n aantreklike Prins aan haar sy. Die opskrif lees: “En hulle het lank en gelukkig saam gelewe…”
Sneeuwitjie lag sinies by haarself… “Ai, as hulle maar net kon weet!”




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Bianca van Niekerk

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 9
    Kommentaar telling: 2

    Ek is gebore met 'n liefde vir gedigte. Ek het 'n passie vir geskrewe woord in enige taal en ek hou veral van vrye vers en omarmde rym gedigte. Wanneer ek skryf, maak ek gebruik van my eie emosies en ondervindinge.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 78 gaste aanlyn

    Bydrae Totale