Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Sjampyn vir Vadersdag

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 23 Junie 2017 Aantal woorde: 808 25 Kere gelees 1

Die wind sny skerp om die hoek. ‘n Bondel blare word opgeskep en beland voor die voete van ‘n man wat oor sy bierbottel sit en staar. Hy loer vlugtig na die blare en sit gemaklik terug, sy rug teen die drankwinkel se muur. As die wind só waai, moet jy maar jou oë oophou vir wat ook al verby kan kom. Soms, net soms, beland daar ‘n papier geldjie in die verwaaide bondel. Hy het al ‘n tweehonderd randnoot so gescore. Dit was verlede herfs, toe die bruin en oranje blare ook begin waai het en die stukkie geluk, goed vermom, onder sy voete beland het. Nes al die ander dinge in sy vorige lewe, het die tweehonderd randjies nie lank gehou nie.

Soos die son hoër klim in die lug, word die voertuie in die parkeerterrein meer. Spar en Clicks se drumpels groet baie voetsole en Wimpy stuur sy bekende koffie geure die lug in. Crazy store het ook vandag buitengewoon meer klante. Hy sal weet, hierdie is afterall sy favourite hangout. Hier, teen die drankwinkel se muur, met sy bondel goeters. Hier waar hy die dorp en sy mense dag vir dag sit en dophou. Almal skarrel natuurlik om vir oulaas iets spesiaal vir die pa’s te kry. Môre is Vadersdag. ‘n Geskenkie of twee, groceries vir die die Sondagmiddag braai wat môre die tafels in elke normale huishouding sal laat kreun. Hy kon ook eens op ‘n tyd by so ‘n tafel aansit. Môre sal die ete en geskenke in die nuwe man se skoot val. Die man wat sy plek gaan inneem het in die lewe wat eens sýne was.

Die drankwinkel is nog stil. Dis te vroeg in die dag. Nog so ‘n uur of twee, dan sal drankkabinette van normale huishoudings ook aangevul word. Sy drankkabinet is die bottel hardehout ingewikkel in sy bondel goeters. Tussen die slaapsak en drie onderbroeke wat hy twee keer ‘n week in die sentrum se badkamer was. Vroeg soggens, verkieslik in die week, as almal by die werk en by die skool is. Eens op ‘n tyd het sy onderbroeke saam met bondels wasgoed deur ‘n wasmasjien gehardloop terwyl die gesin by die werk en by die skool was.

Die man sluk die laaste van sy bier weg en staan op. Hy gooi die leë bottel in die naaste drom, een oog op sy bondel goeters. Hier moet mens maar altyd jou oë oophou as dit by jou goeters kom. Daar is ander straat siele wat nie twee keer sal dink om te gryp en te hardloop nie. Hy weet, want hy het al twee bondels goeters so verloor. Hy stap terug na die bondel, druk sy hande in sy baadjie se sakke. Hy voel tussen die muntstukke tot hy die papiergeld raakvat. Sy verdienste vir die week se werk. Hy en ou vuil Simon sit elke nag in die houthutjie in die industriële gebied en pas die skroot jaart op. Kyk uit vir skollies en diewe en as daar tjol is, laat weet hulle die baas op die twee rigting radio wat in die hut geplaas is. Die geld is min vir gewone huishoudings, maar dit hou sý maag vol. Partykeer help hy uit by die plek waar vragmotors oornag staan. Terwyl die drywers ’n uiltjie knip, hou hy cavy teen die skelms. Hulle betaal ook min, soms met net ’n takeaway, maar hy kla nie.

’n Uitspattige gelag laat die man omdraai. ’n Gesin van vier is op pad na Wimpy se ingang. Twee klein kindertjies huppel terg-terg agter hulle ouers aan. Die pa se hand is om die ma se middellyf. Die man hou hulle fyn dop tot ’n kelner hulle by die eetplek in laat verdwyn. Die man se gesig is sonder uitdrukking, maar sy hart sug.
Met sy een hand steeds in sy sak, tel hy met die ander hand sy bondel op. Sy voete ly hom na die rigting waarheen die gesin minute gelede beweeg het. Sy kop baklei hard met hom, want almal weet straatlopers word vinnig weggejaag by die besighede waar gewone mense mag inloop. Maar hy loop, stadig maar seker, met sy oë op die gebou. Deur die groot vensters sien hy hoe die gesin na ’n tafel aan die agterkant van die gebou gely word. Hy gaan sit op ’n baksteen muurtjie daar naby en probeer so ongemerk moontlik lyk. Sy hand word warm om die geld in sy sak. Hy sal ’n goedkoop meal vir een daar binne kan bekostig. Maar dan besluit hy daarteen, want daai dinge is vir gewone mense met gewone lewens. Mense wat lewens en tweehonderd randnote kan laat strek tot in ewigheid, soos dit hulle pas. Die geld in sy sak is genoeg vir ’n bottel sjampyn. Môre is afterall Vadersdag.




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Okatopi

      Okatopi

      Junie 23, 2017

      Hartseer

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van HelenaMellet

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 103
    Kommentaar telling: 76

    Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 96 gaste aanlyn