Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RIDDERS VAN DIE YSTERPAD SLOTHOOFSTUK

Deur neels
Datum gepubliseer: 28 Maart 2017 Aantal woorde: 1981 169 Kere gelees 1

Tiny se laaste rit op die stoom is die Oranje Snel Bloemfontein toe. Toe die roepman hom kom roep het hoor hy dat dit die laaste keer is wat hy vir n rit op die stoom geroep word. Maureen het skelm met die roosteropsteller afgespreek om haar op n manier te laat weet wanneer dit Tiny se laaste rit op die stoom is. Hy het sy woord gestand gedoen en haar op hierdie manier laat weet.

Toe hy aanteken gee die roosteropsteller vir hom n koevert met sy vrypas en brief vir Essellenpark in. Die roosteropsteller kry hom jammer toe hy die treurige trek in Tiny se oë sien toe hy vir hom sê: “Laaste rit op die stoom ou grote. Jy vat Sondagaand trein Esselenpark toe vir die kursus vir die oorskakeling elektries toe”.

Tiny knik sy kop, vat die koevert en stap aan waar 3156, blinkend in die brekende daglig, vir hom staan en wag. Die witveer blaas hard deur die veiligheidsklep en toe hy opklim is Gert soos gewoonlik al op sy pos. Nadat hulle gegroet het neem Tiny vir oulaas sy ghriespomp en oliekan om haar te gaan ghries en olie. Vanoggend is dit of hy dit sleepvoetend doen, so twee lyne van hom af staam twee klas 6E lokomotiwe met hulle pantograwe teen die draad en lawaai. Vir oulaas maak hy seker dat die bord met die snel se naam daarop vas is aan die rookkasdeur toe hy voorom stap om die anderkant te gaan ghries en klim hy vir die laaste keer in n glimmende kajuit in waar die meters blink en die stoomdruknaald op 210 kpa staan. Die meganiese stoker knars en die spuiters blaas om die kole in die vuurkis in te voer. Vir die laaste keer trek Tiny die omsteller terug en trek die regulateur effens oop. Met sissende silinderkrane wat nou by die klankcresendo kom begin hulle kontrolepunt toe beweeg om uit te bel.
Toe hulle in die stasie kom is die Oranje Snel net besig om in te trek van Bethlehem af met sy twee klas 5E lokomotiewe. Die nodige rangeerwerk word vinnig voltooi en is dit toe hulle gaan koppel wat Gys en Maureen uit die niet verskyn.

Nadat Tiny werk toe is het Maureen vir Gys gebel en hom vertel dat Tiny vanoggend die Oranje Snel werk maar dat dit ook sy laaste rit op die stoom is. Gys het sy kamera gegryp, Maureen gaan oplaai en is hy nou reg om met sy kamera hierdie oomblikke op film vas te lê. Tiny en Maureen word voor 3156 staan gemaak en neem Gys sy fotos. Daarna langs die kant van 3156 met Gert daarby en n laaste een van Gys en Tiny saam wat Maureen neem en dan is die tyd om. Daar is egter stoom entoesiate ook op die trein wat hierdie laaste rit meemaak en wil hulle hulle beurt ook hê en is hulle al amper tien minute laat en moet almal vinnig inklim.

Die stasieinspekteur het reeds die trein aangegee vir die seinhuis en word die kleurligte groen voor hulle, nie meer semafoorarms wat skuins in die lug opgaan nie.

Met die stasieinspekteur se groen vlag stoot Tiny die omsteller vorentoe en trek die regulateur half oop om die trein in beweging te kry. Met die eerste blaf trek hy haar nog bietjie oop en trek haar in 45 in met die silinderkrane wat toegestoot word. Vir die laaste keer gly die Oranje Snel Kroonstad met stoom uit en sê Tiny vir Gert dat hulle tien minute het om op te trek wat hulle nou met die fotonemery verloor het.
Spoedig gly Gunhill verby, die seinhuise staan nou verlate na al hierdie jare, en begin die klim Bosrand toe. Die meganiese stoker knars en kraak soos dit die kole voer en die injekteur roggel soos dit die water ketel toe pomp. Om hierdie simfonie te vervolmaak is die geblaf van die skoorsteen teen die bank uit met die dik rookwolk wat by die skoorsteen uitgepomp word om lui in die lug te bly hang.

Hierdie tyd van die oggend is daar groot bedrywigheid in die trein soos passasiers ontwaak. Die kelners beweeg in die gange af om oggendkoffie te bedien met die hoofkelner wat kaartjies vir ontbyt verkoop. Die kok is alreeds besig om in die eetsalon, die Umfolozi, besig om ontbyt vir die passasiers voor te berei.
Die beddegoedbediende begin ook die gange skoonmaak en gaan nou nou die kompartemente begin uitvee en die beddegoed opvou. Intussen vul die bekende rooken stoomreuk die kompasrtemente van tyd tot tyd.

Die stoomentoesiaste is natuurlik lankal op en met die gesuis en die geklap van die wiele in hulle ore lê hulle by die vensters uit om 3156 om elke draai te fotgrafeer met haar flitsende koppelstange voor die wiele verby en die rook wat by die skoorsteen uitborrel die lug in.

Tiny het tyd om op te trek en haal hy elke druppel krag uit 3156 uit en skuif die groen tussenbloksinjale spoedig verby. Bosrandstasie word deurgestorm met Geneva en holfontein spoedig daarna om op die reguit stukkie tussen Holfontein en Hennenman alles uit te haal om n paar minute op te trek.

Toe hulle op Virginia stop om loko te vat begin die kelner met sy ghong deur die gange van die trein beweeg om ontbyt aan te kondig en kan passasiers vir oulaas ontbyt op die Oranje Snel geniet met die gesuis en geklap van wiele onder hulle met die geblaf van n stoomlokomotief vooraan. Kelners met hulle wit baadjies en wit vadoek oor die arm bedien ontbyt uit silwerbakke uit en dit is tog of alles so anders vertoon met die S.A.S en H embleem daarop om n unieke ete af te rond.
Na die lokostop op Virginia word die reis voortgesit, kort kort flits n trein met elektriese eenhede van voor af verby. Behalwe Vetrivier en Glen waar loko en water gevat word flits die stasies verby om spoedig Bloemfontein te nader.

Nou op tyd wys Gert vir Tiny een vinger toe hulle Bloemfontein stasie nader, hulle gaan op platform een in. stadig trek hulle Bloemfontein in met die stasieinspekteur wat hulle opwaai en dan tot stistand te kom op sy handsein om hulle te stop. Langs hulle staan Kimberley se blink klas 25NC om oor te neem. Na vandag sal die stukkie tussen Bloemfontein en Kimberley nog stoom wees tot die diesels oorneem en stoom se stem hier ook stil maak.

Hulle gaan met n vrag leë trokke terug en is hulle teen middag se kant terug by die huis.
Toe hulle in die loko kom en 3156 afgee aan die loodsman gaan sit Tiny lank op sy blik tot die loodsman verdwyn het asputte toe om ten gaan vuur skoon maak. Sy hart huil en die muggies val hom erg aan en gaan teken hy af met n traan in sy oog, vir hom is dit die einde van n era.

Die aand toe Maureen hom stasie toe bring hou sy hom lank vas en toe hy inklim hou sy sy hand nog deur die venster vas tot die trein in beweging kom met sy klas 6E elektriese lokomotief vooraan.

Haar afskeidswoorde aan hom is: “Ek gaan my doodverlang hierdie drie weke, al kom jy naweke huis toe. Ek is nie gewoond aan alleen wees nie. Meiring, I love you and don’t want to be without you”.

Tiny is alleen in n koepee en nadat die kaartjiesondersoeker sy kaartjie geknip het en die beddegoedbediende sy bed opgemaak het klim hy in die bed. Hy slaap egter nie dadelik nie en lê hy maar en luister na die haastige geklap en gesuis van die wiele wat kort kort verminder tot die trein in die stasies stop. Dan kyk hy maar weer deur die venster om so af en toe die blou blits in die donker te sien wanneer die pantograaf onder die hout stroom brekers in die bobaandrade deurgaan, sy nuwe wêreld wat wag. Hy raak uiteindelik aan die slaap maar voel dit vir hom of hy skaars aan die slaap geraak het toe die kaartjiesondersoeker hom wakker maak om op Germiston oor te stap. Op Germiston is hy net betyds om die voorstedelike trein Kaalfontein toe te haal. Tiny sit maar deur die venster en kyk hoe die wêreld by hom verbygly. Hierdie tyd van die oggend is spitstyd en voorstedelike treine blits verby van voor af om almal na hulle werk toe te vervoer. Op die platforms sit rye mense op treine en wag om by die werk te kom.

Toe hy op Kaalfontein afklim staan hy n rukkie die imposante hoofgebou en beskou voor hy aanstap kollege toe. Dit is nie die eerste keer wat hy hier kom nie, hy was jare terug ook hier vir sy drywerskursus en eksamens.

By die administrasie kantoor is nog n paar manne wat vir die elektriese kursus gekom het maar is hulle op die einde van die dag net n handjievol.
Die adminitratiewe deel word dus vinnig afgehandel en plek in die hostel gekry waarna hulle hulle eerste klas al kan begin bywoon.

(Skrywersnota: Daar is seker bitter min mense wat weet dat die eerste spoorwegkollege in Kroonstad was. Esselenpark is gedurende die tweede wêreldoorlog deur Italiaanse krygsgevangenis gebou en is hierdie pragtige sandsteen gebou vandag n stille getuie van hulle vakmanskap en kundigheid.
Met die ingebruikneming van Esselenpark is die kollege op Kroonstad gesluit en die kompleks deur die dept. van verdeging oorgeneem.)

Vir drie weke sit Tiny alles in sy studies in. Naweke as hy by die huis is sit hy af loko toe om alles prakties te gaan bekyk wat hy deur die week geleer het en moet die elektriese mnne verduidelik. Die drie weke gaan ook verby en doen hy vir nog twee weke praktiese opleiding saam met een van die elektriese drywers voordat hy oorneem.

Die aand word hy gewaarsku vir 4897 Bloemfontein toe en kom roep die roepman hom vier uur om vyf uur aan diens tekom vir sy trein.

Toe hy in die loko kom wag die lokoinspekteur reeds vir hom want hy ry saam om Tiny uit te passeer en Tiny se padsertifikaat Bloemfontein toe, wat reeds verval het, te hernu. Tiny moet stap vir stap verduidelik wat hulle doen maar is hulle spoedig gereed om met die twee klas 6E1 lokomotiewe uit te gaan Gunhill toe om die vrag mielies vir Buffalo hawe te gaan hak.

Nadat hulle gekoppel het en die walyste by die treinafsender ontvang het begin die vakuumnaalde klim na 16 dm toe. Tiny fluit weg en na n paar minute kom die kontrolerangeerder se groen lig van voor af toe die sinjale geel word. Nog n groen lig van die trein afsender af en Tiny begin wegtrek met die hefboom wat hy elke slag n kerf of wat opstoot soos hulle spoed begin optel. Die bekende gehuil van die klas 6E lokomotiewe is al wat die stilte versteur en begin die klim teen die Bosrand bank n paar minute later.
So anders as die stoom sleep die twee elektriese lokomotiewe die vrag baie gemakliker teen die bank uit. Tiny is pure konsentrasie en spoedig kom die eerste groen tussenbloksinjale in sig. Hy en die assistent vergelyk sinjale en doen dieselfde met die tweede tussenbloksinjale. Dit is toe hulle Bosrand deurseil wat die lokoinspekteur vir Tiny sê; “Dit is darem heel anders as op die stoom nè Tiny. Baie meer krag en baie geriefliker as die stoom maar ek moet sê jy hanteer die trein uitstekend vir jou eerste rit”.

Tiny glimlag voor hy antwoord: “Mag so wees meneer maar stoom het iets aan hom wat elektries nooit sal vervang nie. Stoom lewe, hierdie goed is dood. As jy die pantograaf laat sak het is hy dood. Stoom bly lewe en wag vir sy volgende rit maar nou ja, vooruitgang het sy prys”.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Toom

      Toom

      April 4, 2017

      Dankie, Neels,
      uitstekende vertelling! Dit is jawel spannend om al die besonderhede te leer ken wat ‘n treinreis moontlik gemaak het. „ . . . maar nou ja, vooruitgang het sy prys”.
      Hier aan die rand van die universum, ver weg van die episentrum waar julle woon, is daar nog hier en daar ‘n streek met stoomtreine wat deur verenigings, meestens net in somer, as museumstrein loop.
      In die voormalige DDR, waar die geselskap so arm was, het hulle, ná die oorname (meniges sê na die verkragting) in die neëntigs, die ou „Dampfloks” nog in diens gehad — totdat die Wessies dit saam met die twee-takters (Trabant-motors) stopgesit het. En juis daar is die bes-gepleegde „Museumsbahne” te vind.
      Maar die normale treinbedryf is geheel-en-al elektries-elektronies-vol-outomaties, onpersoonlik . . . En ONLINE!
      Dis effektief, effisiënt, vinnig, skoon, gereuklos, stil . . . en vervelig! Amper soos die lugverkeer.
      Ja, Neels, ek deel jou nostalgie, ofskoon ek nie ‘n spoorwegman was nie.
      Slegs ‘n passasier, maar ‘n geesdriftige.
      GvT

      • profiel foto van neels

        neels

        April 5, 2017

        Baie dankie Toom ek is bly jy het die verhaal geniet. ek het dit altyd deur gelink Facebook toe en die raksie daar was oorweldigend

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 152
    Kommentaar telling: 1102

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 32 gaste aanlyn