Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 8

Deur neels
Datum gepubliseer: 3 Maart 2017 Aantal woorde: 1733 140 Kere gelees 2

HOOFSTUK 9

Dit is oujaarsdagoggend, net na middernag, wat Cathy hom verras met koffie nadat die roepman hom kom roep het vir sy trein, drie dries Bloemfontein toe. Tiny weet dadelik dat sy weer iets op die hart het en val Cathy met n vraag weg: “Hoe laat gaan pa terug wees, ma sê so teen die middag se kant”.

Hier is n samesweerdery aan die gang besef Tiny dadelik toe hy vir Maureen kyk wat skielik anderpad kyk asof sy van niks weet nie. Tiny is nou erg moedswillig, hier is n ding aan die kom wat hy nou skielik so belangrik is.

“So deur die middag se kant en waarom is my inkom nou so belangrik”.
“Pa, die de Beers het ons oorgenooi vir vanaand. Anton en sy pa is albei dagskof en Anton wil baie graag hê ons moet sy ouers ontmoet”.

Die Meirings is nie mense wat eintlik rondkuier nie, daarvoor is Tiny se ure te ongereeld. Hulle is egter gereelde kerkgangers want Maureen is n diep gelowige vrou wat sorg dat sy en haar kinders elke Sondag in die kerk is. As Tiny kan gaan hy altyd saam, al sit hy soms lelik en wegraak in die banke.

Die plan was om vanaand oujaarsaand diens toe te gaan maar duidelik is hier nou ander planne vir die aand maar gee hy tog in en sê dit is reg. In sy hart is hy nog maar altyd effens bekommerd oor die vriendskap tussen Anton en Cathy omdat sy nog op skool en hy n werkende jongman is. Hulle het hom egter nog geen rede gegee om die vriendskap teen te gaan nie. Om sy ouers te leer ken kan net goed wees.

Half sewe toe hulle voor die de Beers se huis stop word hulle hartlik deur die hele familie ontvang. Johan is n lang man met sy vrou Maryna, so n ou kortetjie. Anton ken hulle nou al en duidelik trek hy na sy pa, Marcel is n buksie, nes haar ma. Op Maryna se huis is niks te sê nie, sy is duidelik n baie netjiese huisvrou, nes Maureen en vind die twee vrouens mekaar dadelik en begin land en sand gesels.

Dit word n heerlike kuieraand om n braaivleisvuur waar die twee families mekaar baie beter leer ken en Johan hulle vertel dat hy n Karooseun is wat ook maar n heenkome moes gaan soek omdat die plaas te klein geword het.

Soos so baie ander het hy Spoorweë toe gekom as kwekeling stasievoorman op Oranje Rivier stasie. Sy eerste stasies was Witput en Warrenton en daarna is hy aflos in die Vrystaat toe vir sy spesiale klas en toe Kroonstad toe as stasieinspekteur.

Johan het Maryna ook maar op skoolbanke ontmoet, haar pa was stasiemeester op Witput en is hulle net nadat sy klaar was met skool getroud.
Sy vertel vir hulle baie van die buitestasie lewe waar hulle nie die luukse van elektrisiteit gehad het nie en met parrafienlampe oor die weg moes kom. Hulle vleis het elke dag met die passasierstrein gekom en het sy altyd, wanneer hulle die einde van die maand dorp toe gaan, haar lysie vir elke dag se vleis by die slaghuis ingegee soos sovele ander spoorwegvrouens. Die slaghuis het dan op n daaglikse basis van hierdie lysies af gewerk om almal se vleispakkies op te maak en weg te kry stasie toe vir afsending met die passasierstrein. Sy was dit egter gewoond en was dit eers op Warrenton wat hulle met die luukse van elektrisiteit kennis gemaak het alhoewel hulle darem op Witput later die luukse van n Electrolux parrafien yskas gehad het. Johan en Tiny sit en staaltjies uitruil uit hulle spoorwegloopbane uit maar vertel Johan ook van sy ou PYE radio wat hulle op Witput gehad het. Dit het van n ses volt motorbattery af gewerk en moes hy elke dag die batterye omruil. Die pap battery is dan deur n windlaaier gelaai.

Jannie en Marcel is, tot almal se vermaak, op n “Leer mekaar beter ken ekspidisie uit”.

Toe hulle huis toe ry om gereed te maak vir die oujaarsaand diens is Tiny se opmerking; “Ek het lekker gekuier vanaand. Hierdie is my tipe mense en ons moet kyk dat ons hulle ook een aand oornooi”.

Besigheid is mos maar stil na Kersfees en nuwe jaar en sit die eiendomsagent doodverveeld met homself toe die groot man en die aantreklike donkerkop vrou die kantoor instap. Hy stel homself voor en vra waarmee kan hy help. Tiny verduidelik hom dat hulle wil huis koop en graag na n paar huise sal wil gaan kyk wat in die mark is. Die man wys vir hulle om te kom sit en begin dan met sy vrae. Toe hy hoor dat Tiny n drywer is maak hy vinnig n sommetjie en werk in sy gedagtes uit wat die spoorweë hom op sy salaris sal toelaat vir n lening en kan hulle, volgens sy berekening vir omtrent so R15000 kan koop en toe maak hy die fout van sy lewe.
Hy wil weet of Tiny se lening al goedgekeur is en dit is net daar waar die Ierse bloed in Maureen oorkook. Sy het van die begin af die gevoel gekry dat hierdie man ook een van die is wat op die spoorwegmanne neersien en takel sy hom: “Meneer, hy het nog nie aansoek gedoen vir n lening nie want dit is nie nodig nie. Ons is kontantkopers maar in jou verstand dring dit seker nie deur dat n eenvoudige spoorwegman genoeg geld kan hê daarvoor nie”.
Maureen het haar nou bloedig vererg en staan op om te loop. Tiny moet maar saamloop em sit hulle af na die volgende eiendomsagent toe.

Die man wat hulle hier ontvang groet hulle ook vriendelik en nooi hulle dadelik om te kom sit. Hy is n ou hond in die eiendomsbedryf en leer eers sy kliënte ken oor n koppie tee om n behoeftebepaling te doen. So onder die gesels deur vorm hy n prentjie van wat hulle in gedagte het en Maureen beskryf vir hom wat sy in gedagte het. Vierslaapkamerhuis met n groot kombuis, aparte sit en eetkamer en n dubbelmotorhuis. Groterige erf en n ekstra vertrek met n agterstoep sal net n bonus wees vir haar.

Maureen noem dit uit haar eie uit dat hulle kontantkopers is en dat daar nie nodig is om te wag vir n lening nie, hulle het R25000 wat hulle kan gebruik.

Kontantkopers in hierdie prysklas is skaars en vir hierdie bedrag kan n redelike luukse huis gekoop word. Hy het dadelik twee huise in gedagte wat hy vir hulle wil gaan wys. Na twee telefoonoproepe neem hy sy motorsleutels en neem hulle saam om die huise te gaan besigtig. Maureen hou van die eerste huis maar besluit sy sy wil die tweede huis ook sien. Ook hierdie huis is nie heeltemal na haar sin nie en gaan hulle terug huis toe met die plan om die volgende oggend die volgende eiendomsagent te besoek.

Nog twee dae spandeer hulle aan huis soek maar kry hulle net nie wat hulle wil hê nie. Toe stop die tweede eiendomsagent die derde dag vroegoggend voor die huis, baie opgewonde, hy dink hy het wat hulle wil hê.
Toe hulle voor die huis stop raak Maureen opgewonde, hierdie huis praat met haar. Hulle gaan saam met die agent deur die huis, ontmoet die huidige bewoners en soos sy deur die huis gaan weet sy, hier is haar huis. Dit het alles wat sy soek en is dit veral die moderne kombuis wat haar finaal laat besluit dat dit haar huis is, hulle soektog het tot n einde gekom. Die vertrekke is lekker groot in vergelyking met hulle spoorweghuis en is daar n stoep met n stoepkamer en n wasplek op die toegeboude agterstoep. Die voorstoep is ook toegebou en front Wes, lekker kamer om in die winter in die sonnetjie te sit en bak. Daar is ook n aparte badkamer en stortkamers en daaroor is Maureen dankbaar, dit is altyd soggens n geveg oor die enkel badkamertjie in hulle huis.

Daar is net een probleem die mense wil R27000 vir die huis hê en Maureen wil nie meer as R25000 spandeer nie, hulle moet nog geld vir die oordrag koste uithou, sy gaan geld nodig hê vir nuwe gordyne. Gelukkig het hulle genoeg meubels. Na n rukkie se redeneer gee die verkopers in en gee hulle die R2000 afslag, kontantkopers skop jy nie agter elke bos uit nie en is hulle haastig om te verkoop. Die vrou se man is op bevordering verplaas en moet hulle die einde van die maand trek. Dit kan vir hulle net n bonus wees om alles die maand af te handel en nie n leë huis agter te laat nie. Hulle het ook die geld nodig om weer te gaan huis koop waar hulle nou gaan bly.

Terug by die kantoor vra hulle die agent om al die dokumentasie in orde te kry dat hulle kan kom teken en kan reël vir die betaling van hulle nuwe huis.
Met Maureen is daar die volgende paar dae nie huis te hou nie. Nadat hulle hulle sake by die bank gereël het begin sy materiaal soek vir nuwe gordyne, die vrou was so gaaf om hulle toe te laat om die vensters te kom opmeet, en is Maureen met niks minder as die beste tevrede nie. Tiny is maar die hele tyd by haar al voel dit soms hom of hy die mure kan uitklim van frustasie.
Die kinders is net so opgewonde en toe Maureen en Tiny die huis vir hulle gaan wys kommandeer Jannie dadelik die stoepkamer op as sy nuwe kamer.

Cathy kies haar kamer uit en is dit die hele aand n deurmekaar beplannery. Anton, wat dagskof is, kuier ook by Cathy en besluit vroeg om te vlug, arme Tiny wens hy kan saamvlug om van hierdie malhuis te ontsnap.

Maureen is die gelukkigste en mees opgewonde vrou in Kroonstad in hierdie tyd want n eie huis van haar drome was nog altyd een van haar groot drome en nou word dit verwesenlik.

Hy is eintlik dankbaar toe die roepman sy waarskuwing bring om hom weer op die rooster te kry. Hy werk die oggend die passasierstrein Allanridge toe en vir Tiny is dit “Happy days are here again”.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Toom

      Toom

      Maart 4, 2017

      –,Beste Neels,
      nou-die-dag kyk ons ’n film met ’n verhaal uit die óu outyd. En die vroumense, veral die jongeres, was ontevrede (báie ontevrede) oor die destydse ,beeld van die vrou’: Huislik, lief vir haar huis en gesin, nederig (miskien té nederig?) . . .
      Hoe beskou dit jou lesers en leseresse? Ek hou van jou beeld van Maureen. Maar pas dit in die moderne tyd?
      By ons word die jong moeders bestraf, ja ek sê ,bestraf’ as hulle nie hul kind in die baba-kindertuin met twee jare afgee en gaan werk nie. (Verskeie toelaes word verweier)
      Hoe is dit by julle? Wat meen die jong ma’s? En pa’s? En die ouma’s en oupa’s?
      Ek is persoonlik daarvoor dat die vrou haar OOK in haar huislike omgewing KAN en MAG uitleef. Dat sy nie NET in een-of-ander beroep ,karriére MOET maak’ nie.
      Hoe sê, mense?
      GvT–

      • profiel foto van neels

        neels

        Maart 5, 2017

        dankie toom. ek stem pas seker nie in die moderne tyd nie maar dit is soos dit was in die sestiger jare

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 152
    Kommentaar telling: 1102

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    4 Lede, 56 gaste aanlyn