Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 6

Deur neels
Datum gepubliseer: 23 Februarie 2017 Aantal woorde: 2478 218 Kere gelees 4

HOOFSTUK 6

Dit is Maureen wat naderhand wakker word van die roepman se geklop en geroep: “Oom Tiny, wakker word, oom is half vier aan diens”.

Sy moet Tiny bietjie ruk en pluk om hom wakker te kry maar nadat hy die roepboekie deur die venster gevat het om te teken is hulle op en wakker. Terwl hy gou klaarmaak maak Maureen gou vir hom koffie en onder die koffie sluk deur sê hy vir haar: “Ek sal vandag aansoek doen vir n lening”.

Maureen is baie verbaas want sy het gedink Tiny het haar nie gehoor nie omdat hy nie geantwoord het nie maar sê sy: “Wag eers ons sal eers praat”.

Daar is nie tyd vir verder praat nie en groet Tiny haar, stap die agterdeur uit om sy blik op sy fiets se draer vas te maak en die pad te vat loko toe. Deur die dofverligte strate ry hy en sien net hier en daar n lig in n huis brand.

Nadat hy sy fiets gebêre het is sy oog eerste op die loods terwyl hy aanstap roosterkantoor toe om aan te teken. In stoom en rookwalms staan hulle in n ry onder die geel ligte wat blinkend op die swart lywe skyn. Hy sien dadelik dat op nr 1 n 15F eerste uitstaan en nie 3205 nie. Die antwoord kry hy toe hy aanteken: “Tiny jou enjin is geboek vir “wash out” vandag. Jy moet 3154 vir my vat en omruil met 3056 op Allanridge wat moet inkom vir “washout en reperasies. Jy sal more weer jou enjin terughê”.
Om te voorkom dat die ketels opkalk van die water moet die lokomotiewe se ketels gereeld uitgespuit word met water onder hoë druk. Die vuur word eers uitgegooi en al die oorblywende stoom word vrygelaat. Dan word die uitwas proppe uitgedraai en die ketels uitgespuit, daar word dan sommer ook gekyk of daar nie waterlekke op die elemente in die ketel is nie. Die lokos op die buitedepots moet dus gereeld omgeruil word om in te kom loko toe want daar is nie die fasiliteite om die ketels te was en vir reperasies nie.

3154 staan klaar witveer toe Tiny by haar kom en opklim. Nadat hy en Kosie gegroet het ghries en olie hy haar gou en dan beweeg hulle blasend en sissend kontrolepunt toe om uit te bel. Vanoggend is die meganiese stoker stil en die ketel het vir eers genoeg water, die klanksimfonie bestaan dus net uit die sisgeluide van die stoom wat deur die silinderkrane ontsnap en die skril geskree van die dinamo wat die krag voorsien.

Kroonstad stasie is redelik stil, die passasierstreine vir die nag is almal weg, die Allanridge passasierstrein is die laaste een vir die oggend op platform 3. Die kondukteur wag al vir hulle toe hulle koppel en gee die vrag aan as 600 vir 40, n ligte vrag. Nadat die rempype deurgekoppel is klim die vakuumnaalde na 17 dm. toe en na n paar minute gaan die sinjale op. Kosie kyk terug, sien die inspekeur se groen lig en met sy: “Right away oom Tiny, ons kan ry” vertrek hulle.

Die ligte vrag tel maklik op en stoot Tiny haar van die begin af in 45 grade in met die regulateur net so half oop. Oor die wissels word sy voloop getrek en begin die klanksimfonie op die voetplaat. Soos die spoedmeternaald begin opkruip word 3154 se blaf al vinniger en dit begin kraak en knars soos die meganiese stoker die kole in die vuurkis begin inrol. Die injekteur begin roggel om water te pomp ketel toe en die witveer blaas hard.
Spoedig gly eers Gunhill-Noord en die rangeerwerwe aan die linkerkant verby waar die rangeerlokomotiewe onder die lampligte staan, die nag se werk voltooi en knip die manne n uiltjie tot hulle afgelos word.
Deursinjale by Gunhill-Suid en begin die klim teen die Bosrand bank uit. Dit word nou sterk lig en met die ligte vrag is die klim teen die Bosrand bank uit vanmore kinderspeletjies. Die spoedmeternaald kuier tussen 80 en 90 k.m.p.u, die groen tussenbloksinjale skuif verby en na 20 minute kom hulle in Bosrand tot stilstand vir n moontlike passasier. Met kort stoppies op Geneva en Holfontein vir passasiers word Hennenman toe gejaag teen 100 k.m.p.u. Kort kort flits n trein in die teenoorgestelde rigting verby en op Hennenman kry hulle sinjale vir die uitwykspoor. Kosie loer vinnig na die vuur en besluit sy vuur is nog reg, hy gaan net bietjie water vat. Die 15F se waterkapasiteit is minder as die klas 23 sn en waar hulle Allanridge met gemak sou gehaal het met n klas 23 sal die 15F dit nie maak nie.

Op Whites is dit kruisoor oor die wissels om op die Welkom lyn te kom. Na n kort stoppie vir passasiers word pad gevat Welkom toe. By Whites-Wes word om die draai gestorm met die stasievoorman wat in sy hoë preek stoeltjie staan met die tablethouer met die Whites-Wes Welkom tablet daarop, wat hy met n uitgestrekte arm uithou, wat flink deur Kosie met sy arm gevang word. Hulle is nou op n enkellyn en verander die befryfsmetode nou na die van Schoor tabletstelsel toe. Op Kaalvlei en Mooiveld kort stoppies vir passasiers want baie van die plaaslike bevolking maak van die trein gebruik om by die werk in Welkom te kom. Op Mothusi word n hele rukkie gestaan want hier is gewoonlik baie passasiers en n paar minute later trek hulle Welkom in.
Die tablethouer word met n draaibeweging op die platform afgegooi en die Welkom Friedesheim tablet met die arm by die stasievoorman gevang.
Op Welkom word n rukkie gestaan want daar is baie pakkies en possakke maar betree hulle nou in alle erns met hulle vertrek die Sandveld. Een van die lokoinspekteurs het eendag vertel dat die Kroonstad drywers mos by Whites-Wes hulle regulasieboeke by die venster uitgooi want die Sandveld het mos sy eie manier van werking en regulasies. Die waarheid hiervan word vanmore weer op Odendaalsrus bewys. Die stasies in die Sandveld het nie sinjale nie en toe hulle Odendaalsrus se inrywissels nader sien Tiny die trein in die uitwykspoor staan. Die stasievoorman is veronderstel om hulle by die wissels te kom inhaal maar gee hy hulle n groen vlag sommer van die platform af. Tiny erken met n kort fluit en hardloop die stasie in waar die tablethouer weer skuiwend op die platform afgegooi word en die Allanridge tablet by die stasievoorman gevang word.

Op Allanridge word lokomotiewe geruil en is hulle spoedig weer met n enkelvrag gelaaide graantrokke gereed vir die terugrit Kroonstad toe.
Dit is met die lokomotiewe ruil wat Tiny se gedagtes weer bietjie terugdwaal na hierdie wêrelddeel toe. Met die ontdekking van goud in hierdie wêreld in 1948 het dit spoedig geblyk dat n spoorlyn absoluut noodsaaklik is. Die lyn is oorspronklik met ligter spoorstawe gebou en is die klas 19D lokomotiewe op die lyn gebruik. Tiny het op hierdie konstruksietreine gestook en was hulle baiekeer vir tot n week weg van die huis af. Dit is eers later jare wat die spoorstawe vervang is met die swaarder spoorstawe om groter loko motiewe te dra om die swaarder vragte te sleep.

Die terugrit verloop sonder enige probleme en draf hulle Kroonstad Noordwerf twaalf uur in. Die rangeerder is dadelik by om hulle los te maak en beweeg hulle loko toe om te gaan afteken. Toe hy afteken val dit hom by van die elektrifikasie praatjies en vra hy die roosteropsteller daarna. Die roosteropsteller se antwoord is kort en kragtig: “Dit is nog maar net praat, daar is nog niks defnitief nie. Dit sal in elk geval nie nou dadelik wees nie”.

Die antwoord stel Tiny in n mate gerus want hy is nie lus vir die elektriese lokomotiewe nie, in sy hart is hy n stoomman en sal dit bly.

Die roosteropsteller het egter n ander proleem, sy rooster is besig om verkeerd te loop en gaan daar onder die inkomende drywers nie n geskikte drywer wees om die Oranje-Snel moreoggend te werk nie. Sal Tiny asseblief bietjie langer aflê en die snel moreoggend werk. Tiny is heimlik verlig en stem dadelik in, geen probleem nie. Dan kan hy en Maureen die huis kopery nou ernstig bespreek en hy is die hele nag in die bed.

Soos gewoonlik kan Maureen hom nie genoeg vasdruk en soen toe hy by die huis kom nie, haar hele lewe wentel om Tiny en haar kinders, na Paddy se dood is dit al wat sy het en haar lewe bestaan uit hulle gelukkig maak.

Tiny het altyd gesê dat Paddy n voorgevoel gehad het dat iets gaan gebeur, dit is hoekom hy hom en Maureen feitlik in n huwelik in gestoomroller het.

Na hulle troue het Paddy n ander stoker gekry want die spoorweg laat nie familie saam toe op die voetplaat nie maar dit was n bedekte seën.
Dit was drie maande na hulle troue wat Paddy afgryslik verongeluk het toe hy die nag op Welgeleë die sinjale op gevaar verbygehardloop het, kop aan kop botsing met n goederetrein wat besig was om die stasie van die anderkant af in te trek. Die drywer en stoker van die intrekkende trein het die botsing betyds sien kom en het uitgespring om te kyk hoe Paddy in hulle trein vasry. Niemand weet tot vandag toe hoe dit gebeur het dat Paddy en die stoker die rooi sinjale gemis het nie, Paddy was altyd so presies op sinjale kontroleer. Die drywer van die teenoorgestelde trein het op die ondersoek getuig dat die enkele oomblik wat hy die kajuit in sig gehad het voor die botsing dit vir hom gelyk het of Paddy snaaks vooroor sit. Het hy aan die slaap geraak of het hy dalk n hartaanval gehad, niemand sal weet nie. Hy en sy stoker is op slag dood.

Tiny en sy drywer het die nag Klerksdorp toe gewerk en was dit met die afteken wat hy gehoor het van die botsing. Hy het nie geweet Paddy was daarin betrokke nie en was dit die lokovoorman, wat spesiaal uitgekom het om om saam met die hyskraantrein na die toneel te vertrek, wat Tiny eenkant toe getrek het om hom die nuus te vertel. Die hoof personeelklerk was ook al daar en het hy aangebied om saam met Tiny huis toe te gaan om Maureen van haar pa se dood mee te deel. Tiny het dadelik n paar dae verlof ingesit om Maureen by te staan en is hy en die hoofklerk saam huis toe.

Maureen was stukkend en het later tussen haar trane deur vir Tiny gesê: “Hy het altyd gesê dat “Soldiers die with there boots on”. Hy is nou letterlik op hierdie manier dood en nou is jy al wat ek in die lewe oor het Tiny”.
Hulle het lank gesit nadat hulle die nuus ontvang het en was dit die eerste keer wat Maureen dit vir hom genoem het: “Tiny weet jy daardie nag voor mamma dood is het ek so n aardige gevoel in my gekry. Ek het nie geweet wat dit is nie en die nag van haar dood kon ek nie slaap nie. Die oggend toe Paddy my kom vertel het sy is nie meer by ons nie het ek geweet dat dit dit is wat my so aardig laat voel het, ek het mamma se dood aangevoel. Ek het Paddy se dood ook aangevoel. Ek het n paar dae al dieselfde gevoel gehad as met mamma se dood en laat nag het dit net skielik weggegaan”.

Die personeelkantoor het die begrafnisreëlings getref en was dit toe die kis sak wat sy opgemerk het: “After all these years mamma came to fetch you. She only waited to see that I am well cared off. Tell mamma I am happy”.

Sy het so verwese in haar swart rok met die swart net oor die hare gelyk maar het Maureen daar by die graf klaar gehuil soos met haar ma se begrafnis. Sy het saam met Tiny teruggekom huis toe en haar pligte as huivrou hervat.

Na die begrafnis het hulle die huis gaan leegmaak, die meeste meubels het na hulle huis toe gekom en het sy Paddy se pensioengeld wat aan haar uitbetaal is op Tiny se aandrang gaan belê, hy wou nie dat hulle daarvan gebruik nie. Vir die eerste keer na al hierdie jare kom die geld, wat intussen heelwat rente verdien het, ter sprake toe Tiny vra hoekom sy gsê het hy moet wag met n leningsaansoek tot hulle eers daaroor gepraat het.
“Tiny ek was gou vanoggend bank toe. My geld in die bank het aansienlik rente getrek deur die jare en ek weet hoeveel jy gespaar het. Ons het nie n lening nodig nie, ons kan gaan huis soek en hom kontant koop, daar is genoeg geld tussen die twee van ons om dit te kan doen. Jy kan so drie dae verlof vat en dan kan ons saam gaan om die huis van ons drome te soek”.
Tiny is lam, hy het dit nie geweet nie want Maureen is maar die een wat sy geldsake ook behartig. Toe hulle hulle eerste kar gekoop het was sy die een wat saam gaan kar koop het, gestry en baklei het oor afslag, en op die ou einde haar sin gekry het en het sy haar deel ook bygedra.
Sy is maar die een wat altyd gaan inkopies doen en die kinders se klere en ook hulle eie koop met die gevolg datTiny nie n idee van hulle geldsake het nie.

Die aand aan etenstafel word die kinders die nuus meegedeel dat hulle gaan huis koop. Jannie en Cathy is dadelik baie opgewonde en vol bestellings tot Tiny hulle tot kalmte bring: “Dit is julle ma se huis en sy is die een wat finale seggenskap gaan hê. Julle is een van die dae uit die huis uit en dan bly net ons twee oor en moet sy gelukkig wees in haar huis”.

Die aand toe hulle gaan slaap lê Tiny en Maureen n hele rukkie en gesels oor wat hulle in n nuwe huis wil hê. Maureen se eerste vereiste is n groot kombuis met n aparte eetkamer. Daar moet vier slaapkamers wees en twee badkamers.

Tiny wil n dubbelgarage hê want hy wil graag later vir hom n ou tweedehandse bakkie aanskaf.

Dit is twee gelukkige mense wat die aand in n diep slaap wegraak en droom hulle net huis deur die nag.

Hy weet net dat sy n slag stywer teen hom vasgekruip het toe sy sê: “I love you Meiring with all my heart. Paddy chose well when he chosed a husband for his daughter. I think he is very proud of you while looking down to us from heaven”.

Die vrou van hom het darem soms snaakse idees dink Tiny lomerig voor hy weer wegraak.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 169
    Kommentaar telling: 1104

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 20 gaste aanlyn

    Bydrae Totale