Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 14

Deur neels
Datum gepubliseer: 26 Maart 2017 Aantal woorde: 1823 123 Kere gelees 4

1975 raak n moeilike jaar op die Bloemfontein lyn soos werkspanne deur die dag besettings neem op die lyne om die maspale op te rig vir die elektriese drade. Dan moet die treine staan tot die besettings opgehef is en begin Bloemfontein ritte lang ritte word. Die gevolg is dat bedryf die diens so probeer reël dat hulle soggens met besettingstyd die minimum treine loop en dan loop die meeste treine van die middag af. Dit bring weer sy eie probleme mee van terreine wat vol raak en treine wat moet begin pad wag vir die terreine. Met elke rit merk die drywers op dat die wysende kaal maspale langs die lyn elke slag al verder langs die lyn af strek om die feit dat die einde van stoom in sig is hard en duidelik te onderstreep.

Vir Maureen wat darem altyd min of meer kon raakskat wanneer Tiny by die huis kom raak dit n moeilike tyd as hy Bloemfontein toe werk in die oggend of in die oggend terugkom. Dan moet hulle ure staan vir besettings en begin die rooster kort raak en begin die treinpersoneel al meer op korter rustye uitdraai. Die manne bring egter hulle kant sonder om te kla en is Tiny een van hulle. Sommige vra wel aflos maar Tinty het dit in sy lewe nog nooit gedoen nie. Hy het by Paddy geleer wat altyd gesê het: “Sonnyboy, a good driver brings his train home, no matter what it takes”.

1975 is ook die jaar wat Janneman en Hannelie trou. Hannelie het besluit sy wil n lentebruid wees en is hulle in September maand getroud. Die Mosterts het n spogtroue vir hulle dogter gereël en het Tiny n geweldige muggieprobleem in die kerk ondervind toe Janneman in sy netjiese formele uniform, nou met drie sterre op die skouer want hy het kaptein geword, in die kerk vir Hannelie staan en wag. Een van sy mede offisiere tree op as stroooijonker. Toe sy in die gang afkom, beeldskoon in haar pragtige trourok met sy krale werk en lang sleep agter haar, gevolg deur Cathy wat as strooimeisie optree moet hy vir Maureen sy sakdoek aangee, die muggies val haar erg aan en laat die trane vloei.

Die aand toe hulle na die onthaal uiteindelik tot rus kom is Maureen se opmerking: “Nou is hy ook uit die nes uit. Een van die dae is dit net ek en jy oor Meiring dan het ons kuikens almal hulle eie koers ingevlieg”.

Intussen vorder die werk aan die Bloemfontein lyn vinnig. Die rooster word nog korter toe die eeste drywers Oktober maand kollege toe gaan om oor te skakel elektries toe. Tiny is nie een van hulle nie, hy gaan maar nog n rukkie vasbyt op die stoom want daar gaan nog stoom Bloemfontein toe wees.

Met die konstruksietreine by wat meesal deur die jonger drywers gewerk word draai die personeel soms met baie kort rus uit en werk van die spesiale klas drywers treine wat hulle normaal nie werk nie soos om omruillokomotiewe te werk. Kroonstad loko moet n hele paar plekke van lokomotiewe vir taklyne en rangeerwerk voorsien. Allanridge en Welkom was nooit n probleem nie. Hulle lokomotiewe kon met lokomotiewe op die treine omgeruil word. Die probleem was plekke soos Vrginia, Sasolburg, en Vierfontein waar n klas 19D vir rangeer doeleindes gestationeer was.
So gebeur dit dat Tiny noodgedwonge n klas 19D moet Vierfontein toe vat die oggend omdat sy lokomotief die dag vir uitwas geboek is. Toe hy aanteken vra die roosteropsteller dat bedryf hom vra of hy nie n vrag leë graantrokke wil saamvat tot op Viljoenskroon nie. Tiny is nooit onwillig nie en stem in om dit te doen en hardloop hulle Noordwerf toe nadat hulle reg is om die vrag graantrokke te gaan hak.
Die 19D is n dapper perdjie en trek hulle weg met blasende en sissende silinderkrane nadat hulle die kontrolerangeerder en treinafsender se groen vlae gekry het. Sy tel vinnig spoed op en met die eerste blaf maak Tiny die silinderkrane toe en trek haar terug in 45 in en trek die regulateur oop. Piet se graaf werk oortyd soos hy die hoeke pak, dan die kole teen die kante af en dan oor die hele vuur heen. Dit is n dik rookwolk wat deur die skoorsteen kom en lui agter die trein bly lë terwyl hulle Kroonstad stasie deurstorm vir die klim uit Jordaan toe.

Die 19D het nie die krag van n 15F nie en is dit of die bank haar bietjie vasvat en is dit of sy swaarkry met die vrag maar storm hulle Jordaan met deursinjale teen n gerieflike spoed om die draai deur die stasie deur om n unieke prentjie teen die vroeë son te vorm met n rookwolk wat agterbly en geleidelik verdwyn. Op Westleigh kry hulle deursinjale maar kruis af taklyn toe. Die tablet word by die stasievoorman gevang en verdwyn hulle om die draai om net daarna weer teen die bank Attie toe te verskyn en dan finaal oor die bult te verdwyn.

Op Viljoenskroon word die vrag afgesit en hardloop hulle losloko Vierfontein toe om te gaan lokomotiewe ruil.

Nadat hulle lokomtiewe geruil het is hulle weer in die pad huis toe en het Tiny vir die laaste keer in sy lewe n klas 19D gedryf. Toe hy in die loko afklim staan hy n paar oomblikke die lokomotief in beskou en is dit of in sy hart afskeid neem van hierdie dapper tipe wat hy as stoker so baie gewerk het en soms gedryf het ook.

Piet kyk Tiny verbaas aan en vra: “En nou oom Tiny, as oom haar so staan en beskou”.
Tiny kry n muggie in die oog toe hy antwoord: “Dink maar sommer terug Piet. Ek dink nou hoe ons weke in die Sandveld op die konstruksietreine met hulle gelê het toe hulle destyds die swaarder spoorstawe vir die swaarder lokos ingesit het. Ons het altyd n kaboes saamgevat om saans in te slaap, kos te maak en te stort terwyl die enjin vir die nag gestal is. Ons het altyd n kwekeling stoker saam gevat om net snags die vuur aan die gang te hou en haar onder stoom te hou tot ons vroegoggend weer ingeval het. Ons was tot n week weg van die huis af op hierdie treine”.

Desember 1975 lui die doodsklok vir stoom op die Bloemfontein lyn toe die eerste goederetreine met elektriese lokomotiewe begin loop. Die passasiers treine loop voorlopig nog stoom en is dit eers in Maart 1976 wat die stem van stoom op die Bloemfontein lyn finaal stil raak behalwe vir die stukkie tot op Whites omdat die treine Allanridge en Welkom toe nog stoom is saam met die Klerksdorp lyn. Die skrif is egter daar ook aan die muur omdat die lyn tot op Welkom ook geëlektrifiseer gaan word en diesel lokomotiewe op die einde gaan oorneem Allanridge en Klerksdorp toe.

Dit is ook die tyd wat Kroonsad se spoorwegaangesig permanent verander en die kleurligsinjale in gebruik geneem word en die ou semafoorsinjale afgetakel word. Dit bring die sluiting van die vier seinhuise en die opening van die nuwe sentrale seinhuis met sy paneel en drukknoppies mee. Die gesing van sinjaaldrade en seinwagters wat met die geklap van hefbome voor hulle sinjaalrame bedrywig is raak ook in hierdie tyd stil om nooit weer gehoor te word nie.

Tiny byt vas op die stoom tot hulle uitgefasseer raak en net die rangeer lokomotiewe nog vir eers gaan stoom bly. Dit is egter jong manne wat op hulle werk en is dit ook maar n kwessie van tyd tot die diesels oorneem. Hierdie vasbyters werk nog die passasierstreine en die Klerksdorp en Allanridge lyn.

Toe hy een middag van Klerksdorp af terugkom sit hy sy brief in om oor te gaan elektries toe. Toe hy sy brief klaar ingesit het gaan staan hy lank voor die loods die wêreld en beskou. Waar daar altyd rye blasende en rasende stoomlokomotiewe gestaan het staan hulle nou in n enkele ry. Op die ander lyne staan n paar elektriese lokomotiewe rond. In skrille teenstelling met die geblaas en gesis van die paar stoomlokomotiewe is hulle dood en het geen teken van lewe in hulle nie. Hulle staan so dood soos die langer wordende ry stoomlokomotiewe wat eenkant op n syspoor gestoot is om op te roes, hulle vure permanent geblus om nooit weer opgesteek te word nie, Tiny skud sy kop met n traan in die oog en loop fietsloods toe met sy blik in die hand om sy fiets te kry, een van die enkeles wat daar staan soos die fietse ook minder geword het met die tyd en die manne al meer met motors werk toe kom.

Toe hy by die huis kom sien Maureen dadelik dat Tiny in n heel ander bui is. Dit is of daar n treurige trek in sy oë is. Sy vermoed dadelik wat aan die gang is maar vra nie uit nie, hy sal wel op sy eie met haar praat.

Die aand toe hulle in die bed lê sê Tiny vir haar: “Maureen ek het vandag my brief ingesit om te vra om oor te gaan elektries toe. Ek sal seker met die volgende klas Esselenpark toe vir opleiding op die elektries”.

Maureen antwoord hom nie want sy kan aan sy stem hoor dat hy baie hartseer is. Al wat sy kan doen is hom teen haar vastrek om hom te verseker dat sy saam met hom voel, vir haar is dit ook die einde van n era want dit is die geld wat haar pa en toe Tiny op die stoom verdien het wat vir haar haar mooi huis gekoop het, haar versorg het maar ook haar kinders groot gemaak het. Hulle raak aan die slaap en word sy deur die nag wakker. Die bed is leeg langs haar en staan sy op om Tiny te gaan soek. Sy kry hom waar hy op die stoep sit en gaan sit langs hom terwyl sy sy hand in haar hand neem. Sy praat nie en dan pfraat hy eerste: “Luister hoe stil het die nag geword. Die geblaf van stoom het amper heeltemal stil geraak”.

Asof dit Tiny se woorde wil onderstreep klink die gehuil van n 6E deur die nag op. Dan die gehuil van nog n 6E en asof hy n verlore stryd hierteen voer die geblaf van 3af se 15F in die verte soos hy op spoed aanstorm Bloemfontein toe.

“Een van die dae gaan ons dit ook nie meer hoor nie Maureen”, merk hy op terwyl hy opstaan om in te gaan huis toe.

Hulle gaan klim in die bed en trek sy hom maar weer styf teen haar vas terwyl sy sê: “I will be still there for you Tiny and I love you with all my heart’. Met Maureen se trooswoorde raak hulle uiteindelik aan die slaap.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 155
    Kommentaar telling: 1102

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    5 Lede, 51 gaste aanlyn