Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 12

Deur neels
Datum gepubliseer: 17 Maart 2017 Aantal woorde: 2694 118 Kere gelees 2

Kroonstad stasie was, soos al die ander groot stasies, n stasie met n eie unieke atmosfeer. Met tot 22 passasierstreine per dag was dit met passasierstreintye, n besige plek met mense wat kom en gaan. Om in hierdie passasiers se behoeftes te voldoen was daar n stasiekafee waar die heerlikste koffie en ligte etes kon genuttig word. Hierdie stasiekafee het ook sigarette, tabak, koeldrank, en vele meer aangehou. Langs die passasierstreine kon jy altyd die verversingswaentjies aantref wat die kafee uitgestuur het om aan deurgaande passasierstreine se passasiers iets te verkoop. Daar was ook die boekstalletjie waar die jongste tydskrifte en koerante verkoop is.

Kruiers was altyd reg langs die passasierstreine om passasiers se bagasie vir hulle op hulle tweewielwaentjies te vervoer. Vir passasiers wat eers hulle bagasie wou stoor was daar die bewaarkamer. Hier kon jy jou bagasie teen vyf sent per item ingee vir bewaring. Dan word daar n nommer opgeplak en jy kry n kaartjie met n ooreenstemmende nommer wat jy weer inhandig om jou bagasie terug te kry wanneer jy dit benodig.

As jy dalk Bethlehem toe of Klerksdorp toe gery het deur die nag kon jy al vroegaand gaan inkruip het want die rytuie word al deur die dag in die hokspore ingestoot. Die Voormankruier sal dan jou plek vir jou gaan aanwys en vir jou n bed opmaak as jy n beddegoedkaartjie het. Die rangeerlokomotief sal deur die nag die rytuie kom haal en dan op die treine inlas.
Omdat die spoorweë daardie jare feitlik alles vervoer het was die pakkettekantoor sekerlik een van die bedrywigste plekke op die stasie. Hier was n gedurige kom en gaan van mense wat hulle eie, of besighede, se pakkies kom inhandig of afhaal. Om baie besighede se pakkies voor hulle deur af te lewer het die spoorweë gebruik gemaak van n kontrakteur.
Om hierdie horde pakkette se administrasie te behartig was nie n maklike taak nie. Vragbriewe en afleweringsnotas is alles met die hand geskryf en was daar permanent laaimeesters op diens om al hierdie verkeer na te sien.

Pakkettekantoor klerke was gedurig besig om pakkies op te boek. Platformtrekkertjies met n string raserige waentjies agter hulle wat van trein tot trein en pakkettekantoor toe jaag was n algemene gesig. Possakke was ook met die trein vervoer en kon n mense jou verluister hoe die verskillende bestemmings uitgesing word soos die possakke in treine gelaai word.
Om seker te maak dat alles reg verloop aan die passasierskant se administrasie was daar gewoonlik n seniorklerk in beheer wat ook die korrespondensie van die pakkette en kaartjieskantoor behartig het.

Wanneer jy by die ingang ingekom het was die kaartjieskantoor se venstertjie die eerste op die regterkant van die ingangsportaal. Omdat so baie passasierstreine in die nag geloop het was die kaartjieskantoor dag en nag oop. Hier het jy jou kaartjie gekoop, plek bespreek vir latere reise maar kon jy ook n beddegoedkaartjie koop as jy deur die nag ry. Na n meer bekende bestemming sou jy n gedrukte kaartjie kry maar na minder bekende bestemmings sou jy n blankokaartjie, waarop die bestemming deur die klerk ingeskryf word, kry. Dit was nie sommer net vir kaartjies verkoop vir die kaartjiesklerke nie. Daar was verskillende soorte kaartjies en het elkeen sy eie tarief gehad. Spoorwegmense kon kwart prys ry en moes n voorregkaartjieorder by sy beheervoerende amptenaar kry om n kwartprys kaartjie te verkry. Staatsdepartemente het weer spoorwegorders uitgereik en het ook vir n spesiale tarief gekwalifiseer. Veral die departement gesondheid het ruim van hierdie orders gebruik gemaak om pasiënte Bloemfontein toe te stuur vir mediese sorg. Die weermag was ook n groot verbruiker van spoorwegorders om lotelinge by die onderskeie militêre basisse te kry. Die gevangenisdiens en die polisie het ook van spoorwegorders gebruik gemaak. Wat baie gewild was, veral onder die swart bevolking, was die naweekkaartjeis wat ook teen n spesiale tarief verkrygbaar was. Die kaartjies was geldig van Vrydag middag af tot Maandag middag en was die ideale manier van huis toe gaan.

Daar was twee wagkamers waar passasiers vir treine kon gaan wag as hulle moes oorstap of te vroeg was vir hulle treine. Daar was die algemene wagkamer en die dameswagkamer, altyd kraakskoon en netjies versorg. Die swart mense se wagkamer was een kant weg van die stasiegebou af.

Die man in beheer van die platforms op die stasie was die stasieinspekteur. Hy was die man wat die passasierstreine weggesien het, algemene toesig gehou het maar het die stasie se roosterkantoor ook onder hom geval. Hier het die roosteropsteller gesit en swoeg en sweet om die treine van kondukteurs, kaartjiesondersoekers en oorlaaikruiers te voorsien. Dit was nie beperk tot passasierstreine nie, die oorlaaitreine moes ook van kondukteurs en oorlaaikruiers voorsien word. Daar was ook van die goederetreine wat kondukteurs moes hê. Kondukteurlose treine het eers later jare weens n tekort aan kondukteurs begin loop.

Om die algemene belange van hierdie horde personeel te behartig was daar die personeelkantoor met sy personeelklerke en die man in beheer van die hele stasie, die goedere en passasiers supt met sy drie breë goue strepe op sy uniform se baadjiemoue. Dit was n man wat gesag afgedwing het en as jy gedink het jy stap sommer sy kantoor in maak jy n baie groot fout. Jy moet eers aan die personeelklerk verduidelik wat die probleem is en as hy dit nie kan oplos nie gaan dit hoofklerk toe. Die kanse om by hom verby te kom was feitlik nul want hy het alle probleme opgelos. Dieselfde reël het in die loko gegeld, jou kanse om by die lokovoorman uit te kom was feitlik nul, die personeelkantoor in die loko sal jou probleem vir jou oplos.

Die goedereloods met sy laaimeesters en klerke in die goederekantoor het ook onder die G en P sup geval met n klerk om hom te verteenwoordig. Hier het die klerke, omder die toesig van n hoofklerk, gesit en swoeg en sweet om die goedereverkeer te behartig. Tiksters met hulle rasende tikmasjiene was gedurig aan die gang om vragbriewe te tik.
Kroonstad stasie het ook die bedryfskantore gehuisves voordat die nuwe bedryfskantore in Gunhill gebou is om die groeiende verkeer te behartig. Die bedryfskantoor is die hartklop van die treindiens en het onder beheer van n terreinmeester geval wat toesig oor die bedryfskantoor en die rangeerterrein gehou het.

Hier het die beplanners en selektorklerke treindienste gereël en toesig oor die noord trajek en die taklyn gehou. Die teleksklerke het die vragte ingetik op tikmasjiene wat die besonderhede in kode op n band uitgepons het. Hierdie band is weer deur n sender gehardloop waarna die vrag op die ontvangspunt op n ratelende teleksmasjien uitgespoeg is.

Die buitestasies op die trajekte het onder die beheer van n bedryfsinspekteur, of afgekort, die D.I. geval en was hy n reisende man. Baie keer het hy met n trein gereis om die stasies te besoek en soms saam met die spoorbaaninspekteur in sy motortrollie. Per motor reis was maar redelik min.

Ons kan nie van die spoorbaanmense vergeet nie. Die P.W.I kantoor of spoorbaaninspekeur se kantoor was weer n hele afdeling op sy eie met sy eie personeelkantoor. Hierdie kantoor het beheer oor die baanmeesters, en hulle werkspanne, uitgeoefen en was onder beheer van die spoorbaaninspekeur.

Hy het gereeld met sy rooi motortrollie oor die trajekte gereis om toesig oor die baanmeesters en die spoorbaan oor die algemeen te hou.Hierdie motortrollies was in werklikheid n kombi op wiele en het alles gehad wat n motor het, behalwe n stuurwiel omdat die spore hom stuur. Hulle het ook altyd as n trein geloop en moes dus ook sinjale in ag neem en op enkellyne n tablet vir die trajek wat hy oor reis hê. Die trollie is ook voor die tyd aangekondig.

Die spoorwegpolisie, met hulle bruin uniforms, was altyd op die stasie teenwoordig om toesig oor alles te hou. Hulle het ook hulle eie speurders gehad wat trokdiefstalle moes bekamp en was daar ook uniform personeel in die terreine aan diens om misdaad te bekamp. Dit was n jammer dag toe hulle by die S.A.P. ingelyf is en van die toneel af verdwyn het.
Al was baie van hierdie manne nie direk by die treine betrokke nie was hulle tog ook deel van hierdie magtige en trotse organisasie wat die wiele aan die rol gehou het en verseker het dat alles glad verloop het.

Wanneer het die einde van die goue era van stoom vir Kroonstad werklik gekom? Die elektrifikasie van die Kroonstad Vereeniging lyn het nie werklik n rol gespeel nie. Nog minder het die elektrifikasie van die Kroonstad Bethlehem lyn n rol gespeel want die lyn is maar al die jare deur die Bethlehem drywers gewerk. Die werklike einde het begin met die elektrifikasie van die Kroonstad Bloemfontein lyn omdat hierdie lyn grotendeels deur die Kroonstad drywers gewerk is. Bloemfontein, wat op daardie stadium nog vol stoomdienste gehad het, het die eerste voorsmakie van nuwe tye ervaar met die elektrifkasie van die Kroonstad lyn. Alhoewel dit net die Kroonstad lyn was het dieseltrekkrag spoedig daarna die ander lyne begin oorneem totdat net die Kimberley en Bethlehem lyne met stoomlokomotiewe oorgebly het.

Die eerste tekens het Tiny in 1974 opgemerk toe hy oppad Bloemfontein toe die landmeters langs die spoor gesien het. Dit was al n algemene feit dat stoom se dae op die Bloemfontein trajek getel is en dat daar finaal besluit is om die Kroonstad Bloemfontein trajek te elektrifiseer. Die waarheid hoor n mens voor die tyd, maar is dit wanneer jy die eerste tekens sien wat die waarheid wat die einde van n era inlui werklik begin insink.
Vir Tiny was daar baie om te oorweeg, Cathy voltooi die einde van die jaar haar studies, sy het toe vir n onderwyseres gaan studeer. Haar en Anton se verhouding het ook in hierdie tyd doodgeloop toe Anton sy spesiale klas aanstelling op baie jong ouderdom in Natal gekry het. Jannie het met sy studies ook bevordering gekry en is nou n kaptein. Hannelie is onderwyseres by een van die skole. Sy en Jannie staan op troue en dan is hy uit die huis uit.

Tiny het altyd gedink dat hy klei getrap het toe hy Maureen gevra het om te trou maar Jannie was tien keer erger.

Hy het almal die aand bymekaar gekry en toe ouers onder n groot gestamel van woorde gevra. Die twee was erg verleë en het Tiny hom eers deeglik die leviete voorgelees voordat hulle die ja woord gekry het. Hannelie het baie diep in Tiny se hart ingekruip en swel sy bors van trots oor sy aanstaande skoondogter.

Tipies Annie het sy net daarna vir haar enigste kind n verlowingspartytjie soos min gereël om by haar vriendinne te spog en is sy nou besig om die troue van die jaar te reël.
Cathy is dik vriende met n jong plaasboertjie wat by haar begin vlerk sleep het. tiny hou van die mannetjie en het die ouerpare ook al ontmoet. Na n kuiertjie op die plaas wil sy nou net boervrou word. Tiny verwag dat daar dalk ook dinge kan gebeur en dan bly net Maureen en hy oor. Dan gaan daar nie meer kinders wees om haar besig te hou nie. Dalk moet hy dan maar ter wille van haar maar oorgaan elektries toe om korter ure te kan werk en meer by die huis te kan wees.

Dit sal nie maklik vir hom wees nie want in sy hart is Tiny Meiring n stoomman maar Maureen was nog altyd net goed vir hom en met die kinders uit die huis uit sal dit beter wees as hy meer by die huis is. Met die elektriese eenhede gaan die looptyd baie korter wees en sal hy Sasolburg en Leeuhof toe ook werk. Dit beteken vinniger ritte en meer tyd by die huis. Al wat voorlopig vir die stoom sal oorbly is Allanridge en Klerksdorp toe maar die vraag is, vir hoe lank, voordat die diesellokomotiewe daardie trajekte oorneem en dan sal hy in elk geval n skuif moet maak.

Tiny neem homself voor om nog die aand dit met Maureen te bespreek en vergeet verder daarvan. Dit is oppad terug wat die landmeters hom met hulle bedrywighede langs die spoor hom weer aan die waarheid herinner.

Toe hy afteken vra hy die roosteropsteller of hy noual moet vra om van trekkrag te verander en of hy nog moet wag. Die roosteropsteller ken vir Tiny en is dit of hy n mistieke hartseer in sy oë sien. In sy hart kry hy Tiny bitter jammer want hy weet, Tiny is n stoomman deur en deur. Met baie empatie antwoord hy: “Ou grote, jy kan vra maar julle sal eers teen die helfte van 1975 kollege toe begin gaan vir die eenhede. As ek jy is wag ek nog so bietjie. Die oorskakeling gaan in fases kom, want ons kan tog nie al die drywers gelyk kollege toe stuur nie, en gaan n deel van die diens nog stoom bly tot al die drywers wat oorgaan kollege toe was. Ek dink die diesels is ook nie ver nie en dalk gaan jy meer gelukkig op die diesels wees. Hulle het darem bietjie meer karakter as die elektries. Ek het egter vir jou ander slegte nuus. Die 23 klasse word onttrek, jy gaan 3205 verloor. Ons kry nog n paar 15F lokomotiewe by wat botallig in die Kaap geraak het.”

(Skrywersnota: Behalwe 3300 is al die klas 23 lokomotiewe van diens onttrek en is hulle op rangeerpligte in Bloemfontein geplaas tot hulle in 1978 geskraap is en op Beuafort-Wes gestoor is. Heelwat van hulle se kolewaens is egter gebruik om die kleiner kolewa op die 15F te vervang om hulle n groter reikafstand tussen waterpunte te gee. Die 15F kolewaens is op hulle beurt weer op die 23 klasse gesit)

Tiny staan lank na die lokoloods en staar voor hy fietsloods toe loop om sy fiets te gaan haal. In sy hart weet hy dat die toneel van rasende lokomotiewe nie meer lank daar gaan wees nie. Een van die dae sal hulle minder word totdat hulle heeltemal in die niet verdwyn het.
Toe Tiny by die huis kom kom Maureen dadelik agter dat daar fout is. Toe sy Tiny vra wat hom pla vertel hy haar van die landmeters en sy gesprek met die roosteropsteller. Hy vertel haar ook dat hy voor n moeilike besluit staan.

Maureen ken haar man en haar hart gaan uit na hom toe sy sê: “Tiny jy is maar al die jare n stoomman en ek kan myself moeilik indink om jou op elektriese lokomotiewe te sien.Ek sal inval by wat jy besluit maar ek dink die roosteropsteller is reg, moet nie nou besluit nie, wag nog so bietjie. Dit is net jammer jy gaan daardie pragtige enjin verloor maar ek weet jy sal die volgende een net so blink maak”.

Tiny het heelwat fotos van 3205 wat hy geneem het en in n album bewaar. Sy vriend Gys Mostert het ook in n entoesiastiese stoomfotograaf ontpop en het hy baiekeer 3205 in volle aksie afgeneem en vir Tiny van die fotos besorg. Tiny se trots is egter die fotos wat die oorsese toeris vir hom gestuur het nadat hy die toeristetrein gewerk het.

Toe hy die album neem en stadig daardeur begin blaai los Maureen hom in stilte. Sy weet Tiny is besig om afskeid van 3205 te neem.

Die aand in die bed kan sy hom maar net teen haar vastrek en hom met haar warmte troos want sy weet, in sy hart huil Tiny Meiring oor 3205 wat hy gaan verloor.

Tiny het nog een laaste rit met 3205 gedoen toe hy die Drakensberg met haar gewerk het en het vriend Gys seker gemaak dat hy genoeg fotos van hierdie laaste rit neem. Hy het tot die moeite gedoen om op Bloemfontein stasie te wees toe Tiny Bloemfontein stasie intrek met 3205.

Gys het die hele familie in sy kombi gelaai vir hierdie rit Bloemfontein toe want hy was net so lief vir 3205 want hy is n man wat stoomkoors erg het en kan hy ook as n ongeneeslike geval beskou word.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Toom

      Toom

      Maart 21, 2017

      Veels geluk met jou honderdste publikasie, Neels!
      Mooi skoot! Doe zo voort!
      GvT

    2. profiel foto van neels

      neels

      Maart 22, 2017

      Dankie Toom waardeer

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 169
    Kommentaar telling: 1104

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 49 gaste aanlyn

    Bydrae Totale