Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RESENSIE: Peertert met Laventel, die film

Deur Toom
Datum gepubliseer: 21 Mei 2017 Aantal woorde: 850 660 Kere gelees 2

[Eerste uitgawe 5e. Mei 2016]

Peertert met Laventel, die film

Was maak mens? Alles wat jy aanpak loop skeef: Jou man het nie alte lank gelede nie gesterf, die bome in jou appelkoosboord is oud en dra nie meer so goed nie, die kinders word groot maar is nie juis behulpsaam nie, die huis is oud en moet instandgehou word. En die bank word nou snaaks en wil jou huis en grond hê. Ja, die vriendelike buurman wil tog help, maar dan moet jy ‘n deel van jou besit aan hom afstaan – teen ‘n verminderte prys. Die beste is, jy ry ‘n voetganger om, nie dodelik nie, net met ligte beserings.

[Birnenkuchen mit Lavendel (dt), Le Goût des merveilles (fr. oorspr); 2015, F; Boek en regie: Éric Besnard; met Virginie Efira, Benjamin Lavernhe, Lucie Fagedet, Léo L’orléach e.a.]

Die meeste europese boerdery word nog op klein skaal uitgevoer: Óf hoogstens ‘n paar dosyn hektare met gemengde boerdery, melkbeeste en weideland, êrens staan ‘n paar vrugtebome. Óf ‘n plaas met ‘n spesiaaldoel soos ‘n perdeplaas, wyn- of vrugteplaas. Almal is deesdae vol­outomatiseerde familiebedrywe met net die egpaar – en die opgeskote kinders help saam. ‘n Groot deel van die oes word op die weekmark verkoop. Op so ‘n plaas (kleinhoewe) met hoofsaaklik vrugteboorde en laventel­velde woon die weduwee Louise [Efira] met haar twee skool­gaande kinders in die Provence in Frankryk. Sy verkoop ook heuning en vrugteterte op die weekmark, onder meer die beste peerterte wyd en syd. En dan gebeur dít.

Op pad van die bank huistoe is sy vertwyfeld en onkonsentreerd en dan laai sy Pierre [Lavernhe] op haar enjinkap op. Natuurlik voel sy verplig om hom huistoe te bring en probeer om sy letsels te verpleeg. En daar ontpop hy as sonderling, en van daar aan kom ‘n verandering in haar lewe. Want hy is ‘n outis en bewoon so sy eie planeet. Hy het gou gemerk dat Louise moeilikheid het en besluit om op die plaas te bly. Daar wil hy help. Met sy tinger liggaamsbou is hy vir plaaswerk geheel-en-al onbekwaam. Máár hy het twee dinge waarmee hy tog behulpsaam kan wees: Hy het baie gelees („Ek vergeet niks nie.”) en hy het ononderbroke ‘n laptop onder sy arm. En met daai ding kan hy omgaan. Die oom by wie hy tot dan gewoon het, sê Pierre het elke boek in sy boekwinkel al gelees en onthou wat hy gelees het, hy sê Pierre se kennis van die rekenaar is op die peil van ‘n hacker, dat hy reeds in ‘n ministerium ingehak het om na ‘n boek te soek wat nie anders te kry was nie.

Louise en haar kinders, Emma [Fagedot] en Felix [L’orléach] hou na ‘n kort gewoningstyd baie van Pierre, alhoewel hy sy skete het: Op die mark verskrik hy die een of ander koper deur hulle in hoogs-wetenskaplike taal die werking van die bye se koningin-jellie op die menslike geslegslewe te verklaar. Maar met sy laptop kan hy dinge bewerk­stellig wat vir ander mense nie moontlik sou gewees het, kan regtydig waarsku dat dit in die nag gaan vries en die „kerse” (potte wat brand en warmte in die vrugteboord uitbrei) uitdra en opstel. Hy spoor Emma op oor GPS-verbinding met haar selfoon. Én hy vind ‘n oplossing vir die gesin se finansiële probleme want hy kan deur die lêers by die bank „surf”…

As die sosiaalwerkster die vraag stel waar hy in die toekoms sal woon, stem alle aanwesendes daarvoor dat hy verder op die plaas bly. En ons as toeskouers is daarmee tevrede.

Dis ‘n sprokie „. . . en as hulle nie gesterf het nie, lewe hulle vandag nog. . .”, en die regisseur het heelwat dinge laat deurgaan wat haarbreed aan die waarheid verbygly; daar is nie baie verrassings nie en dis die „situasie-komiek”, die absurde dinge wat gebeur wat die aandag vashou. (Sy wil gaan stort en hy gaan sit vanselfsprekend op die toilet in die badkamer, „Jy is seker baie mooi wanneer jy kaal is…” maar sy stuur hom gou genoeg weg.) As hy op die toneel is, is hy die middelpunt, maar ons medelye geld die jong weduwee Louise, in ‘n wonderbare vertolking deur die Belgiese, Virginie Efira. Die film verlaat die gebied van die sprokies (iemand het dit ‘n slim variante van ‘n Rosemunde Pilcher-film genoem), maar dit omvaar die klippe van Kitsch meesterlik om ons te wys hoe die omgang met sulke „besondere” mense kan wees. Juis daardeur het dit een van daardie slim, sensibele / sensitiewe franse sommerfilms geword wat ons in die jongste tyd bietjie vermis het.

Alles saamgetel, storie, daarstelling, agtergrond… Dis eenvoudig mooi.

En ek is nie enigste wat vyf sterre uitdeel nie.

[Daar is woorde en uitdrukke in omloop wat mense gebruik – en verbasend min weet wat dit eintlik beteken. Een daarvan is „Asperger sindroom”. Om die film ‘n aanskyn van moderniteit te gee, het die storieverteller besluit om Pierre se siekte „Asperger” te noem. Nou goed dan, laat dit so wees, daaraan gaan niemand mank nie.]

©.2016————————c]:o(٤.☼☼☼☼☼.(o;[>——————————–tje




  • TEMAS
    4 Kommentaar
    1. neels

      Mei 5, 2016

      Dankie toom

    2. profiel foto van Anze

      Anze

      Mei 5, 2016

      dankie vir die deel hiervan, klink of dit n wonderlike film is, jammer ons sal dit nie in SA kan sien nie

      • profiel foto van Toom

        Toom

        Mei 5, 2016

        Baie van die buitelandse films wat ek resenseer, kan (in die eerste tyd nadat dit verskyn het) in die betrokke diplomatiese verteenwoordiging (ambassade, konsulaat) in die oorspronklike taal gesien word, soms met engelse ondertitels. Sommiges word vir die lede van die ,heimatvereniging’ bv die ,Deutscher Klub’ van ‘n grootstad beskikbaar gestel.
        Vir hierdie een doen aansoek by die ,Alliance Francaise’.
        Ek weet nie wat gebeur nie. Miskien kry mens die film tog te sien.
        Ek skryf nog ‘n gorreltjie hieroor.
        GvT

    3. profiel foto van Toom

      Toom

      Mei 15, 2016

      Kyk graag na Linda se gedig ,Laventel’ op 12. Mei 2016.
      Dis so mooi!
      GvT

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 129
    Kommentaar telling: 130

    Dag-ook, alhoewel ek miskien 'n bietjie baie oor taalkwessies en filosofie mag redekawel, het ek NIE 'n graad of soiets in  taalkunde of wysbegeerte nie. Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, van biertjies op die stoep, dagblaaaie en vaktydskrifte en die gans normale daaglikse waansin. Sommiges het bly kleef. Weiniges.Sedert meer as veertig jare woon ek in Duitsland; het vrou, kinders, kinderssekinders, huis, hond gehad, katte ook, heimwee. Tweekeer het ek in hierdie tyd heimatverlof geniet.Eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies, stowwerige uitdrukswyse nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol.Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.- Oupa, nie alles wat lekker is, is soet nie. Proe maar hierdie klawerblad - dis mos lekkersuur, nè?So leer ons hopelik van mekaar. Groetnis vanToom

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 113 gaste aanlyn