Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RESENSIE: Die Muur, die film

Deur Toom
Datum gepubliseer: 12 Augustus 2017 Aantal woorde: 1176 634 Kere gelees 6

Dis nie teaterspel, nie toneelspel nie, maar filmspel. Dis die bewe van die lippe, die flikker van ‘n ooglid, die trek van ‘n skouer of ‘n skewe mondhoek, die hand wat twee keer na die potlood gryp voor dit skryf, dis die loer oor die kim voor die eintlike mik, dis die na-opname. Dis die panorama-wydsweefblik oor die uitsig van berge, woud en verte, van donker silhoeëtte teen die sterrehemel. Van ‘n stem uit die „off” wat nie deklameer nie, maar halfluid ‘n soort selfgesprek voer of haar gevoelens beskryf. Daar­toe kom natuurlik die ander, groot gebaarde, die „handeling”, maar in ons storie is dit die ondervindinge en gedagtes van „die mens agter die masker” wat hoofsaaklik tel.

[DIE WAND, na die gelyknamige roman van Marlen Haushofer; regie: Julian Roman Pölsler, daarstellerin: Martina Gedeck, 2012; Oosterryk/­Duitsland.][8e.Julie2016]

n Egpaar besit ‘n jaghut in die Oosterrykse berge en ry met suster en hond daarheen om van die grootstadlewe te ontspan. Na hul aankoms, stap die twee gou terug om iets te gaan haal en laat suster en hond agter. Sy wag verveeld dat hulle terugkom. Die hond snou haar aan as sy hom wil streel. Later gaan sy slaap. Die volgende oggend het hulle nog nie opgedaag nie, en sy loop op die kronkel­­paadjie, wat deels-deels uit die berghang behou is, die rivier langs terug. Die hond hardloop om ‘n draai vooruit en kom skielik tjankend terug. Hy het bloed op sy snoet.

Om die draai sien sy hoekom. Nee, sy sien dit nie. Sy tref dit, ‘n onsigbare grens soos ‘n reuseglasvenster, en sy bots in drafstap daarteen. Dis Die Wand, ‘n muur wat haar van die wêreld afsny. Onsigbaar en geen deurkomkans nie.

Sy gaan terug, en volg die paadjie in die ander rigting: Daar voor haar sien sy bure. Die vrou sit op die bank voor die deur en die man staan by die kraan en skep water in sy hand, waarskynlik om te drink. Badoef! Loop sy teen die glaswand. Sy klop, sy hamer met die vuiste, sy skree. Dis onhoorbaar aan die anderkant van die wand. Dan merk sy dat die man na minutelange water in sy hand skep nog altyd nie gedrink het nie. Die vrou sit onbeweeglik op dieselfde plek. Dan kom die besef: „As hulle dood is, moet die dood iets vreedsames wees.”

Sy is volkome ingesluit, afgesny van die res van die wêreld, soos in ‘n glasklok wat sy nie kan sien nie en waarvan sy glad nie eers weet waar hy verloop nie, want sy kan (later) op haar berg rondbeweeg. Op haar vreedsame, onbewoonde berg.

Wat bly van ‘n mens oor wat in volkome afsondering leef? Die bewussyn dat dit so is, kom so stuksgewys, en sy weet dat sy „vir môre” moet sorg. Sy tel die aartappels en plant sommiges daarvan: Harde, ongewoonde werk vir ‘n dame uit die stad, maar sy besef dat die aarde omgedolf moet word. In dieselfde klok is ‘n koei vasgevang en sy weet dat dit ‘n nuwe verantwoordelikheid vir haar is; sy moet die hang met ‘n seis maai. Sy moet leer skiet – raakskiet – as sy wil oorleef. Eendag miaau ‘n sopnat­gereënde kat op haar voorstoep. ‘n Kaatjie word gebore en later ‘n bulkalfie. Sy het verantwoordelikheid en vreugde aan haar diere. Luchs (sê loeks) die hond begelei haar oral waar sy heen gaan. Hulle het mekaar nodig en ondersteun mekaar, so te sê.

Die vrou weet dat sy moet werk, dit wil sê, sy moet iets sinvol doen, as sy nie wil afgly nie: „Die mens gly nie tot die diere af nie, sonder aan die diere verby in die afgrond…”

In hierdie „Robinsonade” is dit duidelik dat daar (vir haar) geen mense meer op die aarde is nie, en dat sy nie uit haar klok sal kan uitkom nie. Eendag in haar tweede herfs besluit sy om haar belewenisse op te skryf. Drie maande later het sy geen papier meer nie. Haar storie is uit, maar haar lewe gaan voort. Hoe? Hoe lank nog? Hoe lank hou die aartappels, die beesvleis, die patrone vir die jaggeweer?

In die loop van die film praat sy hoogstens ‘n halfdosyn woorde, wanneer sy ‘n tier roep, of dis ‘n kosewoordjie as sy een van hulle streel. Maar sy skryf, en wat sy skryf, sê sy saggies, nadenklik vir haarself. Sy oes veldkos, bessies, neute. Terwyl sy vir die winter vuurhout maak, aartappels oes, ‘n bondel hooi op haar rug na die stal dra, kan sy teen haar demone veg, maar in die langer wordende herfsaande is sy bang dat sy in ‘n depressie gaan val en daardeur haar verstand verloor. En terwyl sy skryf, verskaf sy vir haarself insig in die dinge van die lewe. Wat is nou belangrik en wat nie? Hoeso? Waartoe? Wat beteken dit om mens te wees, om te leef en nie te wil sterf nie?

Marlen Haushofer (sê Marleen), bekende Oosterrykse skryfster na die tweede wêreld­oorlog, het ook „uit die tydgees” geskryf oor „die laaste dae”, soos Orwell, Huxley, Kästner, Arno Schmidt („Brands Haide”, oor die laaste mens na die atoomramp speel af in die gebied waar ek tans woon). Haar boek Die Wand het in 1963 verskyn en het as nie-verfilmbaar gegeld. Regisseur Pölsler het hom streng aan die oorspronklike teks gehou, sodat dit beskou kan word as die filmweergawe van die boek – nie soos baie films, ‘n selfstandige werk wat skaars nog aan die oorspronklike werk aansluit nie.

Die Wand was van aanvang aan ‘n „kult-boek”, wat deur verskillende groepe en gelowe adopteer en tot ‘n soort aanleiding of handboek ontwikkel het: Vir fanatiese ekoloë, groene politikusse, feministe, ensovoort, en so kan die film tot kleurige, bewegende manifes vir die volgende generasies word.

Dog Haushofer het nie standpunt ingeneem nie, sy trek nie teen of vir enige rigting te velde nie. Sy probeer om te beskryf hoe iemand wat stoksielalleen is met haar of sy eensaamheid gaan uitkom. (‘n Man is ook onder dieselfde klok vasgevang, en het tot haar deurgedring, het twee van haar diere doodgekap en moes doodgeskiet word.)

Wat is noodwendig om te oorleef? Wat is belangrik? Belangriker as wat? Wat is die verskil tussen mens en dier? Is dit reg om die (bose, woeste) man se lyk in die kloof te gooi en die hond se kadawer ordentlik te begrawe? Waar is die grense wat sy moet inhou om nie „af te gly” nie, die sielkundige, die sedelike grense?

Wat ís dan die mens alleen op homself gestel sonder geselskap, sonder maat?

Hierdie film is weer nie „kougom vir die oë” nie. Dis ‘n vermoeiende saamdink-oefening, en dit verlang na antwoorde op ‘n hele ry vrae. Vrae wat jou nog lank in die nek gaan sit. En eienaardig genoeg, dis ‘n goedgespeelde stuk wat jou aandag gaan vashou van een kamera-instelling na die ander; geen bietjie verveling nie.

Dus – op hierdie vlak van belewenis – volle vyf sterre.

[8e.Julie2016]

© (o;[>……………………………….2013***** op woes………………….c]:o( tje




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. neels

      Julie 9, 2016

      Wat ek hou van jou resensensies is dat jy dit so lewendig beskryf dat mens jou kan inleef in die film

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 149
    Kommentaar telling: 148

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 71 gaste aanlyn

    Bydrae Totale