Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: RESENSIE: Die groot Illusie, die film

Deur Toom
Datum gepubliseer: 5 Junie 2017 Aantal woorde: 1154 125 Kere gelees 3

 Die groot Illusie, die film

Is die gevoel bekend? Wanneer ek iets nuuts ontdek, word ek in die volgende tyd meermaals weer daarvan bewus. So, by voorbeeld: Nadat ek ‘n rubriekie Kersfees in Oorlogtyd geskryf het, met ‘n kapittel oor die eerste wêreldoorlog, gaan kyk ek ‘n film wat kort ná dieselfde oorlog (1919) plaasvind (Frantz, waarvan ek ‘n resensie geskryf het). 2014 was die herinneringsjaar van die oorlog in alle koerante; nouliks kry ek ‘n DVD van een van die waardevolste franse films van alle tye” geskenk, uit die blikwinkel van ‘n franse vliegtuigloods wat sélf aan die oorlog deelgeneem het.

In Jean Renoir se groot pleidooi vir die vrede la Grande illusion sluit ‘n franse oorlogsgevangene met die duitse kampkommandant vriendskap, hulle is altwee adelikes – dog die wêreldgeskiedenis neem dit nie in ag nie.

>Na my mening is die filmkuns niks anders nie as ‘n nuwe vorm van denke. Dit is ‘n vorm van volledige verandering van die wêreld deur kennis of wete.<

Jean Renoir, filmregisseur

[ La Grande illusion (oorspr. fr) / die große Illusion (dt); 1937; 4:3; s/w; F/D; regie Jean Renoir; met Jean Gabin, Erich von Strohheim, Pierre Fresnay, Marcel Dallo, Dita Parlo; draaiboek, Jean Renoir & Charles Spaak; 117 min.]

Die vliegtuig van twee franse offisiere word in die eerste wêreldoorlog deur Ritmeester von Rauffenstein [Strohheim] afgeskiet. Hy nooi hulle uit om by hom in sy basiskamp te kom eet en ‘n snapsie te geniet voordat hulle na ‘n kamp vir oorlogsgevangene offisiere getransporteer word. Ons volg hulle van kamp tot kamp deur half Duitsland, hoe hulle met ander gevangenes vriende maak, hoe hulle probeer ontsnap, hoe ‘n saamgehorigheidsgevoel – ook tussen die sosiale klasse – ontstaan. Kaptein de Boeldieu [Fresnay] stam uit ou franse adel, Luitenant Maréchal [Gabin] is „’n produk van die franse rewolusie” en die derde vriend in die groepie is die Jood, Kaptein Rosenthal [Dallo]: My familie het in die kort tyd wat ons in Frankryk is, etlikes aan rykdom aangeskaf. . . Watter een van julle besit eers ‘n duisend vierkant meter van die heimat? Ek weet waarvoor ek veg en wat ek wil verdedig.”

Die amptelike einde van hul reis is ‘n kasteel boöp ‘n berg van waar u níe kan ontsnap nie, menere”. Die kampkommandant is dieselfde Baron Rauffenstein wat hulle afgeskiet het, hy wat so dikwels en so erg gewond is dat hy ‘n ryk skat aan edelmetaal” (= silwerdraad) in sy liggaam versamel het om die orige stukkies bymekaar te hou. Hy behandel sy gevangenes ridderlik (Hulle is tog offisiere!) en gebruik die franse weergawe van die oorlogsgevangenereglement om te vermy dat iemand my aan duitse Barbarei kan beskuldig.”

Op die ou ent is twee van hulle tognog suksesvol in hul pogings om te ontvlug en, in desolaat toestand soek hulle na etlike dae se trek by ‘n jong weduwee [Dita Parlo] skuiling teen die aanrukkende winter. Sy toon foto’s van haar man en broers. Sy sê nie hul name nie, net die slagte waar hulle gesneuwel het: Almal gevegte wat ons gewen het. . .”

Daarná nog die laaste entjie, deur die sneeureste wat nog in lente bly lê het, oor die grens na hul doel, neutrale Switserland. Dis die awontuur, die gróót handeling.

Maar ons verhaal is meer as slegs ‘n relaas van adrenalien en spierkrag.

Wat eintlik geskilder word, is die gevoelens van mense onder ongewoonlike stres, van mense wat ontdek dat dit nie meer kan aangaan nie”, dat die geselskapsvorms oor die hele wêreld as gevolg van hierdie oorlog radikaal anders gaan wees. Anders as alles wat die mensheid tot dan beleef het – of vir moontlik gehou het.

Daar verskyn twee Europas, eerstens die van die offisiere, besonders die adelikes en rykes: Reeds by die eerste ontmoeting sien ons dat die opponente in altwee tale met mekaar goed kan gesels. Voor die oorlog het die mense mekaar mos privaat oor en weer besoek. Die twee adelikes weet dat dit na die oorlog anders gaan wees en nie een van hulle wil dit graag beleef nie; die Fransman probeer om in die toekoms te kyk en besluit om hom sélf te offer, die Duitser kan hom nie met sy lot versoen nie en versink in ‘n troebele meer van nostalgie.

Daarteenoor staan die wêreld van die soldate, arbeiders en kleinboere wat ook sosiaal boontoe wil streef, treffend geïllustreer aan hand van ‘n duitse wagsoldaat wat medelye met ‘n franse gevangene het, wat in ‘n enkelsel opgesluit is, en wat hom ‘n bekfluitjie gee om hom op te beur.

Almal aanvaar dat dit die plig is van ‘n soldaat, veral ‘n offisier, om te probeer ontsnap. En dat lewe en dood daarby op die spel is.

Net dat die duitser aan die ou tradisie vasklou, waarby die adelikes hul eerste plig aan die adelstand het, nie noodwendig die staat waar hulle toevallig woon nie. Almal besef dat oorlog geen middel is om ‘n teenstaander te oortuig nie.

Die mees-verbode film van alle tye. Van aanvang aan (1937) was die film in Italië verbode, alhoewel dit ‘n prys by ‘n italiaanse filmfees gewen het – of miskien juis derhalwe. Die tweede wêreldoorlog het reeds voor die deur gestaan en aanklop. In Frankryk en Duitsland is streng senseerde weer­gawes toegelaat en dan by uitbreuk van die oorlog in 1939 daar en tot 1940 in ander gealliërde lande totaal verbode. Eers ná die oorlog, 1946, 47 miskien, word die volstandige film in ‘n argief weer gevind en vertoon. As voraf-aankondiging het Renoir ‘n ekstra vyf-minuut-rede opgeneem waarin hy sê, „. . . as u dink dat u hierdie film reeds gesien het, is u verkeerd: u Het miskien ‘n senseerde weergawe gesien, maar hierdie is die enigste vollengte weergawe wat vertoon word. . .” Nege, dalk tien jare nadat die film gedraai is!

Gunter Groll in Magie des Films het volgende mening: Die mees-verbode film, Die Groot Illusie: Geskiedkundig, maar nie verouder nie. Juis die kontras tussen destyds en vandag toon hoe die brutaliteit in elke nuwe oorlog toeneem . . . Elke kleinigheid, elke halwe woord, elke skynbaar toevallige blikwinkel van die kamera is betekenisvol, sonder om simbooldragtig te wees. . .  Dis onmoontlik om te weet wanneer en van wie hy [die film] volgende keer verbied gaan word.”

Watse Illusie? Ja, die wanvoorstellimg dat die oorlog gou genoeg verby gaan wees, natuurlik. Maar daar is meer as net dit. Die begrip stam uit die jaar 1909 toe ‘n britse outeur ‘n boek oor Europa se toekoms geskryf het: Europe’s optical Illusion, waarin hy sy siening van die geskiedenis en die voortsetting daarvan weergegee het. Die europese illusie” was ‘n algemene redewende. Renoir het geen titel vir sy film gehad nie, en sy produsent was dog tevrede toe hierdie een genoem word.

Dis ongetwyfeld ‘n spannende verhaal én daar is heelwat stof om oor na te dink. Waarlik een van die beste films wat ek ooit gesien het.

Vyf sterre.

©21e.Mei2017…..◄[:o(٤.☼☼☼☼.(o;[►……………tje

 




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 142
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 235 gaste aanlyn