Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Prinses van Eggo’s

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 9 Oktober 2017 Aantal woorde: 1975 35 Kere gelees 3

Liesl loop die donker steen gang af. Sy kan skaars haar opwinding beteul. Haar elf susters giggel agter haar. Sy kan steeds nie glo dat hulle ook saam met haar elke aand gaan dans nie. Veral omdat musiek verbode is in hul koninkryk.

Sy skud die ongemaklike gedagte weg en reik uit na die harp wat in die alkoof versteek is. Met groot konsentrasie speel sy die liedjie wat die doodloop gang in iets anders verander. Die muur skuif en ‘n gietyster hek tussen twee steen pilare verskyn. Die paadjie wat na dit lei blink asof sterre daarin vasgevang is.

Liesl kyk terug na haar susters. Nes sy, is hulle almal in balrokke en duur bykomstighede getooi. Sy grinnik en maak die hek oop. Hulle loop by nog trappies af. Digte mis keer dat hulle kan sien wat weerskante van hulle lê, maar koper drakies wat oor hulle vlieg verlig hul pad.

Die mis dun uit en ‘n silwer woud kan gesien word. Elke keer wanneer Liesl die silwer bome sien verwonder sy haarself daaraan. Dieselfde met die woud vol bome van goud en daarna die diamant woud. Selfs die fynste blare is van diamante. Al die bome verander konstant want elke woud is lewendig. Die opwinding wat Liesl voel laat haar asemhaling vinniger kom en as haar skoene dit sou toelaat sou sy vinniger geloop het. Sy voel altyd so vry wanneer sy die wêreld van die Feë betree.

Groot dubbeldeure van ametis eindig die paadjie deur die woud van diamant bome. ‘n Man in donkerpers, amper swart, leer staan voor die deur. Liesl kan sien waar die Beskermer van die Eggo Labirint sy wapens versteek. Miskien omdat sy hom so goed ken. Sy glimlag vir hom. Hy maak die deure oop sonder om vir haar te kyk. Liesl tree uit die pad uit en laat haar susters eerste deurgaan.

‘Wat’s fout, Stefan?’

‘Dis nou elke aand wat julle kom dans. Ek –’ Hy maak sy keel skoon. ‘Julle het geen idee waarmee julle besig is nie.’

Liesl vernou haar oë.

‘Kom dans met my wanneer jy oor jouself gekom het.’

Die twaalf susters loop in die groot balsaal in met sy lae dak oortrek met pienk en pers blomme. Feë vul al klaar die vertrek en dans vrolik.

Liesl is die enigste een in cerise pienk by die dans. Baie ander daar het ligte skakerings van pienk aan, maar sy staan uit in die donker kleur. Haar susters lyk soos helder blomme in geel, oranje, rooi, blou, pers en kleure tussenin. Nie een van hulle dra pienk nie.

Die musikante dra almal mantels met kappies. Die sangers, meesal mans, dra pers so lig dit lyk grys. So nou en dan sing ‘n vrou in lila saam met hulle. Liesl het nog nooit hul gesigte gesien nie. Selfs die Feë wat die musiekinstrumente speel dra pers mantels.

Liesl en haar susters dans die hele aand. Partykeer met dansmaats lig van voet, partykeer sommer op hul eie. Liesl en haar Beskermer vriend dans ook eindelik ‘n dans.

Stefan vang Liesl se hand en trek haar nader vir ‘n stadige dans. Sy sukkel om asem te haal. Iets in sy oë vra haar vrae wat sy nie reg is om te antwoord nie. Hy lei haar ligvoets oor die vloer. Die lirieke van die liedjie saam met die manier wat Stefan na haar kyk maak dat sy swaar sluk.

Om die oudste van die koning se dogters te wees maak dat sy verstaan hoekom musiek vir meer as die helfte van haar lewe verban is van haar koninkryk. Sy weet musiek kan mense op verkeerde paaie lei. Die kinders van Hamlin…

Sy bewe en Stefan trek haar nader. Wanneer sy saam met die Beskermer van die Eggo Labirint dans voel sy lewendig, geliefd en gelukkig. Dís hoekom sy elke aand kom dans. Haar koninkryk is ‘n droewige, grys plek. Die eerste keer toe sy die ingang tot die Labirint gevind het was die gelukkigste aand van haar lewe. Sy het oor die laaste vier jaar die geheim met haar susters gedeel en hulle het van maandelikse na weeklikse na nagtelikse danse gegaan. Liesl is nie seker of dit regtig die dansery is wat haar susters gelukkig maak of net die kans om vrolik aan te trek nie.

Sy kyk op na Stefan. Haar eie wêreld is nie naastenby so eg soos hy nie. ‘n Nuwe liedjie begin en sy word weggelei van hom deur die wilde dansery van die ander. Sy hou op dink en laat toe dat die musiek haar vul.

Die susters dans totdat selfs die Feë uitgeput is.
#
Moeg, maar gelukkig, loop Liesl en haar susters terug deur die diamant woud. Sy dra haar silwer skoene met diamante in die hoë hakke en vlinders aan die kante in haar linkerhand. Die sole is deurgedans. Haar jongste suster se hoë hakke het afgebreek. Almal se skoene is flenters, maar hulle is almal vrolik.

Liesl ril. Iets voel verkeerd soos hulle die diamant woud verlaat. Sy kyk rond, maar kan niks sien nie. Sy haal diep asem en loop saam met haar susters. Die bome verander stadig van diamant na goud. Dit lyk asof oë skitter in die skemer woud.

‘Hardloop!’ gil sy vir haar susters.

Iets breek hard deur die woud. ‘n Monster spring op die paadjie waar hulle gestaan het. Liesl kyk terug. Dit lyk soos een van die leeus wat haar neef op safari geskiet het, maar baie groter. En dit spoeg vuur.

‘Vinnig!’ gil sy en lig haar rok sover moontlik op om makliker te hardloop.

Dit klink asof die monster ‘n maat bygekry het, iets met hoewe. Liesl kyk weer terug. Net die monster wat lyk soos ‘n leeu hardloop agter hulle aan. Sy gooi haar skoene in sy rigting toe hy weer sy bek oopmaak om vuur na hulle te spoeg. Dit grom en draai weg.

Liesl skree.

Die monster wat hulle jag is ‘n Chimera: van voor ‘n leeu, in die middel ‘n bok en agter… ‘n slang.

Vir ‘n oomblik het sy vergeet om te hardloop. Sy kan haar susters hoor roep, maar dis asof alles stadiger gebeur as wat dit moet. Die vuurspuwende monster draai na haar. Sy kan haarself in sy groot rooi oë sien. Sy bek gaan oop. En die sagte note van ‘n fluit kom van êrens in die woud.

Die Chimera maak sy bek toe en kyk in die rigting van die musiek. Sy kop swaai van kant tot kant. Sy oë word minder wild. Die monster sug en loop deur die woud, weg van die twaalf prinsesse.

Liesl staar die Chimera agterna. Haar hart sit in haar keel.

Stefan loop uit die goue woud, ‘n fluit in sy hand. Liesl snak na asem en hardloop in sy arms in.

‘Sjt! Dis als okay,’ sê hy en streel haar hare.

‘Waar is dit?’

‘Êrens in die Labirint. Maar dit sal nie terugkom nie.’

Liesl knik. Sy weet baie goed hoe fluite werk. Sy haal diep asem en tree uit sy omhelsing uit. Saam loop hulle na waar haar susters in die silwer woud vir haar wag.

‘Hoekom het dit ons aangeval?’ vra haar jongste suster.

‘Want elke keer wat julle kom dans skenk julle lewe aan die Labirint,’ antwoord Stefan.

‘Wat?’

Liesl maak haar keel skoon. Stefan se woorde het nie baie goed geklink nie. Van haar susters bloos.

‘Julle verloor deel van jul lewenskrag.’

Liesl kyk vir hom. Haar hart klop weer vinniger. Sy voel net lewendig in die Labirint.

‘Elke keer wat julle kom dans word julle deel van die Labirint. Eendag… eendag gaan julle nie weer na die wêreld daar bo kan gaan nie.’

Stefan hou haar blik.

‘Dis lekker om te dans, maar ek wil nie hier bly nie.’

Liesl se ander susters stem saam met die jongste. Sy hou vir Lisa dop wat skielik vir almal praat. Sy sluk die knop in haar keel weg wat gevorm het omdat haar dertienjarige suster kan sien wat die ander nie kan nie.

‘Kom, dan gaan julle huis toe,’ sê Stefan en lei hulle verder die paadjie af.

Stil loop hulle deur die res van die silwer woud. Liesl kan haar hart in haar ore hoor klop. Swart kolletjies verskyn voor haar en verdwyn nie wanneer sy haar oë toemaak nie. Haar asemhaling word té vinnig. Sy voel histeries. Toe hulle die mis binnetree voel dit of duisende naalde in haar gedruk word.

Liesl skreeu.

Almal draai om en kyk vir haar. Dit lyk asof hulle in stof verander. Al haar susters gil. Stefan tel haar op en hardloop terug na die silwer woud. Sy kan in die weerkaatsing van die bome sien dat alles omtrent haar heeltemal swart geword het en dat sy besig is om… Liesl knippper haar oë. Werklik! Sy’s besig om in klein kolletjies uitmekaar te val.

Stefan hardloop so vinnig dat die silwer, goud en diamant woude een word. Hy hardloop met haar tot teen die ametis deure.

‘Jy’s okay!’ Hy sit haar neer en hou haar styf vas.

Al die pyn is weg. Liesl kyk af na haar hande: hulle lyk soos altyd en haar cerise rok skitter nes vroeër. Sy kan weer sien sonder kolletjies voor haar.

Haar susters kom hortend aangehardloop.

‘Jy’t ons laat skrik!’

Sy luister na hul vrees en drink hul gesigte in. Stefan het nog niks gesê nie, maar sy weet klaar wat moet gebeur.

‘Julle kan nie weer hiernatoe kom nie,’ sê sy toe hulle eindelik stil is.

‘Wat?’

‘Julle het lewens wat vir julle wag in die wêreld daar bo. Dis dalk party dae vaal en vervelig, maar julle kan ‘n verskil maak.’

Sy kyk na elkeen.

‘Moenie terugkom nie.Vergeet van die dansery. Vergeet van die mooi uitrustings. En vergeet van my.’

Sy luister geduldig na hul kwaai uitbarsting.

‘Julle wil nie soos ek wees nie. Ek was amper dood daar in die mis.’

‘Dis sal onmoontlik wees om van jou – en hierdie plek – te vergeet,’ sê Lisa en hou Liesl se hand vas. Die ander knik hul koppe en trek hul gesigte op ‘n manier wat wys dat hulle ernstig is.

Liesl kyk pleitend na Stefan.

‘Vat hierdie,’ sê hy vir die prinsesse.

Glase met pers vloeistof verskyn voor elkeen van Liesl se susters.

‘Sê wat ek sê dan drink julle als en gooi die glase hard op die grond,’ sê Stefan.

Die elf prinsesse kyk vir Liesl en knik.

‘Ek – sing jou naam.’

‘n Koor gaan op van oudste na jongste.

‘Lelanie.’

‘Lizelle.’

‘Lucinda.’

‘Lilian.’

‘Lena.’

‘Leanne.’

‘Leigh.’

‘Linda.’

‘Lauren.’

‘Lynette.’

‘Lisa.’

‘– wil ‘n lewe hê buite die Labirint. Ek wil niks onthou wat my na die Labirint sal lei nie.’

Hulle drink en gooi hul glase neer. Glasskerwe lê die paadjie vol.

‘Ek voel nie anders nie,’ sê die jongste van Liesl se susters.

Liesl druk al haar susters, versigtig om nie met haar kaal voete op die glas te trap nie. Sy wil huil, maar haar liggaam weier om saam te werk. Wanneer sy hulle almal gegroet het verskyn die koper drakies wat altyd in die mis is. Hulle lei die elf prinsesse deur die woud, terug na die wêreld daar bo.

Liesl se keel voel styf.

‘Wat nou?’ vra sy vir Stefan toe sy haar susters nie meer kan sien nie.

‘Nou bly jy by my, vir ewig.’

Hy vat haar hand en lei haar terug in die Eggo Labirint in. Liesl kan musiek orals hoor. Die musiek jaag haar hartseer weg en omvou haar met al die goeie gevoelens wat sy altyd het wanneer sy in die Labirint is.

Sy dans met Stefan op die stadige dans van vroeër, sy gee in aan die musiek van die Feë en al die ander dinge hou op om saak te maak.
##




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 52
    Kommentaar telling: 241

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 48 gaste aanlyn

    Bydrae Totale