Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die PIROTEGNIEK

Deur Toom
Datum gepubliseer: 11 November 2017 Aantal woorde: 733 71 Kere gelees 1

Pirotegniek

Nog lank vóór die monnik Berthold Schwarz die „swart poeier” uit Sjina na Europa gebring het, het die Sjinese vuurwerk geken en in hul religieuse rituaal ingebou. Dis toe vir groot feesdae en ander besonders hoë seremonië gebruik. Veral om die bose geeste te verban.

Vandag nog, na soveel duisend jare geskiedenis met verandering van die een dinastie na die volgende – nou is hulle reeds in die moderne tyd, in die Mausedong dinastie, aangekom. Vandag nog vier die Sjinese met vuurwerk, bedags klappers en donderskote, snags met helder stralende en ontploffende rakete. Ons ken dit – uit medienberigte – as begeleiding vir groot politiese geleenthede en veral die Sjinese Nuwejaar. Veral om die bose geeste te verban.

In ons kultuur word vuurwerk aangewend om terroriste en ander skurke te vier, soos byvoorbeeld Guy Fawkes, in Europa buitendien om die Nuwejaar aan te kondig. Die groot fees vind plaas op Silvester-dag (Oujaar) en kort voor middernag hou die hele wêreld asem aan en tel die sekondes af. Dan bars die hel los, en saam met die plop! van vonkelwynkurke breek die volgende wêreldoorlog uit met klappers en donderskote, met rakete en gloeiende vonkereën in verskillende kleure, met huilende kinders wat wakkergeword het en terreurbevange honde en katte wat skuiling onder beddens soek . . . of êrens, hoegenaamd. Om die bose geeste te verban.

Nouja, wie glo nog aan bose geeste? (Wie glo hoegenaamd nog aan geeste?) Deesdae is die gebruik van vuurwerk wettig beperk en begrens, omdat mense en eiendom in die verlede skade gely het, te veel mense, teveel skade. Maar as iemand tussen die normale fees- of gebruiksdae iets wil vier, kan hy om ‘n permit aansoek doen. Die bestuurder van ons landelike hotel laat ‘n paar keer in die jaar (bv. Die eerste Mei = Dag van die Arbeid) die poppe dans, oftewel die klappers klap en die rakete skiet. Hy’s ‘n ordentlike mens en stuur ‘n rondbrief aan die bure uit, in die buurdorfies ook, sodat hulle hul tiere en kinders daarteen kan beskerm. Dit bedra meestal nie meer as vyftien of twintig minute nie, en kort na tienuur is alles verby. Maar ons het die moontlikheid om van die venster uit die spektakel aan te kyk of, afhanklik van die weer, heen te stap en van naby te beskou. ‘n Paar duisend Euro moet hy bereid wees om daarvoor uit te gee. Vir die toeriste maar ook om die bose geeste te verban.

Verlede naweek is ons na vriende uitgenooi wat ‘n ronde verjaarsdag (60) wou vier. Hulle het ‘n tuin-lokaal aan die rand van Hannover (met twee Ns) gevind waar dertig of veertig mense, kinders en kleinkinders inkluis, plek gehad het om saam te kom, eet, drink, gesels, musiek te luister, om op die grasperk volksdansies te dans. En met tente ingeval dit sou nodig wees. Dit was toe nie nodig nie. Magneet van die uitnodiging was die moontlikheid om ‘n groot vuurwerk agter die grag in die pronktuin van die Herrenhaus” gratis te kan sien. Dit sou die laaste in ‘n reeks wees: Daar is mense, (verenigings?), elkgeval organisasies, (firmas?) wat pirotegniese voorstellings aanbied. Daar kry ons hotelier waarskynlik sy skou vandaan.

Hierdie mense hou onder mekaar wedstryde af; hulle trek van grootstad na grootstad, daar is die voorrondes soos by ‘n tennistoernooi, en ons kon die laaste aand (van die proms? Nee!) van vanjaar se kompetisie geniet. Vier firmas het die opdrag gekry om ‘n vuurwerk te „komponeer” passend aan ‘n gegewe musiekstuk (Orrel? Elkgeval elektronies en so hard dat ons dit ‘n halwe kilometer ver deur die bome kon hoor, saggies hoor.) Elke deelnemer het dus dieselfde tyd, so-en-soveel minute gehad om sy daarbieding te bring wat die musiek sou „illustreer.” Van die musiek het ons werklik min gehoor, maar die skouspel! Etlike honderd meter is die „bomme” hoog in die lug geskiet, waar hulle in die vorm van reuse sambrele of sampioene gebars het. Die verskillendkleurige vonkereën het deelsdeels geglinster soos vallende waterdruppels, deelsdeels geknister soos herfsblare in die wind. En in „sekere afstand” het twee, drie heldergroen drone in die naghemel gesirkel, waarskynlik om te fotografeer of verfilm.

Hoeveel honderdduisend Euro moes hulle in die lug gejaag het om die bose geeste te verban? En hoeveel bose geeste het hulle dan werklik verban?

As ek ‘n bose gees was, sou ek volgende week graag weer wou kom kyk.

©.18e.September2017……..……………………tje

 




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 152
    Kommentaar telling: 159

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 27 gaste aanlyn

    Bydrae Totale