Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Padlangs …

Deur Viooltjie
Datum gepubliseer: 13 Mei 2017 Aantal woorde: 160 94 Kere gelees Hou van

skryf weer vir my ‘n mooi gedig
laat breek die dag in rym
skryf dit tussen Colesberg
en duskant Bloemfontein

(Bo die groot Karoo
waar die skadu’s diep
agter donker heuwels, ver
vlug ‘n raafswart kraai
met ‘n wye draai
en verdwyn oor die Gariep.)

vertel my waar jou skape wei
langs die huppel van ‘n lam
wys my waar hul spore lê
verby die oorloop van jou dam

(As die nag se blou
goud en oker raak
bo die purper heuwels, ver
swerf ‘n sekelmaan
in sy wentelbaan
oor skemervelde wat ontwaak.)

skilder die gebrokenheid
langs bloekomstamme wit –
jou murasies wat gestrope
benee die wydste hemel sit

(In die son se vlam
wat oor vlaktes vuur
voor vaalbruin heuwels, ver
rooi die stoppelgras
– wat pas nog duister was –
in die geboorte van die uur.)

skryf weer vir my ‘n mooi gedig
waarin jou winterlandskap skyn
skryf ‘n skemer digby Colesberg
‘n helder son voor Bloemfontein

© C. Shaw
18 Augustus 2016




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Boetiegoed

      Boetiegoed

      Mei 16, 2017

      Ai Carma dit is eenvoudig pragtig!!!

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Viooltjie

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 192
    Kommentaar telling: 707

    Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat ek te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 226 gaste aanlyn