Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Eens… Ontwaking

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 8 Augustus 2017 Aantal woorde: 846 450 Kere gelees 5

Sag land hulle en die wind waai verder. Alles is stil. Tog is daar belofte in die manier hoe die natuur wag. Die diere feë trippel weg om die voëls, insekte en ander gediertes wakker te maak terwyl die blomme feë elkeen ‘n plant kies om mee te begin werk.

Renée hurk tussen die dorre gras. Sy kan die plant se wortels voel uitreik na haar. Met diepe konsentrasie sing sy die regte wysie vir die plant sodat dit so opgewonde oor die lente kan wees soos sy.

Die vingerhoedjies skiet op en maak die keelvormige blom wat uit so baie klein blommetjies gemaak is. ‘n Hele paar plante staan nou waar daar vroeër net gras was. Renée kyk op na die vingerhoedjies wat bo haar toring. Sy sing harder en al die blommetjies gaan oop. Vir nou is dit kleurloos, nie eens wit nie. Beïndruk met haarself, haal sy haar verf uit. Versigtig skroef sy die pers oop wat sy uit die reënboog geskep het.

Sy kyk vinnig om haar rond. Almal is besig om die kleurlose blomme lente kleure te verf. Meeste het geel en pienk vir hul blomme gekies.

Renée byt haar lip. Dis die eerste keer dat sy help om lente na die mensewêreld te bring. Sy sluk en draai terug na haar verf en die plante voor haar. Sy voel sommer net dat dit pers moet wees.

Stadig verf sy elke vingerhoedjie blommetjie met die pers van ‘n reënboog. Haar fyn vlerkies voel sommer vreemd soos sy voor een blom op ‘n slag probeer bly en verf. Sy verloor telling oor hoeveel van die klein blommetjies en hoeveel plante daar is wat almal in pers getooi gaan wees.

‘n Gegil laat haar veel later verward om haar kyk. Sy moet nog net die blare groen verf. Sy’s nie moeg nie, maar om die vingerhoedjies te verf is nogal veeleisend. Sy land op die bruin gras tussen leë verfhouers.

Ander feetjies jaag mekaar met verf. Hulle speel al weer. Renée staan bekommerd tussen hulle en haar klaar geverfde plante.

Maar sy is nie groot genoeg om soveel blomme te beskerm nie.

Die feetjies hardloop in mekaar vas en verf vlieg orals.

Rooi, blou en geel spatsels val op haar en die vingerhoedjies.

Onsteld draai sy om. Net ‘n paar plante het nie verfspatsels op nie. Die res…

Renée sak op haar knieë en trane biggel saggies oor haar wange.

‘Hey, dis okay.’

‘Baie vingerhoedjies het spatsels.’

‘Die mense dink dis wonderlik.’

‘Dit maak die blomme uniek.’

Hoe meer die ander feetjies haar probeer troos, hoe harder huil sy.

‘Kom nou, dis nie so erg nie. Elke lente is daar tekens van waar feetjies gespeel het en gemors het.’

‘Rêrig?’ vra sy sag.

‘Natuurlik. Dis deel van die pret. Kom, dan wys ek jou.’

Sy snif die laaste van haar trane weg en volg die rooikop feetjie deur die tuin.

‘Kyk daar: daardie blomme word gesiggies genoem omdat die feetjies die gesigte van hul geliefdes daarop verf. Nes jy, gebruik hulle kleure uit die reënboog.’

Reneé kan skaars glo dat die bruin en swart ook uit die reënboog kon kom, maar sy bly stil.

Een feetjie verf al die gesiggies op een plant sommer net swart.

‘A,’ sê haar gids ongemaklik. ‘Nie almal kan heeltemal deel wees van al die opwinde van lente nie. Sy doen wat sy kan.’

Hulle loop vinnig verby. Renée kry die idee dat die ongelukkige feetjie dalk ‘n geliefde onlangs verloor het.

Sy word vinnig uit haar gedagtes getrek toe iemand in haar vashardloop. Hulle het uit die tuin vol gesiggies geloop en vind hulself nou in ‘n veld.

Feetjies in geel hardloop elkeen met ‘n takkie vol goue sleutelblomme wat hulle hoog bo hulle hou soos sambrele. Party feetjies gebruik hierdie veldblomme as koppies.

Ander feetjies in lig pienk loop gelukkig rond met die plat, sagte pienk sleutelblomme wat op die bossies groei en die wêreld vul met hul fyn geur.

Katte en ander gediertes met feetjies op hul rûe spring, hardloop en duik mekaar in die veld. Al die feë lag en dit klink asof die diere dit ook geniet.

Dis ‘n partytjie om die lente te verwelkom, besef sy soos sy dinge bekyk.

‘Hoor jy dit?’ vra haar gids.

Renée luister mooi. Voëls tjirp vrolik in die bome bo hulle. Sy kyk op en sien hoe diere feë heel gelukkig die voëls lei in ‘n nuwe lied.

Sy kyk om haar en kan skaars glo hoe alles verander het.

Die veld en tuine lyk almal sommer mooi met die eerste blomme, geure en klanke van lente. Hul werk is klaar.

Elke feetjie vat ‘n tak van die kruiskruid, totdat daar geen onkruid meer oor is nie, en klim daarop soos ‘n heks op haar besem. Die voorste feetjie in die groot V wat hulle maak sê ‘n paar woorde en hulle almal vlieg weg. Hulle vlieg vinniger as die wind, terug na Feërie.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      September 19, 2016

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Lente projek

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 42
    Kommentaar telling: 244

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 34 gaste aanlyn