Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Noudat jy weg is

Deur Viooltjie
Datum gepubliseer: 22 Augustus 2017 Aantal woorde: 142 49 Kere gelees 1

sal olifante – swaar van voet –
steeds teen rante en oor vlaktes loop,
sal hul purper bas en sagte hout
van kaaltak kremetarte stroop.

Langs die waters van die groot rivier
sal koorsboomstamme immer groen.
Mopanieblare sal tot roes kom
soos dit maar elke winter doen.

Die reier en die ooievaar
sal nog visse in ‘n vlak stroom vang.
En as die arend weer kom prooi soek
sal hy huiwer in sy vlug
en bo ‘n blou Limpopo hang.

By ‘n silwer dam
waar ‘n woud weerkaats
en kwêlaswerms oor die water vee,
sal ‘n grootlangtoon nog sirkels vlieg,
die kiewiet (dalk) ‘n bietjie harder skree.

Selfs nóú dat jy weg is

sal ‘n kolgans vlieg deur skemer lig
– die dag sal breek tot klatergoud.
En elke volmaan sal vir jou vlam
(waar die jakkals tjank)
verby ‘n doringhout.

© Carma Shaw
22 Augustus 2017




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Viooltjie

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 204
    Kommentaar telling: 716

    Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat ek te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 8 gaste aanlyn

    Bydrae Totale