Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: NOSI * die gevaar

Deur Toom
Datum gepubliseer: 23 Februarie 2017 Aantal woorde: 1242 159 Kere gelees 2

NOSI * die gevaar

Om presies een-en-twintig uur, sewentien minute en ses-en-dertig komma vyf agt sekondes in ’n koue Desember nag het Jason B. Sakamuchi ’n klein vlekkie vir die eerste keer op sy teleskoop se skerm ontdek, die pas-geboude neutron-aangedrewe „Heavenly Observer” op een van die noordelikste bergspitse in die Verenigde State, waar die lug koud en droog, suiwer en stofvry is, waar die sterre so groot en helder is „dat mens hulle met die hand kan pluk” soos hulle in die omgewing sê. Niemand kon beweer dat hy dit „gesien” het nie, dit het die mate van ’n nano-partikel omvat, vergelyk met die sigbare sektor van die hemel, en kon slegs met díe nuwe tegnologie waargeneem word.

*

Soos dit hoort, het hy sy fonds in die gebeurtenis-boek opgeteken, saam met die koördinate, tyd van die ontdekking, die weerberig (klare uitsig in alle rigtings, windstil), stand van die planete (maanlose nag) en die bedrywighede in die melkstraat. By die oorgawe aan die dagskof is die fonds geprotokolleer deur Harry F. Tscherbolenski onder die oorskrif „Number One Spotting Incident”, en die insident moes toe aan die hoofbestuur gerapporteer word.

Daar is besluit om die fonds internasionaal bekend te maak. Nie baie ophef is egter daarvan gemaak nie, hoewel Archie M. de los Angeles, die P.R.O., soveel stof moontlik opgeskop het. (Die nuwe sterrewag is met veel lawaai eers drie maande daarvoor aange­skakel, en nou was die toeskouers sat en wou iets anders sien.) En so het dit in die dagblaaie slegs vyf of ses sentimeters op die wetenskap-bladsye tussen voëlgriep, DNA-dubbelhelix-modelle en reklame vir aaipotte ingeneem. Die groot sirkus om die opening van die sterrewag was verby. Min mense het die ontdekking bemerk. Maar alle astronomiese senters het dit in hulle tabelle oorgeneem, waar dit op die lys gekom het van objekte waarna reëlmatig gekyk, of beter gesoek moet word.

Dit was nie besonders interessant nie, dit was so ‘n klein vlekkie, baie, baie ver weg en het glad nie sy posisie verander nie. En die medewerkers wat die reëlmatige proewe deurgevoer het, het dit salig vergeet en moes elke twee jare deur die ingeboude „wekker” geroep word, tot eendag na twaalf jare die seine ‘n week of wat vroeër as gewoonlik en ‘n bietjie heftiger as normaal gehoep en geblink het. Dit blyk toe dat daar dog ‘n beweging plaasgevind het, en die roepseine is deur Inkosikayz T. Fotheringham op ses-maande-takt omgestel. Dit het voorgekom asof die vlekkie ons sonstelsel nader. Nou kon NASA probeer skat hoe vinnig dit beweeg want hulle kon eindelik die afstand ongeveer bepaal. Interessant was slegs dat iets so klein en so ver „gesien” kon word, en dít slegs van eers ‘n halfdosyn sterrewagte oor die hele aarde.

Na verdere tien jare het die hoof van die scanning-afdeling, Marypat Abdelrammin-Jones, besluit om die roepintervalle op die roetineproefsisteem op drie maande in te kort, want die objek „het lewe aangeneem” soos hulle sê. Dit het duidelik toenemend vinniger nader gekom, die grote en die chemiese samestelling is bepaal asook die spoed. Al hoe meer middelgroot observatoriums het dit op hul skerms gevind.

En nie eers vier jare later was dit op die daaglikse nasienlys van selfs onbeduidende sterrewagte oor die hele wêreld: ‘n Komeet, wie se kern die mate van Nieu-Seeland se Suid-Eiland het en met ‘n verbasend hoë waterinhoud, „’n reusehaelkorrel” skryf die sensasiepers. Dit het al hoe vinniger op ons son afstuur met ’n stert wat as ‘n „koue stort” beskryf is.

*

Staatlike sterrewagte word verplig om aan hulle regering se wetenskap-ministerie iets wat belangrik is, te berig, en dit is internasionaal besluit om vereers alles hoogs-geheim te hou. Die diskoers oor die globale wetenskapskommunikasienetwerke kon egter nie alte lang uit die blikveld van die media bly nie, aangesien etlike klein amateur-teleskope dit nou al „opgetel” het; dit was aktuele nuus op verskeie internetplatforms, nie net die vir wetenskaplikes nie.

Die wending in die storie kom op ‘n Dinsdagoggend in Augustus om presies nege uur, elf minute en vier komma een een sekondes, toe Barbra-Sulaika Ephraimova die kalkulasie gepos het dat die baan van die komeet dalk nie óm die son gaan loop nie, maar straks ín die son kon eindig en op die ander kant nie weer verskyn nie.

Sensasie in die Media! Allerhande eksperte uit alle moontlike wetenskaplike dissiplines is na hul mening gevra en het ‘n paar ure lang in die lig van die publisiteitsson gebad. Tot die volgende met nog snaakser bespiegelings kom. Toe kom die politikusse, van agter- na voorbank, van diepste groen tot helderste rooi, die nywerheids- en sakebestuurders… En die teoloë eers! Uit alle geloofsrigtings: Priesters, dominees, pastore, rabbyne, imams, kaalvoet-monnike, kardinale met goud-borduur, toordokters en sjamane in die oerwoud, op die berge en midde-in die sanderige woestyn… Almal het iets te sê gehad.

Toe die komeet, wat inderdaad van slegs ‘n paar duisend mense met blote oë ooit gesien is – aanskynend oral bewolk weens die koue-stort-newel –, agter die son uitkom, het alle alarmstelsels gegil: By die draai-maneuver tussen die bane van Mercurius en Venus het ‘n stuk blykbaar afgebreek en die komeet uit balans gegooi. Hy stuur toe onverbiddelik op die aarde af.

Daar kom die roep uit Washington. „Destroy! Destroy! Destroy!” Dit word oor die wêreld herhaal, Zerstören! Zerstören!” „Destroiér!” „Vernietig!” „Verniel!”

En uit alle hangars, bunkers en gate, uit alle skuilplekke in die berge en woude, op alle vastelande en verskeie eilande in die oseane word toe die interkontinentale en ruimrakete uitgerol, met atoomsprengstof gelaai, op die dreigende gevaar genoord en afgevuur. Natuurlik moes hulle eers in die wentelbaan ‘n draai maak, en natuurlik was daar ‘n paar mislukkings en heelwat wat misgeskiet het en op pad na die son verder gevlieg het. Daar was egter genoeg treffers om die kern te verkleineer dat die stuk wat dog getref het „slegs” aan die Noord-Amerikaanse ooskus die Andreas-sloot langs ’n skeur oopgeploeg het, wat veroorsaak het dat die sloot uitmekaarspleet en die ooshang van die Rockies saam met die kusgebied én die Heavenly Observer in die diepte afgly. Die skokgolwe was so erg dat wolkekrabbers op alle vastelande inmekaargestort het. Nieu York was ‘n chaos van betonbrokke en verbuigde metaal. Ook in Asië van die Filippyne tot Arabië is verwoesting gesaai. Europa was plat. Moordend was die Tsunamigolwe wat op alle oseane ontstaan het en die kusgebiede tot honderd kilometer die binneland in huise en geboue omgestoot en platgemaak het. Die lande om die Middellandse See is weens die vlakwater tot ‘n mate verskoon.

Die gepaardgaande winde het alles wat grypbaar was, gegryp en meegesleep; winkelsentrums het soos kartondose deur die lug gevlieg. Die aarde self het gesidder: Ook op berge en plato’s het die hoë geboue geknak en op die kleineres daaronder neergestort. Damme het gebars, fabrieke het aan die brand geraak, brûe van hul suile geval.

Die totale chaos het uitgebreek. In die Tora staan, „en toeoe-wa-bohoe was op die gesig van die aarde”.

Die kleiner stukkies, wat minstens gedeeltelik radioaktief besmet was, en veral die as „koue stort” bekende newel van die stert het in die hoë van die radioaktiewe Van-Allen-gordel begin om in ‘n omloop-baan te draai, en daarom sien ons vandag die blou hemel so weinig. Plek-plek op die aarde glad nie. Ons aarde het ‘n stap terug tot voor die sondvloed gemaak en het weer ‘n wolkkombers soos Venus.

*

©23e.Februarie2017……..xxXxx…………….(2013)tje.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 153
    Kommentaar telling: 157

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 72 gaste aanlyn

    Bydrae Totale