Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: NOODLOTSVLUG OOR DIE AMASONE HFSTK 4

Deur neels
Datum gepubliseer: 15 Julie 2017 Aantal woorde: 1506 44 Kere gelees 2

HOOFSTUK 4

Toe die Piper van “Verwey Couriers” die aand nege uur nog nie op Belem geland het nie begin die verkeersleier onrustig raak. Hy gewaar ook niks op sy radarskerm nie maar besluit om nog bietjie kans te gee. Wat hom verder onrustig maak is dat daar geen antwoord is op sy roepseine om Andries per radio te probeer kontak nie. Hy het ook geen berigte van Andries ontvang nie wat ongehoord is. Andries moes al kontak gemaak het om sy posisie en verwagte aankomstyd aan te gee.

Teen twaalf uur die nag weet hy verseker dat die Piper onmoontlik nie meer in die lug kan wees nie en maak hy alarm deur die polisie te skakel en die Piper as vermis aan te gee.

Die polisiebevelvoerder, kolonel Juan Gonzalves haas hom lughawe toe toe hy in die bed uit geskakel word van die polisiepos af. Daar is nie veel wat nou gedoen kan word nie maar kan daar begin word met die reëlings vir n soektog. Loodse kan opgeroep word en die lugmag bevelvoerder moet ook geskakel word sodat daar soveel moontlik vliegtuie gereed gemaak kan word sodat die soektog teen dagbreek kan begin.

Toe die lugmag bevelvoerder, Brigadier Mario Perez, by Gonzalves aansluit begin hulle die soekgebied in sones indeel sodat so n wye veld as moontlik gedek kan word in die kortste moontlike tyd. Albei is egter redelik pessimisties of die wrak of Andries gevind sal word maar hulle moet hulle plig doen en probeer. Na n gesprek met die nodige owerhede in Manaus word soekvliegtuie van hulle kant af ook gereël.

Met dagbreek is alles gereël en styg die vliegtuie wat aan die soektog gaan deelneem op om oor hulle toegekende zones te begin soek ten spyte daarvan dat almal maar slegte moed het om die vermiste Piper tussen die digte bome te vind. Die dag se soektog lewer niks op nie en word die soektog die volgende dag voortgesit.

Op die Lughawe in Manaus weet almal die eerste dag van die vermiste Piper af, ook Juan Soares. Vir Juan is dit nuus wat hom baie meer skok as ander want sy suster Rosa is Andries se huishoudster.

Hulle lewe in n minder gegoede deel van Manaus saam met hulle ouers wat hulle versorg. Dit gaan vir hulle n slag wees as Rosa nie meer tot die huishouding kan bydra nie.

Rosa is n beeld van n meisie met lang golwende swart hare en n vol ferm lyf . Sy werk al n paar jaar vir Andries vandat hy in die woonstel ingetrek het Juan is die een wat die werk vir haar gekry het omdat Andries nie sy woonstel ook kon behartig nie. Sy stel ook in geen man belang nie want vir haar is daar net een man en dit is Andries.

Van die begin af was sy n voorslag en het sy verlief geraak op Andries. Toe hy dus met Carlotta deurmekaar geraak het en Carlotta nog boonop by hom ingetrek het was die vir haar bitter moeilik maar het sy aangegaan met haar werk. Net om naby Andries te wees was genoeg vir haar en het sy altyd in haar hart bly hoop dat hy eendag die vrou in haar sal raaksien.

Haar kans het gekom toe sy begin agterkom het dat Carlotta saans rondkuier as Andries nie by die huis is nie. Sy het Carlotta gekonfontreer en haar voor n keuse gestel. Of sy verdwyn of sy vertel vir Andries dat hy haar kan uitsmyt. Carlotta het besluit om pad te gee en Rosa het haar nog help pak ook met n lied in haar hart, dalk sal Andries haar nou begin raak sien.

Die aand toe Juan by die huis kom en vir Rosa vertel dat Andries se Piper vermis word het sy gevoel dat haar wêreld vergaan. Sy gaan sit by die lendelam kombuistafel met haar kop tussen haar hande en begin sy onbedaarlik huil. Niemand kry haar getroos nie en dan hou sy op huil en kyk haar ouers en vir Juan vierkantig in die oë.

“Ek gaan hom soek. Hy mag neergestort het maar in my hart voel ek hy lewe nog. Hy moet net gekry en terug gebring word”.

Juan frons: “Dit is onmoontlik, Rosa. As die soekvliegtuie niks sien nie hoe gaan jy hom kry? Die woude is te dig en daar is te veel gevare. Jy sal ook net in die woude verdwyn”.

Rosa glimlag: “Juan dit gaan my n tydjie vat om my reëlings te tref maar niemand gaan my stop nie. Ek gaan hom soek en sal hom kry”.

Rosa staan op en stap by die deur uit die nag in. Sy gaan een van haar Indiaan vriende opsoek wat sy weet nog skakel met sy stam wat aan die rand van die woude woon. Sy kry hom by die huis en vertel hom wat gebeur het.

“Ek wil hom gaan soek Raba. Hy is nie dood nie. Hy moet net gevind word en ek het jou hulp nodig”.

Raba sit n oomblikkie en dink voor hy antwoord: “Ek sal jou help om hom net eers te probeer opspoor. As hy te diep in die woude is en nog leef sal ons dit wel uitvind. Ek dink egter dat hy dit onmoontlik nie kan oorleef het nie. Die bome sal die vliegtuig en hom verskeur het met die neerstort slag”

Raba skud sy kop in ongeloof oor wat Rosa wil doen maar die vasbeslote trek in haar oë oortuig hom dat dit beter sal wees as hy haar probeer help

“As hy nog leef gaan dit moeilik wees om hom te gaan haal. Ek sal van more af kontak maak met van die stamme wat aan die rand van die woud is en dan is dit maar net wag tot ons nuus uit die woud uit kry. Ek gaan dus vir n paar dae wegraak om by my mense uit te kom, moet nie bekommerd wees nie”.

“Hoe gaan jy hom soek”, is Rosa se vraag

“Daar is plekke waar rookseine gestuur kan word maar dieper in die woud sal die tromme die boodskap oordra dat ons hom soek, maar al vind ons uit waar hy is gaan dit baie moeilik wees om hom uit te kry as die Indiane hom nie reeds het nie wat ek dink die geval gaan wees anders gaan hulle ook begin soek en iemand gaan hom kry”, is Raba se antwoord.

Rosa moet maar tevrede wees met Raba se antwoord. Sy gaan huis toe en gaan klim in die bed. Van slaap is daar egter nie sprake nie en werk haar verstand oortyd om te beplan hoe om Andries te gaan haal as hy dalk gevind word.

Die volgende dag verdwyn Raba in die woude om by
sy stam, wat in die woude woon uit te kom.

Vroeg oggend trek hy sy lendeskort aan en neem sy wapens, pyl en boog, blaaspyp en mes saam. Hy besmeer sy gesig ook met verf en word Raba weer volbloed Indiaan. Oor sy skouers dra hy n sak met n paar geskenke, n nuwe pyp, n bottel whisky, tabak en pakkies krale as geskenke om in die hoofman se goeie guns te kom.

Dit neem hom twee dae en word hy soos n verlore seun tussen sy mense verwelkom. Hy soek dadelik die hoofman, Ratebe met sy veelkleurige hooftooisel, op en in hulle dialek verduidelik Raba van die vliegtuig wat verdwyn het. Hy vertel van Rosa wat hom wil gaan haal as hulle hom kan vind en die hoofman luister aandagtig.
Hy bly egter stug en antwoord Raba nie.

Die geskenke word oorhandig en Ratebe beskou die pyp en tabak met genoegdoening terwyl die hele stam om hulle versamel. Die whisky bottel se prop word dadelik afgedraai en n groot sluk word geneem.

Pakkies krale word aan die vrouens oorhandig wat dit met handegeklap en gejuig ontvang.

Ratebe se ogies trek klein van genot en wys hy vir Raba om te sit, Raba mag praat. Raba gaan sit voor Ratebe en verduidelik dat hy belowe het om die vliegtuig te probeer opspoor met die hoop dat die man in die vliegtuig dalk nog lewe en hulle hom kan terugbring.

Toe Ratebe klaar geluister het skud hy sy kop en antwoord Raba: “As hy nog lewe is die kanse skraal. Al hoop wat ons het is dat n ander stam hom gevind het en dalk aan die lewe hou. Daar is net een manier om uit te vind en dit is met die rookseine en die tromme wat praat”.

Raba is tevrede en begin Ratebe opdragte gee dat die manne moet vuur maak vir rookseine en die tromspelers met hulle tromme die boodskap die woud moet instuur.

Van die mans verlaat die groep dadelik om vuur te maak vir rookseine en die tromspelers bring hulle tromme tevoorskyn om die boodskap die woud in te stuur dat daar gesoek word na die vliegtuig en die man wat êrens in die woud moet lê.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Kiekies

      Kiekies

      Julie 21, 2017

      Mmmm nou wonder ek…

    2. profiel foto van neels

      neels

      Julie 22, 2017

      en wat wonder Lynette

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van neels

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 151
    Kommentaar telling: 1102

    Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 36 gaste aanlyn