Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: NA DIE MOORD

Deur Toom
Datum gepubliseer: 23 Maart 2017 Aantal woorde: 1100 127 Kere gelees 2

Na die MOORD

In die groot sitkamer van die herehuis op die landgoed Beatitúde kom die gesinslede stadig, een na die ander, ingedrentel, sommige ontspand, sommige senuweeagtig. Die inspekteur staan in die dubbelglasdeur en kyk oor die teras op die goudrooie landskap uit. Hy geniet die vars môrelug op hierdie stralende Herfssondag. Momenteel lyk alles so vreedsaam, maar op die tafel langs die vleuelklavier lê verskillende artikels wat hy, wanneer almal aanwesend is, as bewys gaan aanvoer in die uiteensetting met die geval van moord en diefstal wat hy moet oplos.

Hy draai stadig om en sien hoe die sersant aan die binnedeur hom ‘n teken gee dat alle gesinslede en hul gaste, asook die huispersoneel versamel is. Hy weet dat sy manne in die huis asook in die wydlopige tuin met gepleegde roosbeddings en rhododendronpark verstrooid en op hul hoed is. Dan wandel sy blik van die een gesig na die ander waar hulle alleen of paartjies-paartjies op leunstoele en sofas sit, voor die prasselende vuur staan of agter die dientafels aan die agterste muur staan.
„Dames en here,” sê hy plegtig, „ek hoop, u het almal goed geslaap en die uitstekende ontbyt geniet.” Hy kyk met waardering en maak ‘n buiginkie in die rigting van die dame van die huis. „Ek het u gevra om hier saam te kom, sodat ons die oplossing van die moord op ons hoë gaste uit Frankryk,
Viscomte du Marrilac en sy vrou die viscomtesse, asook die diefstal van etlike silwer- en goud-artikels uit die glaskaste in die blou sitkamer. Ek is ongelukkig verplig om aan te kondig dat almal in hierdie kamer onder verdag staan; dit stem ooreen met die mense wat tussen verlede Donderdagaand en gister Saterdag vroeg in die huis of op die grondstuk aanwesig was.
Natuurlik is alle bediendes verdagtig, want hulle het te alle tye vry toegang tot alle kamers in die huis en die buitegeboue, besonders die pawiljoen waar die insektegif en ander chemiese stowwe opgesluit is. Oor hulle het ons verskillende inligting ingesamel, maar hulle moet ook een na die ander uitgevra word. Ons mag geen steen onaangeroer laat nie.
u Self, vereerde mevrou Falckenstein, begryp dat u as gasvrou en eienaar van hierdie goed vanselfsprekend so te sê as eerste verantwoordelik is vir dit wat op u perseel gebeur. Ek is jammer, maar dit
ís so en nie anders nie.
Asook u seun, Francois Falckenstein, wat daarvoor bekend is dat hy trots vertel dat hy vier-duisendste
of is dit veertig-duisendste? in die navolge is, wanneer die franse koningshuis weer ingesit sou word, in die wete dat u die naaste familie van die verstorwe franse edellui is, en dat hy hulle titel gaan erf, want hulle was kinderloos. Juis daarom het hulle hierheen gekom: Om behandel te word. Ofskoon die lyk van die viscomte nog nie gevind is nie, hoop ons om dit gou te ontdek.
So het ook sy verloofde, Juffrou Stine
van Marwijk, die ginekoloog wat die viscomtesse behandel het, ‘n erfmotief: Sou haar pasiënt onverwags sterf, het sy die moontlikheid om in adelige sirkels ryk te trou.
Dis alom bekend dat Dominee Klejnhans en u sekretaresse, Miss Thomlinson, ‘n sogenoemde „geheime” liefdesverhouding het. Ook dat hy nog swaar aan sy skuld betaal, uit die tyd toe hy in Hillbrow as klein boef en bedrieër geleef het
in die tyd voordat hy bekeer is. Saam kon die twee hoop om ‘n ordentlike bedraggie by hulle huwelik te kry om hulle skulde af te betaal en sorgloos ‘n nuwe lewe op te bou, miskien hier, miskien in Nieu Guinea.
En die familie se prokureur, meneer Berkenheide, weet dat, as hierdie landgoed wat kort voor die bankrot staan, sou moet ondergaan, maak ook sy firma toe, en dan staan hy op die straat.
Ons sien dus dat alle betroffenes interesse het of kon hê
òf in die moord op die franse adelspaar, óf die diefstal van wertvolle tafelsilwer of albei, om uit hulle penarie te kan ontsnap…”

‘n Seuntjie van sewe of agt jare kom by die terasdeur ingestorm.
„Mammie, Mammie!”
„Ag, kind, jy sien mos dat die grootmense praat! Hoe lyk jy kind, so smerig? Waar’s Lena?”
„Wat
sóék die kind hier? Ek het uitdruklik gesê dat so ‘n vergadering niks vir klein kinders is nie. Waar ís die kind se oppasster? Sersant, bring hierdie kind terug na sy kamer.”
„Ja maar Mammie, hier’s mos die lepel wat die oom weggegooi het nadat hy die groot swaar sak in die leidam gegooi het. Dit was tussen die bossies en gras op die oewer, en Lena het gesê, ons moet dit in ‘n sakdoek wikkel. Daar waar die tannie later dood was.”
„En waar
ís Lena?”
„Ja, sy wys die poelieste waar die groot sak met die ysterbekers en koffiekanne in die dam lê, daar waar die water so modderig is. Daar lê ‘n hoed en ‘n swart Krismisvaderbaard en ‘n ou jas, en Lena sê, iemand het dit in die water gegooi toe die dam vol was, maar nadat die water afgeloop het, het die goeters bly lê. Maar die oom
hét afgesink, en ek het op hom getrap toe ek Ferdie wou red, want Ferdie het mos uit my hand geglip en gaan swem. Maar Lena sê, daar’s geen Teddiebere wat kan swem nie. En sy sê Ou-Hannes sal hom later kom uitvis. Gaan haal jy hom vir my Ou-Hannes? ‘Seblieftog man, netnou het hy griep, en dan moet hy weke lank in die bed bly. Ag, daar kóm Lena, tog!”
‘n Meisie van so tien jare kom aan die hand van ‘n konstabel deur die terasdeur in.
„Kinders, kinders, kinders! Wat vang julle aan as ek julle
één minuut alleenlaat?”
„Ja, maar Ma, ons wou gaan kyk waar die ou man al daai goeters in die leidam gegooi het. Hy was vermom, maar ek sal hom weer ken ook as hy geen baard aan het nie. Hy’t mos ‘n huppelbeen en die litteken op sy wang en nek het in die sonlig geblink. Netsoos die oom wat hier by die klavier staan. Ja, dit ís mos hy! Kyk, sy kierie lê ook nog op die klavier. Dis mos hy, Ma! Hy’s mos die een wat ons gesien het, nè, Pietie?”
Die sersant rig sy pistool op die inspekteur, „Konstabel Muller, boei hierdie verdagtige! Inspekteur Perreira, ek neem u hiermee in hegtenis op verdag van die dubbelmoord op
Viscomte Du Marrilac en sy eggenoot die viscomtesse, asook die diefstal van waardevolle tafelsilwer uit hierdie huis. Konstabel bring die verdagtige weg.”

© 23e.Maart2017………|……(19.Feb.2014)tje




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Toom

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 140
    Kommentaar telling: 133

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    4 Lede, 36 gaste aanlyn