Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Vrou op vendusie

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 28 Februarie 2017 Aantal woorde: 1360 139 Kere gelees 1

Sandra stoot die voordeur oop van haar tweeslaapkamer woonstel. Die plek ruik bedompig van heeldag se toestaan. Die woonstel is op die boonste verdieping van die gebou, een van vyf. Dit is reg in die middel geleë met vensters wat uitkyk in die gange en op die voordeure van die ander vier woonstelle. Hierdie plekkie is al wat sy kon bekostig na haar egskeiding, maar dis goed genoeg vir ’n enkellopende middeljarige vrou. Gelukkig kom Sandra baie goed oor die weg met haar buurvrou, Heila, wat regoorkant haar bly. As Heila saans van die werk afkom, maak sy al haar vensters en voordeur oop sodat van die vars lug na Sandra se woonstel kan oorwaai. Sandra los haar voordeur by voorbaat oop en skop haar skoene uit. In die die klein kombuis, sit sy haar handsak op die tafel neer en gaan staan voor die yskas. Die deur is bont versier met magnete van alle groottes en kleure. ’n Vet rooi hart magneet trek haar aandag. Liefde bely in die mooiste neurie klank, staan in wit sierskrif in die hart. Sy haal die magneet af en gooi dit in die drom. Sy weet nie waar sy die magneet gekry het of wat die woorde beteken nie. Sandra maak die yskas oop en staan besluiteloos na die inhoud en kyk. Na ’n sug, maak sy dit weer toe. Vanaand sal dit weer two-minute-noodles wees, besluit sy. Dis vinnig en maklik genoeg vir een.

Chris sit terug in sy lazyboy en skop die voetstuk vêr uit. Hy maak sy oë toe en blaas ’n lang besige dag se asem uit. Anna kom groet in die deur en sê die kos is in die louoond. Dierbare ou Anna. Chris sou nie sonder haar kon leef nie. Hy het voor haar grootgeword. Eers was Anna sy ma se regterhand en nou, syne. Sy is konining van die plaaskombuis en tweede moeder vir sy twee tieners, Christof en Belia. Maar wanneer Anna saans haar voorskoot ophang en huis toe gaan, kom sit daar ’n eensame alleenheid in Chris. ’n Leemte wat nie eens Anna se lekker borde kos kan vul nie. Chris stoot die voetstuk in en staan traag op. Die kinders is in hulle kamers, besig met huiswerk. Hy sal hulle gaan roep vir ete. Vanaand wil hy vroeg inkruip, want die dag van môre gaan lank wees. Hy wil ’n vendusie op een van die buurplase bywoon. Daarna moet hy bank toe. Om vir ’n vrou te gaan geld inbetaal wat nie meer sy vrou is nie.

***
Die son bak ongenadig neer. Sandra se kopvel kriewel en sy weet sy gaan vanaand spyt wees dat sy nie ’n hoed saamgebring het nie. Sy druk ’n los blonde krul agter haar oor en klem die pen in haar sweterige hand stywwer vas. Haar baas, ’n prokureur, het haar gekies om vandag saam met hom te kom. Hy behartig ’n vendusie op ’n plaas en sy, Sandra, moet kom notules neem en opskryf wie vat wat. Sandra kyk om haar rond. ’n Jammerte kom lê in haar hart. Die oom en tannie aan wie die plaas behoort, staan eenkant en toekyk. Die plaas en al sy onkostes was te veel vir hulle, nou vat die bank die grond. ’n Paar boere van die nabure plase bie teen mekaar vir die laaste besittings en plaasimplemente. Die oom en tannie staan verslae en kyk hoe hulle goed vir next to nothing onder vreemdes verdeel word. Sy, Sandra, skryf op wie wat kry. Ten minste het die twee ou mense nog mekaar, dink sy.

Chris en sy jonger broer, Anton, boer saam op hulle familieplaas. Wanneer Chris veilings bywoon, hou Anton die fort op die plaas. Chris haal ’n sakdoek uit sy broeksak en vee sy gesig en nek af. Die manne om hom staan papnat met rooi gesigte en luister. Nou en dan skiet ’n hand in die lug om op die afslaer se bod te reageer. Die vendusie sal nie te lank wees nie, dink Chris. Hier is maar min wat van waarde is. Hy het gekom omdat hy die mense van die plaas ken. Hulle was vriende van sy oorlede ouers. Dis hard as die lewe ’n boer so kom slaan. Chris is dankbaar sy ouers is nie hier om dit te beleef nie. Tot dusvêr het hyself nog op niks gebie nie. Hy moes leer om homself in te hou, want in al die jare wat hy al veilings bygewoon het, het hy, tot Anton se ergenis, met so baie gemors by die plaas aangekom. Al wat ’n stoor is, was naderhand vol van ander mense se weggooigoed en implimente. Halfpad deur die gedoente kondig die prokureurtjie af dat almal op wie ’n bod toegestaan is, na die tyd moet kom aanmeld. Sy sekretaresse moet almal se besonderhede neerskryf. Chris kyk na die vrou langs die prokureur. ’n Fyn blonde mensie wat senuagtig aan ’n notaboek vasklou. Chris se hart klop onbedaarlik in sy ore. Hy kyk na haar soos ’n boer wat in droogte reënwolke op die horison sien.

***
Twee weke later. Sandra kyk op die kombuis horlosie. Dis kwart voor ses. Die hoender is in die oond. Sy het vyftien minute om iets anders aan te trek en mooi te maak. Toe sy voor die spieël in haar kamer staan dink sy aan hom. ’n Krieweling gly uit haar hart tot in haar maag. Oor die boer wat twee weke gelede by ’n vendusie haar nommer gevra het. Sy onthou hom goed. Silvergrys man met fletsblou oë en ’n oulike kuiltjie in sy ken. Hy het niks by die veilig gekoop nie, nie eens gebie op een van die items nie, maar toe sy die besonderhede van die kopers neerskryf, was hy daar. Heel agter in die ry, het hy gewagte tot laaste. Toe sy hom vra waarop ’n bod toegstaan is vir hom het hy geglimlag en gesê; “Op die mooiste vrou in die kontrei.” Sy het haar eers vererg, want dit was warm en sy het nie kans gesien vir ’n lastige mansmens nie. Toe vra hy vir haar nommer en ’n dinner date, maar sy het bodweg geweier. Die boer het nie opgegee nie. Hy het om hom rondgekyk en skielik afgebuk. Toe hy regop kom, hou hy ’n geroeste skroef in sy hand. “Ek sal die skroef koop. Vyf rand. Skryf my besonderhede op.” Sandra het na haar prokureurbaas gekyk vir uitkoms, maar dié het net sy skouers opgehaal en gesê sy moet maar neerskryf. Die boer het tevrede geglimlag. “Nou het jy my nommer. Bel my as jy van plan verander.” En toe het hy omgedraai en met sy geroeste skroef huis toe gegaan.

Sandra tuit haar lippe en smeer ’n bloedrooi lipstiffie aan. Dieselfde rooi as die rooi hart magneet wat sy ’n paar dae gelede weggegooi het. Die woorde bly spook by haar. Liefde bely in die mooiste neurie klank. Meskien sal sy tog eendag weet wat dit beteken. Liefde is nie ’n woord wat sy aan vanaand sal koppel nie. Nuuskierig, dalk of selfs hunkering. Van die eerste oomblik wat sy in die boer se gesig gekyk het, het die fletsblou oë by haar vasgesteek. En die kuiltjie in die ken wanneer die sagte diepstem praat. Chris het dadelik ingestem toe sy hom oornooi vir ete. Nou staan en maak sy haar self mooi, vir die eerste keer in jare, vir ’n man wat sy van vooraf moet leer ken. Vir die boer wat ’n geroeste skroef gekoop het.

***
Twee jaar later, na vele dinner dates en oor en weer gekuier, staan Sandra en Chris langs mekaar voor die landdros. Chris se twee tieners en Sandra se buurvrou is getuies. Anna wou ook saamkom, maar iemand moes die kospotte aan die gang kry vir die bruilofsmaal. Chris kyk af na sy nuwe vrou. Nou kan hy sy tyd en geld op ’n vrou spandeer wat wél sy vrou is. Nou het hy twee koninginne in sy lewe; Anna, koningin van die kombuis en Sandra, koningin van sy hart. Die vrou wat hy vir hom op vendusie gekry het.




  • TEMAS
    2 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      Februarie 28, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Liefde projek 

    2. profiel foto van Toom

      Toom

      Februarie 28, 2017

      ‘n Goeie idee, goed uitgevoer. Paar spelfoutjies, andersins puik!
      Dankie! GvT

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van HelenaMellet

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 104
    Kommentaar telling: 77

    Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

    Gebruikers Aanlyn

    4 Lede, 46 gaste aanlyn