Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Engel op my slaapkamermat

Deur Ano
Datum gepubliseer: 26 Maart 2017 Aantal woorde: 914 139 Kere gelees 2

Ja sowaar, lekker gemaklik en uitgestrek lê sy in die vroeë herfssonnetjie, skuins oor die mat gedrapeer, iewers aan die voetenent van die bed. Ons tweetjies het al dikwels paaie gekruis, maar dit is iets wat ek nog altyd vir myself gehou het. Hoe verduidelik mens in elk geval die grootste deel van die lewe wat baie min mense bevoorreg genoeg is om te kan sien? Hierdie onsigbare deel waarvan meeste skynbaar glad nie eens bewus is nie! Selfs die predikers het dit al goedgedink om my woorde voortydig kort te knip. “Ons praat nie daaroor nie; dit is nie deel van die hedendaagse samelewing nie; ons glo nie daaraan nie.” Hoekom nie? Deur die onsigbares te ignoreer, sal nie veroorsaak dat hulle nie meer bestaan nie? Dit maak ons net vrywillig blind.

My engel se besoeke is deurspek met humor en altyd, altyd inspirerend. Sommer net so ‘n lekker knus gevoel binne en rondom my hart wanneer sy in my oor fluister. Dit is ’n plek waar ek altyd volle beskerm voel en liefde ervaar soos geen ander plek nie.

Die dag begin waar ek en Guppy (my vierbeen, swart-pels, 42kg hart-se-punt) oudergewoonte eers vir ‘n rukkie op die mat lê en cuddle voordat die dag met ’n wilde gejuig uit die blokke wegspring. Uit die hoek van my oog sien ek ’n spikkeltjie silwer skitter tussen die kort pluise van die sagte mat. Ek voel saggies oor die plek. Dit is steeds daar, en verseker nie ’n verlore stukkie juweliersware nie. Inteendeel, dit so fyntjies en dunner as papierdun, dat ek dit glad nie kan voel nie! Verbaas lig ek ’n fyn stringetjie Angel Hair op.

’n Lawwe giggel ontsnap oor die ironie van die goed se naam. Maar waar op aarde sou hierdie draadjie tog vandaan kom? In geen jare is daar in die slaapkamer geskenke toegedraai nie en dit is nie iets wat ek juis gebruik nie. Boonop tel ek dit op uit ’n plek wat dikwels onder ’n ordentlike stofsuier deurloop. Daar is net geen logiese verklaring vir die verskyning van hierdie goed in die slaapkamer nie.

Terwyl ek die ragfyn draadjie in bewondering om en om my vinger draai, tril my oordrom – hard en baie duidelik! “OK, OK”, lag ek. Ek luister Engel, maar verstaan nie. Stadige taal vir die stadiges van begrip asseblief?

Tyd vir dagdroom is daar skielik nie meer nie, en haastig maak ek en Guppy gereed vir ons gereelde uitstappie na die plaaslike meer. Daar geen sy uiting aan haar nimmer versadigde behoefte van swem en speel. Ons voetval word gedemp deur die sagte groen gras. Die rustigheid van die natuur kom vou ons saggies toe. Vir ‘n klein rukkie is ons die enigste twee wesens wat bestaan – totaal weggesteek van die dolle gejaag van die stad.

Dit is in hierdie stilte wat die onsigbares die lekkerste gesels. Daar nie geen kompetisie met elektroniese toerusting, of die berg onvoltooide werk wat geduldig op my lessenaar pryk nie. ‘n Byna vergete idee vir ‘n projek tuimel met groot fanfare deur my gedagtes. En dit stroom! Kort-kort trap ek Guppy se leiband met die een voet vas sodat ek eers notas op my selfoon kan tik. G’n mens kan by so vloed van informasie byhou en alles onthou nie! Teen die einde van ons uitstappie weet ek al die hoe, wat en waar en moet soek om hierdie projek aan die rol te kry.

Maar daar moet tog altyd ook ‘n geleentheid wees vir Ongelowige Thomas om sy ontydige verskyning te maak! Is hierdie nie net dalk een van my eie voortvarende idees nie? Sonder die hulp van Bo kan dit maklik op niks uitloop nie. Ego het nie ‘n plek in hierdie projek nie, en dit is belangrik om dit die eerste keer rég te doen. Ongelowige Thomas vra: “Bewys jouself asseblief, en gee ‘n sigbare teken?”. Hoekom is dit so moeilik om sommer-maar-net sonder vrae te vertrou?

Skaars het ons tweetjies meters vêr gevorder, of ek gewaar ‘n bondeltjie blink in die gras. Angel Hair. Silwer, net soos op die mat! Nie net ‘n enkele draadjie nie, maar sommer ‘n amperse hand vol! In al die baie jare wat ek en Guppy hierdie park deurkruis het, het ons al gaterige kouse uit die pad geskop, eensame skoene gesien, selfs ‘n boemelaar toegewikkel in ‘n stukkende kombers, maar nog nóóit so iets nie.

Het ek geluister? Verseker! Raad en wenke wat van ‘n plek kom wat net-net buite my gesigsveld lê, is baie waardevol, altyd inspirerend, en werk ten goede van elkeen wat daarmee in aanraking kom. Ons aardse bestaan is immers deurspek met stukkende inwoners en elkeen ontvang ’n genadegawe om te dien en te help om weer heel te word. Wanneer ek gevra word om ook my gawe te gebruik, vra ek nie te veel vrae nie.

Of hierdie geselsies gepaard gaan met sigbare tekens, of slegs daardie klein stemmetjie wat in my binnekant roep, ek luister. En hoe meer ek luister, hoe duideliker word die boodskappe, hoe meer word ek oorlaai met die geskenke van die heelal. En hoe meer ek luister, hoe dieper geanker raak ek in my geloof.

My engel stap hierdie lewenspad saam met my, sonder twyfel. Sy mag maar op die mat lê, selfs haar silwer haarstringe daar vergeet. Eintlik maak dit nie eens saak of sy hare het nie, want diep in my siel weet ek dat sy steeds asemrowend mooi sal wees.




  • TEMAS
    3 Kommentaar
    1. profiel foto van neels

      neels

      Maart 26, 2017

      Hallo ano, goed om weer iets van jou te lees. Ek mis ou Guppy

      • profiel foto van Ano

        Ano

        April 21, 2017

        Hallo Neels! Ek en Guppy is nog hier rond. Ons werk aan ‘n storietjie 😀

    2. profiel foto van Anze

      Anze

      Maart 27, 2017

      Dankie vir jou GrysKrag inskrywing, onthou om jou besonderhede asb te e-pos na skryfafrikaans@ink.org.za

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ano

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 8
    Kommentaar telling: 13

    Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 34 gaste aanlyn

    Bydrae Totale