Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: ‘n Amper Klou en Byt Afskeid

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 27 Julie 2017 Aantal woorde: 1568 32 Kere gelees 1

Ek hardloop die trappies af agter hom aan. Ek kan nie dat die liefde van my lewe sommer net so weggaan nie. Die simpel gat in die sypaadjie wat ons al lankal moes toegemaak het stop my deur amper my enkel te breek. Ek kom swetsend tot stilstand en kyk op.

My enkel klop; ek kan nie verder loop nie. Ek kyk onsteld hoe Stephen van my af wegloop; hy kyk nie eens een keer terug nie. Die groen t-hemp wat hy aan het span oor sy breë skouers. Sy vuiste kan ek van hier af sien is geklem, kneukels heel moontlik spierwit. Maar sy rug hou hy regop soos hy verder wegloop.

Dis verby. Sonder rede.

En hy weier om vir my te sê hoekom, waarom, hy dinge tussen ons beëindig het.

Ek druk ‘n vuis in my mond en gil. Gil al my frustrasie, al my pyn, in die demper wat my hand geword het.

Vir sewe maande was ons saam. Vir sewe maande het ons saam gelag, saam gehuil en saam baklei. Vir sewe maande het ek my alles in hierdie verhouding geploeg.

Vir wat?

My lyf begin ruk; ek’t al lankal ophou gil; ek hyg na asem wat net nie by my longe wil uitkom nie.

Ek weet wanneer die skok eers verby is, gaan die lelike ek te voorskyn kom. Die lelike ek wat dinge sê en doen wat ek nie regtig bedoel nie; daardie wese wat net veg want daar is geen redeneervermoë oor nie.

‘n Toeter laat my opkyk. Dis al laat genoeg dat minibussies hul kliënte nader roep om hulle huis toe te vat. Die son sit nog hoog; dis laat somer en skemer kom eers na al die sepies op TV al klaar is. Ek kyk om my rond. Die wêreld het nie gaan stilstaan nie. Al het dit gevoel asof my eie wêreld aan skerwe gespat het – ontplof het soos in ‘n wetenskapfiksie fliek – het niks vir enigiemand anders verander nie.

“Lelanie?” vra ‘n stem huiwerig.

Ek kyk om. Christina staan en kyk versigtig na my.

“Hy’s weg,” sê ek sag.

“Ek’s jammer.”

Ek knik. Daar’s nie veel meer wat ons vir mekaar kan sê nie. Die persoon wat ek mee wil praat het sommer net geloop, sonder ‘n verduideliking.

Sy vat my hand – ‘n groot gebaar van iemand wat nooit van fisiese kontak hou nie – en lei my terug na die ingang van die gebou wat ons al vir ‘n lang tyd weet nie net ‘n woonstelblok is nie.

Ek hinkepink die trappies op. Christina sê niks nie. Ons stap deur die deur regoor die ingang. Die wêreld verander en ek vind myself in die hoofkantoor van die ambassade tussen Mens en Feë.

Wel, dit was altyd die ambassade. Nou is dit meer ‘n oorlogskantoor. Niemand weet regtig hoekom die Donker Feë besluit het om die mensdom aan te val na eeue, nee milleniums, van vrede nie. Maar, dit maak nie regtig saak nie. Al wat ons weet is dat ons in ‘n geheime oorlog met die Donker Feë is en die meeste van die mensdom daaruit moet hou.

“Waar is Stephen?” vra Lizelle toe ons die sitkamer instap.

“Nie nou nie,” waarsku Christina haar terwyl sy my help om op ‘n rusbank te sit.

Lizelle vra nie weer nie. Ek weet nie of die feit dat Christina my hand vasgehou het of die uitdrukking op my gesig haar stil gehou het nie. Ek wil ook nie weet nie. Ons is wel ‘n familie, maar dit beteken nie dat ek alles omtrent myself altyd wil deel nie.

“Sit stil, ek bring ys vir daardie enkel,” sê Christina en loop weg.

Ek het skaars tyd om te begin tob toe kom generaal Webber die vertrek in. Dadelik vul die vertrek met al die ander soldate in die oorlog teen die Donker Feë. Christina kom stil langs my sit en gee vir my die yspak aan wat sy gaan haal het.

“Vriende, ons gaan nog ‘n kantoor moet oopmaak. Ons kan nie vinnig genoeg orals wees wanneer die vyand aanval nie. Ek’s seker daarvan dat dit nie as ‘n skok kom nie.” Generaal Webber sug en kyk om hom rond. “Ek het klaar die groep verdeel tot die beste van my vermoë. Ek kan nie al dié wat beheer oor die elemente kan uitvoer in een groep hou nie. Ek kan ook nie ons beste vegters in een groep hou nie. Ek…”

Ek kan sien dat hy spartel vir woorde. Nog altyd het net die beste van die beste uitgegaan om te veg. Met hierdie verdeling beteken dit dat almal gaan moet veg. Selfs Lizelle wat beter daarmee is om almal se wonde te versorg en die wapens reg te maak. Ek kyk vinnig van haar bleek gesig af weg.

“Kaptein Stephen Odendaal gaan die nuwe buitepos lei. Die lys van almal wat saam met hom gaan het ek op die yskas vasgemaak. Ek’s jammer,” sê hy na ‘n rukkie. “Ek wens ek kon sê dat ons meer mense gehad het wat kon saam veg. Ek wens ek kon sê dat die Feë Koningin ‘n plan gemaak het en die Donker Feë onder beheer gebring het.” Hy kyk weg.

‘n Stilte het oor die vertrek geval. Ek kan na niemand kyk nie. Ek kan nie besluit of ek op die lys op die yskas wil wees of nie. As ek is, kan ek Stephen dwing om met my te praat. As ek nie is nie… dan kan ek naby my familie bly wat nog onbewus is van alles terwyl hulle hul normale lewens lei en my net dan en wan sien.

“Ons het nog vanaand en môre saam. Vind uit waar jou nuwe pos is en maak vrede daarmee,” sê generaal Webber en loop die vertrek uit.

Ek’s seker daarvan dat ek trane in sy oë gesien het.

“Bly hier, ek sal gou gaan kyk,” sê Christina en vleg vinnig deur die ander in die vertrek.

‘n Beweging by die sydeur laat my soontoe kyk. Ek snak na asem. Stephen.

Ons oë ontmoet. Iets onleesbaars flits deur syne voordat hy wegkyk.

“Ons albei bly hier,” sê Christina saggies soos sy weer langs my kom sit.

Ek knik dat ek haar gehoor het. Ek kan nie besluit wat ek voel nie. Ek weet nie wat ek dink nie. Ek weet nie wat ek móét dink nie.

Hoeveel tyd verby gegaan het nadat ek vir Stephen die sitkamer sien inkom het en ons oë vir ‘n oomblik ontmoet het, weet ek nie. My gedagtes het hul eie gang gegaan nadat Christina my meegedeel het dat ons twee net hier gaan bly. Ek het so half-en-half waargeneem hoe ander afskeid neem: trane, drukkies, bemoedigende praatjies en ‘n klap op die rug. Maar hoe gaan ek afskeid neem van die man wat my alles was die laaste sewe maande; die man wat vroeër gesê het dat dinge tussen ons sumier verby is; die man aan wie se sy ek Donker Feë geveg het sedert ons vroeg winter ontmoet het?

Ek kom so half by toe iemand nuut langs my kom sit.

Stephen.

“Christina het my sopas uitgevreet,” sê hy met die glimlag wat my bene nog altyd so lam maak.

Ek kan nie meer doen as net knik nie.

“Geen towenaars gaan saam met my nie.”

Iets in die manier waarop hy dit sê maak dat my hele wese bewe.

“Die beste vegters bly hier.”

Ek snak na my asem.

“Selfmoord?”

“Nee. Erger.” Hy kyk rond om seker te maak dat niemand ons afluister nie. Maar hulle is almal té besig om afskeid te neem van hul vriende om om te gee oor wat tussen ons gebeur. “’n Aloue vloek kan die mensdom red.”

“Teen watter koste?”

“Die menslikheid van ‘n paar.”

Hy kyk nie weg nie. Hy kyk diep in my oë, asof hy my wil laat verstaan. En ek weet op daardie oomblik dat hy nie met my opgebreek het omdat hy nie lief is vir my nie – hy het dit vir my ontwil gedoen.

“Watse tipe vloek?” fluister ek.

“Die krag van hiënas, die bloedlus van vampiere en die uithouvermoë van weer-gediertes. Almal wat saam met my gaan het amper geen geveg vernuf nie. Hierdie sal hulle die krag gee om hul vyande te verslaan.”

“Maar jy is ‘n goeie vegter en towenaar. Hoekom gaan jy?”

“Omdat ek so goed is. Ek gaan hulle leier wees; hul temmer; hul afrigter.”

Ek sluk swaar. Ek weet wat hy en dié onder sy bevel gaan word: die gevreesde weerhiënas van die volkkunde wat my kranksinnige oupa altyd so graag deel.

“Hoekom?”

“Ek wil nie hê jy moet ly nie. Ek wil nie hê dat jy vervloek moet wees nie. Op die volgende dag-en-nag-ewening gaan ‘n sangoma ons vervloek êrens op die ewenaar. Ek kan jou nie nog vertel nie.”

Hy kyk weg. Ek is seker daarvan dat ek trane in sy oë gesien het. Trane vir ons? Trane vir sy menslikheid? Ek kon voel hoe trane in my keel brand.

Ek reik uit na hom. Hy stribbel nie teë nie. Hy kon nie. En ek weet dat ek nooit gaan opgee op ons nie. Eendag, wanneer al die Donker Feë verslaan is, gaan ons weer saam wees. Ons sal sy verduisterde menslikheid dan opspoor. Saam.




  • TEMAS
    1 Kommentaar
    1. profiel foto van Anze

      Anze

      Julie 27, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie Oop en nuwe projek 

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van Ronel Janse van Vuuren

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 52
    Kommentaar telling: 241

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar.My wêreld draai om my twee Rottweiler seuns – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my blog https://ronelthemythmaker.wordpress.com/.

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 90 gaste aanlyn