Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: My vriend, Fanie

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 2 April 2017 Aantal woorde: 1100 86 Kere gelees 5

Daar word tereg gesê dat ’n mens nie jou familie kan kies nie, maar jou vriende is jou eie keuse. Daarom is vriende so kosbaar, veral die wat by jou staan in tye van nood.
Ek, Ragel, dink hard en diep. Ek doen vryskut werk vir ‘n plaaslike aanlyn koerant en hierdie week se tema handel oor goeie vriende in nood. ‘n Tameletjie van ‘n uitdaging vir my, want ek is een van daai selfstandige hardekoppe wat nie sommer vir hulp vra nie. In moeilike situasies probeer ek eerder self ‘n ding uitpluis en google vir antwoorde, voor ek waag om iemand te vra vir hulp.

Ek delf in my kop rond. Dalk ken ek ‘n goeie staaltjie of twee van vriende wat mekaar in tye van nood uitgehelp het. Daar is ‘n hele paar, maar nie een maak my opgewonde vir ‘n storie nie. My gedagtes dwaal in my eie vriendekring in. En dan, meteens, besef ek dat ek dalk iemand het om oor te skryf. Sy naam is Fanie. Fanie was nog altyd daar, van die begin af.

Ek het Fanie ontmoet in 2009, in my eerste jaar as student op Stellenbosch. Ek het by die universiteit tale geswot en hy was ‘n IT nerd by CTU. Fanie was een van vyf ouens wat in die woonstel langs my ingetrek het. Ons ontmoeting was ietwat onkonfensioneel. Ek het vir die eerste twee weke my buurmanne geïgnoreer omdat dit vir my na ‘n spul loskop seuntjies geklink het wat ‘n hulle eerstejaar na skool wou omsuip en kuier. Fanie en een van sy woonstelmaats, Willie, het egter nie opgegee op hulle stuckup buurvrou nie. Daar is klippies teen my ruite gegooi en geskree oor die muur dat hulle net wil ontmoet en dalk ‘n koffietjie wil kom drink. Elke keer as ek my woonstel verlaat het, het ek dit soos ‘n muis in ‘n cattery gedoen. Suutjies en skelm sodat my buurmanne nie van my bewegings bewus moes word nie. Maar een dag verloor ek die stryd. Toe ek die middag van klasse af terugkom, wag Fanie en Willie my op die trappe in. Ons het amptelik ontmoet en hulle het hulle koffie gekry. Die res is geskiedenis.

Fanie was ‘n buurman duisend. As ‘n kraan of ‘n ketel by my gelol het, het Fanie oorgekom om dit reg te maak. Ek het een donkernag in my bed gelê en geluide in die woonstel gehoor. Toe Mxit ek vir Fanie en hy het in sekondes oor die muur gespring en kom kyk waar die gevreesde skelm wegkruip. Die skelm was toe net my verbeelding, maar Fanie is met hotchoclate en beskuit beloon vir sy “helde daad.”
As ek in Stellenbosch se storm winterreën ‘n lift nodig gehad het, het Fanie met sy Corsa bakkie tot my redding gekom. As daar bergies by my voordeur kom moeilikheid maak het, het hy hulle gaan regsien.

En toe my hart vir die eerste keer die breke van alle breke breek, was Fanie daar om te troos. Ek het ‘n paar weke met ‘n outjie van die Kaap uitgegaan. Fanie en die res van die buurmanne het hom net soveel soos ek geniet. En toe die pawpaw die fan strike, het Fanie amper harder as ek gehuil. Shame, hy het sy bes probeer om my op te beur. Na die breakup het ek meer betrokke geraak by sy woonstelmaats en vriendekring. En dit is juis in hierdie kring dat ek my trouman ontmoet het. Fanie se beste vriend, Louis. Toe Louis my gevra het om met hom vas uit te gaan, was Fanie op die toneel. Hy en nog ‘n pel is aangesê om met ‘n roos in die mond voor my te kom kniel. Louis het die vrawerk gedoen en die res is geskiedenis.

Vandag, agt jaar later, is ek en Louis gelukkig getroud en Fanie is steeds deel van die span.
Ek het deel geword van ‘n vriendekring wat so na aanmekaar is, dat ons onsself as ‘n klein familietjie beskou het. Ons het klaar studeer en begin werk. Aan die begin van my en Louis se verhoudinng was daar ‘n paar haak plekke. Toe ons na drie maande opbreek, was dit Fanie wat ons weer bymekaar gebring het. Hy was weereens die vertrooster, die een wat my moed ingepraat het en gesoebat het dat ek nie op Louis moes opgee nie.

Drie jaar later, was dit vir Fanie wat ek half ses een Woensdagoggend gebel het. Louis het ‘n epileptiese aanval gekry en my hele wereld was onder my uitgeruk. Ons het toe in die Strand gebly en Fanie het dom deur die slaap van Stellenbosch af gejaag om te kom help. Nie vir Louis nie, maar vir my. Die dokter was toe al reeds daar en Louis het rustig geslaap. Fanie het die res van die dag afgevat en by Louis op die bed gelê. Om opgepas soos ‘n siek kind. Mý kalm probeer hou en verseker dat als okei sal wees.

Ek het as student twee pakkies sigarette per dag gerook. Gestook soos ‘n skoorsteen. Fanie is die een wat op ‘n dag begin het om een vir een die gifstokkies voor my in stukkies te breek. Ek wou hom vermoor! Sigarette was toe al ‘n duurte vir ‘n platsak student. Maar, nietemin, hy het gehelp dat ek die euwel los.

Fanie was nie net Louis se beste vriend nie, hy was vir ons altwee soos ‘n broer. Een wat ons self kon kies. Ek kon nog altyd met hom oor enige iets praat. Ons, as vriendekring het baie goeie tye saam gehad en awesome memories gemaak, maar daar was kwaai tye ook. Baklei tye. Oor ditjies en datjies en die dinge van die lewe waaroor mans en vroue mos maar verskil. En deur dit alles, het Fanie gebly.

Fanie het ‘n paar jaar gelede ‘n meisie ontmoet. Een wat vandag sy vrou is en ook my beste vriendin. So deur Fanie het ek nie net my trouman ontmoet nie, maar ook ‘n suster ryker geword. Fanie is en was nog altyd een moerse goeie pel. Deur dik en dun. Vandag is hy en sy vroutjie ‘n provinsie weg van ons, maar afstand meet nie vriendskap nie. Ek en Louis maak ‘n punt daarvan om een keer ‘n jaar vir hulle te gaan kuier en hulle vir ons. Hulle is vir ons ‘n oproep of ‘n boodskap ver en as die verlange te veel raak, ruk ons die fotos uit van die goeie ou studente dae. Ek, Ragel, is geseënd met ‘n goeie vriend soos Fanie.




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR
    profiel foto van HelenaMellet

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 112
    Kommentaar telling: 77

    Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 45 gaste aanlyn

    Bydrae Totale